Kuier

Hanteer dit só as jou man se kind uit die bloute verskyn

Jou hele lewe word gekomplise­er as jou man se buiteegtel­ike kind net eendag aan jou deur kom klop. So hoe kan jy dit hanteer?

- DEUR illana frantz *Skuilnaam

Elkeen van ons het ’n ingebore begeerte om te weet wie ons ouers is en waar ons vandaan kom. Dit geld nie net vir aangenome kinders nie, maar ook buite-egtelike kinders en daar is hordes emosies wat daarmee gepaardgaa­n vir al die betrokke partye. So hoe hanteer jy dit wanneer jou man se buite-egtelike kind ná jare aan jou deur klop en haar pa kom soek?

’N GROOT SKOK

Cedric Solomons* (34) en sy vrou, Valencia* (33), van Robertson in die Wes-Kaap, het twee jaar gelede die skok van hul lewe gekry toe sy buite-egtelike kind uit die bloute opdaag. Dié dogter was toe al ses jaar oud, maar Cedric was glad nie bewus van haar bestaan nie.

Hy vertel dat hy en die ouens omtrent sewe jaar gelede vir ’n naweek in Port Elizabeth was en omtrent bos gegaan het. Hoewel hy reeds in ’n jarelange verhouding met Valencia was, het hy dié naweek ’n one night stand met ’n meisie gehad. Een waarvan hy heeltemal vergeet het, tot die produk daarvan jare later in lewende lywe voor hom kom staan het.

“Toe ek die vrou en haar dogter sien, het ek amper flou geval van skok. Dit het gevoel ek kon nie asem kry nie, want dit was asof my wêreld ineenstort. Ek kon nie glo dit wat besig was om te gebeur nie, want hoe verduideli­k ek dit nou aan my vrou as ek self van niks geweet het nie,”onthou Cedric daardie eerste ontmoeting.

Die Solomons-egpaar was teen dié tyd net twee maande getroud met ’n sesjarige dogter van hul eie en dit het dinge verder kompliseer. Valencia was absoluut woedend oor dié onverwagse toevoeging tot hul familie en het aangedring op ’n vaderskapt­oets.

Die vrou uit Cedric se verlede het verduideli­k dat sy na hom kom soek het omdat haar dogter begin vrae vra het oor wie en waar haar pa is. Sy meen hoewel sy hom nooit van haar swangerska­p vertel het nie, het haar dogter steeds ’n reg om te weet wie haar pa is en om hom beter te leer ken.

DIE PAD VORENTOE

Die uitslae van die vaderskapt­oets het Valencia se grootste vrees bevestig: Die dogter is inderdaad haar man s’n. Cedric het sy ander dogter aanvaar, want volgens

hom het elke kind ’n reg om beide ouers in hul lewe te hê. Maar hy sê dit lyk asof Valencia steeds daarmee worstel.

“Wanneer sy (die ander dogter) by ons is, behandel ek haar soos familie, want sy is my dogter en ek wil haar nie uitgesluit laat voel nie. Maar ek let op dat my vrou haar soms anders as ons eie dogter behandel. Dis klein, onderlangs­e goedjies, soos sy sal byvoorbeel­d vir ons dogter iets koop en vir my ander dogter iets soortgelyk­s, maar goedkoper of nie van dieselfde gehalte nie.”

Die veranderin­g in hul gesin het natuurlik nie sonder konflik gekom nie. Valencia was diep seergemaak en kwaad vir Cedric vir wat hy aan hul gesin gedoen het.

“Ek het nog nie die moed gehad om met haar te praat oor hoe sy my ander dogter behandel nie, want ek voel steeds skuldig oor hoe ek haar verraai en seergemaak het. Ek probeer maar daarvoor opmaak deur ekstra aandag aan my ander dogter te gee wanneer sy by ons is, maar dan moan my vrou weer dat ek die ander dogter voortrek, so partykeer voel dit net vir my asof ek nie kan wen nie. Ek het steeds hoop dat Valencia regtig hiermee kan vrede maak en my eendag ten volle te kan vergewe.”

nie so maklik nie

Die hele dinamika van Louise van Niekerk* (52) se huwelik van 34 jaar het in ’n oogwink verander die dag toe haar man haar van sy buite-egtelike kind vertel.

Sy onthou hy het in Augustus verlede jaar, kort voor hy Bloemfonte­in toe moes vertrek vir werk, die bom laat bars.

Hy het gesê iemand het hom op sosiale media opgespoor en gesê wie haar ma is (’n eksmeisie van hom) en dat hy die pa is. Daarna het hy en sy dogter (34) toe vir ’n hele ruk kontak gehad en eers mekaar leer ken voordat hy sy vrou en dogter in die huwelik (30) daarvan vertel het.

“Ek was so geskok! Ek kon nie slaap nie en ek het net gehuil,”onthou Louise van Lansdowne in die Kaap.

“En toe maak dit vir my sin. In ons vroeë 20s het ek eendag gehoor hoe sy vriende met hom joke en vra,‘Hoe gaan dit nog daar met jou ander kind?’ Toe ek hom agterna daaroor vra, het hy gesê dis net ’n storie, want niemand het nog na vore gekom en van ’n swangerska­p gesê nie,” onthou Louise.

Louise sê sy voel bedrieg en verraai omdat haar man eers dié skokkende nuus van haar weerhou het en ook omdat hy eers alleen, sonder haar medewete, sy dogter ontmoet en leer ken het.

“Ek voel nou soos ’n indringer in my man se lewe; ’n buitestand­er, die ander vrou. Hy en sy nuwe dogter is nou so cosy met mekaar, sy stap sommer by ons huis in en noem vir hom‘Daddy’. Hulle bel mekaar elke dag en hy vertel vir haar alles wat in ons huis aangaan. Hy koop vir haar geskenke en in haar oë is hy net die beste.”

Louise se man se verhouding met sy dogter in die huwelik ly ook daaronder, want sy wil nou niks met haar pa te doen hê nie. Sy voel haar hele lewe, waar sy gedink het sy is haar pa se oudste kind, was ’n leuen.“Ek weet nie hoe om dit te verwerk nie. Dit het nou al so lankal gebeur, maar ek voel steeds baie kwaad en seergemaak,” sê Louise.

DIS BAIE GEVRA

Stephanie Dawson-Cosser, ’n verhouding­sterapeut van Johannesbu­rg, sê indien die situasie nie met die nodige sensitiwit­eit benader word nie, kan dit baie traumaties vir almal betrokke wees.

Sy sê omdat daar so baie mense se verskillen­de emosies in ag geneem moet word, is daar nie ’n ideale manier om die nuus oor te dra nie.

“Om net eendag aan die man se deur te klop en sy kind aan hom voor te stel, sal nie die optimale uitkoms hê nie. Dit is nou wel die kind se pa, maar tegnies gesproke is dit steeds ’n vreemdelin­g.

“Jy kan ook nie voorspel wat die pa se reaksie gaan wees nie en dié onsekerhei­d is nie in die kind se beste belang nie. Daar is ook geen waarborg dat hy wel by die huis sal wees as die taktiek van skok jou agenda is nie.”

Volgens Stephanie is dit verstaanba­ar dat die ma van die buite-egtelike kind, wat eers besluit het om die swangerska­p en die kind van die pa te weerhou, ná ’n paar jaar van plan kan verander, want ’n mens se denkwyse en omstandigh­ede verander ook met die jare.

“Maar om dit op dié manier te hanteer, is ook nie regverdig teenoor die pa nie. In dié geval het hy nie eens die reg van ’n ouer wat haar kind vir aanneming opgegee het, om te besluit of hy wel sy kind wil ontmoet of nie. Die pa moet ook die kans gegun word om te besluit tot watter mate hy die kind in sy lewe wil toelaat. Daar sal natuurlik van hom verwag word om ondersteun­ing in terme van finansies te gee, maar ouerlike kontak kan nie afgedwing word nie,”verduideli­k Stephanie.

Sy sê ook die ma in die huwelik sal ’n reeks van emosies beleef, insluitend skok, ontkenning, woede en hartseer, want sy word nou elke dag vir die res van haar lewe herinner aan hoe haar man haar verneuk en bedrieg het, in die vorm van die kind wat nou deel van hul lewe is.

Sy sê dit is ook normaal vir die man se kinders in die huwelik om hom tot ’n mate te verwerp omdat hy hul lewe so omvergegoo­i het.

“Dis baie van die man gevra dat sy vrou net soos normaal met haar lewe aangaan. Maar uiteraard het die vrou net twee opsies: Om die verlede en wat gebeur het, te aanvaar en te besef dat almal foute maak. Of as sy nie daarmee kan vrede maak nie, moet hul paadjies dalk skei. Maar natuurlik nie eers voordat alle vorme van berading probeer is nie, want ek glo in wonderwerk­e,”is Stephanie se raad.

om te Onthou

Die kinders is altyd die onskuldige partye in so ’n situasie en alle besluite wat geneem word, moet in hul beste belang wees.

Daar is ook ander faktore wat bygereken moet word: Hoekom het die dogter eers ná soveel jare haar verskyning gemaak? Wat is haar verhouding met haar ma? Was daar ooit ’n ander vaderfiguu­r soos ’n stiefpa in die prentjie en indien wel, het die feit dat sy op die laat stadium in haar lewe haar pa kom opsoek het, enigiets met die ander vaderfiguu­r se verhouding te doen?

In baie gevalle wanneer ons seerkry, het ons emosionele ondersteun­ing nodig; of dit nou berading is vir jouself of jou en jou man. Dit sal ook help as die vrou ’n uitlaatkle­p vir haar woede kan kry sonder om enigiemand anders leed aan te doen.

Sit ook jouself in die buite-egtelike kind se skoene. Hoe sou jy hanteer wou word as dit jy was? Onthou ook al is dit nie jou eie kind nie, is dit steeds jou man se kind, so jy moet besluit tot watter mate jy die kind in jou lewe wil toelaat.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa