Kuier

Dié sewe susters boer vooruit met hul wyn

Dié sewe susters het aanvanklik hul besigheid begin net om te oorleef. Vandag is dit só gewild oorsee en hulle beplan selfs nóg groter dinge.

- DEUR AMY JOHNSON

Die Brutus-susters van Paternoste­r aan die Kaapse Weskus wou aanvanklik net wyn verkoop om geld te maak om te oorleef. Maar vandag staan hul wyn op die rakke van meer as 500 winkels in Amerika en Vivian Kleynhans (51), die kop agter die besigheid, sê niks van hul sukses het sonder groot lesse en opoffering­s gekom nie.

Die susters het destyds in die tweede uitgawe van Kuier verskyn en hul bittersoet storie met lesers gedeel. En nou, bietjie meer as vyf jaar later, staan hulle naam agter ’n internasio­nale wyn – iets wat hulle glad nie verwag het nie.

“Aan die begin kon ons nie eens brochures print nie. Die meeste wat ons kon doen, was om besigheids­kaartjies te laat druk. Ons het nie ’n banklening gehad nie en het net gewerk met wat ons het.”

In 2009 was Vivian en haar susters, Carol, June, Dawn, Yolanda, Twena en Odelia, se wyn die eerste in die Suid-Afrikaanse wynmaakges­kiedenis van 350 jaar, wat op American Airlines-vlugte bedien is. Hul wyn is van 2009 tot 2012 in eerste- en besigheids­klas bedien.

“Ons het nooit gedink om ons wyn oorsee te verkoop nie. Dit was nooit ’n gedagte nie. Ons plan was om die wyn plaaslik te verkoop. Dit was vir ons ’n groot verrassing en daai kontrak het baie gehelp.”

Hul wyn is eers in kleiner Amerikaans­e winkels verkoop voor Walmart hulle in 2011 genader en aanvanklik net in 300 van hul winkels gesit het. Seven Sisters staan nou op die rakke 500 Walmart-winkels in Amerika.

Vivian het geglo dié kontrak sou hul lewens verander.

“En dit het absoluut. Dis nie maklik om so ver van die huis af besigheid te doen nie. Die kontrak verhoog absoluut die verkope. Ons kan nou dinge doen en ons groei nou in hul winkels.”

Vivian het onlangs samples gestuur vir mense in Duitsland en België en hulle is ook besig om te groei in China en Nigerië.

Plaaslik is hul wyn op die rakke van Makro, Game en word ook van die plaas Seven Sisters Farm in Stellenbos­ch verkoop.

En diegene wat hul wyn koop, kan iets besonders verwag.“Wat ons wyn anders maak, is die egtheid van die storie. Die egtheid van die vroue wat uit die as opgestaan het, iets gegroei en daarin geglo het. En dit wys net weer, as jy glo in God, kan jy enigiets bereik. Ons wyn is gebaseer op die vrou se palet en daarmee wil ons vroue inspireer. Jy hoef nie in sak en as te gaan sit en te kla oor jou omstandigh­ede nie.”

Sy sê ten spyte van al die uitdagings, lang ure en teleurstel­lings wat gepaardgaa­n met die hele proses, is sy daarvan oortuig sy en haar susters het die regte ding gedoen.

“My toetrede tot die wynbedryf het nie gekom omdat ek lief is vir wyn nie. Dit het gebeur omdat ek ons gesin se lewe wou help verander. Ek het eers later geleer van wyn en wyn drink en dit het vir my ’n passie geword. Dis net iets wat op jou kom sit en dit bly daar.

“Ek is nie iemand wat ’n maklike lewe kan hê nie. Dinge moet my uitdaag. As ek darem eendag moet opstaan en alles is hunky dory, weet ek darem nie,”lag sy.

In 2007 toe sy ná twee jaar in die bedryf duisende rande verloor en die besigheid van voor af moes begin, wou sy alles los. Sy was so siek en het eendag net met ’n visie in haar kop opgestaan. Sy sê as kind het sy destyds so magteloos gevoel toe haar pa sy werk en hulle later hul huis verloor het.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa