JOU KIND: Maak só as jy molestering vermoed
Molestering is ’n grudaad wat daagliks in ons gemeenskappe plaasvind. Dit veroorsaak ook langtermyn skade aan kinders. Kyk uit vir die gevaartekens en meld dit aan. Gaan deur die regte kanale, volg dit op en moenie moed opgee nie.
Jy’t gehoor ’n maatjie in jou kind se klas word glo deur ’n gesinslid gemolesteer. Die maklike uitweg is om die gerug te ignoreer, maar wat as dit môre met jóú kind gebeur?
Die meeste mense besef nie jy het ’n morele én ingevolge die Kinderwet, ’n wetlike plig om jou vermoedens aan te meld anders kan jy persoonlik aanspreeklik gehou en aangekla word.
Dit is hoekom Gwendolene Booyens* (36), ’n onderwyser van Port Elizabeth, móés optree toe Janelle* (13), een van die skool se leiers, eendag nie wou huis toe gaan ná skool nie. Janelle het ook voorheen gesê sy wil selfmoord pleeg. Sy het al hoe stiller geword, omtrent niks geëet nie en was lusteloos.
Die juffrou het die saak onder die skoolhoof se aandag gebring en hy het die nodige stappe gevolg, soos deur die departement van onderwys in plek gestel is. Die skool het die kinder- en gesinsorgvereniging gebel en ’n maatskaplike werker het met Janelle en haar ma gesels. Janelle se gedrag was waarskuwingstekens van mishandeling.
Alna de Waal, ’n senior maatskaplike werker van Kindersorg in George in die Suid-Kaap, sê die skool het die situasie reg hanteer.
Alna meen baie ouers is onseker oor hoe om vermoedens van misbruik te hanteer. Haar raad is eenvoudig: gaan praat met die plaaslike klinieksuster, of bel Lifeline of Kindersorg, Famsa, jou plaaslike kinderbeskermingsagentskap of die departement van maatskaplike ontwikkeling om jou te help.
“Ons kry selfs skoolkinders wat hier aankom of ons bel om te vertel van maatjies wat in die moeilikheid is,”sê Alna.
“Ons bel die kinders, nooi hulle om te gesels en volg op met die ouers. Dit voel vir my ons kinders is meer ingestel op wat nodig en moontlik is, as grootmense.”
nie altyd eenvoudig
Marita Rademeyer, ’n kliniese sielkundige van Pretoria se Traumakliniek vir kinders, waarsku dit is nie altyd so“eenvoudig”soos in Janelle se geval nie.
Sy vertel van mense wat hul vermoedens van seksuele misbruik by skole wou aanmeld waar hulle eenvoudig vertel is “ons raak nie betrokke nie”en weggewys is – ten spyte van departementele beleid en riglyne.
“Die realiteit van ons land is dat mense hulle vasloop,”sug Marita.“Die meeste stelsels vir kinderbeskerming in Suid-Afrika is disfunksioneel.”
Sy glo jy besef dit eers as jy self toegang daartoe probeer kry en“jou orals vasloop in mense wat óf oorwerk is óf nie die nodige ervaring of kennis het nie, óf net