Kuier

Mishandeld­e vrou gee nou hoop vir ander met sentrum

In haar twee mislukte huwelike het haar mans haar erg mishandel. Sy ken van swaarkry, maar sy het gekies om op te staan. En vandag help sy ander uit dié put van wanhoop.

- DEUR AMY JOHNSON

Sy weet hoe dit voel om met potblouges­lane oë te gaan werk, met haar kinders agter bossies te skuil tot die geel vên hulle kom haal en sy ken die angs van hoe dit voel om te vlug vir haar lewe. Maar Magda Kleyn het ná twee huwelike waarin sy mishandel is, besluit om terug te veg.

Magda (58), ’n oudverplee­gster en stigter van die Tehillah-sentrum in Leonsdale, Elsiesrivi­er buite Kaapstad, het ’n vinnige stappie wat jou sommer kan laat sien sy is reg om te woeker.

“Daar word nêrens ’n probleemki­nd gebore nie en wie kan dit beter verstaan as ek? Stukkende huise maak kinders ook stukkend,”sê sy.

Tehillah beteken hoogste lof aan die Here. Die sentrum het tans 45 mense in die rehabilita­siesentrum, 105 kinders in die crèche op die perseel en 200 hawelose en mishandeld­e ma’s en kinders woon by die House of Magda-skuiling. Maandeliks is daar 3 179 mense wat kursusse by die sentrum voltooi, hulle voed daagliks tussen 500 tot 700 mense en hulle bak ook sowat 1 000 brode ’n dag.

Magda het nou ook ’n sentrum in Upington op die been gebring.

Die epoulette lê steeds netjies op haar skouers, maar dié vrou wat 20 jaar gelede die sentrum in ’n gang-infested area begin het, wou ’n verskil maak in die lewens van die mense wat deur hul probleme ingesluk en weer uitgespoeg is. Want dis iets wat sy goed ken.

Die plooie op haar voorkop trek saam wanneer sy begin vertel waar alles in haar lewe begin skeefloop het.

“Dis baie moeilik om daaroor te praat, want as ek so stil sit en dink, dan wonder ek hoe het ek hier uitgekom. Hoekom het ek met ’n lang pad gekom? Hoekom moes daar so baie dinge in my lewe gebeur?”

Magda het in ’n huis grootgewor­d met ’n Godvresend­e ma wat 04:00 soggens al begin bid het. Haar ouers het getrou toe hulle 16 was, maar toe Magda begin verstand kry, het sy besef haar ma word aangerand.

“Ek was in st. 8 toe vermoor my pa amper my ma. Daai nag toe vlug ek en my ma. Dit het gereën, maar ons het gehardloop, want hy het met ’n mes in sy hand gestaan.

“Ek kan ’n ander aand onthou toe ek en my ma weggehardl­oop het. Die pee het haar afgeloop, maar ek het haar gesê ‘Pappa gaan vir Mamma doodmaak’. Daar was tye wat hy haar geslaan het dat haar knie eenkant gesit het.

“Die aande wat jy as kind moet hardloop en jy sien die bloed loop . . . Ek was die een wat altyd geskree het sodat die neighbours kan hoor.”

Magda se ma het 21 swangerska­ppe gehad – almal seuns en sy was die enigste dogter. Maar terwyl haar ma swanger was met haar jongste broer, het haar pa weggeloop met ’n ander vrou.

“Ons het bitter, bitter swaargekry. Soms was daar nie krag nie en moes ons kerse aansteek en as daar nie kerse was nie, moes ons die gordyntjie oopmaak sodat die maanlig kon inskyn. Dieselfde jaar het ek die skool verlaat om te gaan werk om my ma finansieel by te staan. Destyds het jy mos nie matriek nodig gehad om in daai rigting te gaan nie.”

DIE MOEILIKHEI­D

Magda sê sy het in 1975 as ’n verpleegas­sistent begin werk en in haar finale jaar op kollege het sy haar eerste man ontmoet. Haar ma wou nie hê sy moes met dié man trou nie, maar Magda wou niks weet nie.

“Hy lyk soos Wesley Snipes; so ’n regop man. Hy was ’n werkende man en hy het nie gerook of gedrink nie. Ek was 23 en dit was my eerste boyfriend. Ek het gedink ‘hoekom wil die kerk vir my besluit?’.

“Hy het altyd sy susters geslaan, maar ek het nooit gedink hy sou vir my só slaan nie. Van maand een af tot ek hom gelos het, is ek aangerand. Die dokter het in ’n stadium gesê ek gaan nie 34 jaar oud word nie.”

Om geloofsred­es wou haar ma nie hê sy moes skei nie.

“Ek en my vier kinders sou agter ’n bossie gaan sit; die bloed het geloop, my onderklere is van my afgeskeur, maar dan sit en wag ons vir die geel vên om ons na my ma toe te vat. Dit het vir my gevoel asof my ma se hele lewe voor my afspeel.” Tot op ’n dag . . . “Daai dag toe kom my ma na my toe; ek het met my kop toe gelê en sy’t vir my R1 000 gegee om met die egskeiding te begin.

“Ek sal nooit die dag vergeet wat ek in die hof gestaan het nie. Die huwelik was ’n lang seremonie en toe net vyf minute en ‘so help my God’, dan is dit verby.”

’n Paar jaar later ontmoet sy nóg ’n man deur vriende. Sy was ’n skoolverpl­eegster; onafhankli­k en het aanbeweeg van die eerste teleurstel­ling.

“Hy was ’n Joburgse man met ’n linnebroek. Ek wou eers niks met hom te doen hê nie, maar hy het elke week uit Johannesbu­rg gevlieg om my te sien. Hy het hom voorgedoen as iemand met baie geld. Nadat ons getrou het, het ek Johannesbu­rg toe getrek. Toe ek daar kom, was die huis vol gebruikte kondome. Toe moet ek maar aangaan, want ek is dan nou weer in ’n ding,” sê sy.

Magda se ma het gesien hoe ook dié man haar en haar kinders mishandel.

“Hy het kos vir my kinders weggesteek en hul pa het net R50 ’n maand onderhoud betaal. In daai stadium het ek vier werke gehad. Ek moes moonlight om my kinders deur die skool te kry. Een nag het hy my en my kinders byna met ’n graaf doodgeslaa­n.

“Hy het weggeloop en die dag toe hy terugkom, het ek ’n egskeiding­sbevel gekry. Ek kon nie my kinders meer deur dié goed sit nie.”

die KEERPUNT

Magda het kort daarna ’n oorplasing na Huis Vredelust in Kaapstad gekry en besluit om saam met haar kinders langs die rivier by Die Eiland-oord in Upington te gaan kamp.

“Daai nag sê die duiwel vir my:‘Jy’s ’n failure; spring hier in’. Ek het nog nooit so duidelik selfmoord gehoor soos daardie aand nie. Dit was asof iets my trek om in daai rivier te spring. Dit was kort ná Kersfees en ons sou tot ná Nuwejaar bly.

“Ek het my kinders wakker gemaak en toe ry ek reguit na ’n kerkdiens in Elsies- rivier. Daai aand toe gaan val ek voor die Here en ek sê:‘Here, help my nog net die een keer; tel my nog net die een keer op’. Dis hoekom ek sê ek sal nooit weer trou nie en ek sal hulle (my kinders) nooit weer deur so iets sit nie.”

Magda sê die keerpunt in haar lewe was die stigting van die Tehillah-sentrum.

“Dit was ’n stukkende, gevandalis­eerde gebou en daar het vier verkragtin­gs hier plaasgevin­d. Ons het ook ’n kerk gebou; my naels was stukkend gebou aan die kerk. Dit is eintlik ’n oase. Jy kom versterk jou net dan gaan jy weer na jou eie kerk toe.”

Sy sê vroue moet nooit hulself blameer as hulle geslaan word nie en sy moedig hulle aan om weg te stap eerder as om in ’n ongesonde verhouding te bly.

“Ek sê altyd vir vroue, gaan soek hulp en vra om hulp by die Here. Daar’s tye wat jy vir jouself die skuld gee. As jy uitvind dit werk nie, wees liewer ’n enkelouer en voorbeeldi­g, as twee ouers wat baklei. Want jy doen meer skade aan die kinders.

“Gebed, my kinders, kleinkinde­rs en my werk hou my staande. Soms wys die Here my hoe sterk die storm is, maar Hy sê ook moenie na die storm kyk nie; kyk anderkant die storm.

“Elke mens in die lewe het ’n first half en ’n second half en die eerste helfte van my lewe het ek in die verkeerde trein geklim en al die stasies daarna was verkeerd. Ek is nou in my second half en ek is seker ek is nou op die regte trein.”

 ??  ?? HOOFFOTO EN INLAS: Magda Kleyn (58) is in trane wanneer sy vertel van haar twee huwelike waarin sy erg mishandel was.
HOOFFOTO EN INLAS: Magda Kleyn (58) is in trane wanneer sy vertel van haar twee huwelike waarin sy erg mishandel was.
 ??  ??
 ??  ?? REGS: Magda Kleyn by die monument wat sy by die Tehillah-sentrum in Elsiesrivi­er opgerig het. ONDER: Magda saam met meisies wat aan programme by die sentrum deelneem.
REGS: Magda Kleyn by die monument wat sy by die Tehillah-sentrum in Elsiesrivi­er opgerig het. ONDER: Magda saam met meisies wat aan programme by die sentrum deelneem.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa