VUURVEGTER: Dapper brandweerman ontsnap net-net verwoestende vlamme
’n Ontploffing tydens die onlangse brand in die Suid-Skiereiland het hom amper sy lewe gekos, maar hy sit glad nie in sak en as daaroor nie. Sy fokus is nou op gesond word. DEUR AMY JOHNSON
Sy storie klink soos uit ’n movie, behalwe dat hy nie ’n stuntman of ’n Hollywood-akteur is nie. Frank Forbay (47) was deel van die span brandbestryders wat die onlangse verwoestende brand in die Suid-Skiereiland moes probeer blus nadat dit alles in sy pad verswelg het. Hy het ernstige beserings opgedoen, maar is spyt oor niks en is dankbaar dat hy met sy lewe kon wegstap.
Die brand het mense van oraloor laat gons en vir ’n week lank was die plaaslike en internasionale kollig op die dapper mans en vroue wat onverpoos gewerk het om die Goliat van ’n brand in een van die wêreld se gunsteling-bestemmings te blus.
Duisende hektaar grond is verwoes en talle mense se huise is in puin gelê nadat die brand op 1 Maart uitgebreek het. Die brand is in bedwang gebring, maar ’n dag later is dit weer deur sterk winde aangeblaas. Die brand het vinnig na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei en honderde brandbestryders het dae lank gespook om die brand onder beheer te bring. Frank, afdelingsbevelvoerder van die Kuilsrivier-, Belhar- en Mfulenibrandweerstasies buite Kaapstad, was een van hulle.
VLAMMEHEL Die Maandag (2 Maart) het vir hom soos elke ander dag begin en hoewel sy skof eers 08:00 die oggend moes begin, is hulle weens die erns van die brand al om 04:30 ingeroep.
“My werk daardie dag was om in die gebiede wat geraak is, te ry en te kyk waar die eiendom in gevaar is en versterkings in te roep,”vertel Frank.
“Toe ons deur die tolhek by Chapmanspiek kom, het mense ons voorgekeer en gesê daar is ’n lodge wat brand. Ons het toe omgedraai en die mense daarheen gevolg.”
Met Frank en sy kollegas se aankoms by die Tintswalo Atlantic Lodge het die brand net begin en vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het toe reeds probeer om die brand te blus. Frank en sy kollega was in ’n 4x4-voertuig, wat nie regtig geskik is om dié tipe brand te blus nie.
Die sterk wind het die brand vererger en die vlamme het vinnig deur die lodge versprei. Boonop het hulle geen sein gekry in die gebied van die lodge nie en hy moes op beweeg na die hoofweg om die beheersentrum te kontak om ’n geskikte voertuig te stuur. “Ons was besig om die brand uit die groter voertuig te probeer blus en eweskielik het daar niks meer water uitgekom nie. Die vlamme het vinnig in my rigting begin beweeg en ek het vir my kollega geskree dat ons nog water nodig het,”onthou hy.
Frank se handskoene was sopnat en hy het dit afgehaal sodat hy verstellings aan die brandslang kon maak. Maar binne ’n oogwink was daar ’n gasontploffing in die gebou.
“Ek was die enigste persoon wat in die pad van die deur gestaan het en dit was seker meer as 1000°C wat verby my beweeg het. Ek kon voel hoe die vel van my hande afsmelt. ’n Warmte het deur my liggaam beweeg en ek het toe ’n jacuzzi gesien. My eerste instink was om daarheen te hardloop en ek het gesig eerste daarin geduik. Toe ek afkyk na my hande, het ek gedink dis hoe my gesig ook lyk. Al wat ek gedink het, was genade, ek is scarred for life. Dit het verskriklik gebrand en die koue water in die jacuzzi het gehelp om die pyn te verlig.”
Hy het homself toe in ’n benoude posisie bevind, want die jacuzzi was in die pad van die vlamme wat blitsvinnig in daardie rigting beweeg het.