Kuier

AGTER DIE SKILDERYE

Ná hul ma se afsterwe kry hulle nóg ’n skok toe die testament gelees word. Maar dis nog lank nie die einde van die drama nie.

- DEUR Theltom Masimila

‘Ek kan dit nie glo nie. Die suster wat Ma al die jare van ons weggesteek het, is Ouma se huishulp!”sê Lorraine geskok. “Dink julle Ouma het geweet?”vra Dirk. “Natuurlik het sy geweet!”sê Lorraine kwaad.“Sy en Ma het duidelik hierdie ding beplan. Hulle wou maar lankal hierdie bom laat bars.”

“Dit maak nou nie sin nie,”sê Gary.“Hoekom sal Ma vir jare ons verlore suster by Ouma laat werk, net om in haar testament die huis aan haar na te laat? Ek is seker Ma het nie geweet nie.”

“Wel, dis net te toevallig! Volgens Ma se eksekuteur het sy gesê Nadine is ontvoer deur haar pa kort ná haar geboorte en Ma het nooit weer kontak met haar gehad nie. Nadine werk nou al vir drie jaar by Ouma. En elke keer wat ons daar was, was Ma besonders gaaf met Nadine.”

“Ag Lorraine, jy het amper nooit by Ouma gaan kuier nie. Jy laat jou gedagtes op hol raak oor niks,”sê Estelle.“Ons moet net almal rustig raak en môre vir Ouma gaan kuier sodat ons hierdie ding met Nadine kan uitpraat.”

“Ons wil haar nie graag afskrik nie. Hoe lyk dit nou al vyf van ons kom daar inge- storm? Sy ken ons skaars. Ek dink as haar susters moet Lorraine en Estelle eers met haar gesels en die situasie verduideli­k. Ons wil ook nie hê sy moet dink ons wil haar net sag maak omdat ons ’n muur in haar huis wil verwyder nie, ”verduideli­k Gary.

“Ja, ons moet die regte ding doen en haar in ons familie verwelkom. Sy’s ons bloedsuste­r. Ons het nou die geleenthei­d om dit te doen wat Ma die graagste wou doen. Ons kan Nadine leer ken,”sê Estelle.

Die wolke is leeggetap die volgende oggend en die oggendson verwelkom ’n koue wind in Idasvallei. Lorraine en Estelle is op pad na hul ouma toe. Ná die skok van die vorige dag is hulle stil en senuagtig. Hulle wonder of hulle ooit ’n band sal kan vorm met hierdie vreemdelin­g, wat hul suster is. Ná twintig minute hou hulle stil voor die oprit van die wit huisie met die motorhuisd­eur wat al beter dae gesien het. Hulle stap stadig tot by die voordeur en lui die klokkie.

Nadine maak die voordeur oop. “Goeiemôre, ”groet sy vriendelik en glimlag.

Dit voel vir Estelle asof haar keel toetrek. Sy kyk na Nadine en vir die eerste keer let sy op Nadine lyk amper presies soos hul oorlede ma. “Goeiemôre Nadine,”sê Lorraine stug. “Jul ouma is nie op die oomblik hier nie. Daar is iets aan by die kerk vanoggend en een van die kerksuster­s het haar kom optel, ”verduideli­k Nadine soos Lorraine en Estelle by die voordeur instap.“Sy behoort wel so oor ’n uur terug te wees.“

“Ons is eintlik hier om jou te kom sien,”sê Lorraine en stap sitkamer toe. “Vir my?”vra Nadine verbaas. “Ja,”antwoord Lorraine.“Ons wil . . . ” “Ons wil eintlik net graag meer weet van jou,”onderbreek Estelle haar suster.

“O,”sê Nadine en gaan sit. Vir ’n oomblik lyk sy iewat ongemaklik, want gewoonlik gesels sy nooit langer as twee minute met hulle nie.“Uhm … Ek kom van Port Elizabeth af. Ek het by my pa en ouma grootgewor­d. Ek het nooit my ma geken nie. My pa het vir my gesê sy het gesterf kort nadat sy aan my geboorte geskenk het.” “Wat is jou pa se naam?”vra Estelle. “Adrian. Adrian Foster.” “Hoe was jou verhouding met jou pa?” “Nie wat dit moes wees nie. Ek het van die huis af weggehardl­oop toe ek sestien was. Ek … ek wil nie graag daaroor praat nie. Dit was ’n baie moeilike tyd vir my,”sê Nadine sag.

“Hoe het jy hierdie werk gekry, Nadine? Waar het my ouma jou opgespoor?”vra Lorraine.

“Ek werk vir ’n agentskap. Daar is foto’s van ons op ’n webtuiste en ook ons agtergrond. Dan kan mense vra vir watter persoon hulle wil hê vir hulle moet kom werk. Jul ouma het my gekies en ’n minuut nadat ons ontmoet het, het sy die werk vir my aangebied,”sê Nadine met ’n glimlag.

“En het jy ons ma geken?”vra Lorraine vinnig.

“Ek het jul ma af en toe hier by die huis gesien, maar ons het nooit juis gepraat nie. Maar sy was ’n baie liewe mens. Ek is baie jammer dat julle haar verloor het.” “Baie dankie,”sê Estelle moeisaam. “Ja. My ma was ’n baie liewe mens. So ’n liewe mens dat sy besluit het om ons kinderhuis aan jou te laat,”bars Lorraine uit. “Lorraine!”sê Estelle vies. “Wat?”vra Nadine geskok. “My ma het in haar testament die huis aan jou gelaat.”

“Hoekom sou sy so iets doen?”vra Nadine steeds geskok.

“Want . . . want jy is ons suster. My ma was die vrou wie jou pa gesê het gesterf het net ná jou geboorte,”sê Lorraine.

Daar is doodse stilte in die voorkamer. Nadine staar voor haar uit en lyk heeltemal uit die veld geslaan. Lorraine sien die trane wat in haar oë opstoot.

“Ek … ek het my ma gesien,”sê Nadine soos die trane uit haar oë val.“Ek wou nog altyd my ma gesien het. Ontmoet het …” Nadine sukkel om te praat.

“Ons weet nie of sy geweet het wie jy is nie, maar sy het jou altyd onthou. Daarom het jy haar waardevols­te besitting gekry; ons kinderhuis,”sê Estelle en bied Nadine ’n tissue aan.

Soos die drie susters in die voorkamer sit, hoor hulle hoe die deur toeslaan. Hul ouma kom by die voorkamer ingestap en sy kyk na Nadine.

En sy weet – dis tyd vir die volle waarheid.

“So julle het uitgevind julle behoort aan mekaar?”vra hul ouma en leun teen haar kierie. “Ouma het geweet?”vra Estelle geskok. “Ja. Ek was die een wie haar vir Adrian gegee het om weg te neem,”sê hul ouma met bewende hande.“Ek het haar pa betaal om haar te ontvoer.” Al drie is geskok. Het hulle reg gehoor? Dan praat hul ouma verder. “Jul oupa was ’n baie streng man, maar die dorp se mense het dit nie gesien nie. Nee, vir hulle was hy die wonderliks­te pastoor. Hy het gereeld huisbesoek gedoen en koekies afgelewer tydens daardie besoeke wat ek die vorige aand moes gebak het.

“En dan sê hy nie eens dankie nie, al moes ek vir ure op ’n slag in die kombuis besig wees. Dis hoe hy was. Vriendelik­er met die dorpsmense as wat hy met sy eie gesin was. Om die familienaa­m te beskerm, sou hy enigiets doen. So hoe op aarde kon ek vir hom sê sy ongetroude, agtienjari­ge dogter is swanger? Jul ma was histeries die dag toe sy vir my sê sy verwag vir Nadine. Sy was so bang, want sy het nie geweet hoe haar pa op die nuus sou reageer nie. Sy was op die punt om sy droom van die ‘perfekte gesin’te vernietig. Jul oupa was altyd bekommerd oor wat mense sou dink en sê.

“Toe sê ek vir hom jul ma gaan op ’n skooltoer en sy gaan bly toe by my jongste suster tot die geboorte. Ek weet nie hoe ons dit reggekry het om die swangerska­p en siekraak weg te steek nie, maar ons het.

“Jul ma se idee was om geboorte te skenk en dan moet ek jul oupa na die hospitaal bring. Sy het gedink as hy eers sy kleinkind sien, gaan hy so gelukkig wees dat hy nie gaan worrie oor wat die mense sou dink nie. Maar wat sy nie geweet het nie, was dat hy net daardie Sondag in die kerk gepreek het oor tienerswan­gerskap en hoe ouers nie moet toelaat dat hul kinders die pad byster raak nie. Net daar het ek gesien wat op ons wag en ek moes ’n plan beraam. Ek het Adrian gebel en gesê julle ma is swanger en dat hy die kind moet kom haal. Ek sal hom dan elke maand geld stuur om toe te sien dat sy goed versorg word.

“Jare later het ek uitgevind hy het jou by sy ouers gelos en ons het kontak verloor. Ek weet jou kinderjare was aaklig, Nadine.”

Lorraine, Nadine en Estelle kan in haar stem hoor hoe moeilik dit vir hul ouma is om die storie te vertel.“Ek onthou die kyk in jul ma se oë toe sy vir jou, Nadine, die eerste keer vasgehou het. Sy was so gelukkig. Sy het trane in haar oë gehad. Ek ook. Maar my trane was ander soort trane, want ek het geweet wat op ons wag. Ek het geweet Adrian is op pad en jul ma sou haar nooit weer sien nie.

“Toe neem ek jou in my arms en fluister in jou oor‘Vergewe my’. ’n Paar minute later toe daag Adrian op en daar verdwyn julle twee vir die volgende dertig jaar. Dit was so verskrikli­k.

“’n Week later staan ons langs jul oupa voor in die kerk. Die‘perfekte gesin’. Die norse pa en man wie nie sy gesin werklik waardeer nie, die ma wie haar dogter se kind laat ontvoer het en die dogter, stukkend van binne, want sy weet nie waar haar kind is nie.

“En toe gaan drie dekades verby. Ek het ’n huishulp gesoek en ’n kerksuster het my aangeraai om op ’n spesifieke webtuiste te gaan kyk en toe ek jou foto op die skerm sien, Nadine, toe sien ek my dogter. Toe sien ek daardie babatjie wie uit liefde weggestuur was om die valsheid lewendig te hou. Ek het dadelik besluit jy moet by my kom werk, want dan het ons jou by ons vir ’n rukkie. Jou ma het nooit geweet dis haar dogter wat vir haar tee gemaak het wanneer sy hier kom kuier het nie, maar sy’t altyd vir nog ’n koppie gevra. Sy het jou geken as Dinnatjie, want dis hoe ek jou aan almal voorgestel het.”

Daar is vir ’n oomblik stilte in die voorkamer soos almal stadig die nuus probeer verwerk. Lorraine en Estelle kyk met nuwe oë na hul ouma en wonder hoe desperaat sy moes gewees het om sover te moes gaan om haar eie kleinkind te laat ontvoer.

“Hulle sê my ma het die huis vir my gelos,”sê Nadine emosioneel.

“Ja, ek is bewus daarvan. En ook van die skilderye,”sê Ouma.“Julle ma het ’n muur in haar huis laat aanbring en skilderye daarop geverf. Sy het die skilderye vir die vyf kinders gelos wie sy grootgemaa­k het en die huis vir jou, Nadine, haar oudste dogter. Die hoop was dat dit julle bymekaar sou bring. Sy wou gehad het julle moes mekaar vind. Dit was wat haar testament eintlik sê. Dat sy haar kinders agterlaat vir mekaar, om mekaar te vind en lief te hê . . .”

Nadat die stof gaan lê het, is Nadine verwelkom in die Cupido’s se huis in Idasvallei. Die muur vol skilderye is nooit verwyder nie en Nadine het al haar nuwe boers en susters mede-eienaars van die huis gemaak.

En hoewel die wolke soms nog hul verskyning maak, weet hulle – die son sal weer skyn.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa