Kuier

Wat die hart van vol is

In SA heers daar steeds ’n diskoers van “ons” en “hulle”. Maar om dié denkwyse te verander, moet ons by ons kinders begin.

-

Vir jare sukkel ek nou al om my miesies te oortuig dat draf ’n gevaarlike ding is. Maar as sy my nie al die jare wou glo nie, het ek die afgelope ruk genoegsame bewyse bymekaar gemaak.

’n Arme tuinier van elders in Afrika wat laat was vir werk en besluit het om te hol, is amper bokveld toe geslaan met ’n sjambok. Dit ná hy amper eers omgery is.

Nou sê ek vir die miesies dit kan met my ook gebeur as ek doelloos rondhardlo­op, maar soos die miesiese maar is, kap sy terug:“Jy woon nie in die Southern Suburbs nie en jy is nie wit nie!”

Dis in sulke gevalle wat ek wens ek het nie skelm gerook toe ek nog ’n laaitie was nie, want my brein kan nie gou genoeg aan ’n teenvoeter dink nie. Wit? Southern Suburbs? Miesies een, ek nul!

Is dit net ek of is Suid-Afrika terug in ’n rasse-maalkolk? ’n Plek waar ons te bang moet wees om in mekaar se buurte te kom, wat nog te sê hardloop. Die realiteit is, ná 20 jaar van demokrasie is baie van ons woonbuurte nog op grond van ras verdeel. Swart mense een kant, wittes aan die ander kant en bruines iewers. Dit skep steeds ’n situasie waar iemand“uitstaan”as hy in jou“hood”kom.

In die mikrokosmo­s van ’n klein dorpie het dinge opvallend verander met integrasie wat natuurlik gebeur het. Sommige mense sê dit is omdat daar nêrens heen was om te gaan nie. In die groot stede sien ’n mens die veranderin­g drupsgewys, maar tog.

Met die hele hoeha oor die slanery van die tuinier, gesels ek en my wit kollega oor wat sal gebeur as ’n wit vrou deur die township hardloop? Ek is seker die mense sal dit net as ’n aardigheid sien. Sjambok uithaal? Ek dink nie so nie.

Die ding wat pla, is dat die diskoers in die land die heeltyd draai om“hulle”en “ons”. Mense word so opgesweep in die kleurdebat dat iemand homself as die bewaker van sy buurt aanstel en enigiemand wat nie soos hy lyk nie, wil dood bliksem.

’n Swart advokaat op ’n oggendstap­pie in Brackenfel­l in die Kaap word deur die buurtwag vir sy identiteit­sdokument gevra en toe hy weier, word hy gekarnuffe­l. ’n Huishulp wat in die straat staan, word as ’n prostituut aangesien en ’n snotklap gegee.

Hoe de hel het ons hier beland? Ons almal, want in Suid-Afrika is daar nie ’n “hulle”nie. ’n Mens moet bang word as jy sien hoe die blaam verskuif word wanneer iets verkeerd loop.“Dis die wittes se skuld” of“dis die swartes se skuld”.

Ek kry die ander dag ’n oproep dat mense in Goodwood bang is die Stad Kaapstad bou laekoste-behuising naby hulle. Hoekom vrees ryk mense die armes? Of is dit net ’n bedekte vorm van rassisme, dat“hulle”nou te naby aan ons woon? Ja, daar was die redenasie van waardes van huise wat gaan daal en dié kant toe en daai kant toe. My punt is, toe ek grootword was daar altyd arm mense rondom ons. Ons was ook nie ryk nie, maar daar was mense wat armer was as ons. En het dit iets van ons weggeneem? ’n Bietjie suiker hier en ’n broodjie daar, maar ons het hulle nie weggewens nie.

My hele lewe lank probeer ek nie na kleur kyk nie. Om mense te sien soos wat hulle is of om hulle te beoordeel soos Martin Luther King Junior voorstel:“By the content of their character”.

Ek ken mense wat neerhalend na ander rasse verwys in die privaathei­d van hul huis of waar hulle nie gehoor kan word nie, maar ek maak seker hulle weet hoe ek voel oor rassisme of stereotipe­ring. Dus is dit vir my ’n teer saak as ek die koerante oopslaan en weer lees van ’n rasse-aanval.

Maar hoe kan ons ons persepsies verander? Hoe kan ons ’n gemeenskap word wat soomloos en kleurloos integreer?

Ek vermoed vir baie van die oueres is dit te laat, want hul gedagtes is reeds gevorm. En hoewel dit nie onmoontlik is nie, sal hul mindset moeilik verander word. Dus is die beste plek om te begin by ons kinders. Hulle wat nog so ontvanklik is vir goeie, gesonde waardes. Wat nog geleer kan word dat kleur net geskenkpap­ier is en dat die ware geskenk aan die binnekant is.

Hoe sal jy voel as jou kind gebliksem word as hy vir ’n draffie gaan? Of nog erger, as jou kind iemand byna doodmaak omdat hy voel daardie persoon pas nie in by sy omgewing nie? Dink daaraan.

In die tussentyd hardloop ek maar nêrens.

 ??  ?? RUITER DEUR BRENDEN
RUITER DEUR BRENDEN

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa