Kuier

SNAAKSER AS OOIT OP AMPER 50

-

Die immergewil­de komediant Marc Lottering vermaak Suid-Afrikaanse en internasio­nale gehore al vir die afgelope 17 jaar en is bekend vir sy uitbundigh­eid, bold suits en soms tong-indie-kies grappe. Maar al staan 50 amper op sy voorstoep, sê hy hy het nóú eers werklik die lewe begin geniet.

Ons fotosessie met hom was soveel pret, want in pure Marc-styl het hy die span die heeltyd laat skater van die lag.

Kuier het laas in 2011 met Marc gesels en sedertdien het hy ’n bietjie die media vermy, met goeie rede, sê hy. Hy wou nie net op voorblaaie van tydskrifte gesien word net vir die sake daarvan nie.

“Ek was toe (in 2011) by ’n kruispad. Ek kon dit in my werk sien en ek het begin wonder of ek nog iets het om (vir ’n audience) te sê. Ek het myself gevra:‘Marc Lottering, het jy nog enigiets nuuts om te sê?’Want daai tyd was daar skielik ’n explosion van comedians en skielik het hulle dieselfde tipe stories begin vertel.

“Dan moet jy begin reassess en dink ‘how am I defining myself?’Of het mense nou genoeg van my gehoor? Maar ek moet sê I am super impressed with life, want sodra jy dink jy weet alles en sodra jý dink jy’s klaar, dan besef jy jy het nog so baie om te leer,”sê Marc, wat by 49 Juliussing­el in Retreat buite Kaapstad grootgewor­d het.

Hy sê hy is nou gelukkig met hoe sy kop werk en relax meer met sy komedie. Natuurlik is die druk steeds groot, want, sê Marc, hoe langer jy in die bedryf is, hoe meer sit mense terug en kyk of jy nog snaaks is.

“Daai pressure is briljant. Ek staan vroeër soggens op om na my notes te kyk en rework dinge om dit meer edge te gee en snaakser te maak. Ek moes net vir ’n rukkie stilsit en alles reassess en vir die eerste keer in ’n lang tyd voel ek meer gemaklik met myself, my komedie en om ’n shoot te doen,”sê hy met ’n tasbare eerlikheid in sy oë.

En in die komedie-bedryf raak dinge ook nie makliker nie. Marc sê met die rassespann­ing en politieke tweespalt in die land, het dit die afgelope jaar en ’n half moeiliker geraak om ’n komediant te wees.

“Dit het harde werk geword, want jy kyk na die gehore en mense verwag jy moet van die headlines wat ons nou het, grappe maak. Dit is baie meer uitdagend, maar dit is wonderlik dat mense in dié klimaat nog wil lag. Ons lees elke dag baie slegte nuus oor hoe ons onder mekaar baklei oor jou velkleur of watter party jy ondersteun. En as ’n Suid-Afrikaanse komediant is ek so bevoorreg om te sien hoe Suid-Afrikaners in my shows saam kan lag. That is gold and magic for me.”

sy KARAKTERS

Marc is ook bekend vir die vele karakters wat hy op die verhoog vertolk en hy is al gevra wanneer antie Merle, Colleen the Cashier en die taxiguard Schmiley weer hul verskyning gaan maak.

“Almal se favourite is antie Merle en baie mense hou ook van Colleen. Die mense begin vra waar is die karakters en op die oomblik excite hulle my nie. Wanneer hulle weer lastig raak, sal hulle weer op stage wees,”sê Marc.

Volgens hom is antie Merle gebore uit prayer meetings wat sy ma gereeld by hul huis gehou het.

“Hulle was prayer warriors en hulle het gekom met koek en tee om te bid. En as ek by die huis was, het ek geluister na die geselsery ná die tyd wanneer hulle begin dink die Here hoor hulle nie meer nie.

“Die karakters is mense wat almal elke dag sien, of jy hulle nou in Adderleyst­raat (in die Kaap) sien of waar ook al, jy sien dié mense elke dag. En die oomblik wat jy iets op die verhoog sit waarmee mense kan identify, love hulle dit. I seldom have serious moments en ek word geïnspiree­r deur dinge wat ek soms op straat sien, veral as ek nie kan ophou kyk nie.”

En Marc se getroue aanhangers weet presies wanneer hulle twee keer ’n grap gehoor het en hulle tweet of los boodskappe op Facebook sommer terwyl die show nog aan die gang is.

Sy man van die afgelope ses jaar, Anwar McKay (49), staan ook altyd gereed om die sweep te klap en herinner Marc soms dat hy nie op die verhoog dieselfde grappe kan staan en vertel nie.

“I value my partnershi­p met Anwar, want ons het ’n baie goeie vennootska­p. Ons lewe in die publieke oog en my audience en fans was oor die jare baie lojaal. Die gay-ding was nog nooit vir hulle ’n issue nie; hulle is lief vir Marc en dit het ons journey soveel makliker gemaak

“Toe my ouers nog gelewe het, het ek ’n bietjie teruggehou omdat hulle pastore was. Ná hul sterfte kon ek gemakliker wees en ons kon meer daaroor praat. Ek hoef toe gelukkig nie met ’n feather boa

en ’n Diana Ross CD huis toe te gegaan het nie, want baie mans wil nie vir hul ouers daai talk gee oor daai burke nie,”sê hy laggend.

Marc se pa, Sandy, het breinkanke­r gehad en hulle het nooit geweet nie totdat hy eendag ’n black out gehad en beheer oor sy motor verloor het. Hy het in Oktober 2005 gesterf.

Hy sê sy ouers was soos vinkel en koljander en hy weet die een sou nie sonder die ander een kon lewe nie. Agt maande later in Junie 2006 het sy ma, Irene, weens ’n hartkwaal gesterf.

Die Lottering-gesin, van wie Marc se 49-jarige broer ook deel is, was ’n hegte gesin en het baie tyd met mekaar deurgebrin­g.

“Mense het verwag dat ek nie daarna sou cope nie, maar ek het, want dit was nie ’n case van unsaid stuff nie. Ek het die mooi oomblikke in die lewe met hulle gedeel,” vertel hy.

Dan kom ons weer verhoog toe en Marc praat oor die ding waarvoor hy die liefste is – sy werk.

Hy sê vir hom skakel die verhooglig­te eintlik nooit af nie.“Anwar sal daarvan kan getuig,”sê hy.

“Baie mense sê komediante is depressed wanneer die ligte af is. Ek weet almal wat op die verhoog staan, het ’n ander kant. Ek het net ’n meer private kant wat ek spandeer met vriende en met wie ek regtig mee kan chill. En dit is nie so anders as die Marc wanneer die ligte aan is nie. Ek trek dieselfde aan soos ek op stage aantrek; so ek kom amper altyd overdresse­d by Wimpy aan,”lag hy.

tyd om te ontspan

By die huis hou Marc van sy vriende onthaal en om net ’n goeie tyd te hê. En hy sal jou sommer gou ’n ding of twee op die dansvloer wys.

“My vriende raak baie angstig, want hulle weet daar gaan ’n tyd van die aand kom wat ek in Whitney Houston gaan verander en vir hulle gaan sing. Dit gebeur so 01:00. Hulle ken al die woorde en die songs. En dié wat by die huis is, bel ek sommer wakker.”

En so in die onderhoud trek hy weg met “If I should stay …”

“Ná my 40ste verjaardag was ek vir drie jaar 40. Daarna dink jy‘oh my word die helfte van my lewe is verby’. Dan word jou fokus om die lewe te geniet,”sê hy.

Hy het in dié tyd ook nuwe uitdagings begin aanvaar en hy tree nou gereeld op by Die Boer-teater in Durbanvill­e in die noordelike voorstede van Kaapstad. “Ek leer nou so baie oor myself; om meer te relax wanneer ek op stage is, stories te vertel en om meer in myself te glo as voorheen. Nou is ek inspired om nuwe dinge te doen; dis hoekom ek die Hash Tag

Lottering- toer doen. Hy gaan tot die einde van die jaar fokus op dié toer – sy nuwe baba soos hy dit noem – waar hy gehore van Durban tot in Doebai gaan vermaak.

“I hope to blow people’s minds with this show. Ek sien myself steeds as baie bevoorreg en mense sê altyd‘oh my word, ná 17 jaar gaan mense nogsteeds na jou shows toe’. En dis vir my ’n groot ding. Om te kan sien hoe mense hul hande op hul knieë slaan van die lag, is ’n big deal, want dit is my lewe.”

Oor 50-word sê Marc hy is absoluut gereed daarvoor, want sy spirit sal sy look en outlook bepaal.

“Ek is excited oor wat voorlê, maar ek is ook angstig, want daar’s so baie wat ek wil doen. En nou sal ek ook uit die club moet kom voor hulle die ligte afsit, want as jy so oud is, lyk jy goed in die donker, maar sodra daai ligte aangaan, is dit ’n ander storie,” lag hy.

Vir hom is dit ook belangrik om stil oomblikke te hê – al bieg hy dat hy nie altyd genoeg daarvan het nie.

“Ek gebruik daardie oomblikke om te kyk of ek nog op die regte pad is. Ek is ’n gelowige persoon en ek het ’n verhouding met God, want ek glo ek kan nie alleen stap nie. En my journey is vir my iets persoonlik.”

Marc is een van daai mense in wie se geselskap jy vir ure lank kan sit, maar soos alle goeie dinge, moet die gesels tot ’n einde kom. Hy krap heen en weer in sy drasak rond vir sy BMW se sleutels, wat hy uiteindeli­k in die binnesak van sy denimbaadj­ie opspoor. En soos die outomaties­e deure van die gebou agter hom toemaak, weet ek ons het nog lank nie die einde van Marc of sy karakters gesien nie – amper 50

of te not.

 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Marc Lottering sê hy is dieselfde grapjas op die verhoog en saam met sy vriende.
LINKS: Marc Lottering sê hy is dieselfde grapjas op die verhoog en saam met sy vriende.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa