Ons gesels met atletieksensasie Wayde van Niekerk se ma
Ná ’n swangerskap op 18 moes sy haar atletiekloopbaan waarwel toeroep. Vandag is sy trots op dié einste baba wat nou ’n 400 m-wêreldkampioen is.
Odessa Swarts straal van selfvertroue. En sy mag maar, want sy is die ma van ’n wêreldkampioen en Suid-Afrika se nuwe atletieksuperster, Wayde van Niekerk. Maar lank voor dit was sy self ’n steratleet wat plaaslike bane aan die brand gehardloop het.
’n Regte Kardashian, het Wayde laat weet uit Beijing, China, waar hy onlangs ’n goue medalje by die wêreldatletiekbyeenkoms losgeslaan het. Odessa word sedertdien oorval met versoeke vir onderhoude – om nie te praat van al die vreemdelinge wat haar op straat voorkeer nie.
Dis ’n groot oomblik vir die gesin, maar die 41-jarige Odessa kan nie anders as om meegevoer te raak oor Wayde se sukses nie. Haar eie ma was ’n enkelouer en hoewel sy groot sukses as atleet behaal het, kon Odessa weens apartheid nooit internasionaal meeding nie.
Die geleenthede vir ’n bruin vrou was maar min – al het sy die 100 m en 200 mrekords op hoërskool laat spat. Odessa moes egter tevrede wees met interprovinsiale kompetisies asook provinsiale en nasionale kleure, want sy het nooit die kans gekry om (soos Wayde) haar talent op internasionale vlak te wys nie.
“Die geriewe waarop ons gehardloop het, was nie altyd van die bestes nie. Ons afrigters was ons onderwysers, wat ook rugby en netbal afgerig het.
“Dit was moeilik, maar baie mense het dit vir my makliker gemaak. Die skool het vir my spikes en klere gekoop. En my onderwyser en sy vrou het my ondersteun en gepush,”sê Odessa.
Dié ma van drie, wat oorspronklik van Kraaifontein in die Wes-Kaap is, sê hoewel daar destyds min geleenthede was, is sy dankbaar vir haar skool se ondersteuning. Haar atletiekloopbaan het tot ’n skielike einde gekom toe sy op 18 met Wayde swanger word. Maar vandag is sy nie vir ’n oomblik spyt nie. Wayde het háár atletiekgene gekry en het pas een van die ses vinnigste tye in die geskiedenis van die 400 m gehardloop.
Odessa self het nog ’n jaar ná Wayde se geboorte aan atletiek deelgeneem, maar besluit om eerder te gaan werk om vir haar seun te sorg. Maar sy is gelukkig om vandag eerder die ma van die kampioen te wees – eerder as die kampioen self. Dit is haar groot blessing, sê sy trots.
GOD SE PLAN
“Dit was nie God se plan vir my nie (om ’n wêreldbekende atleet te word). Dit was die Liewe Vader se plan dat ek Wayde se ma op 18 moes word. Ek ken God nou en verstaan nou God se planne vir my lewe. Ek verstaan nou hoekom ek nie destyds die geleenthede gekry het wat Wayde nou kry nie. Dit was nooit God se plan vir my nie. Dit was God se plan vir Wayde.”
Sy weier ook om te dink aan die“what if’s”, want dit sou dan beteken dat Wayde nooit sou gebeur het nie.“Wayde is nie ’n mistake nie. Wayde is God se plan. My hart is soveel nader aan God en ek wil nie aan sulke dinge soos‘what if’dink nie.”
Wayde kon nie vir ’n beter ma gevra het nie. In haar het hy nie net iemand wat weet hoe dit voel om ’n atleet te wees nie, maar ook iemand wat hom en sy drome ondersteun. Iemand wat hom nederig en naby aan God hou.
Maar wat Wayde onlangs op ’n wêreldverhoog vermag het, het nog nie heeltemal by hulle ingesink nie. Dit voel soos om Fast and Furious te kyk. Die adrenalien pomp, verduidelik Odessa.
Haar lag vul haar kantoor by die atletiekstadion in Bloemfontein waar sy Vrystaatatletiek met hul statistieke en ontwikkeling help.
Haar man, Steven Swarts (39), het so gehuil toe Wayde die rekords laat spat dat Odessa hom later gevra het hoekom hy so hartseer was.“Hy het gesê om te dink waarvandaan ons kom en nou het ons ’n kampioen in ons huis.”
Odessa sê verder:“Ek weet hoe hard Wayde die laaste paar jaar gewerk het. Toe hy in 2011 die eerste keer sy hamstring geskeur het, was daai kind verpletter. Hy was down. Hy het egter ’n jaar later teruggekeer en weer deelgeneem. Hy het in Durban aan die 200 m deelgeneem en gewen. Toe vra hulle hom om die aflos te hardloop en daar skeur hy wéér sy hamstring. Toe vat hy ’n tweede dip. Dit het baie kopwerk gevat.”
Te midde van die gesin se blydskap het hulle die laaste paar weke ook besef daar is mense wat Wayde se sukses in ’n politieke speelbal wil verander.
“Ek kan verstaan mense is bly dat dit ’n coloured-kind is wat presteer, maar daar is nie kwotas in atletiek nie. As jy goud gewen het, is dit joune. My kind het dit op meriete gewen, omdat hy hard daarvoor gewerk het. Hy het dit op sy eie gewen.”
Intussen is Odessa ewe trots op haar ander kinders, Craig (18) en Kayla (12). Craig is in matriek by Grey-kollege en is ook ’n 400 m-atleet en tans die kampioen in sy ouderdomsgroep. Hy oefen ook saam met Wayde. Kayla het pas aan die nasionale landloopkompetisie deelgeneem en is ook ’n kranige hokkiespeler.
Odessa rig deesdae laerskoolkinders by Kayla se skool af en Steven is ook ’n atletiekafrigter. Buiten ’n liefde vir sport wil dié ouers eerder hê dat hul kinders ’n liefde vir God sal hê.
“Ek en my man is altwee gered. Ons het gesê as ons wil hê ons kinders moet die beste van hul lewens maak en nie in clubs rondhang en dwelms en drank gebruik nie, moet ons lead by example.”
Odessa vertel sy’t nie God se planne verstaan toe sy 18 was nie.“Maar vandag sien ek dit uit ’n geestesoogpunt. My kinders moet ook sien hoewel daar dips in ons lewens was, was God altyd daar vir ons en Hy sal altyd daar wees.”
Odessa sê sy sal nooit die eerste jaar wat Wayde oorsee was, kan vergeet nie.“Ek het vir hom ’n boodskap gestuur:‘Jy is nou al so lank in Italië, maar jy laat weet my nie jy is veilig nie.’Toe antwoord hy my:‘Mommy, we serve an awesome God that will protect me. Why do you doubt Him?’As ma leer jy dan ook iets van hom en jy besef jy het iets reg gedoen.”
Die trotse ma, wat geen probleem het om oor haar kinders te praat nie, trek egter ’n skewe glimlag as Kuier by haar wil weet: Wie is Odessa? Sy sit agteroor, dink ’n oomblink en sê dan:“Odessa is vinnig op haar perdjie en agterna voel sy soos ’n hond. Ek praat te vinnig en dink te stadig.”
Steven, ’n senior bestuurder by Vodacom met wie sy al 12 jaar getroud is, is een van haar grootste steunpilare. Sy weet nie hoe sy dit sou maak sonder hom nie. Hy aanvaar haar drie kinders as sy eie en ondersteun hulle onvoorwaardelik.
“My passie is my kinders en my man,”sê sy en begin weer praat oor die waarde van sport vir jong kinders . . .