meer as metaal
Fencing gaan oor meer as net swaarde teen mekaar slaan. Dit word beskryf as die menslike vorm van skaak weens die dinkwerk en strategie wat dit vereis. En hiervan weet dié twee tieners maar al te goed.
Op die Kaapse Vlakte met sy bendekultuur is messe en vuurwapens in die hande van selfs jong kinders ’n harde werklikheid. Maar vir twee tieners wat in dié gebied grootgeword het, maak ’n wapen van ’n heel ander aard egter nou die een deur ná die ander vir hulle oop.
Faa’iq Gamieldien van Grassy Park en Kesia Matthews van Manenberg het albei hul SA kleure in fencing (skermkuns) verwerf. Dit beteken dat hulle nie net die hele land vol reis nie, maar ook die geleentheid het om ander lande te besoek.
Vir die eerste keer het albei ook pas die kans gekry om teen die beste skermers ter wêreld mee te ding by die Statebonds- toernooi vir juniors en kadette, wat by die Universiteit van Kaapstad aangebied is.
Faa’iq (17), ’n gr. 11-leerder aan die Oracle-akademie in Ottery, het sy staal behoorlik gewys deur in sowel die afdeling vir o.17’s as o.20’s tot die derde rondte deur te dring. En dit nadat hy by sy vroeëre skool heelwat spottery moes verduur toe hy fencing bo die meer tradisionele rugby gekies het.
Volgens Faa’iq het hy aanvanklik albei sportsoorte beoefen en in albei ewe goed gevaar. Hy het egter mettertyd besef dat sy rugbybeserings hom as skermer sou benadeel. En al was hy genoodsaak om sy vorige skool te verlaat toe hy rugby los omdat leerders verplig word om aan ’n spansport deel te neem, was hy nog vir geen oomblik spyt nie.
Sy medeleerders en onderwysers se voorspelling dat hy vriende gaan verloor omdat hy so baie vir kompetisies moet rondreis, is ook geensins bewaarheid nie. Trouens, hy het die afgelope drie jaar meer vriende gemaak as waarop hy ooit kon hoop, lag hy.
Faa’iq ding mee in die floret-afdeling, waartydens net die opponent se bolyf geteiken word. Volgens hom is dit die mees taktiese van die drie afdelings waaruit gekies kan word en vereis dit die meeste dink- en maneuverwerk.
In totaal het hy by die Statebondstoernooi teen 18 opponente geskerm.“Aan die begin was ek verskriklik senuweeagtig,” vertel hy. Wat te verstane is, as jy in ag neem dat deelnemers van top-skermlande soos Engeland, Skotland en Singapoer deelgeneem het.
En toe sorg Faa’iq vir ’n ligte opskuddig deur sy opponent van Engeland in die tweede rondte uit te skakel!
“Dit was die ongelooflikste gevoel en een van die beste rondtes van my lewe,”
onthou hy. Sy teenstander was egter platgeslaan en het aan die huil gegaan – iets wat volgens Faa’iq glad nie ongewoon is nie.
“Heelparty mense raak aan die huil weens die erge spanning en natuurlik ook omdat daar na die direkte eliminasierondte geen tweede kans is nie.”
Faa’iq was nog maar ’n laaitie toe hy op TV die Olimpiese Spele gekyk en aan sy ma gesê het hy wil fencing doen. Hy moes egter tot gr. 1 wag voordat hy self die sportswaard kon opneem. Hy het vandag steeds dieselfde hoofafrigter, David Wagenveld.
Fencing word soms ’n menslike skaakspel genoem, vertel Faa’iq.“Dis ’n baie strategiese sportsoort wat baie dinkwerk en beplanning verg. Jy moet die heeltyd probeer om jou opponent onkant te betrap.”
Faa’iq het reeds in die Afrika-jeugspele in Botswana ’n derde plek behaal en droom van die grote – ’n medalje by die Olimpiese Spele. Wat hom baie opgewonde maak, is dat Sascoc (SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee) vanjaar besluit het om as borg meer betrokke te raak sodat die nasionale skermspan aan meer lande blootgestel kan word en aan die 2024 Olimpiese Spele kan deelneem.
Geleenthede
Sy spanmaat Kesia hanteer onderhoude soos ’n pro, al is sy net 15 jaar oud.
“Ek dink hierdie is my groot kans om naam vir myself, my skool en fencing te maak,”het sy – sonder om in die minste grootpraterig voor te kom – tydens een van verskeie onderhoude kort voor die Statebondstoernooi laat hoor.
Kesia het by dié toernooi tot by die tweede rondte gevorder en in die direkte eliminasie met 15–9 teen ’n Australiese opponent uitgeval.“Ek was só senuweeagtig toe ek op daardie mat stap,”lag sy.“Maar dit was groot pret, al was dit baie moeilik.”
Kesia is die jongste van ses kinders en in gr. 10 aan Christel House – ’n skool wat leerders wêreldwyd help om uit ’n siklus van armoede te ontsnap.
“As ek nie in hierdie skool was nie, sou ek nie die geleentheid gehad het om aan fencing deel te neem nie,”sê sy reguit.“Die motto van die skool is om hard te werk en jouself te druk om iets te bereik. Baie deure gaan hier vir mens oop.”
Kesia ding mee in die épée-afdeling, waarin die hele lyf van die opponent ’n teiken is.
Sy het haar SA kleure al in gr. 7 verwerf en volg in die voetspore van haar suster Kristen (22), ’n oudleerder van dieselfde skool wat sportwetenskap studeer het en tans haar internskap by Christel House doen. Kristen het ook ’n jaar lank in Dakar, Senegal, deurgebring om as internasionale afrigter in skermkuns te kwalifiseer.
Kesia lê tans in haar kategorie derde op die nasionale ranglys. Sy oefen deesdae twee keer per week in Rondebosch saam met uitblinkers van ander klubs, hoewel Kristen en Randall Daniels – Kesia se skoolafrigter en visepresident van die Skermvereniging van Suid-Afrika – steeds ’n groot rol speel.
Die skermgogga het Kesia gebyt nadat sy Kristen in aksie gesien het.“Dit het na pret gelyk. Ek was so nege jaar oud toe ek by die skoolklub begin oefen het en 11 toe ek aan kompetisies begin deelneem het.”
Hoewel sy ook in naellope en hekkies uitblink en baie lief is vir hip-hop, is haar fokus nou net op skerm.
“Dit is ’n onbeskryflike gevoel,”swymel sy oor hierdie sportsoort wat nog in ’n groeifase in Suid-Afrika is.“Jy moet self op daardie silwer mat wees om dit te beleef. Daar kan jy net jouself wees.”
Dit beteken egter nie dat dit maklik is nie.“Jy moet geestelik en fisiek sterk wees,” beklemtoon sy.“Mense dink jy steek-steek maar net met ’n swaard. Dis glad nie die geval nie. Jy moet kan redeneer en buite die boks dink om jou teenstander te uitoorlê.”
“Maar”, voeg sy by,“as jy net aanhou oefen, is al jou opofferings op die ou einde die moeite werd. En boonop maak jy baie vriende. Jy ontmoet deelnemers van nie net die res van Suid-Afrika nie, maar ook van ander lande.
Sy sou graag wou sien dat meer kinders skerm as sport opneem.“As jy jouself druk en lid van die nasionale span word, kan jy op enige plek in die wêreld gaan deelneem. En wie weet, jy kan net dalk die beste in die wêreld word.”
Haar familie is baie trots op haar, vertel Kesia,“veral Kristen omdat ek op so ’n jong ouderdom al so baie bereik het. Ek moet net my kant bly bring.”
Dis nie aldag maklik om ’n balans tussen skoolwerk en skerm te handhaaf nie, gee sy toe. Maar sy is vasberade om ná skool meteorologie of sportwetenskap te gaan studeer terwyl sy steeds skermkuns beoefen.“Ek is mal daaroor. Dis in my bloed.”