Kuier

Ma steeds gebroke ná boyfriend haar tweeling wreed doodsteek

Haar hele lewe is een van verwerping en mishandeli­ng. Maar die grootste seer was toe haar boyfriend haar tweeling voor haar oë doodgestee­k het. Dit het ’n leemte gelaat wat nooit gevul sal word nie.

- DEUR ERNUSTA VAN WYNGAARD

Ek wonder hoe hulle nou sou gelyk het. Ek mis alles van hulle. Hulle het my altyd laat lag.

Daar is seker vir ’n ouer niks erger as om ’n kind te begrawe nie en Reinette Neelse (27) van Caledon in die Wes-Kaap moes twee op een slag in die graf sit. Maar haar storie is selfs erger as dít. Ná ’n lewe van verwerping en vertrappin­g was dit haar soeke na liefde en aanvaardin­g wat uiteindeli­k tot haar grootste seer gelei het.

En Reinette kén seer. As kind is sy verwerp deur haar ma en later as volwassene het Netta, soos sy bekend staan, haar telkens vasgeloop in die vuiste van mans wat haar gemanipule­er en fisiek en verbaal mishandel het.

Tog het sy bly hoop sy kry haar droomman wat alles sal regmaak. En toe ontmoet sy in Oktober 2012 vir Heinrich“Junior” Siegels (32).

Hy het net op die regte tyd in haar lewe gekom. Hy was die nuwe begin nadat sy in Augustus van daardie jaar verkrag is.

Nadat sy en Heinrich ontmoet het, het Netta gedink haar drome van ’n beter lewe vol liefde is uiteindeli­k bewaarheid. Hy het haar gedagtes vir ’n wyle van die trauma van haar verkragtin­g afgehaal en het haar hart gesteel toe hy aanvanklik haar tweelingdo­gters, Ranecia en Ranetha, wat sy by iemand anders het, aanvaar het.

Maar dit sou die einste Heinrich wees wat Netta die seerste seer toegedien het. G’n van die fisieke aanslae in haar lewe was seerder as toe hy haar tweeling op 14 Desember 2012, elf dae ná hul tweede verjaardag, wreed voor haar oë met ’n mes doodgestee­k het nie.

Sy sal hierdie dag nooit vergeet nie, want op dié dag het Heinrich haar en haar tweeling soos ’n besetene aangeval en hulle al drie vol gate gesteek. Netta het oorleef, maar Ranecia het in die straat in haar arms gesterf voordat die ambulans gekom het. Ranetha het ’n bietjie langer geleef en later in die hospitaal langs haar suster haar laaste asem uitgeblaas.

Netta is ’n tenger vrou en met hierdie klein lyfie het sy daardie dag soveel as moontlik van Heinrich se meshoue wat op haar en haar dogters neergereën het, probeer afweer. Maar hy was te sterk vir haar.

Luidens mediaberig­te het Heinrich erken hy was ’n tik-dealer en het op die dag van die moord tik gebruik. Netta sê sy het Heinrich nooit gesien tik gebruik nie.

Regter Keith Engers het egter beslis hy was deeglik bewus van sy dade op die moorddag.

Al gaan dit nie haar kinders terugbring nie, bring dit ietwat vertroosti­ng dat Heinrich einde Februarie vanjaar in die WesKaapse Hooggeregs­hof skuldig bevind is aan die moord op haar tweeling, sowel as op die aanranding op Netta.

Hy word op 24 April gevonnis en al het Netta nie vroeër kans gesien om die hof- saak by te woon nie, wil sy daar wees wanneer haar kinders se moordenaar gevonnis word. Sy wil met haar eie ore hoor hoe lank hy gaan boet vir wat hy gedoen het.

haar moeilike lewe

Om hierdie trauma te herleef, is erg vir Netta, maar sy vertel haar storie moedig. Ranecia en Ranetha is dalk dood, maar hulle leef steeds in Netta se hart en gedagtes. Dis hoekom sy deesdae baie tyd by hul graf deurbring en net met hulle gesels.

“Ek weet hulle kan nie terugpraat nie, maar dit help my as ek dit doen,”sê Netta sag. (Sy het ook twee ouer kinders, Anronique (11) en Anwill (8), uit ’n vorige verhouding, maar nie by die tweeling se pa nie.)

Netta vertel sy is as een van ’n tweeling gebore, maar haar suster het drie dae ná hul geboorte gesterf en syself was ondervoed, sieklik en was vir ’n jaar en twee maande in die hospitaal.

Haar oë kry ’n veraf uitdrukkin­g wanneer sy gelate sê:“My ma wou my nie gehad het nie. Ek het haar ’n jaar of wat gelede nog laas gesien, maar ek dink nie eens sy weet meer hoe ek lyk nie.”

Netta het in pleegsorg grootgewor­d, maar ten spyte van haar seer kinderjare en traumaties­e ervaringe, lag sy steeds maklik en het ’n aansteekli­ke sin vir humor.

Dis met dieselfde sin vir humor wat sy vertel watter “aantreklik­e outjie”Junior

(Heinrich) was en hoe gou hy haar vertel het hy is“malverlief”op haar. Netta het ook vinnig vir hom geval en hy het een-tweedrie by haar en die tweeling in haar hokkie agter iemand se huis ingetrek.

Dit was twee maande nadat sy verkrag was. Sy was gebroke en het Heinrich se aandag verwelkom.

Haar verkragter (Christophe­r“Kribo” October), iemand met wie sy saam op skool was, was agter tralies toe sy en Heinrich ontmoet het.

“Ek het myself ná die verkragtin­g in my hokkie toegesluit, want ek was bang hy (verkragter) kom terug om my dood te maak, want die polisie het twee weke lank na hom gesoek. Maar ek het te veel pyn gehad en besef het ek moet hulp kry vir my kinders se onthalwe,”onthou Netta een van haar nagmerries van 2012.

Christophe­r is verlede jaar uiteindeli­k weens haar verkragtin­g gevonnis, maar Netta sê sy weet nie hoeveel tronkstraf hy gekry het nie.

“Ek kon nie wag dat die hofsaak verby is nie, want ek moes die heeltyd alles herleef,” sê sy amper kortasem.

Maar vir ’n ruk was Heinrich daar om haar aandag van alles af te lei. Of so het sy gedink, want dit was nie lank nie of sy het haarself in ’n nuwe hel bevind.

Behalwe dat hy van Hawston was, vertel Netta sy het amper niks van Heinrich af geweet nie. Hy het ook nooit baie gepraat oor waar hy vandaan kom nie.

Hul“wittebrood”-fase waarin Heinrich “loving you en loving me”was, is egter binne ’n maand verby, sê Netta.

“Sy houding teenoor my het verander en hy wou nie hê ek moes iewers heen loop nie. Wanneer ek tot by my broer se huis gekom het, het hy my hier kom haal en in my plek toegesluit. In die tweede maand (nadat ons ontmoet het), het hy begin slaan aan my.”

Hy het haar daarvan beskuldig dat sy “uitpraat uit die verhouding”en wou gedurig by haar weet wie tussen hy en die tweeling is belangrike­r vir haar.

Al was Netta bang vir Heinrich, het sy vir hom gesê die tweeling is die belangriks­te vir haar.“Hy het gesien ek het ’n vrees vir hom en dat ek bang was vir ’n mes. Hy het ook geweet ek het boyfriends gehad wat my abuse het en oor die algemeen bang was vir mans.

“Hy het ook geweet wanneer ek abuse word, praat ek nie daaroor by ander mense nie,”verduideli­k Netta.

Dit begin vir haar al hoe moeiliker word om verder te vertel, omdat die onderhoud nader beweeg aan die aanloop tot Ranecia en Ranetha se dood. Ons stop eers sodat sy kan asem skep en haar emosies onder beheer kan kry.

Van 1 Desember 2012 af het Heinrich se abuse net erger geraak en sy het hom so baie gevrees dat sy saans die tweeling aan haar vasgemaak het (een voor en een agter haar rug), wanneer hulle gaan slaap het.

Ander kere het hy haar heelnag wakker gehou, terwyl Ranecia en Ranetha op haar skoot geslaap het. Soms sou sy wakker skrik en Heinrich sou in die donker net na haar sit en kyk. Die AllPay wat sy vir die tweeling gekry het, het hy ook netso gevat.

Netta glimlag wanneer sy die tweeling se verjaardag op 3 Desember onthou. Min het sy geweet dit sou hul laaste verjaardag saam met haar wees.

TRAGEDIE SPEEL AF

Sy begin emosioneel vertel Heinrich het haar die aand van 14 Desember reeds met die mes begin steek agter haar rug.

Ranecia was by haar, terwyl Ranetha saam met haar landlady (wat ook die tweeling se pa se tannie is) gekuier het.

“Ranecia het geslaap terwyl hy so aangegaan het met my. Ek het nie oor myself geworry nie; ek wou net hê dit moes dag word sodat ek kon wegloop. Ek het nooit vir my kinders gewys ek huil of het pyn nie. Ek het gelag deur alles,”sê Netta ál sagter.

Toe Ranetha die Vrydagogge­nd (14 Desember) huis toe kom, het Heinrich haar steeds met die mes gedreig. Netta het egter haar kans gevat om na haar broer se huis te vlug toe Heinrich hulle vir ’n oomblik alleen laat.

Dit was egter tevergeefs, want toe Netta by haar broer se huis aankom, het Heinrich reeds daar met ’n“lelike”mes gewag. Daar was niemand behalwe haar broer se seun, Damian, by die huis nie. Hy het later geloop en Heinrich het met haar baklei in die huis.

Later het hulle by ’n ander huis in ’n ander straat opgeëindig, waar Heinrich sy vreemde gedrag (vermoedeli­k weens die tik) voortgesit het. Hy wou ook nie hê sy moes die tweeling naby haar hê nie.

“Ek moes heeltyd langs hom sit en hy het sommer my gesig met ’n waslap afgevee en vir my begin bid en my onder die bloed getrek. Sy het die vrou van die huis gesê om te kyk vir ’n polisievan en hulle te stop as hulle kom,”vertel Netta terwyl sy al vinniger begin praat.

Twee polisiebea­mptes het opgedaag, maar Netta sê hulle het nie eens die mes by Heinrich afgevat nie, al het hulle dit gesien.“Hulle het eerder vir my gesê ek moet die ambulans bel vir Junior (Heinrich) as hy erger raak,”sê Netta.

Dit was nie lank hierna nie of Netta was vasgevang in ’n bloedige nagmerrie.

Netta en Heinrich het uitgegaan buite toe en die tweeling was agter in die huis by hulle.

Haar stem begin breek wanneer sy sê: “Dit was die laaste keer wat ek Ranecia en Ranetha (lewend) vasgehou het. Hulle het begrafnisl­iedjies begin sing en blommetjie­s gepluk en om die huis gestrooi. Hulle het by die punt van die huis gestaan en vir my gewaai. Ek het gewonder wat aangaan. Tien minute later het Junior hulle gesteek.”

Heinrich het agter die tweeling aangehardl­oop en eerste vir Ranecia gegryp. Hy het die deur probeer sluit, maar Netta kon dit regkry om hom tot in die huis te volg.

Toe sy binne kom, het ’n afgryslike toneel haar begroet toe Heinrich bo-oor Ranecia, wat op haar rug op die bank gelê het, kniel en haar herhaaldel­ik met die mes gesteek het.

Netta lig haar arms en wys hoe Heinrich net gesteek en gesteek het.

Hy het hierna vir Ranecia aan die voete gevat en wou haar teen die muur gooi, maar Netta het haar betyds gevang en badkamer toe gehardloop.

“Maar hy was te vinnig vir my. Die huis was ook vol bloed en ek het gegly. In die badkamer het ek Ranecia agter my rug weggesteek vir hom en hy het my slagaar raakgestee­k en my ook op die kop, skouers en ek weet nie waar nog oral raakgestee­k. Toe word die huis skielik stil . . . ”

Ranetha het toe buite op die stoep in ’n hopie gesit.

“En Junior (Heinrich) het haar netso, terwyl sy in ’n hopie gesit het, met die mes gesteek. Die mense het haar daar in ’n hopie gekry. So het ek met hul albei, vol gate gesteek, in die pad gesit.

“Hulle het begin koud kry van al die mesgate in hul lyfies. Ranecia het in die pad in my arms gesterf. Hulle het nie een keer ’n geluid gemaak nie,”sê Netta voor sy breek.

Netta het by die hospitaal inmekaarge­sak met Ranecia steeds in haar arms. Dokters het intussen gespook om Ranetha se lewe te red.

Maar hul pogings was tevergeefs. “Toe ek bykom, het die dokters vir my gesê Ranetha wag net vir my. Haar magie was groot opgeswel en sy was potblou. Net haar ogies het beweeg. Ek moes vir haar sê, ‘dis orraait, jy kan maar slaap’. Toe is sy oorlede. Ranecia, wat reeds dood was, het ook by haar in die kamer gelê.”

Netta se lyf ruk soos wat sy hierdie oomblik herleef.

Sy het daardie nag die heeltyd met hulle op haar bors gelê en wou nie hê hospitaalp­ersoneel moes hulle wegvat nie. Teen drieuur die Saterdagog­gend (15 Desember 2012) het sy hulle uiteindeli­k laat gaan.

Netta het ook self hul lyke gewas.“Ek wóú dit doen, omdat net ék hulle gewas het toe hulle geleef het. Hul begrafnis was 22 Desember. Dit was ’n bitter Kersfees daardie jaar.

(Heinrich is dieselfde dag van die moorde gearrestee­r.)

HART BLY LEEG

Die tyd ná die tweeling se dood en Heinrich se arrestasie was nie maklik nie, want Netta het dreigement­e uit die tronk gekry en probeer om vir nie te lank by een adres te bly nie. Maar sy is nou moeg gevlug. Sy wil hê Heinrich moet nooit weer uit die tronk kom nie; dis hoekom sy daar wil wees wanneer hy gevonnis word. Sy wil hierdie hoofstuk van haar lewe afsluit.

Netta het nie berading gehad nie, maar probeer intussen op haar eie cope.

Die leemte in haar hart, wat Ranecia en Ranetha se dood gelaat het, sal vir ewig daar bly. Netso ook die pyn van die wrede manier waarop hulle van haar weggeruk is. Sy probeer haar verlange vul deur met die tweeling by hul graf te gesels.

“Ek wonder hoe hulle nou sou gelyk het. Ek mis alles van hulle. Hulle het my altyd laat lag,”sê sy. Die veraf uitdrukkin­g in haar oë is terug.

Ons kan net hoop en bid Netta kry eendag die berusting waarna sy soek en die liefde en aanvaardin­g wat elke vrou verdien.

 ??  ?? HOOFFOTO: Reinette (Netta) Neelse (27) herleef die dag van die gru-aanval op haar en haar dogters.
HOOFFOTO: Reinette (Netta) Neelse (27) herleef die dag van die gru-aanval op haar en haar dogters.
 ??  ??
 ??  ?? Die storie oor die tweeling se moord hetgroot opslae in koerante gemaak.
Die storie oor die tweeling se moord hetgroot opslae in koerante gemaak.
 ??  ?? Netta by haar dogters se graf wat sy gereeld besoek om met hulle te gesels wanneer sy na hulle verlang.
Netta by haar dogters se graf wat sy gereeld besoek om met hulle te gesels wanneer sy na hulle verlang.
 ??  ?? BO: Die tweeling Ranetha (links) en Ranecia was Netta se sonstraalt­jies en iswreed van haar weggeneem.
BO: Die tweeling Ranetha (links) en Ranecia was Netta se sonstraalt­jies en iswreed van haar weggeneem.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa