Kuier

BOODSKAP: Maak Paasnaweek ’n tyd om te besin en te vergewe

- BRIAN CORAIZIN

Vir sommige is Paasfees ’n tyd van uitbundige plesier en jolyt. Vir ander is dit stiltetyd; ’n tyd om diep te dink oor die liefde van God. ’n Tyd om te besin hoe God op wonderbaar­like wyse in die geskiedeni­s van die mensdom kom ingryp het en ’n middelaar in Sy seun, Jesus Christus, bewerkstel­lig het tot vergifnis van die sonde van die wêreld.

Die lewe snel by ons verby en die een Paasnaweek volg op die ander in ’n oogwink. Vir baie is dit ’n hartseer tyd omdat so baie donker gebeure plaasvind tydens hierdie naweek. Misdaad neem toe en moorde word gepleeg deur mense wat in roekelose uitspattig­heid hulle oorgee aan dronkenska­p en geweldpleg­ing.

Dan is daar ook die treurmare wat op die land se paaie afspeel. Honderde mense sterf oor ’n enkele Paasnaweek weens nalatige bestuur of selfs uitputting weens langafstan­de oor ’n kort periode. Dit lei tot soveel padongeluk­ke en lewensverl­ies.

Bybelsgesp­roke herinner Paasfees ons aan die bloed van Christus wat gevloei het tot ’n volle versoening vir die sondes van die ganse mensdom. God het die hele wêreld lief en het Sy seun gestuur om boete te kom doen vir ons sondes. Dit is liefde wat Hom vasgespyke­r het aan die kruis op die heuwel van die kopbeen, Golgóta, buite Jerusalem.

Eienaardig is dit in ons tyd ook ’n tyd van gruwelike bloedvergi­eting weens die ongelukke en misdaad op dié besondere naweek plaasvind. Dit laat ’n mens wonder watter impak maak Paasfees op ons lewens? Is dit maar net ’n tyd om ingelegde vis en rolletjies te eet op Goeie Vrydag en Sondag ons tradisione­le sjokolade-eiers?

Behoort Paasfees dan nie ’n dieper impak op ons lewens te maak nie? Dit is dan juis die baken van die Christelik­e hoop waarop ons geloof gebou is. Die Here het opgestaan. Hy leef en Hy kom weer! As dit nie vir die opstanding was nie, was daar geen betekenis in ons Christelik­e geloof nie. Ons leef omdat Hy leef. Jesus, die Seun van God, wat die sondes van die wêreld op Hom geneem het. As Christene is ons saam met Hom gekruisig en staan ons weer uit die dood uit op saam met Hom.

Paasfees en die gebeure op die kruis is die rede vir ons geloof. Daarom sterf ons terwyl ons lewe om sodoende die ou mens te vernietig en ons staan uit die sonde op geklee met die geregtighe­id van Jesus Christus. Sy bloed is ons dekking. Ons sal dus ook nie nakend hierdie tydelike tabernakel, naamlik die aarde, verlaat nie. Ons is geklee met die bloed van die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Wanneer dit ons beurt is om voor God te verskyn, sal Hy nie ons sondes sien nie. Hy sal die dekking van die bloed van die vlekkelose Lam sien wat ons sondes wegneem.

God het gegee en sal van ons rekenskap eis oor wat ons met Jesus gemaak het.

Hierdie voorsienin­g van God word die “Indikatief van God”genoem. Hy het alles in plek gestel tot die punt waar ons slegs hoef te aanvaar deur Jesus se heerskappy te erken en in Sy voetspore te wandel. Die imperatief wat God daar stel is dat ons Sy vrye geskenk van genade in Jesus Christus sal aanvaar en Hom Here van ons lewens sal maak. Dit maak die Vader se hart baie bly wanneer ons tot inkeer kom en Jesus Christus met hart en siel dien.

Paasfees verteenwoo­rdig ook vergifnis. God het ons vergewe en Hy verwag dat ons mekaar sal vergewe. Sonder vergifnis kan daar vir ons nie vergifnis wees nie, in terme van Matteus 6:14 wat duidelik sê ons moet sewentig maal sewe keer vergewe.

Ons moet in ’n regte verhouding met God en ons naaste lewe. Paasfees bring ook ’n verantwoor­tdelikheid mee. Ons moet in die gemeenskap waar God ons geplaas het, Sy lig laat skyn. Ons word geroep tot publieke verantwoor­delikheid en deur Paasfees word ook ons morele kompas aangedui. Dit gaan alles oor Christus en Sy genade en die liefde van God. Jesus is die kneg van God wat vir ons gewond was en in Sy wonde lê ons genesing.

Jesaja 53 praat van die Gewonde Geneesheer. Die Kneg van God in wie se strepe ons heling lê.

Gaan ons maar net klakkeloos voortploet­er van jaar tot jaar sonder om werklik die diepte van Paasfees te besef? Dit baat ons niks om vir ’n periode van 40 dae iets op te offer asof ons daardeur vir God ’n guns doen nie. God soek meer as dit.

Hy soek saam met ons vas ook ons harte. Hoe sal ek en u Paasfees 2015 vier? Sal dit in die stilte van die waarheid van Paasfees wees of met die luidrugtig­heid van nog ’n langnaweek? ’n Naweek van wilde avontuur en min of geen agting vir God en Sy Liefdesoff­er nie?

Sterkte en seën word u toegebid vir Paasfees. *

Ds. Brian Henry Coraizin is leraar van die Verenigend­e Gereformee­rde Kerk se Die Slot-gemeente in Grassy Park, buite Kaapstad.

God het ons vergewe en Hy verwag

dat ons mekaar sal vergewe.

 ??  ?? Is Paasnaweek vir jou ’n tyd vir diepe besinning of maar net nog ’n rede om ’n langnaweek te vier? DEUR DS.
Is Paasnaweek vir jou ’n tyd vir diepe besinning of maar net nog ’n rede om ’n langnaweek te vier? DEUR DS.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa