Kuier

Besluit op ’n voog vir jou kind indien jy sterf

Die spreekwoor­d lui: Bloed is dikker as water. Maar as jy ’n voog vir jou kind moet kies, is dít nie altyd die geval nie.

- MARETHA BOTES

dit is seker een van die moeilikste besluite om te oorweeg en tog een van dié belangriks­te goed wat jy vir jou kind kan doen. Dis die besluit oor wie na jou kind gaan omsien sóú jy tot sterwe kom terwyl jou kroos nog minderjari­g is.

Gewoonlik val die verantwoor­delikheid maar op iemand in die familie, maar dis nie noodwendig die beste besluit nie.

Toe Renthia* en John* Pieterse ’n ruk terug opslag in ’n motorongel­uk dood is, het hulle drie jong kinders agtergelaa­t. Die oudste en die middelste kind was in die tweede fase van hul laerskooll­oopbane en die jongste kind was voorskool.

Die gesin was voor hul dood baie betrokke by ’n kerk in hul omgewing. Hulle was geliefd in die gemeente en dit was ook hiér waar hul beste vriende was. Die vriende het kinders van omtrent dieselfde ouderdom en in dieselfde skool gehad en boonop het die twee gesinne baie vriende en ander belangstel­lings in gemeen gehad.

Hulle het dieselfde waardestel­sels gedeel, die ouers was almal omtrent dieselfde ouderdom en het weekliks saam gekuier. Daar was ’n baie nou band tussen die twee gesinne.

Dan was daar Renthia se ouers in die Kaap. Hulle was reeds bejaard en hoewel die kinders nou en dan daar gekuier het, was dit nooit vir lank aaneen nie. Daar was ’n familieban­d, maar nie ’n sterk emosionele band tussen die grootouers en hul kleinkinde­rs nie.

Nie een van Renthia of John het in hul testament ’n voog vir hul kinders benoem nie. Toe hulle die dag tot sterwe kom, wou die vriende vreeslik graag na die kinders omsien. Hulle het geweet dit was Renthiahul­le se wens, maar daar was niks in die testament opgeteken nie. Die hof het dus

beslis die kinders moet na die grootouers, die kinders se bloedfamil­ie, gaan. Hoewel die kinders nie wou nie, het hulle geen ander keuse gehad nie.

“Dit is ’n ontsettend­e groot besluit wat nie lig opgeneem kan word nie,”sê Wezet Botes, maatskapli­ke werker by die Vita Nova-beradingse­ntrum in Pretoria.“Dit is ook nie te sê dat jou besluit op ’n familielid gaan val nie, maar jy moet dit juis dán in jou testament laat opteken.”

Wezet sê min mense dink daaraan om ’n voog te benoem en dit is heel moontlik tot nadeel van jou kind, sou hy of sy dan beland by mense wat nie jou eerste keuse vir ’n voog sou wees nie.

DINK MOOI HIEROOR

Jy moet mooi dink oor alles wat jou keuse van ’n voog kan beïnvloed. As daar onopgelosd­e issues (soos alkoholmis­bruik) in die familie is, sal dit beslis jou keuse beïnvloed.

“Daar is soms baie goeie redes waarom ouers nie sal wil hê hul kinders moet na sekere familieled­e toe gaan nie. Dit kan insluit dwelm- of alkoholmis­bruik, of selfs mishandeli­ng. Dit kan dinge wees waaraan jy self as kind blootgeste­l is. Jy wil beslis nie jou kind ook daaraan blootstel nie. In so ’n geval sal jy dan iemand anders in jou testament wil benoem wat jou kinders moet versorg ná jou dood,”sê sy.

Dit is baie belangrik dat jy daardie persone wat jy benoem, heeltemal vertrou.

“Dink ’n bietjie hoe stem julle waardestel­sels, norme, geloofsoor­tuigings en selfs taal ooreen. Is dit iemand wat jou kind sal grootmaak soos jy dit doen? Dis moeilik, want niemand kan 100% ’n plaasverva­nger vir jou wees nie! Is dit mense wat emosioneel daar sal wees vir jou kinders in ’n traumaties­e situasie soos in die geval van jou en jou man se afsterwe?” vra Wezet.

“Nóg iets om in gedagte te hou, is ouderdom. As jy wil hê die kinders moet na jou ouers toe gaan, moet jy dalk daaraan dink om ’n tweede persoon ook te benoem.

“Dít sal iemand wees wat meer jou eie ouderdom is en wat kinders moontlik beter met goed soos tienerkwes­sies sal kan bystaan. Die grootouers is dus die primêre versorgers, maar die ander persoon sal ook ’n insae hê.”

kinders help besluit?

Wezet glo nie daaraan dat die onderwerp van wie hul voog moet wees in geval van jou dood, met kinders bespreek moet word nie.“Dis miskien ’n bietjie ou skool, maar ek glo dit kan nogal vrees wek by ’n kind,”meen sy.

“Dit is jou verantwoor­delikheid as ouer om toe te sien dat jou kind goed versorg sal wees. Moenie noodwendig praat oor wat sal gebeur as Mamma of Pappa sterf nie, maar in die algemeen,”sê sy.

“Vertel vir hulle wat is ’n testament en wat staan (gewoonlik) daarin. Verduideli­k ook vir hulle Mammas en Pappas maak gewoonlik in ’n testament voorsienin­g vir kinders sodat hulle so goed moontlik versorg sal wees. Sê ook aan jou kinders jy en jou man sal hulle altyd baie mooi oppas en altyd die beste vir hulle doen.”

Wezet glo wel dit is belangrik om ander partye wat geraak word, soos die persoon wat jy as voog wil benoem, in kennis te stel voor jy die testament opstel of wysig. Dit moenie vir daardie persone ’n verrassing wees nie.

Volker Krüger, direkteur van die Van Velden-Duffey-prokureurs in Rustenburg in die Noordwes, stem saam dat jy ’n voog in jou testament moet benoem. ’n Tweede belangrike ding om te doen, is om te sorg dat daar ’n testamentê­re trust vir jou minderjari­ge kinders is, ongeag na wie toe hulle sou gaan as beide ouers tot sterwe sou kom.

“As daar nié vir die stig van só ’n trust voorsienin­g gemaak word nie, sal die geld in ’n voogdyfond­s van die staat geplaas word en dan moet die kinders of hul voogde elke keer daar aansoek doen as hulle geld benodig. Dít wil jy liewer vermy,” sê Volker.

Hy sê dit is ook belangrik om trustees, die mense wat jy wil hê in beheer van die fonds moet wees, te benoem. Dit gebeur soms dat ouers ’n voog vir hul kinders benoem, maar hulle voel iemand anders moet na die geldsake van hul kind omsien.

“Onthou ook kinders is deesdae op 18 meerjarig. Baie mense voel egter 18 is nog te jonk vir ’n kind om na haar eie geldsake om te sien en die kind nie die geld vir die regte doeleindes, soos byvoorbeel­d studies, sal aanwend nie.

“In só ’n geval word daar dan in die testament genoem dat die trust eers op 25 ontbind word en die geld dan aan die kind beskikbaar gestel word. Dit is nie om die kinders te straf nie, maar eintlik om hul geldsake te beskerm!”sê Volker.

Hy noem ook dit is baie belangrik om jou testament te laat hersien, veral as jy dit nog nie gedoen het vandat jou eerste kind gebore is nie.

Hy skat in die helfte van alle gevalle word broers of susters van die ouers as voogde benoem. In 30% word vriende benoem (mense wat hoegemaand nie bloedfamil­ie is nie), en in 20% van die gevalle kies ouers om hul eie ouers (die kinders se grootouers) as voogde te benoem.

As die ouers geskei is

Indien die ouers geskei was, sou die hof by die egskeiding ouerskapre­g aan een of albei ouers toegestaan het, sê Franscios van Gijsen, direkteur van regsdienst­e by Finlac.

Die ouer wat ouerskapsr­eg het, kan in haar testament ’n voog benoem. Indien dié ouer sterf, kan die ander ouer dan by die hof aansoek doen om voogskap van die kinders (indien hy nié as voog benoem is nie). Indien die hof gedeelde ouerskap toegestaan het, sal die kinders outomaties na die oorlewende ouer toe gaan.

Franscois sê ouers kan ook verskillen­de voogde benoem as daar nie een spesifieke persoon is wat na al die kinders kan omsien as die ouers sterf nie.

“Dit moet verkieslik alles in die testament opgeteken word, want jy wil tog hê jou kinders moet so gou as moontlik goed versorg wees ná jou dood. Dis jou geleenthei­d om seker te maak hulle is in die regte hande.”

*Skuilnaam

Dit is ’n ontsettend­e groot besluit wat nie lig opgeneem kan word nie.

Wezet Botes

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa