die wonde is NOG ROU
Een van die bomplanters wat hul dogter en suster se dood veroorsaak het, is nou uit op parool. En hoewel die seer steeds daar is, het hulle hom vergewe.
Vir so lank as wat hulle lewe, sal Anita April (58) en haar seun Jennewil (22) van Worcester in die Boland, nooit die gebeure van 24 Desember 1996 kan vergeet nie. Want op daardie Ou Krismis is die eenvoudige lewe wat hulle geken het, met ’n harde slag vir altyd uitmekaar geruk.
Sedert daardie dag is Kersfees, veral vir Anita, ’n pynlike herinnering aan wat was; wat kon gewees het en veral wat nog moes gewees het . . . en die wrede manier waarop haar drome vir haar gesin van haar af weggevat is.
24 Desember 1996 is die dag waarop Anita se enigste dogter, Juaneen (9) deur ’n bom van haar weggeruk is. Die voorval het Worcester en die res van die land tot in sy fondamente geruk. Selfs oorsese media, onder meer die Los Angeles Times, het berig oor die twee bomme wat die dorp daardie dag getref het.
Een van die bomme was in Shoprite en die ander een by die Narotam-apteek in die dorp geplant. Die uitsluitlike doel van dié liggings was sodat die ontploffings soveel as moontlik bruin en swart lewens kon eis. Rasseverhoudings in 1996 was nog sensitief en gespanne en Suid-Afrika- ners nog besig om gewoond te raak aan die“Nuwe Suid-Afrika”. Oudpres. Nelson Mandela is eers twee jare tevore (1994) tot die land se eerste demokratiese president verkies. Die groot droom was dat die reënboognasie versoen en in harmonie moet saamleef, maar nie almal het hulle daarmee vereenselwig nie.
Só was hierdie nie-rassige Suid-Afrika te veel gevra vir die verregses wat erken het dat hulle vir die bomaanvalle in Worcester verantwoordelik was.
Juaneen is ernstig in die Shoprite-bomaanval beseer en het later dieselfde dag in die destydse Eben Dönges-hospitaal (nou die Worcester-hospitaal) aan haar wonde beswyk. Drie ander bomslagoffers het ook gesterf en nagenoeg 66 ander mense is beseer.
Jennewil (toe vier), wat langs sy suster gestaan het toe die bom ontplof, is ook erg in die aanval beseer.
VERSOENINGsprojek
Anita en Jennewil het ’n paar jaar gelede saam met van die ander bomslagoffers aan ’n versoeningsprojek deelgeneem. As deel hiervan het hulle vir Stefaans Coetzee, een van die bomplanters, in 2013 in die Pretoria Sentraal-gevangenis besoek waar hy sy tronkstraf uitgedien het.
Stefaans het toe om vergifnis gevra. Hy het erken hy was deel van die verregse en rassistiese AWB-party en het op 24 Desember 1996 hul opdragte uitgevoer.
Hy was toe 17 en is in 1997 saam met Jan van der Westhuizen, Clifton Barnard en Abraham Myburgh skuldig bevind aan aanklagte van moord, poging tot moord, sabotasie en verskeie aanklagte van onwettige besit van plofstowwe en vuurwapens. Hulle is elk 40 jaar tronkstraf opgelê.
Stefaans was die enigste bomplanter wat aan hierdie spesifieke versoeningsproses deelgeneem het. Hy het gesê hulle het daardie dag vier bomme geplant en“was teleurgesteld dat net twee afgegaan het”.
“Ons wou soveel mense as moontlik doodmaak. Ons het vier bomme geplant en elkeen het ’n vertraging van drie minute gehad. Twee van die bomme het nie afgegaan nie. Ons was uiters teleurgesteld dat so min mense dood is,”het die koerante berig oor wat Stefaans toe gesê het.
Volgens Stefaans het dit hom egter geruk toe hy hoor kinders is ook in die bomaanval dood.“Ek het nooit daaraan gedink dat kinders ook in die bomaanval
kon sterf nie. Ek het soos ’n lafaard gevoel. Ek is regtig jammer oor wat ek gedoen het. Ek verdien niemand se vergifnis nie, maar ek hoop dat van julle sal kan probeer,”het hy toe huilend gesê.
PAROOL is tweede kans
En nou het Stefaans ’n tweede kans gekry toe hy op Maandag 13 Julie op parool vrygelaat is.
Beide Anita en Jennewil het besluit om Stefaans te vergewe sodat hulle kan aanbeweeg met hul lewe. En al gun hulle hom hierdie tweede kans, het die nuus van Stefaans se parool hul wonde weer kom rou maak.
Toe Kuier Anita en Jennewil by hul huis in Riverview besoek, twee dae nadat Stefaans op parool vrygelaat is, was dit duidelik dat Anita haarself in ’n bomenslike poging bymekaar probeer hou het om haar verhaal te vertel.
Dit was hierdie dag ysig en winderig in Worcester – simbolies van die winter wat al vir die afgelope 19 jaar in Anita se hart sit.
Nie omdat sy Stefaans of van die ander bomplanters nog in die hart dra nie, maar omdat die verlange in haar hart na Juaneen steeds so fel is. Elke gryntjie van haar wese smag daagliks daarna om haar dogter teen haar boesem vas te druk sodat sy kan weet hoe lief haar ma haar het.
Regdeur die onderhoud het Jennewil, ’n jongman met sagte, vriendelike oë, naby sy ma gesit en haar vasgehou wanneer die emosies weer te veel vir haar geword het.
Anita vat ons in ’n beheersde stem terug na daardie verskriklike dag van 24 Desember 1996.
Sy vertel haar kinders, Brandon (toe 14, nou 32), Juaneen en Jennewil, het altyd uitgesien na Kersfees, omdat dit dan tyd vir Kersfeesklere en –geskenke was.
Anita het daardie dag vir Jennewil en Juaneen saam met haar gevat Shoprite toe om last minute Krismis-shopping te gaan doen. Haar man, Jan, het hulle by die winkel afgelaai en sou hulle weer kom oplaai wanneer hulle klaar was.
Haar inkopies was klaar toe sy weer terug in die winkel gaan om vir die kinders speelgoed te gaan koop. Sy het vir Jennewil en Juaneen gesê om voor in die winkel vir haar te wag.
Anita se oë raak donker wanneer sy vertel sy was amper klaar en by die betaalpunt toe die bom afgaan.“Daar was geraas en ek het gehoor hoe mense skreeu en tekere gaan. Al wat ek aan kon dink was my kinders. Ek wou by hulle uitkom, maar niemand wou hê ons moes by die betaalpunt verby nie. Ons het agter by die stoorkamer uitgegaan,”onthou Anita.
Toe sy buite kom, was Jennewil en Juaneen reeds in ’n ambulans. Sy het ingeklim en saamgegaan hospitaal toe.
Jennewil was tydens die bomaanval net vier jaar oud, maar onthou hy en Juaneen het gesit en gesels terwyl hulle vir hul ma gewag het. Oorkant die pad, sê Jennewil, was daar ’n Kersboom, wat hulle bewonder het toe hy die volgende oomblik ’n harde slag hoor.
“Dit het dof voor my geraak; ek kon niks sien nie en ek het nie geweet waar my suster was nie. ’n Antie het my na die ambulans gevat. Ek was bang en het my ma gesoek. In die ambulans het almal gehuil en my bene het verskriklik gepyn. Ek was so deurmekaar en het nie geweet dat my ma wel in die ambulans was nie,”begin Jennewil vertel met dieselfde donkerte in sy oë.
Anita knip haar oë vir ’n paar sekondes toe voordat sy vertel van hoe haar kinders gelyk het toe sy hulle in die ambulans sien.
Van vorige bladsy
“Jennewil het houe voor sy kop en op sy arm gehad. Sy bene was ook vol skraapmerke.”
Haar stem raak amper weg wanneer sy Juaneen se beserings onthou:“Sy kon nie regtig praat nie. Haar gesig was skoon (sonder beserings), maar sy het ’n groot, oop wond aan haar maag gehad. Toe ons by die hospitaal kom, kon sy net‘Mammie, Mammie’sê. Sy is operasiesaal toe gevat.”
Anita onthou ook die chaos wat by die hospitaal geheers het toe hulle daar aankom. Sy sê daar was baie mense en syself was bekommerd oor haar man wat ’n bietjie lank gevat het om by hulle uit te kom. Terwyl sy vir hom gewag het, moes sy haarself tussen Juaneen en Jennewil se beddens verdeel.
Jennewil onthou ook die klomp mense, wat nes hy, seergekry het.“Almal het gehuil en die mense was bekommerd oor hul mense. Ek was seer en kon nie eens op my linkerbeen trap nie die way dit seer was.”
Dit raak al hoe moeiliker vir Anita om te praat wanneer sy sê, vandat sy Juaneen se verskriklike wond gesien het, het sy die ergste begin vrees.
Toe die hospitaalmense later daardie dag sê sy en Jan kan huis toe gaan, het Anita reeds ’n voorgevoel gehad dat hulle gebel gaan word sodra hulle by die huis aankom. Sy was reg. Terug by hospitaal het hulle die nuus gekry wat geen ma ooit wil hoor nie: Juaneen het nie haar beserings oorleef nie. Haar dogter was dood.
Anita breek en die trane stroom van haar wange af.“Dis ná al die jare steeds nie maklik om die storie te vertel nie. Ek mis my kind steeds so baie,”sê sy gebroke. Jennewil hou sy ma styf vas.
Anita en Jan het Jennewil drie dae later vertel sy suster, met wie hy alles gedoen het en wie sy beste maatjie daardie tyd was, gaan nie meer daar wees nie. Sy onthou hoe hartseer Jennewil en Brandon was, want hulle was erg oor hul suster.
PAD NA HERSTEL
Die pad na herstel was ook nie ’n maklike een nie, sê Anita, want terwyl sy probeer het om Juaneen se wrede dood te verwerk, was daar Jennewil wat van sy wonde moes herstel. Anita sê sy wonde was“baie erg” en dat hy sowat vier maande gevat het om te herstel. Sy verbande moes elke dag afgehaal en skoongemaak word. Gelukkig het sy ’n familielid gehad wat verpleeg het en daarmee kom help het.
“Elke oggend wanneer sy wonde skoongemaak moes word, het hy gehuil. Ek kon dit nie hanteer nie en het dan uit die huis gegaan totdat dit klaar was. Sommige oggende wanneer sy wonde klaar skoongemaak was, het ons hom in die sonnetjie gesit. Nie lank daarna nie, het Jennewil gevra waar sy suster is? Dan het ek net vir hom gesê,‘sy is op ’n veilige plek,’”sê Anita hartseer.
Sy voeg sag by:“Dit was baie swaar vir my, want soos wat Jennewil genees het, was my gedagtes ook by Juaneen.”
Jennewil vertel op laerskool was sy bene nog baie sensitief en pynlik en hy kon byvoorbeeld nie rugby, waarvoor hy baie lief is, speel nie. Maar hoe ouer hy geraak het, hoe meer het hy geoefen en het die pyn weggegaan. En vandag speel by buitesenter en is kaptein van die Worcester Perseverance-rugbyklub se eerste span.
“Ek het ’n talent wat skrik vir niks,”sê Jennewil met selfvertroue, maar sonder om arrogant te klink. Anita glimlag vir die eerste keer en haar oë raak sag wanneer sy na Jennewil luister.
Dit laat haar onthou hoe na Juaneen en Jennewil aan mekaar was en as sy“ousus” kon Juaneen destyds met Jennewil se geboorte nie wag dat haar ma van die hospi- taal afkom sodat sy hom kon ontmoet nie. Van toe af was hulle tot en met haar dood soos Eeltjie en Beeltjie, solank Jennewil net onthou het“wie die oudste was!”
VERGIFNIS & Genesing
Hulle mis vir Juaneen nog erg. Maar, sê Anita en Jennewil weer, ten spyte van die ontsettende hartseer waardeur hulle is, het hulle Stefaans Coetzee vergewe vir sy aandeel in hul pyn.
“Dit het baie lank gevat vir my om te vergewe, want ek het net gevra,‘hoe kon hulle dit gedoen het? Wat het deur hul koppe gegaan?’Ek het besef ek moet hulle almal (bomplanters) vergewe anders gaan ek nie genees nie,”sê Anita sag.
Sy sê dit het gehelp dat sy vir haarself gesien het Stefaans toon opreg berou.
Ook vir hom was dit ’n proses om by hierdie punt van vergfinis te kom en positief te bly ten spyte van uitdagings, sê Jennewill. (Hy het ’n veiligheidskursus by Boland Kollege gedoen, maar sukkel om werk in hierdie veld te kry.)
“Ek kon daardie dag (met die versoeningsontmoeting) in Stefaans se oë sien, hy is ’n ander mens. Almal maak foute en wat hy gedoen het, was baie verkeerd, maar dit gaan nie die moeite werd wees om haat rond te dra nie.
“Ek besef ook dinge kon soveel anders gewees het – dit kon ek gewees het (wat gesterf het). Ek het vrede gemaak met wat gebeur het en bly biddend oor my toekoms,”sê Jennewil.
Ja, as hulle kon, sou hulle dinge anders en vir Juaneen nog by hulle wou hê, maar die ma en seun is dankbaar dat hulle mekaar nog het. En al moes Anita die drome wat sy vir Juaneen gehad het, laat vaar het, hoop en bid sy saam met Jennewil dat sy twee groot drome binnekort gaan waar word: Om eendag professioneel rugby te speel en om ’n werk by die brandweer- en reddingsdienste te kry.
Want haar kind is al deur so baie en verdien ’n break.
Maar biddend sal hulle bly.
Van bladsy 9
Lemias sê intussen die Regshervormingskommissie gaan nou al die openbare voorstelle oor veranderings aan geloofsvakansiedae heroorweeg. Die uiteindelike besluit sal deur die Grondwet bepaal word, glo hy.
HET JY GEWEET?
In Suid-Afrika was daar nog altyd ’n groot fokus op die Christelike vakansiedae, en min mense weet byvoorbeeld, dat Hindoeisme die oudste en derde grootste geloof in die wêreld is. Die presiese datum vir Diwali, die fees van lig, word deur die maankalender bepaal, maar dis gewoonlik tussen middel-Oktober en middel-November.
Volgens die Jewish Virtual Library se webwerf het Suid-Afrika sowat 67 000 Jode – die twaalfde grootste Joodse gemeenskap in die wêreld. Die Jode het verskeie geloofsdae, soos Rosh Hashanah, die Joodse Nuwejaar wat vanjaar op die aand van 13 September begin en op die aand van 15 September eindig.
Die laaste sensusopname wys die land het 737 000 Moslems, hoewel daar wêreldwyd 1,5 miljard is. Tydens Ramadaan vas Moslems van sonopkoms tot sonsak. Eid word aan die einde van die heilige maand gevier met Eid al-Fitr, wat vanjaar op 18 Julie gehou is. Die ander groot geloofsfees is Eid al-Adha, wat vanjaar moontlik op die aand van 22 September begin. Dis om die profeet Abraham se bereidwilligheid te vier om sy seun Ismael te offer op God se bevel.
Suid-Afrika is een van die lande met die meeste openbare vakansiedae in die wêreld. Indië spog egter met 21vakansiedae, terwyl Mexiko ’n bietjie meer suinig is met net sewe vakansiedae.
WAT Sê die LESERS?
Melinda Esterhuizen (28), ’n aptekersassistent van Johannesburg, sê dalk lê die oplossing in die afskaffing van alle politieke vakansiedae. “Dink net realisties: wat beteken Vryheidsdag en Werkersdag vir ons? Niks nie. Selfs Erfenisdag is al in ’n braaidag verander. Dit dien geen doel nie.”
Sy glo dit sou beter wees om eerder by die beskikbare 12 vakansiedae te hou, maar mense dan die vryheid te gee om die dae vir geloofsvakansiedae aan te wend.
“Die Moslems kan dan kies watter dae hulle betaalde vakansiedae wil hê – en ons, wat Christene is, kan ook self besluit om eerder Hemelvaart af te wees.”
Ook Melinda se kollega, Justin Geduld (45), stem saam.“Ek haat Jeugdag. Dit is ’n onding, want omtrent die enigste mense wat dit vier, is die politici. Dit is die een politieke speech ná die ander. Ek sal eerder wil werk en dan op geestelike dae by die huis wees om kerk toe te kan gaan.”