Vriende beveg OTM-bedrog met nuwe uitvindsel
Ná ’n familielid die slagoffer was van OTM-bedrog, het hulle ’n produk geskep om bankkaarte vinnig te stop.
Dit was nie ’n maklike pad tot hier nie, maar twee ontluikende entrepreneurs van ’n Kaapse township het bewys dat jou omstandighede nie jou lewe bepaal nie.
Dié twee vriende van Gugulethu het ’n program ontwikkel waarmee jy blitsig en gratis ’n gekloonde of verlore bankkaart kan stop sonder om deur ’n inbelsentrum te werk (en dalk lank moet aanhou terwyl die boosdoeners jou rekening leeg steel).
Die 30-jarige Tatolo Kutumane en Thandile Jwambi het reeds hul produk, Instablock, gepatenteer. Nou is dit duimvas hou dat finansiële instellings ook die waarde daarvan sal sien en dit sal aanskaf, sê hulle.
Gefokus en vasbeslote is hoe jy hierdie twee kan beskryf. Dit was nie maklik nie, met veral finansiële beperkings wat hulle al verskeie kere teruggehou het. Tog weier hulle om moed op te gee en glo albei dat hierdie hulle groot deurbraak is. En hulle is nie die enigstes wat in hul produk glo nie.
Erkenning vir produk
As entrepreneurs het hulle verlede jaar twee kategorieë van die Idees-kompetisie van die Universiteit Stellenbosch se LaunchLab gewen en daarmee aanvangskapitaal van R20 000 vir hul beginnermaatskappy, Rasffi, losgeslaan.
“Ek was heeltemal oorweldig,”sê Thandile. Tatolo het egter uit die staanspoor geglo dat hulle bo sou eindig.“Ek het geweet ons idee is só goed dat net iemand wat water kan vervaardig of ’n vigskuur gevind het, ons sou klop,”lag hy.
Die twee is sedert hul gr. 8-jaar aan Spes Bona Hoërskool in Athlone vriende. In graad 10 het hul paaie egter tydelik geskei toe albei weens bendegeweld elders gaan studeer het.
Vir die Kuier- onderhoud ontmoet ons by die Mowbray-gholfklub, ’n bekende terrein vir Tatolo wat onlangs nog met ’n voorgee van drie op die gholfbaan kon spog. Hy vertel dat hy waarskynlik dieselfde pad as sy een broer kon geloop het wat tans danksy die borgskap van ’n Nederlandse klub professioneel gholf speel.
“Ek het egter besluit om eerder ’n besigheidsrigting in te slaan sodat ons familie nie al ons eiers in een mandjie het nie.”
Tatolo het in 2007 matriek aan Abbots College geslaag en hy sê dit was die beste jaar van sy lewe. Hy was die enigste van hul vier broers wat tot matriek gevorder het en boonop het hy die toekenning van innoverendste leerder op al die kampusse van dié kollege landwyd gewen.
“Dit was ’n groot opoffering vir my ouers om my privaat te laat studeer,”vertel hy. Dat ’n lid van die Mowbray-gholfklub finansieel bygedra het, het baie gehelp, maar steeds nie beteken hy kon geld rondstrooi nie.
Tatolo kon nie duur materiaal bekostig vir projekte nie.“Ek het scrap gaan soek en sou R20 aan ’n projek bestee teenoor die R2 000 van ander studente. Met die toekenning is genoem dat ek ondanks ’n gebrek aan geld steeds ’n hoë standaard kon handhaaf.”
Ná skool het hy internet engineering aan die Rosebank College begin studeer. ’n Jaar later moes hy egter om finansiële redes opskop. Hy het toe ’n gapjaar gevat en sy gholfspeler-broer het hom finansieel bygestaan sodat hy as vrywilliger vir die JL Zwane Church kon werk. Daarna het hy ’n skryfbehoeftesonderneming op die been gebring, maar weens ’n gebrek aan hulpbronne moes hy dit na ’n jaar sluit.
harde klippe gekou
Thandile was intussen ook nog besig om sy voete te vind. Vanweë sy groot liefde vir karre het hy hom aanvanklik as passer en draaier aan die College of Cape Town bekwaam. Tydens sy internskap het hy egter besef dis nie die rigting vir hom nie.
Vanweë sy belangstelling in rekenaars het hy besluit om ’n IT-kursus aan die Achievers School of Business te volg. Sy oorlede pa het vir Pick n Pay gewerk en dié kettingwinkel het hom sedert sy skooldae ondersteun.“Omdat hulle vir my boeke, alles, betaal het, kon ek van kursus verander,” sê hy.
Maar om werk in ’n IT-rigting te kry, was nie maklik nie. Uiteindelik was Thandile se enigste keuse om as casual rakpakker en portier by Pick n Pay in te val.
’n Paar jaar later het hy besluit om hom nog verder te bekwaam.“Ek is kreatief en was as kind baie lief vir teken,”verduidelik hy hoekom hy in 2009 argitektuur aan CPUT begin studeer het. In 2011 moes hy egter weens finansiële en persoonlike redes opskop.
“Ek het altyd gedroom dat ek eendag gaan uitblink. Ek hou van besigheid en pleks daarvan om myself te bejammer, het ek besluit om met my IT- en argitektuurvaardighede vir myself werk te skep.” Hy het onder meer besigheidskaartjies ontwerp en ook bouplanne geteken, wat iemand anders sou afteken.
In hierdie tydperk is hy ook gesubkontrakteer om munisipale watermeters te vervang.“Dit was ’n groot projek en uiteraard hoop jy om die hoofkontrakteur te word.”Maar tot sy teleurstelling is die kontrak nie hernieu nie.
hul paaie kruis weer
Dit was in dié stadium dat die twee vriende se paaie weer gekruis en hulle besluit het om saam te werk. In 2010 is Tatolo se ouma se bankkaart gekloon.
“Sy weet nie hoe dit gebeur het nie en sy kon daarna nie eens haar hoëbloeddrukmedisyne bekostig nie,”vertel hy.
Thandile se ouma het dieselfde oorgekom en nadat hulle van nóg ’n bejaarde slagoffer gehoor het – dié keer ’n vrou wat daarna in sak en as was omdat sy na ses kinders uit verskillende huise omgesien het – het Tatolo besluit dat hulle iets moet probeer doen om sulke slagoffers te help.
“Daar is ’n goeie kans dat mens die misdadigers ken wat in die townships hierdie misdade pleeg,”sê Thandile.
Hy en Tatolo het as deel van hul navorsing hul oor op die grond gehou.“Ons het soos privaatspeurders in clubs en taverns na mense se gesprekke geluister wat ons vermoed het is potensiële lede van georganiseerde misdaadsindikate wat buite Suid-Afrika ontstaan.”
Die twee het selfs die aand voor regeringstoelaes uitbetaal word, OTM’s dopgehou om vas te stel hoe die misdadigers te werk gaan.
“Wat ek die meeste gehaat het, was hoe die misdadigers mense se toelaes of geld waarvoor hulle so hard gewerk het, op meisies en drank sou mors,”sê Tatolo.
“Ons het gekyk na internasionale stelsels wat reeds in plek is. Suid-Afrika lê sewende op die lys vir kaartkloning en ons het besef dat ons ’n program moet ontwikkel wat vir jong sowel as ouer mense toeganklik is,” voeg Thandile by.
Basies kan iemand wat ’n bankkaart verloor het of ’n kaartbedrog-slagoffer was, met Tatolo en Thandile se program ’n kaart binne minder as ’n minuut stop. Omdat daar direk met ’n bank se inligtingstelsel gekommunikeer word, word lang oproepe na inbelsentrums uitgeskakel.
In die proses word gebruik gemaak van die reeds bestaande USSD-kodestelsel waardeur teks tussen ’n selfoon en ’n program in ’n spesifieke netwerk gestuur word. Toegang word reeds op hierdie manier tot verskeie ander dienste verkry, soos om prepaid airtime te laai. (USSD-kodes begin gewoonlik met * en eindig op #.)
Hul program bevoordeel ook nie mense met duur selfone nie, maar werk selfs met die oudste selfoon.
“En as jy nie jou selfoon by jou het nie of as jou selfoonbattery pap is, kan jy jou bankkaart op iemand anders se selfoon stop. Al wat jy moet onthou, is die kode wat ingetik moet word,”sê Tatolo.
’n Bykomende voordeel is dat die kode as kontak gesave kan word en nie as ’n app afgelaai hoef te word nie, want dis iets waarvoor hackers op die uitkyk is omdat dit inligting stoor, verduidelik Thandile.
“Ons wéét ons stelsel werk. Ons moet net ’n kans gegun word.”