Kuier

Wat die hart van vol is

Die winters van haar kinderdae was koud, droog en altyd ’n uitdaging. Maar tog bring dié herinnerin­ge steeds ’n warm gevoel in haar hart.

- DEUR SANIA DAMON

Winter bring altyd herinnerin­ge uit my vroegste kinderjare terug. Ek het op ’n klein dorpie in die Noord-Kaap grootgewor­d. Hier het ons die uiterste temperatur­e beleef. Die winters was verskrikli­k koud en die somers ontsettend warm. Die winters is droog en winderig en dit het maklik ’n weemoedigh­eid en ’n depressiew­e gevoel binne jou ontketen. Ek sou eerder verkies om die Kaapse nat winters te beleef.

Ek was ’n somerbaba en ek glo dis hoekom ek nie baie lief was vir die winter nie. Die Noord-Kaapse hitte het my nie gepla nie. Somer was vir my sinoniem met son, vreugde, heerlike vrugte en vakansies met niggies en neefs. Die winter inteendeel, het my van jongs af gevul met ’n mate van depressie.

Voordat ons verwarmers gehad het, was kole met ’n klein grafie uit die stoof geskep en op ’n sinkplaat gesit. Ons sou dan rondom die plaat sit of staan en die wonder van hitte geniet. Die hitte van die kole het gewoonlik ”vuurvorsie­s” (bont osse) op ons bene veroorsaak. By die skool sou ons pouses teen die mure staan en warm bak in die sonnetjie. Só het ons dan ook ons merke agtergelaa­t, want daar was permanent vetkolle teen die mure!

Ons het net skoolrokke met ’n trui gedra. Dit was maar min beskerming teen die koue. Dit was die jare voordat meisies langbroeke kon skool toe dra. Ons was dus aangewese op ons bobbysocks. Ek het die bobbysocks verpes, want dit het gewoonlik afgesak soos die dag vorder. Ons het soms rekkies bo-op gesit om dit bo te hou.

Ek onthou ek het vir ’n jaar of twee ’n paar dik rondeneus skoolskoen­e gedra. Ek het daai paar skoene met ’n passie gehaat. As ek skool toe gestap het, wou ek nie na my voete kyk nie, want ek het behoorlik hartseer geraak omdat ek sulke skoene moes dra. Ek kon egter nie my misnoeë aan my ouers bekend maak nie, want ek het geweet die skoene is gekoop omdat dit sterk skoene was wat lank gedra moes word. Soms het ek ’n paar klippe geskop met die hoop dat dit die skoene sou beskadig, maar nee, hulle was teen alles bestand!

Ek onthou hoe skurf ek geraak het in die winter, ’n skurfheid wat behoorlik jou bene en wange seer en sensitief gelaat het. Dit was ’n uiters onaangenam­e gevoel. Soms was my twee beentjies asvaal!

Winter was lemoentyd en soms sou die lemoen die winterlipp­ies bietjie brand. As ’n lemoen ’n bietjie suur was, het ’n bietjie sout bo-op die smaak heeltemal verander. Sop was, soos dit nou nog die geval is, aan die orde van die dag gedurende die wintermaan­de. Vir ’n kind wat ertjies en boontjies haat, was dit ’n marteling. Ek kon om die dood nie my mond aan dié soorte sop sit nie en moes dus gereeld my maag met ’n broodjie vul.

In my vroeë kinderjare het ons nie krane in die huis gehad nie. Ons het water uit ’n gemeenskap­like kraan gaan haal, wat oorkant ons huis op die sypaadjie gestaan het. Ons moes emmers water tap en dit vir alles gebruik. Natuurlik was daar ook nie ’n badkamer nie en jy moes die kom gebruik om in te was. Nou nog onthou ek hoe koud ek gekry het terwyl ek was.

Jare later is water by die huis aangelê en kon ons die vreugde van bad ervaar. Nou nog is bad vir my een van die heerlikste dinge om te doen. As gevolg van my jarelange kommetjiew­assery weier ek om in ’n wasbak te was. Wintertyd geniet ek elke oggend eers ’n warm bad voor ek my klaarmaak vir werk. Dis hemel op aarde.

Buite-toilets is ook ’n minder aangename herinnerin­g. Jy het nie ’n keuse gehad nie, want as die nood druk, ongeag die uur of die temperatuu­r, moes jy die aandlug aandurf.

Daar was ook goeie herinnerin­ge van wintertyd uit my kinderjare. Die eerste en belangriks­te was my ma se melkkos.

Ons het ook baie gespeel en was min gepla van die koue. Dit was hokkies (die soort wat jy met die ghoen speel), tiektok, kennetjie en huisietjie­s, en nog vele ander tot sononder. Dis dan wanneer jy besef dis koud, want dan was dit tyd om jou vuil, stowwerige lyf in die kom te gaan was!

As die nag ekstra koud geraak het, het my ma of pa die warm velkombers oor ons kom gooi. Dit was hemels. Die gedagte aan daardie heerlike hitte sal ek vir die res van my lewe koester.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa