Wenner van die Argus-fietstoernooi se toewyding werp vrugte af
Dit was ’n lang pad, maar vanjaar se Argus-wenner het dit al die pad tot by die eindstreep gemaak.
Fietsry, het Clint Hendricks besluit, sou sy paspoort na ’n beter lewe wees. Hy het arm grootgeword en wou nie in euwels soos bendes vasgevang word nie. En met baie toewyding het hy gekom waar hy vandag is: ’n 24-jarige wie se naam opgeteken staan as die 39ste wenner van die Kaapstad-fietstoer, alombekend as die Argus.
Clint vertel hoe hy op 6 Maart vanjaar reeds voor die eindpunt van dié fietswedren oor 109 km besef het dis sy groot oomblik en sy blydskap met twee air punches gewys het. Gevolg deur ’n paar borskas-houe. Pure adrenalien ná sy allemintige naelry-eindpoging wat Nolan Hoffman, wenner die vorige twee jaar, van ’n driekuns ontneem het.
“Ek het van my kop af gegaan. Dit was crazy en my eerste groot wen,”vertel dié oud-Paarliet, wat reeds etlike jare professioneel meeding en sedert 2010 in Johannesburg woon.
Hy’s nie skaam om te sê dat hy in baie uitdagende omstandighede grootgeword het nie. Daarom dat hy besluit het om uit
sy vriendekring en van swak lewensbesluite weg te breek.
Fietsry het hom baie dissipline geleer. By ouma Katy (73) – by wie hy meestal grootgeword het – het hy egter ook waardevolle lewenslesse geleer.
“Sy beteken vir my die wêreld en niemand sal haar plek kan inneem nie. My ouma is van ’n staatstoelaag afhanklik en het nog altyd uit haar pad gegaan vir almal in ons familie. Daar was nie baie geld nie en toe my oupa ophou werk, het dit nog baie slegter gegaan. Tog het ons somehow altyd iets gehad om te eet. Sy sou na die maan toe en terug gaan sodat ek met ’n vol maag kon gaan slaap.”
Dis ook by haar wat Clint die waarde van geloof besef het.
Ma Anneline het ook probeer help, maar het min verdien.“Sy het nie skool klaargemaak nie en was met haar security-werk baie weg van die huis af.”
liefde vir fietsry
Clint se liefde vir fietsry kom van sy pa, Pieter Jansen, ’n begaafde baanfietsryer wat aan die destydse B Wêreldkampioenskappe deelgeneem het. Hy het Clint se eerste fietsie vir hom gekoop toe hy so agt jaar oud was. Teen 15-jarige ouderdom was Clint lid van ’n BMX-groep wat hulself die Biker Boys genoem en tussen lamppale resies gejaag het.
Hy onthou hoe hy sy pa gevra het of hy baanfietsry kan probeer.“Dis ’n baie duur sport vir lower classes. Hy het gesê ek kan try, maar as ek dit doen, moet ek dit ordentlik doen en nie geld mors nie.”
Sy eerste baanfiets was ’n ou LeJeun van sy pa. Deur die Stellenbosse fietswinkel waar sy pa as mechanic gewerk het, kon hy egter ’n ordentlike padfiets teen ’n goeie prys kry.
“Ek het goed gedoen in die baanfietsry, maar nie so baie op die baan geoefen nie. My pa het my altyd gevat dat ek saam met hom en die groot manne Strand toe en terug ry. Op ’n manier is sy drome later deur my vervul.”
Reeds in Clint se eerste jaar as o.16-baanfietsryer, het hy SA kleure verwerf. In sy tweede jaar was hy met ses medaljes die beste baanryer op die nasionale kampioenskappe. Hoewel sy fokus daarna meer padfietsry was, het hy die volgende jaar plaaslik vir die nasionale junior baanfiets- ryspan in sowel die Drienasies as die Junior Wêreldkampioenskappe meegeding.
In sy tweede jaar as junior het hy egter besluit sy skoolwerk kom eerste. Hy was in matriek aan Klein Nederburg Sekondêr en het heeltemal ophou fietsry tot ná sy eindeksamen.
Die geleentheid om hom in Johannesburg te gaan vestig, het hom voorgedoen toe hy in sy eerste jaar as o.23-ryer vir drie maande deur Toyota Super Cycling geborg is. Daarna was Clint lid van verskeie professionele spanne.
terugslag tref hom
Middel 2011 was daar egter ’n onverwagse terugslag. In ’n wedren in Durban as lid van die Tasol Solar-span, kon hy beswaarlik bybly.“Toe ek my fietsryklere uittrek, wou my spanmaats weet wat fout is. My een arm was so geswel dat ek die are kon sien staan.”
Daar is aanvanklik gemeen hy het ’n spier ooreis, maar ’n scan het getoon dis ’n bloedklont. Clint is verbied om vir ses maande fiets te ry.
“Dit was‘n slegte tyd. Was dit nie vir Dean Edwards van Tasol Solar nie . . . Ek kon nie werk nie, maar hy het die hele ses maande vir my betaal.”
Middel November het Clint weer begin oefen en op die grootste en oudste baanbyeenkoms in die land, Boxing Day in die Paarl, tweede gekom. Dis gevolg deur sy eerste professionele wen by Dean in ’n stage van die Clover Tour.
In 2012 is hy as lid van die nasionale junior o.23-span die eerste keer Europa toe, waar sy deelname in Holland, België en Italië hom laat besef het dat hul standaard veel hoër as in Suid-Afrika is.
Einde 2012 is hy gekies vir sy eerste All African Championships in Burkina Faso.
“Dit was my eerste keer diep in Afrika en ’n bietjie scary, maar die support is baie groter as in jou eie land. In lande soos Eritrea is fietsry actually die nasionale sport. In Suid-Afrika is dit meer soos enjoyment. As jy nie deel is van rugby, krieket of sokker nie, is dit baie moeilik om hier iets te bereik.”
Hoewel Dean gelukkig was met Clint se performance, kon hy die span nie langer finansieel steun nie. Weer is Clint na ’n ander span, waar hy meer van ’n ondersteuningsrol vervul het, voordat hy aangesluit het by MTN Qhubeka, met JP van Zyl as coach.“Daar het ek die meeste ervaring opgedoen. JP is vandag steeds my coach.”
Middel 2015, vertel Clint, het hy as fietsryer werklik op die map gekom met tweede plekke in die Dome 2 Dome, die Amashova en die Momentum 947.
’n Maand voor die Argus, en drie maande nadat hy vir RoadCover begin ry het, het hy in die elite-afdeling van die padkampioenskappe derde geëindig teen die beste van die bestes.“Dit het my baie selfvertroue gegee.”Ná ’n tweede en ’n derde plek in ander wedrenne, het almal geglo sy groot oomblik lê om die draai. Dit was ook so. In sy agtste Argus was Clint se spanlede oorgehaal om hom wenstreep toe te help. “As naelryer was my kans die beste van ons almal om te wen,”verduidelik hy.
Clint sê prontuit sy oorwinning sou baie moeilik gewees het sonder veral Kent Main se hulp teen die einde. Nadat hul ander spanmaats om verskeie redes uit- of teruggeval het, het Kent met sy hoë pas aanvalle deur ander fietsryers afgeweer.“Die laaste seker 15 km het hy alleen voor gery sodat ek ’n maklike ride tot by die eindpunt kon kry. Hy het homself begrawe net vir my.”
Hul span was oorstelp oor Clint se oorwinning in 02:35:35.“Stuart Fitzpatrick (wat ná ’n val moes onttrek) het by die eindstreep kaal bolyf en vol bandages staan en skree en mal gegaan. Kent het twee minute ná my hande in die lug klaargemaak asof hy gewen het,”onthou Clint.
En ouma Katy?“Daar’s nie woorde om te beskryf hoe trots sy is nie. Sy brag by almal wat kom kuier. Vir haar is ek die een kind wat iets gemaak het van sy lewe.”