Kuier

Wat is jou regte as jou hond iemand op jou erf byt?

Huiseienaa­rs skaf gewoonlik honde aan om hulself en hul eiendom teen diefstal en inbrake te beskerm. Maar kan jy aanspreekl­ik gehou word as jou hond iemand doodbyt wat sonder toestemmin­g op jou erf geloop het?

- DEUR JACKIE PIENAAR-BRINK

In Suid-Afrika is dit algemeen dat honde as afskrikmid­del en beskerming ingespan word. En baie keer is dit ’n geval van hoe kwaaier, hoe beter, veral op plekke soos die Kaapse Vlakte waar misdaad hoogty vier.

Maar stel jou voor jou hond byt ’n ongenooide besoeker op jou erf dood of beseer hom ernstig.

Wat, in so ’n geval, is jou as eienaar se regte en verantwoor­delikhede? Moet jy jou regmaak vir vervolging en/of ’n siviele eis? En sal jou hond nou uitgesit moet word?

Hierdie is van die vrae wat opgeduik het nadat twee pit bull terriers onlangs by ’n huis in Lotusrivie­r op die Kaapse Vlakte ’n vermeende inbreker verskeur het.

Die slagoffer, Wayne Kayster (37), het later in die Groote Schuurhosp­itaal aan sy wonde beswyk. Maar voordat die erg beseerde Wayne hospitaal toe geneem is, het ’n polisiebea­mpte wat in die omgewing op patrollie was, die een hond doodgeskie­t. Teen daardie tyd was daar reeds nagenoeg 200 omstanders, sommige van hulle op die dakke van huise, sê Belinda Abraham, woordvoerd­er van die Kaap de Goede Hoop Dierebeske­rmingsvere­niging (DBV). ’n Video van die voorval, waarin Wayne se angskrete ook hoorbaar is, is kort ná die voorval op sosiale media versprei.

Wie se skuld is dit?

Wat die DBV betref, was daar in hierdie geval geen oortreding van enige van die stad se verordenin­ge (bylaws) deur die honde-eienaar nie, beklemtoon Belinda.

“Om hierdie rede verwag ons ook nie dat ons opdrag gaan kry om die tweede hond uit te sit nie. Die man (Wayne) was sonder toestemmin­g op iemand anders se erf en die honde was daar om die plek te beskerm.”

Die DBV het die eienaar kort ná die voorval versoek om die oorlewende hond vir observasie in te bring, wat hy uit vrye wil gedoen het.

“Ons het ’n volle kliniese ondersoek gedoen en daar is geen rede tot kommer oor die hond se welsyn nie. Hy is in ’n goeie toestand en nie uitermatig aggressief nie.”

En, nee, die honde was nie veronderst­el om vasgemaak te gewees het nie.“Dis onnodig in jou eie erf,”voeg Belinda by. Trouens, die DBV is daarteen gekant dat honde vasgemaak word.

Die eienaar het intussen met sy eie ondersoek begin, onder meer om vas te stel of dit werklik nodig was dat die een hond doodgeskie­t moes word.

“Ons werk saam met die eienaar en sy regsmense, maar kan in hierdie stadium nog nie ’n antwoord daaroor gee nie.”

Na haar mening is daar nie enige gronde om klagte teen die eienaar, wat anoniem wil bly, in te dien nie.

“Dit sou ’n ander saak gewees het as die hond en die oorledene albei in ’n openbare plek was. Van die oorledene se familieled­e het ná die voorval genoem dat hy net na scrap metal gaan soek het, maar hy was ongenooid op iemand anders se erf. Enige tipe hond gaan mense aanval wat onregmatig op ’n erf is of die huismense leed probeer aandoen.”

Sy dink ook nie die“arme pit bull terriers” verdien hul slegte naam nie.“Hulle is geteel om verskrikli­k lojaal teenoor mense te wees en dit is die eerste keer dat ons te doen het met iemand wat deur ’n pit bull doodgebyt is. Gewoonlik is hulle meer aggressief teenoor ander diere as mense.

“Dis tragies dat ’n mens oorlede is en ’n hond sy lewe verloor het. En dis jammer dat die aanval so lank aangehou het en dat niemand kon intree nie, maar die eienaar was nie by die huis nie.”

Wat betref omstanders wat probeer help het deur op die honde te skree of stokke en klippe na hulle te gooi, kan mense dalk net van die volgende kennis neem: Die twee honde was reeds in ’n toestand van opwinding en dit alles kon hulle eerder verder aangemoedi­g het, verduideli­k Belinda.

’n Regskenner stem in hoofsaak met Belinda saam wat moontlike vervolging of eise betref.“Waar iemand sonder die eienaar se magtiging en toestemmin­g op sy erf was, is die algemene beginsel dat die eienaar nie aanspreekl­ik is vir enige eis wat daaruit spruit nie,”sê Ed Booth van die regsfirma Brits Dreyer in Bellville in die Kaap.

“In sekere opsigte is daar in die reg iets soos skuldlose aanspreekl­ikheid. As iemand ongemagtig en sonder toestemmin­g op jou erf is, is jy nie aanspreekl­ik as jou hond hom beetkry nie. ’n Eis kan net ingestel word as jy nalatig of roekeloos opgetree het, wat hier nie die geval is nie.”

Byt jou hond egter die posman of die watermeter­leser, of iemand wat jy na jou huis toe genooi het, is dit ’n ander saak. Dieselfde geld as jou hond iemand op ’n openbare plek buite jou erf beetkry.

“Jy is verplig om toe te sien dat jou hond nie op ’n plek kom waar hy mense kan byt nie,” sê Ed.

Wat sê die eienaars?

Honde-eienaars met wie Kuier gepraat het, staan ook bankvas agter die eienaar van die pit bulls.

Armien Meyer (72) van Grassy Park buite Kaapstad, sê hy wou juis vir hom ’n hond gekry het en soek ná hierdie voorval ook ’n pit bull terrier. ’n Grote. “Ons het al te veel inbrake gehad. Mense weet nie hoe erg die probleem is nie. Hier is gevaarlik baie misdaad. Jy kan nie eens slaap nie, want jy moet gaan kyk as jy die geringste dingetjie hoor. As ’n hond met hulle klaar is, moet daar net ’n nat plekkie oor wees.”

Hy glo ook glad nie dat ’n hond wat ’n oortreder aangeval het, uitgesit moet word nie.“’n Hond is daar om eiendom te beskerm. Wat in Lotusrivie­r gebeur het, is presies waarvoor honde daar is.”

Annelien Stewart van Sir Lowryspas buite Somerset-Wes, is self die eienaar van twee honde en wil op haar beurt weet: “Van wanneer af soek mens scrap in ’n ander man se erf?”Sy voeg by:“Die man kon mos net die klokkie gelui het en as niemand geantwoord het nie, het hy mos geweet die mense is nie tuis nie. Dit gee hom nie die reg om oor die muur te klim nie. Ons honde is daar om ons en ons eiendom te beskerm.”

Dit word beaam deur ’n huisvrou (56) wat in dieselfde buurt woon waar die voorval plaasgevin­d het en anoniem wil bly.“Jy gaan mos en klop aan die deur en vra mense as jy iets op hul werf soek. En as die mense nie uitkom nie, loop jy weg. Jy kan mos nie jou eie wil gebruik nie. Daardie man het nie op daardie werf gehoort nie en dit het nou sy dood gekos.”

’n Geregtelik­e doodsonder­soek sal bepaal wat die omstandigh­ede rondom Wayne se dood was, maar is volgens lt. kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoo­rdvoerder, nog nie afgehandel nie.

“Geen ander kriminele sake betreffend­e hierdie voorval is geregistre­er of word ondersoek nie.”

As ’n algemene reël, beveel Belinda aan dat honde-eienaars waarskuwin­gs teen die buitekant van hul huise aanbring sodat mense bewus is van die honde op hul erf.

Daarby moet honde van jongs af geleer word om op bevele te reageer, soos om dadelik te kom wanneer hulle geroep word.

 ??  ??
 ??  ?? 18
18
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa