Kuier

kinders vir afrika

Met 35 kinders van verskillen­de vroue in verskillen­de plekke, vul hy omtrent die aarde met sy nageslag. Maar oor dié groot getal kroos is hy glad nie spyt nie.

- DEUR ANGELO JULIES

Dit sit nie in enige man se broek om ’n pa te wees nie. Daarvan kan al die gevallestu­dies in ons gemeenskap­pe getuig. Hulle sê mos enige man kan ’n kind verwek, maar net ’n regte man kan ’n pa wees.

Maar ’n mens moet ook darem erken daar is sommige mans wat die natuur besonder vrugbaar gemaak het en hulle is nie skaam om hul talente te deel nie.

Maar kyk né, niks kon my voorberei vir oom Willem Jonkers (63) van Rawsonvill­e in die Boland se“sjarme”en liefde vir vroue nie. Oom Willem is glo die pa van 35 kinders (waarvan hy weet)! Sy jongste kind is drie jaar oud.

Sover oom Willem weet, het hy glo kinders op Rawsonvill­e; Laingsburg; Worcester; McGregor; Germiston; Botha; Ladismith; en in die Kaap.

Ekself ken mans met baie kinders – my pa het nege van sy eie (natuurlik almal by dieselfde vrou) – maar ek het nog NOOIT gehoor van ’n man met 35 kinders nie.

Niemand het die reg om te oordeel nie, maar die Vader alleen weet, ek het nog nie eens my account geopen nie en syne begin al uitbetaal.

Toe die Here vir die mens in die tuin van Eden gesê het,‘wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde’, het Willem dit dalk té letterlik opgeneem?

VROEG VRUGBAAR

Oom Willem, het soos my ouma Nanna van Touwsrivie­r, sal sê,“sowaar vroegdag al met sy talente gewoeker”.

’n Mens kan sien oom Willem was in sy jongdae ’n aantreklik­e man. Sy oë trek op skrefies en sy gesig het ’n permanente glimlag wanneer hy met jou praat. Boonop het hy die draad (gladde hare) ook nog, so, dis glad nie moeilik om te glo dat hy ’n slag met die Evas-geslag het nie.

Oom Willem vertel dat hy swaar grootgewor­d het en dat sy kinderdae maar kort was, want hy moes vroeg al begin werk.

“Ek het by my pa en ma op die plaas Waaihoek, tussen Worcester en Wolseley, grootgewor­d. Daardie dae was dit maar moeilik en my pa het ons baie naweke uitgesit dan moes ek en my ma buite slaap.

“Ek het toe op 11-jarige ouderdom besluit om by my ouma op die plaas te gaan bly. Daar het ons ook maar baie swaarge-

kry en ek moes toe op 13 gaan werk soek om my ouma te help, want my oupa en pa het toe intussen albei afgesterwe,”sê Willem.

Dit is juis omdat hy al van jongs af soos ’n groot man moes wees dat dit vir hom nie snaaks was om toe ook“grootmensd­inge”te begin doen nie.

Oom Willem het op 13 pa geword – ek het nog nie eens op daai ouderdom na meisies gekyk nie – maar hy het toe al begin (lap)doeke koop.

“Jy sien,”val hy weg,“’n mens sien mos maar wat die beeste en skape doen dan probeer jy ook maar só maak, maar dis eintlik my niggie, wat baie ouer as ek was, wat my van die seksdinge geleer het. Ek het my eerste kind se ma ontmoet toe ek 13 was en sy was ’n jaar jonger as ek.”

Oom Willem en dié meisie het sommer vinnig ernstig geword en hy het al op 13 soos ’n getroude man saam met die meisie en haar ouers op die plaas, wat destyds Rooidak genoem was, gebly. (Hy en dié meisie het nooit getrou nie).

Gedurende die tyd het hy in die Kaap by ’n groentewin­kel werk gekry en dan elke naweek huis toe gegaan. Op 17 het hy ’n werk by die destydse spoorweg gekry en is Ladismith (in die Klein-Karoo) toe verplaas. Teen dié tyd het hy al drie kinders gehad by“vrou nommer een”.

“Nou maar ja, ek het toe op Ladismith aangekom en omdat ek nie so gereeld huis toe kon gaan nie, het ek maar vir my ’n nuwe bokkie nader getrek. En daar word kind nommer vier en vyf toe gebore,” vertel hy.

Twee jaar later het hy teruggetre­k Rawsonvill­e toe, waar hy sy trouvrou (en ma nommer drie) ontmoet het. Hulle het in die laat sewentigs getrou en drie kinders is uit die huwelik gebore.

Teen hierdie tyd het hy al agt kinders gehad.

DIE LEKKE’ MAN

Oom Willem vertel verder dat hy destyds ’n goeie rugbyspele­r en ’n kranige kitaarspel­er was en dít het die vroue beïndruk. So dit was nie vir hom moeilik om elke keer ’n ander“mamma”te kry nie. Volgens hom het die meisies ook letterlik vuisgeslaa­n oor hom.

Oom Willem beweer sy“aktiwiteit­e” het handuit geruk nadat hy sy getroude vrou een aand in die bed betrap het met ’n ander man. Voor hierdie insident, sê oom Willem, was hy getrou en het hy nie “uitgeëet”nie.

“Ek en my vrou was een aand uit hotel toe en ons het geparty – die kinders het toe daai tyd by hul ouma gebly. Ek het toe later agtergekom my vrou is weg en toe besluit om maar huis toe te gaan. Toe ek by die huis kom sien ek die bakkie wat voor my huis staan, maar ek worry toe ook nou nie.

“Maar dis toe ek in die huis kom dat ek haar met die ander man in die bed vang. Hulle het my eers nie gesien nie. Ek het toe uitgegaan om ’n graaf te gaan haal. En toe slaan ek hulle, soveel so dat my vrou in die hospitaal beland het. Die jong het gelukkig weggekom,”sê hy.

Van toe af, sê oom Willem, het hy nie omgegee waar sy meester klas gee nie.

“En van daar af het dinge handuit geruk. Ek het op elke plek waar ek gekom het, ’n ander mamma gekry – nie met die bedoeling om kind te maak nie. As ek maar net weer gehoor het, was die meisie swanger of die kind is al klaar gebore.”

Hy vertel dat hy in 1981 tydens die vloed op Laingsburg ook ’n kind gemaak het. So, terwyl die storms woed en die dorp verspoel het, was hy weer in die bed besig, erken oom Willem openlik.

Oom Willem sê hy het gehou van die jong meisies, soveel so dat hy amper sy Moses teëgekom het. Hy het al amper twee keer met sy eie dogters deurmekaar geraak.

“Ek het albei kere, soos gewoonlik by die bar gaan sit en drink toe ek die oulike meisie in die bar sien. Ek het myself reggetrek en met haar gaan praat. Dis toe sy vir my sê wie haar ma is dat ek besef, maar dis mos eintlik my dogter hierdie. Ek het so groot geskrik, ek het dadelik huistoe gegaan,”vertel hy.

Maar dit het hom steeds nie gekeer nie. Hy het tussen die ouderdomme van om en by 22 en 48, al 29 kinders gemaak.

STOF TOT NADENKE

Maar die ander vrae wat ek móés vra, is hoe onderhou jy so baie kinders? En wat van geslagsiek­tes of MIV/vigs?

Oom Willem sê hy was baiekeer voor die hof gedaag oor papgeld, maar hy het te min verdien en dan was sy saak uitgegooi.

Oor siektes, sê oom Willem hy het langs die pad groot geskrik.

“Toe ek in die laat 1990’s op BeaufortWe­s aankom, het ek vir die eerste keer bekommerd geraak oor die besigheid. Daar het ek gehoor van die‘groot griep’ (MIV/vigs) waaraan die mense so sterwe. Toe besluit ek om maar briek aan te draai. Ek het my weer onlangs laat toets en ek is negatief.”

Maar, erken oom Willem, wanneer hy terugkyk op sy lewe, is hy nie trots op hoe hy gelewe het nie.

“Ek is nie spyt oor enigeen van my kinders nie, maar ek is ook nie trots op die feit dat ek die wêreldse klomp kinders het nie. Veral nie op die feit dat ek nie deel is van hulle almal se lewens nie en dat ek hulle nie almal onderhou het nie. Dit maak my nogal hartseer, as ek daaraan dink dat ek nie almal se verjaarsda­e ken nie.

“Gelukkig het ek ’n goeie verhouding met die wie ek ken. En ek gaan soek gereeld na die ander. Maar nou ja, dis seker die lewe wat ek gekies het en ek moet daarmee saamleef.”

Ek het op elke plek waar ek gekom het, ’n ander mamma gekry – nie met die bedoeling om kind te maak nie.

Willem Jonkers

 ??  ?? HOOFFOTO: Willem Jonkers (63) het altyd die vroue met sy kitaar geserenade.
HOOFFOTO: Willem Jonkers (63) het altyd die vroue met sy kitaar geserenade.
 ??  ?? REGS:Willemmet DeonJonker­s,een vandieseun­suitsy huwelik.
REGS:Willemmet DeonJonker­s,een vandieseun­suitsy huwelik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa