Leef jou liefde vir die natuur uit
Sy glo natuurbewaring is nie net vir uitgesoekte mense nie. Ons moet almal daarvoor verantwoordelikheid neem.
Sy het nooit gedink die veldstories en lesse wat sy 20 jaar gelede in Namakwaland by haar oupa geleer het, sou haar in die rigting stuur van haar droomberoep as natuurbewaarder nie.
Nog minder het sy gedink dit sou lei tot ’n ontmoeting met Amerika se president Barack Obama!
Cindy-Lee Cloete (27), die Nature’s Valley-trust se omgewingsopvoedkundedirekteur, was uit 50 000 aansoekers gekeur vir die gesogte Washington Fellowshipleierskapprogram – en sy kon haarself knyp toe sy einde verlede jaar met Obama en sy vrou, Michelle, skouers geskuur het.
Dié inwoner van Plettenbergbaai in die Suid-Kaap is steeds in die wolke hieroor.
“Pres. Obama is langer, maerder en gryser as wat hy op TV voorkom,”sê sy. “Ons groep was ’n week saam met hom. Dit was ongelooflik om te sien hoe hy soos ’n verkleurmannetjie aanpas by wat rondom hom gebeur. Hy is ongelooflik diplomaties, professioneel en ’n natuurlike leier who takes charge of a situation as needed.”
Hoewel Cindy-Lee groot bewondering vir die Amerikaanse leier het, is dit haar oupa, Jacob Bock, wat destyds haar liefde vir die natuur aangewakker het. Hy’t al die kleinkinders oor naweke saam met hom geneem om diere en lammers te versorg.
“Oupa Jacob se pa-goed was trekboere op die Namakwa-plains – gemeenskapsgrond, it belongs to nobody,”vertel sy.
“Daai communal grond en die manier waarop ons voor-oupas daarop gewerk het, is presies wat natuurbewaring deesdae predik as die beste manier.
“Dít ten spyte daarvan dat ons voorsate geen boekgeleerdheid gehad het of selfs kon lees of skryf nie. Hulle het daarin geslaag om hul kosbare knowledge oor generasies aan hul kinders oor te dra.”
Cindy-Lee het grootgeword op Steinkopf in Namakwaland. Haar pa, Eric (49), is ’n myner en haar ma, Emelda (50), ’n huisvrou. Sy is ook baie trots op haar suster, Elrese (25), hoofsuster van Upington-hospitaal, en boetie, Garin (22), ’n leerlingmynwerker.
die fauna en flora
Ná matriek het Cindy-Lee natuurbewaring by die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie gaan swot en daarna by die Kaapse stadsraad se biodiversiteitstak gaan werk.
“Ek was ’n hard-core conservationist totally in love with fauna and flora – met mense wou ek niks te doen hê nie.”
Sy het nog altyd ’n slag met diere gehad en toe sy jonger was, graag die lammers wat nie sterk genoeg was om self te trek nie, help bottel gee.
“Die veewagters het altyd honde om luiperds en rooikatte van die trop weg te hou,” onthou sy.“Een hond is dood toe hy tussen
my ouma Agnes en ’n pofadder ingespring het. Daai hond se act of bravery roer my tot vandag.”
Later in haar lewe was daar ander noue ontkomings ook, soos die dag toe sy in die veld gekaap is.
“Ons was op patrollie in die Wolfgatnatuurgebied in Valsbaai, langs die Macassar Dunes Nature Reserve op pad om navorsingsblokke te check. Met die ingaanslag was als oukei, maar toe ons uitgaan, is daar takke en tyres oor die pad gesleep.”
Plaaslike mense wat kom grysbokkies steel het om hul gesinne te voer, het besef dat die groepe natuurbewaarders waarskynlik geld op hulle gehad het. Die gewapende rooftog het Cindy-Lee se uitkyk onherroeplik verander.
Sy was vir dae woedend, maar het toe besef dat die voorval deur mense se hongerte gedryf is en sy nie die natuur kon bewaar as sy nie mense se houding oor hoekom diere en veld kosbaar is, kan verander nie.
Cindy-Lee het dié nare ervaring in ’n geleentheid verander deur te besluit sy wil haar vorentoe toespits om mense te leer waarom jy nie die natuur mag misbruik nie. Dis dan ook hoe sy op Plettenbergbaai beland het.
Vandag bedryf sy sewe eko-skole waarin arm kinders oor die natuur geleer word. “Ons kry kinders hier wat 20 km weg woon, maar nog nooit die see gesien het nie. Hulle wil net instap om te voel wat hierdie ding is. Ons moet net keer of hulle verdrink!”
In die nabygeleë Kurland het sy boonop ’n tuinklub begin waar mense sommer geleer word om te recycle ook.
Dit is al hierdie inisiatiewe wat haar aansoek vir die leierskapprogram versterk het. Die eerste ses weke van die program het sy aan die Arizona State-universiteit studeer, en toe ’n week in Washington DC saam met die Obama-kabinet, beleidmakers en sakelui deurgebring.
Toe word sy boonop gekeur om nóg twee maande te bly en ’n internskap te doen by die North American Association for Environmental Education. Twintig Amerikaanse universiteite het elk 25 MandelaWashington-fellows gehuisves.
Cindy-Lee is bekommerd dat natuurbewaring in Suid-Afrika ’n“wit, elite-ding” geword het in die apartheidsjare – en plaaslike swart en bruin mense se verbintenis met die natuur in die proses verbreek is. Sy reken dít is hoekom plastieksakke wat teen draadheinings wapper, al amper SuidAfrika se nasionale“blom”geword het.
Sy besef daar lê ’n lang pad voor vir haar visie vir Suid-Afrika – dat elke huis, skool en kantoor omgewingsvriendelik sal word en almal sal weet wat volhoubaarheid en die voordele van ’n goed versorgde natuurlike omgewing is.
Sy’t deur die interaksie met pres. Obama ook geleer elkeen moet bereid wees om hul deel te doen.
“Sy boodskap was dat elkeen van ons die verandering waaraan ons glo, klein kan begin, in jou eie gemeenskap of straat. As dit werk, gaan ’n mens groter en groter en verander later die hele wêreld – soos wat hy gedoen het. Inspirerend, né?”
eers agter die boeke
Basiese vereistes ’n Nasionale diploma in bewaring of ’n verwante omgewingsbestuur-kursus is noodsaaklik. Daarna kan jy ’n honneursgraad in verskeie bewarings- of wetenskaprigtings doen, en selfs jou meestersgraad.
Skoolvakke
Biologie gaan vir jou deure oopmaak, sowel as lewenswetenskappe, wiskunde en aardrykskunde. Vir universiteitstoelating het jy ’n slaagsyfer van minstens 60% nodig, hoewel sommige universiteite van tegnologie jou met 50% sal aanvaar.
Die meeste universiteite bied diplomaen graadkursusse in bewaring of omgewingsbestuur aan, so kontak jou naaste universiteit vir meer inligting.
Indiensopleiding: Heelwat maatskappye bied internskappe vir gegradueerdes wat ’n beroep in bewaring wil najaag. Dit sluit in: • Departement van omgewingsake: 021 483 4091 (Kaapstad) • WWF-SA: 021 657 6600 of 011 339 1152 • Sanparke: 012 426 5000 • Conservation South Africa: besoek www.conservation.org • Wilderness Foundation: besoek www.wildernessfoundation.co.za • Botanical Society of South Africa: 021 797 2090.