Kuier

Ilse Klink praat oor haar rol as Tamara in Roer Jou Voete

Sy is een van die land se bekendste aktrises en was al te sien in verskeie TV-reekse en teaterprod­uksies. Tog is sy plat op die aarde en is ma-wees asook tyd spandeer met haar familie, haar belangriks­te rolle nóg.

- DEUR VIRGINIA KEPPLER

Sy’s nie een vir tierlantyn­tjies nie en ook nie gemaak om getem te word nie. Sy’s doodgewoon Ilse Klink, ’n vrou wat self besluit hoe sy wil lewe. En een ding wat sy weet, is dat sy gebore is om ’n aktrise te wees. Ilse is geen vreemdelin­g op ons kassie nie – baie mense onthou haar nog van die TV-reekse Tussen Duiwels,

Molofish en as Isidingo se Vanessa Booysens.

Sy is tans te sien op SABC 3 as Tamara van Niekerk in die reeks Roer

Jou Voete. Tamara klou vas aan ’n ou liefde, wyle Stefaans Pretorius, en leef haar uit by ’n dansklub in die hart van ’n denkbeeldi­ge Karoomyndo­rp, Verloren. Tamara was dolverlief op Stefaans en sukkel ná sy dood om aan te beweeg.

“Tamara is ’n sterk vrou wat vreeslik vol geheime is,” vertel Ilse. “Sy sal tot alle lengtes gaan om diegene te beskerm vir wie sy lief is. Ek en Tamara is albei sterk, maar ek sal beslis nie die goed doen wat sy doen nie.”

Haar TV-karakter sal dalk enigiets doen om tog net liefgehê te word, maar sy wat Ilse is, wil nie eens die woord hoor nie.

“Ek dink mense wat getroud is, is baie brave,”sê sy, amper tegelykert­yd skamerig én selfversek­erd. Haar krulkop dans om haar gesig.“Vir my is dit is ’n komplekse situasie om jouself vir ewig aan iemand te bind.”

Oor die huwelik bly sy skepties, sê Ilse (van“iets in die 40’s”), omdat sy sien hoe baie mense daarmee sukkel.“Ek dink nie ek het nou die stamina om dit te doen nie. Dis iets wat gedoen wíl word, maar ek sien nie myself daarin nie. My brein wil dit nie hê nie.”

Haar brein“skop uit”wanneer sy aan trou dink en tog het sy groot respek vir haar eie ouers, Florence en Newton (albei 71), wat al 46 jaar getroud is.“Party mense is gelukkig en hulle lyk goed. Maar dit is nie vir almal bedoel nie …”

Dit beteken egter nie sy is selfsugtig nie, vertel Ilse, want sy deel reeds alles met haar kinders, familie en andere.

“As ek vandag vir my kinders sê ons gaan hierheen ry, wil ek nie nog dink ek moet vir iemand vra of ken in die saak nie.”

Ilse Klink Dit was nie ’n besluit om ’n aktrise te word nie, dit is waarmee ek gebore is. Wat ookal jou talent is, doen dit.

OM NET MA TE WEES

Haar kinders, Tyler (22) en Joshua (9), is haar alles. Vir hulle is sy nie net ma nie, maar ook ’n vriendin wat hulle al twee jaar lank sommer Ilford noem.“Ons het eendag deur ’n nameboek gegaan en dis toe dat Tyler my só begin noem het. Joshua het natuurlik net ingeval.”

Tyler het ’n sterk persoonlik­heid, sê Ilse.“Sy is baie volwasse en doelgerig. Sy studeer tans sielkunde en doen ook script writing en TV-studies by Wits-universite­it. Maar dit is vir Joshua, my arme kind, wat ek so jammer voel oor die baie skoolwerk wat hulle kry om tuis te doen.”

Ilse help Joshua baie, maar sy is oortuig dat die onderwysst­elsel te veel druk op veral jonger kinders plaas.“Dit is te veel werk en dit is asof hulle nie omgee vir die kinders wat agter raak nie. Drie verskillen­de konsepte in een week. Hoekom? Dit is onnodig en dan wonder hulle hoekom doen die kinders so swak, maar hulle probeer te veel goed indruk in ’n kort tydjie.”

Dit is die einste Joshua wat eendag weens asma in ’n hospitaal beland het. Ilse het nagte langs sy hospitaalb­ed gewaak en saans moes sy steeds haar beste vertonings op die teaterverh­oog uithaal.

“Een aand was ek so moeg, ek het in die kleedkamer vas aan die slaap geraak en net so vaagweg gehoor iemand roep oor die mikrofoon:‘Ilse Klink, na die verhoog ‘seblief’,” vertel sy laggend.

Maar die opoffering­s was als die moeite werd, want vandag is Ilse een van die land se bekendste aktrises.

“My ouers vertel altyd toe ek so drie of vier jaar oud was, het ek altyd kuiergaste nagemaak. Dit was nie ’n besluit om ’n aktrise te word nie, dit is waarmee ek gebore is. Wat ookal jou talent is, doen dit.”

Sy sê as jou werk ook jou passie is, sal sukses verseker volg. “As jy vir iets lief is en ook daarin goed is, gaan iets goed daarvan kom. My eerste groot televisier­ol was in 1996 in Tussen Duiwels. Ek het ook Molofish gedoen – alles in een jaar. Sommer drie movies ook in een jaar. Daarna het ek weer baie teaterwerk gedoen.”

Moet haar egter nie vra of sy teater bo TV-werk verkies nie.“Solank mens net act, is jy gelukkig, of dit nou op die planke of voor die kamera is.”Sy moes wel in 1999 ’n groot keuse maak tussen haar karakter Vanessa in Isidingo en ’n teaterprod­uksie,

Fiela se kind. “Dit was ’n baie moeilike loopbaanbe­sluit. Ek was toe net 27, maar ek wóú Fiela speel.”

Ilse dink sy was nog altyd gesien as ’n “act of gravity”en daarom sou sy dié rol kon speel,“maar toe bel die mense van

Isidingo my en sê:‘Meisie, ons soek jou’, en dit is waar ek vir vyf en ’n half jaar beland het. Ek was baie gelukkig. Isidingo was ’n goeie leerskool. Daarna het ek baie musikale teaterwerk gedoen en dit was heerlik.”

Tans hou dié aktrise haar besig met produksies vir verskeie groot maatskappy­e en sy is ook binnekort te sien in twee kort minireekse waaroor sy nog nie die aap uit die mou wil laat nie.

Ondanks haar bekendheid is Ilse geen diva nie. Sy lag maklik, praat eerlik en leef diep. Sy’t nie ’n vals haar op haar kop nie en is minder bang om haar sê te sê. ’n Vrou wat trots is op haar herkoms.

HAAR ERFENIS

“Ek is net ’n gewone meisie van mixed descent van Mitchells Plain en daar is baie van my soort. Ek het ’n paar sproete van Europa, donker Maleisiese oë en ’n Duitse van,”vertel Ilse, en lag skamerig.

Maar Ilse hou vol haar skaamgeit het sy in die Kaap agtergelos. Die Klink-gesin het, toe sy net 15 was, in Eersterust, Pretoria nesgeskop nadat pa Newton ’n werk daar gekry het.“Dit was destyds die enigste plek waar ons kon gaan bly.”

Sy het ’n ouer suster, Janine Changlrayn, en ’n jonger broer, Adrian Klink.“My suster het onlangs ná 10 jaar in Durban teruggetre­k Gauteng toe. Dit is maar oor die familie. Mens wil maar by jou familie en jou ouers wees.”

Ilse kuier elke naweek saam met haar ouers.“As ek hulle nie sien nie, voel dit of ek nie grond vat nie. Ek moet huis toe gaan en net bietjie by my ma en pa wees, sodat ek net weer gegrond voel om te kan aangaan. Ons familie hou daarvan om saam te wees. Ons is nét lief vir mekaar en dit is te lekker.”

In Gauteng het sy geleer om haar sê te sê.“Maar dit was ’n groot aanpassing, want ons het vanuit ’n oorwegende Engelse gemeenskap getrek na ’n Afrikaanse gemeenskap. My ma is Afrikaans en sy het nog altyd die taal met ons gepraat, maar toe ek in Eersterust kom, was dit anders.”

Dit is ook in Eersterust waar sy van die sosiale probleme bewus geword het. Sy het hier vir die eerste keer gesien hoe sommige ouers hul kinders so jonk as vier jaar stuur om vir hulle ’n bier te gaan koop.

“Ek dink een van die probleme in Eersterust is dalk dat daar nie genoeg is vir die jeug om te doen nie. Daar is selfs onlangs vir die eerste keer by my ma se huis ingebreek,” vertel Ilse.

Ilse het ná matriek by die Universite­it van Pretoria drama geswot en ná haar 21ste verjaardag sak en pak Bloemfonte­in toe getrek om daar teaterwerk te gaan doen.“Ek het daar in al die groot, internasio­nale musiekopvo­erings gespeel wat na Suid Afrika gebring is.”

Maar van al die rolle wat sy al gespeel het, is dit Tamara in Roer Jou Voete wat haar die meeste bybly.“Wat interessan­t is van Tamara is dat sy nie daarvan hou as mense goed vir haar wegsteek nie, terwyl sy self baie geheimsinn­ig is. Tamara raak ook kwaad as mense vir haar lieg.”

Sy’s ook nie juis ’n vrou vir die kollig nie, maar eerder iemand wat daarvan hou om in haar vryetyd te lees of videospele­tjies te speel. En terwyl meeste ander vroue droom van ’n skuimbad, sê Ilse dis nie vir haar nie.

Dié enkelma wil onthou word as iemand met ’n passie vir haar werk.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO EN REGS: Die aktrise Ilse Klink is tans op die kassie te sien as Tamara in Roer Jou
Voete. En net soos haar karakter is Ilse ook ’n sterk vrou wat haar sê kan sê.
HOOFFOTO EN REGS: Die aktrise Ilse Klink is tans op die kassie te sien as Tamara in Roer Jou Voete. En net soos haar karakter is Ilse ook ’n sterk vrou wat haar sê kan sê.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa