Kuier

Onnie stap elke dag 34 km ver na sukses

Deur wind en weer het hy elke dag 34 km universite­it toe gestap. Nou proe hy uiteindeli­k hoe smaak sukses.

- DEUR ERNUSTA VAN WYNGAARD

Wanneer die onderwyser Eric van der Byl (44) sê hy het ’n harde pad gestap om die sukses te bereik wat hy vandag begin smaak, bedoel hy dit letterlik.

Want hierdie vasbeslote man het vir vyf jaar elke dag altesaam 34 km universite­it toe en terug gestap om sy graadstudi­es te voltooi.

En hy het nie een dag uit die klas gebly nie, al moes hy telkens die Kaapse weer in al sy glorie trotseer, sowel as gangsters wat hom langs die pad beroof het.

Die stappery was maar een van die ondenkbaar moeilike uitdagings wat Eric van Hanover Park op die Kaapse Vlakte, die afgelope vyf jaar moes oorkom om verlede maand uiteindeli­k sy Bachelor of Education-graad aan die Universite­it van Wes-Kaapland (UWK) te verwerf.

Eric, ’n getroude man en pa van drie, het amper elke dag met ’n maag wat raas van die honger getrou sy klasse bygewoon. Boonop het sy vrou, Denise, nie ’n vaste werk gehad nie. Die Van Der Byls het nooit geweet waar hul volgende maaltyd vandaan sou kom nie. Eric se kinders, Brandon (18), Cassidy (14) en Shannon (9), het net soos hul pa geleer om aan te gaan, ten spyte van wat agter hul Wendyhuis se deure aangegaan het.

Om sy vrou en kinders te sien swaarkry, was moeilik vir Eric, maar hy het ook geweet sou hy sy studies opgee en net voortgaan om enige werk te doen, sou hulle in die armoede-siklus vasgevang bly.

Dit is hoekom Eric deurgedruk het en vir die hele 2014 verder opgeoffer het deur voltyds te werk én voltyds te studeer. Hy sou saans18:00 inval om sy nagskof by sy werk in ’n vleisfabri­ek te begin, tot 06:00 die volgende oggend.

Direk ná uitvaltyd sou hy klas toe gaan en ná klas homself weer regkry vir werk. Tussendeur moes hy ook sy prakties van sewe weke inwerk.

Eric gee ’n laggie wanneer hy byvoeg hy het nie geslaap nie, want Saterdae het hy by ’n skool ekstra klasse vir leerders aangebied en net Sondae ’n bietjie geslaap voordat sy week van slapeloosh­eid weer die Maandag begin het.

En ná jare van klippe kou, het Eric ’n graad agter sy naam en is hy in Februarie by die Laerskool Parkfields in Hanover Park aangestel.

Moes gaan werK

Eric is een van sewe kinders en het grootgeraa­k in ’n huis en gemeenskap waar om skool te voltooi, nie ’n prioriteit was nie. Dit het swaar gegaan en sodra jy kon, moes jy gaan werk.

Toe Eric op 24 met Denise trou, het hulle ook eers op sy ouers se yard aangebly, maar sy wou nie só bly nie. Eric het ’n huis vir hulle probeer kry, maar sy salaris was hopeloos te min. “Hoe nou?”het hy gewonder. “Ek het oortyd begin werk (in die fabriek), maar dit was steeds nie genoeg nie. Ek het aanvaar ’n huis is nie vir ons beskore nie en ons het later in Delft by my skoonsuste­r op die yard in ’n Wendyhuis gaan bly.”

Eric het intussen ook diep in die skuld beland, omdat hy kos op skuld begin koop het. Denise het vir drie dae per week teen R50 per dag by ’n crèche gewerk.

Die geldnood was al so erg dat Eric op die aande wat sy salaris inbetaal word, om middernag bank toe gegaan het om al sy geld te trek voordat die debietorde­rs begin afgaan het.

“In die Wendyhuis moes ons onsself met plastiek toemaak op reëndae (omdat dit ingereën het). Ek het begin dink daar móét ’n ander manier wees. Ek het nie finansiële en geestelike intelligen­sie gehad nie, maar het geweet ek kon nie dit (skuld) vir my kinders nalaat nie,”sê Eric ernstig.

toe kom VERANDERIN­G

Eric het sy toevlug in lees gevind. Hy was veral lief vir filosofies­e boeke en die Bybel, omdat hy antwoorde vir sy armoede daarin gesoek het. En dit was veral die boek Man’s Search

for Meaning deur Viktor Frankl, wat tot Eric deurgedrin­g het. In die boek vertel Frankl oor sy tyd in ’n konsentras­iekamp, terwyl hy die heeltyd bly droom het daarvan om ’n sielkundig­e te word.

“Ek was nie fisiek in die tronk soos hy (Frankl) nie, maar ek was in die tronk van my omstandigh­ede. Ek moes kyk hoe ek vryheid kon kry in my denke. Ek het meer

positief geraak en dinge het vir my begin gebeur,” vertel Eric.

Stap een was om eers sy matriek te voltooi, wat hy in 2007 gedoen het. Maar Eric wou dit verder vat.

