Knysna se Tiekie trek glad nie aan die kortste end
Weens sy dwergisme is hy Tiekie gedoop. Maar vandag het hy ’n hegte gesin en ten spyte van sy gebrek aan lengte, trek hy beslis nie aan die kortste end nie.
Die 61-jarige Tiekie Kapp van Knysna in die Wes-Kaap staan 1,2 meter in sy sokkies. Maar al is sy voete klein, trap hy reuse-spore in ’n gemeenskap waar positiewe manlike rolmodelle nogal skaars is.
Dié achondroplastiese dwerg se doopname is eintlik Henry James, maar ná die Boswell Wilkie-sirkus destyds daar gedraai het en Tickey-die-hanswors harte gesteel het, is hy terstond deur sy skoolmaats herdoop.
Hy is ’n gesinsman met vier dogters en vyf kleinkinders. Van hierdie spannetjie lyk dit op die oomblik of net sy dogter Jackie (30) dwergisme oorgeërf het. Sy is op 1,11 m selfs korter as haar pa.
Die gesin weet nie veel van die redes vir dwergisme nie. O nee, hulle het vrede met die hoekoms en die waaroms. Vir hulle is Tiekie net Tiekie en Jackie net Jackie: doodnormaal, al is hulle aan die kort kant.
Tiekie is deur sy tannie“gevat en groot- gemaak”toe hy drie maande oud was. Sy het hom later jare vertel sy stiefpa kon hom nie aanvaar nie. Maar dit was baie lank voordat daar enige tekens van abnormale groei was.
Hy vertel hy het eers“op 12, 13 jaar” agtergekom dat hy“anders”is en meer oor sy bene krom was as oor sy lengte.“My klasmaats het my Bokkelbene genoem. Dis later gebreek en reguit gemaak,”sê hy.
Tiekie is in Knysna gebore en het daar grootgeword en skoolgegaan. Op 16 het hy sy ambag gaan doen en kabinetmaker geword.
Die locals ken hom goed, want hy het vir jare stoele, tafels en rusbanke aanmekaargesit by die dorp se bekendste houthandelaars.
“Die manne het die stukke van die stoele gesny, dan moes ons dit aanmekaar sit, skuur, poleer en olie voor dit na die showroom is om verkoop te word,”onthou Tiekie.
’n Gelukkige gesin
Wanneer ’n mens by die Kapps kuier, let jy op hoe lekker hierdie gesin saamlag. Vra jy uit oor hoe sy gebrek aan hoogte hom raak, bars Tiekie se huisvol vroue uit van die lag. Sy vrou, Anna, eersgebore Jackie, die tweeling Nicolene en Nicolette (27), en Tessa (22).
“Nee! Dis oor hy so kan vloek as hy gefrustreerd is oor hy goeters nie kan bykom nie,”verduidelik Anna.“Dan sê hy:‘Hoekom is ek so f*** kort!’”
Die kinders en kleinkinders luister saam na Tiekie en Anna se vrystorie: Dis waarskynlik Anna se onvoorwaardelike aanvaarding van mense, haar positiewe houding en geaardheid wat Tiekie haar laat oplet het. Destyds het hy om middagete sy koerant, koeldrank, boerewors en pakkie Simba-chips by haar gaan koop. Sy het by ’n winkel agter die toonbank gewerk, naby sy eie werkplek. Hulle het begin gesels.
“Eendag het hy op die deep-freeze gaan
sit en gekyk hoe ek werk. Toe begin ek na hom ook oplet,”vertel Anna.
Die twee het oor drie jaar gekuier voordat Tiekie gaan ouers vra het. Maar hulle was lekker stout – en vertel hoe hulle skelm gaan vry het as hulle veronderstel was om vir voorhuwelikse berading te gaan by hul pastoor. Normale jongmensdinge, daar is nie sprake van agterkom dat hy anders was nie. Inteendeel, hy het ’n goeie werk, ’n kar en ’n gawe persoonlikheid gehad.
Anna se pa het dadelik ja gesê – en“pas haar net op!”Dit het Tiekie getrou gedoen.
Hulle kyk met sagte oë na mekaar.“Hy was sterk, hoor! En maak geen fout nie, beneuk! Dan stamp hy daai voetjie en ons moet spring.”
Die hele gesin, Tiekie ook, skater weer van die lag. Jy besef hulle lag met mekaar, nie vir mekaar nie.
In hierdie huis is nie hope geld nie, maar wel baie liefde. En ’n sin vir humor. Op die huis se buitemuur pryk Disney se Sneeuwitjie en háár dwerge: Happy en Grumpy, Sleepy en Sneezy, Bashful, Doc en Dopey.
Tessa (22), die jongste dogter, sit op die trappie en luister. Anna vertel Tessa is haar kind wat die meeste omgee oor voorkoms.
Maar hoe het die kinders – veral in tienertyd, as ’n mens oorbewus is van jou andersheid – daarmee gedeal om saam met Tiekie gesien te word?
“Ek was nooit skaam vir my pa nie,” sê Tessa.“Ek het geweet hy is vir my lief lank voor ek geweet het hy lyk anders as ander mense. Maar mens kan ook verstaan ons as gesin lyk snaaks vir andere. Jy aanvaar dit maar, dis nie nodig om seergemaak te voel nie.”
DWERGISME
Tiekie en Jackie se vorm van dwergisme gebeur volgens dokters as die FGFR3-geen muteer. Dit lei daartoe dat die harde been begin vorm lank voor dit moet – kinders se skelette bestaan grootliks uit kraakbeen juis sodat hulle kan groei. Met hierdie mutasie, begin die langer bene in die lyf – veral dié in arms en bene – te vroeg verhard. Die kraakbeen sit om in regte been en groei staak.
“Ons het geweet ons kinders kan ook dwerge wees, maar dis mos oukei. Kyk hoe goed het Tiekie uitgedraai,”vertel Anna.
“Jackie se sonars het niks vreemd gewys nie en haar ontwikkeling was doodnormaal tot sy skool toe is op sewe – toe begin haar maats vir haar weggroei.”
Jackie sukkel wel met gesondheidsprobleme, meer as Tiekie wat selfs vir ’n ruk boskapwerk gedoen het nadat hulle Karatara in Knysna toe getrek het. Die trek hierheen het gekom nadat ’n vorige werkgewer sy besigheid verkoop het, maar bekommerd was oor die gesin se toekoms. Die werkgewer was bewus dat base soms teen voorkoms vaskyk en wou die gesinnetjie help beskerm. Hy het gereël dat die Kapp-gesin in Karatara woonplek kry, amper regoorkant die kerk.
“Sjoe, ons moes gewoond raak aan die plek, ek was bang ek verdwaal,”vertel Anna en almal skater weer – Karatara is vier strate lank en omtrent ses strate wyd. ’n Mens moet hárd sukkel om hier verlore te raak.
Jackie onthou hoe sy op haar eerste skooldag deur twee“goddelose”klasmaats in ’n vullisdrom getel is. Sy was so klein dat die deksel nog kon toemaak ook. Maar sy het die ervaring nie as skadelik ervaar nie. Inteendeel, hulle het haar beste maats geword.
Sy is getroud met Konrad Behr en Corné (7) is ná ’n normale swangerskap met ’n keisersnee gebore.“Ek was net regtig groot die laaste ruk,”onthou sy. Sy en Konrad is intussen uitmekaar.
die UITDAGINGS
So deur die gesels kom ’n mens agter elkeen van ons kan maar by hierdie gesin kom leer: Hulle het stelsels in plek wat vanselfsprekend klink, maar ’n verskil kan maak in enige samelewing.
“Die langes kyk na die kortes, en maak seker hulle kom by alles. Ter wille van die kortes het ons ’n klein yskassie, die mikrogolfoond is op ’n lae tafeltjie en ons het ’n klein stoof. Jackie en Tiekie en die kleinkinders kan nie hoog bykom nie. As iemand iets nodig het, sorg die eerste een wat ’n ekstra geldjie het, daarvoor. Ons staan saam. Ons is ’n mean team,”vertel Anna.
Jackie sukkel om werk te kry – mense kyk teen haar bou vas – en help Anna deesdae kleinkinders oppas.
Tiekie het ’n ruk as plaasvoorman gewerk by Billy Robertson, ’n melkboer. Hy onthou Tiekie as“hardwerkend, pligsgetrou en met ’n mooi gesindheid en ’n lekker sin vir humor. Dit was lekker om saam met hom te werk”.
In daardie tyd het Tiekie sy rug seergemaak en is geboard. Deesdae is hy op ouderdomspensioen, maar toe Kuier hom soek het hy gaan uithelp by iemand wat siek is.
Dis ook tipies van hierdie gesin; hulle help waar hulle kan en bly besig met handwerkies en mooimaakgoed.
Op die oomblik bedryf Anna ’n snoepie van die huis af: Sy verkoop roomys, milkshakes en baby cakes aan die dorp se skoolkinders, en kon al ’n afdak oor haar voordeur opsit van die winste uit haar besigheid.
Tiekie sit sy gesin en gadeslaan. Sy oë lag saam as die tweeling, Nicolette en Nicolene, vertel hoe hul seuns kort-kort meet of hulle al amper so lank soos Oupa Tiekie is.
Hy is min gepla, want hy geniet dit net om Oupa te wees.