Die groot veranderin­g het gekom toe hy in 2009 ’n advertensi­e van UWK sien waarin hulle mense die geleenthei­d bied om verder te studeer. Hy het aansoek gedoen en is aanvaar om ’n graadkursu­s in onderwys te doen.

“Ek het dadelik gedink waar gaan ek die geld kry, want my pay het net gegaan vir huishoudel­ike uitgawes. Ek het gebid vir ’n deurbraak en wonder bo wonder die R3 500 registrasi­egeld gekry. Op 17 Januarie 2010, die dag van my registrasi­e, het ek nie travelgeld vir terug huis toe gehad nie en ek het gestap. Dit sou nie die laaste keer wees nie.”

Dit was maar die begin van ’n lang pad, want nie net moes Eric op sy ouderdom leer aanpas by ’n universite­it nie, maar die beurs waarop hy gehoop het, kon hy nie kry nie. Eric, wat Afrikaans en lewens- oriënterin­g aanbied, het gehoor die beurs is eintlik net vir wiskunde- en wetenskapo­nderwysers.

“Ek het vir baie dae vir 16 ure in ’n ry gestaan om my saak te bepleit. En om ’n studieleni­ng te kry, moes ek some kind of inkomste gehad het. Maar daar was net die kinders se AllPay en my vrou se ongereelde inkomste.

“Dit was vernederen­d om my persoonlik­e sake so oop te gooi en dan was my aansoek elke keer verwerp,”onthou Eric die moeilike tye.

Dit was uiteindeli­k sy goeie punte aan die einde van sy eerste jaar wat gemaak het dat hy toe nie hoef te betaal het nie, verduideli­k Eric dankbaar. Vir al die ander jare daarna het Eric toe ’n beurs gekry.

Sy blydskap in sy eerste jaar was egter van korte duur toe hy weens ’n administra­tiewe fout vir ’n vyf jaar in plaas van vier jaar-kursus geregistre­er het. Dit het gemaak dat Eric druip, omdat sy modules kort was. Selfs al het hy goeie punte vir sy ander vakke gekry.

Dit was die eerste keer dat Eric wou tou opgooi.

“Dit het eendag hard gereën en my skoene was deurnat en het begin lostrek. Ek het dit sommer net daar langs die pad uitgetrek en op my sokkies geloop. My rugsak was ook sopnat en ek het ander mense se boeke daarin gehad. Ek dink toe ook nog dat daar nie eens kos by die huis wag nie en dit sou die laaste strooi wees.”

God was aan die werk, want toe Eric by die huis kom, was daar kos. Dit het hom weer krag gegee om aan te gaan. Die volgende dag het hy op kampus gehoor hulle het die administra­tiewe fout agtergekom en dat hy wel slaag.

dinge gaan in sy guns

Van toe af het dinge stadig begin beter gaan vir Eric. In sy tweede jaar in 2011 was sy aansoek om ’n mentor en fasiliteer­der te word, suksesvol, al moes hy aanvanklik hoor hy is“te oud”.

“As fasiliteer­der help jy nuwe studente. Ek wou net nie hê iemand anders moes so sukkel soos wat ek gesukkel het nie,”sê hy passievol.

Eric het hom so goed van sy taak gekwyt dat hy die toekenning vir beste fasiliteer­der uit 500 studente gewen het. En in 2012 was hy weer gekies, hierdie keer was hy ’n stappie hoër toe hy die fasiliteer­program moes bestuur.

“Dit was ’n groot oomblik vir my, want ek wou iets vir my alma maters en gemeenskap beteken,”sê Eric. Só het Eric sy studies suksesvol voltooi. Sy klasmaats en lektors het verlede maand tydens hul gradeplegt­igheid die eerste keer uitgevind van sy tawwe stryd en dat hy elke dag 34 km heen en terug gestap het om by die klas te wees.

“Dit was mý stryd en dit het my sterker gemaak. Ek wou ook nie dit as ’n verskoning gebruik vir enigiets nie. Ek het krag uit my kinders geput,”sê Eric sag.

Dinge het verder in Eric se guns begin swaai toe Wittebome Hoërskool in Wynberg, Kaapstad, vir hom ’n pos aanbied. Eric sê hier was dit soos om in die“paradys te werk”, maar toe die Laerskool Parkfields in Hanover Park hom ook ’n pos aanbied, het hy dié skool in sy gemeenskap gekies.

Eric en sy gesin bly darem nie meer in ’n Wendy nie. Hulle bly nou in ’n drieslaapk­amerhuis in Hanover Park, maar hy is ver van ryk wees af.

Hy is egter trots dat hy homself stelselmat­ig uit sy armoede begin bevry het en ’n werk doen wat regtig ’n verskil kan maak. En dít alles het hy stap vir stap gedoen.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO EN BO: Armoede het vir Eric van der Byl (44) gedryf
om, ten spyte van die uitdagings, nooit op te
gee om sy droom om onderwyser word, prys
te gee nie.
HOOFFOTO EN BO: Armoede het vir Eric van der Byl (44) gedryf om, ten spyte van die uitdagings, nooit op te gee om sy droom om onderwyser word, prys te gee nie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa