Kuier

Meisie (10) se gru-moord ruk Paarl-gemeenskap

Die gru-moord op Shamonique Claasen (inlas) net voor haar 11de verjaardag, het skokgolwe deur Groenheuwe­l in die Paarl gestuur.

- DEUR ERNUSTA VAN WYNGAARD

Die sitplek waar Shamonique Claasen (10) altyd in haar gr. 4-klas by Dalweida Primêre Skool in die Paarl met ’n glimlag op haar gesig gesit het, is nou leeg. Haar aansteekli­ke lag is vir ewig stil en herinnerin­ge en foto’s is nou al wat haar klasmaats en familie oorhet.

Deesdae hou die ouers van die woonbuurt Groenheuwe­l in die Paarl hul kinders maar ’n bietjie stywer vas voordat hulle soggens die huis vir skool verlaat, want hulle is bang dat hulle nooit weer die kans sal kry nie, soos Shamonique se ouers wie se arms nou leeg is. Want Shamonique, een van Groenheuwe­l se mooiste blomme, is gepluk op die wreedste manier denkbaar.

Té vroeg, sal sommige sê, nadat sy vermoor is.

Shamonique het op 27 Februarie, ’n dag voor haar 11de verjaardag, vermis geraak. Almal het gehoop en gebid dat sy dalk net by haar ouma gaan kuier het en ongedeerd gevind sou word.

Shamonique self het die Vrydagmid- dag ná skool nog vol vertroue vir een van haar beste klasmaats gesê:“Baai, sien jou Maandag”.

Maar sy het nooit Maandag (29 Februarie) of haar 11de verjaardag gesien nie, want haar lyk is op daardie dag onder ’n bed in ’n familielid se huis in Irisstraat gekry – op dieselfde erf waar haar ouers in ’n bungalow bly.

Haar lyk was toegedraai in swart sakke en ’n kombers en is gevind nadat die huismense ’n stink reuk opgetel het. ’n Verdagte (23), haar suster se boyfriend, is in verband met haar moord gearrestee­r. Na bewering het hy met die soektog na Shamonique gehelp toe sy aanvanklik vermis geraak het.

Volgens mediaberig­te is Shamonique vermoedeli­k in die verdagte se bungalow op die erf langsaan vermoor en haar lyk na die familielid se huis gebring en onder die bed versteek. Die twee erwe sit knap langs mekaar en daar is ’n kort gang met ’n hekkie aan die einde wat die erwe met mekaar verbind.

Die slegte reuk van ontbinding het die

huismense onraad laat vermoed en hulle het ondersoek gaan instel. Hulle het onder die bed gekyk en dit het hul ergste vermoedens bevestig. Shamonique is nie meer net ’n vermiste persoon nie, maar sy is nou dood.

Of soos een van die skool se leerders dit in ’n briefie aan of oor Shamonique geskryf het:“Shamonique speel nou in die hemel. Soms gebeur slegte goed met goeie mense soos jy,”vertel Shamonique se klasonderw­yser, Allison Naidoo.

En dis asof Shamonique ’n soort voorbode gehad het dat sy ’n boodskap vir haar familie moet nalaat wat hulle kan vertroos in hierdie seer tyd, want in haar laaste taak, ’n Engelse opstel oor wat haar familie vir haar beteken, het sy geskryf hoe spesiaal haar familie vir haar is. Haar taak was taalkundig nie perfek nie, maar die liefde en deernis in haar hart waarmee sy dit geskryf het, spoel soos ’n emmer wat oorloop in elke paragraaf.

In daardie kort opstel het Shamonique die woord“love”sewe keer gebruik, wat bewys is van hoe geliefd, geborge en veilig sy by hulle gevoel het.

Kuier het uitgereik na Shamonique se ouers deur middel van die familiewoo­rdvoerder, Elaine Williams. Elaine, wat netso verslae was, sê Shamonique se ouers is eenvoudig té verpletter en stukkend om ’n onderhoud toe te staan. Toe

Kuier hulle nader, was dit die Maandag ná Shamonique se begrafnis en kort voor die verdagte se eerste hofverskyn­ing. Dus was dit te verstane dat dit ’n uiters moeilike tyd vir die familie is.

“Die gemoed is nog swaar. Maar die begrafnis het goed afgeloop,”het Elaine gesê.“Ons wag nog vir die hoekoms en die waaroms.”Sy het bygevoeg die familie hoop om eendag al die antwoorde te kry.

Die uitslag van Shamonique se nadoodse ondersoek is nog nie bekendgema­ak nie. Die verdagte se naam kan ook nog nie bekendgema­ak word nie en hy sal in April in die hof verskyn.

Shamonique se dood het niemand onaangeraa­k gelaat nie, want almal dink hulle in hoe angsbevang­e sy in haar laaste, lewende oomblikke moes gewees het.

ontdek dAARDIE REUK

Vir Vernon Lewies (47), Shamonique se pa se swaer, is die herinnerin­ge aan Shamonique selfs erger, want hy is die een wat op haar lyk afgekom het. Vernon deel die huis met sy ouer broer en suster, terwyl Shamonique se ouers al vir die afgelope vyf jaar buite op die erf in ’n bungalow bly.

En terwyl die gemeenskap na Shamonique gesoek het, maar haar nie kon kry nie, het haar lyk die heeltyd onder die bed gelê in die kamer waarin sy suster gewoonlik slaap.

Vernon sal vir die res van sy lewe daardie prentjie van hul Sammo, soos sy geliefd bekend gestaan het, se lyk toegedraai in swart sakke onder die bed in sy huis onthou.

Die eerste ding wat ons opval toe Vernon ons vriendelik binne nooi, is hoe skoon en netjies die huis ruik, so asof iemand dit nou net met allerhande

skoonmaakm­iddels ge-spring clean het.

Hierdie skoon reuk is in skerp kontras met hoe dit ’n paar weke voor die onderhoud geruik het. Dit was juis die skerp stank van iets wat af is, wat Vernon laat vermoed het iets is nie heeltemal reg in die huis nie.

Vernon se oë sit diep in sy kop en daar is ’n verslae uitdrukkin­g in sy oë se dieptes wanneer hy reguit in joune terugkyk en amper woedend sê:“Wat de hel gaan met ons manne aan?

“Ons almal maak kinders groot. Ek sal mos nie dit aan iemand anders se kind doen (wat Shamonique se moordenaar aan haar gedoen het) nie! Nou dink ek nog aan die hofsaak ook; ons ken nie sulke goed nie!”

Ons het eers op die bank gesit en gesels toe Vernon opstaan en na die kamer loop waar Shamonique se lyk gevind is. Dis asof hy nie te lank op een plek wil stilsit nie, want dan vang wat gebeur het hom weer opnuut.

Dit is ook op die einste bank waar die verdagte die dag toe Shamonique se lyk gevind is, rustig saam met Vernon se broer gesit en TV kyk het, vertel Vernon ontsteld.

Kuier was ook in die kamer wat ’n paar weke vantevore ’n toneel was wat deur die polisie afgesper is terwyl hulle as deel van die ondersoek bewyse gesoek en ingesamel het.

Dit ruk aan jou binneste wanneer Vernon wys na die presiese plek waar hy Shamonique se lyk ontdek het. Dit is verskrikli­k om self te sien waar haar lyk ingedruk en in ’n swart sak toegedraai was, so asof sy ’n weggooidin­g en nikswerd was.

verloop van gebeure

Vernon onthou hy het vir Shamonique op Vrydag 26 Februarie vir die laaste keer gesien.“Sy was vrolik en opgewonde, soos wat sy altyd was,”begin hy daardie verskrikli­ke naweek herleef.

Vernon sê hy het daardie naweek gewerk en die Saterdagaa­nd gehoor Shamonique is vermis.

“Ek het gedog sy is net iewers en sal die Sondag weer kom. Maar haar ma het haar die Sondag as vermis aangemeld toe sy steeds nie uitkom nie,”sê Vernon.

Toe hy die Maandag (29 Februarie) gaan werk, was Shamonique steeds vermis. Hy het met uitvaltyd daardie dag sy familie verslae buite in die jaart sien sit en geweet daar is steeds nie goeie nuus oor Shamonique nie. Hy het aangebied om die Dinsdag te help soek na haar.

Dit sou egter nie nodig wees nie en ironies genoeg sou dit juis Vernon wees wat die soektog na Shamonique tot ’n einde bring.

Hy bly vir ’n oomblik stil en staar in die verte in wanneer hy vertel hy was nog nie eens in die huis nie toe sy broer hom roep en sê iets stink in die huis.

Vernon het destyds by die munisipali­teit in die begraafpla­as gewerk en sê hy “ken die reuk van ’n dooie mens”en het geweet iets groot is fout toe hy die stink reuk in die huis kry.

“Ek het in die huis ingekom en voor die bed gestaan. Ek het brommers en vlieë daar sien draai.

“Ek het besef iets is fout en het aangevoel Shamonique lê hier. Ek het onmiddelli­k uitgegaan en vir haar ma gesê sy ‘moet kom kyk, iets is fout hier’.”

Vernon slaan sy oë neer wanneer hy sê Shamonique se ma het“nee”begin skree.

Van die familieled­e wat buite gesit het, is in die huis in. ’n Vroulike familielid het gekom en die bed opgelig terwyl Shamonique se jongste broer die swart sak met haar lyk onder die bed probeer uittrek het, vertel Vernon. Hy het nie kans gesien om dit te doen nie. Hy was reeds te geskok.

“Toe haar broer vir Shamonique onder die bed uittrek, het een van die swart sakke afgekom. Sy was reeds besig om te ontbind. Ek het omgedraai en uitgestap, want ek kon dit nie vat nie. Ons kon haar net uitken aan haar hangertjie. Sy was swarter as die klere wat jy ( Kuier- joernalis Ernusta van Wyngaard) aanhet,”sê Vernon verslae.

Sy donker oë is hartseer wanneer hy vra:“Hoekom dit aan Shamonique doen?”

geskokte gemeenskap

Dít is dieselfde vraag wat die Groenheuwe­l-gemeenskap, haar klasmaats en onderwyser­s by Dalweida Primêr vra.

Vernon vat die mense se gevoelens vas wanneer hy sê:“Dis nie net vir ons familie hard nie, maar vir die hele Groenheuwe­l. Ons ken nie sulke goed nie.”

Almal sidder steeds wanneer hulle aan Shamonique se verdwyning en moord dink en dié wat haar geken het se harte smeek om een laaste keer haar net weer te hoor lag of om haar te hoor ’n grap maak. As hulle iets kon verander, sou hulle haar wou terughê – dis hoeveel sonskyn sy in almal se lewe gebring het met wie sy in aanraking gekom het.

Met Kuier se besoek aan die skool, vertel die skoolhoof, Chris Bam, ouers kom haal nou hul kinders by die skool, wat nie voorheen die norm was nie. Mense het gerus gevoel dat hul kinders veilig by die skool sal aankom en die middag weer veilig sal terugkeer huis toe. Toe ons van die skool af wegry, het ’n groep ouers reeds buite die skoolhek vir hul kinders gestaan en wag.

Hierdie prentjie het uit proporsie gelyk omdat Groenheuwe­l se strate so stil is en dit gelyk het asof geen onheil daar kon skuil nie. Maar toe ons begin praat met van die inwoners in Irisstraat waar Shamonique gebly het, kon ons sien haar dood en die manier waarop sy gesterf het, het hulle hard geslaan.

Vir twee weke ná Shamonique se dood het haar klasmaats blomme skool toe gebring en op haar bank in die klas gesit. In foto’s kan ons sien die helder blomme op haar bank was ’n stil getuienis van die lewenslust­ige kind wat sy eens was.

Allison, haar klasonderw­yser, het gevra dat Shamonique se klasmaats briefies aan haar moet skryf as deel van hul rouproses.

In Dalweida Primêr se voorportaa­l was haar foto opgesit met kerse wat daarby gestaan en brand het, vertel Allison en Chris. Albei leerkragte is steeds geskok en emosioneel wanneer hulle oor Shamonique se dood praat, maar moet sterk bly ter wille van die leerders wat na hulle kyk vir leiding.

Allison se stem bewe steeds en haar oë skiet vol trane wanneer sy in ’n beheers- de stem vertel sy het ongeveer halfses op Sondag 28 Februarie op ’n WhatsAppgr­oep gesien Shamonique is vermis. Sy het Elaine, die familiewoo­rdvoerder, gekontak, wat die nuus bevestig het.

Allison kon dit nie glo nie en het op die Facebook-groep Paarl Pals die nuus van Shamonique se verdwyning gedeel en vir gebede gevra.

“Al wat ek gevra het is, bring net my kind terug asseblief,”sê Allison emosioneel.“Die 28ste Februarie was haar verjaardag en ek het geweet sy sou nie van die huis af wegloop op haar verjaardag nie. Sy was soos ’n leier in die klas. Ons het almal gehoop en gebid Shamonique sou opdaag.”

Sy het, maar nie lewend soos hulle gehoop het nie.

Allison sê die Maandagaan­d ongeveer seweuur het sy die oproep gekry dat Shamonique se lyk gevind is.“Ek het vir mnr. Bam (skoolhoof) gebel. Ek was so geskok, want ek het nie geweet wat om te doen nie. Ons kon nie slaap nie, want hierdie gruweldaad het ons geskok. Ek het nie gedink so iets sal in ons gemeenskap gebeur nie,”voeg sy sag by.

Allison onthou hoe hartseer sy was toe sy voor die skool vir die eerste kwartaal gesluit het, haar klas se punte moes doen. Sy het Shamonique se laaste opstel (die Engelse een oor haar familie) gemerk voor Shamonique vermis geraak het, maar het dit ná haar dood met ander oë gelees.

“Ek probeer om nie voor die kinders te huil nie. Hulle is getraumati­seer, veral die kind wat langs Shamonique in die klas gesit het,” sê Allison.

SOETe herinnerin­ge

Kuier het met dié maatjie van Shamonique gepraat en weerhou haar regte naam omdat sy nog minderjari­g is. In Jenna Jantjies* se oë sit ’n diep hartseer, maar sy glimlag deur die seer wanneer sy onthou hoe goed Shamonique se grappies haar altyd laat voel het. Met Shamonique in die omtes, was daar altyd ’n gelag en getergery.

“Die Vrydag voor sy vermis geraak het, het ons baie gesels en die middag ná skool het ons mekaar mooi gegroet. Toe sy vermis raak, het ek gehoop hulle kry haar.”Haar gesig vertrek van die hartseer en sy vleg haar vingers in mekaar wanneer sy sê:“Toe ek hoor sy is dood, kon ek dit nie glo nie. As ek (deesdae) inkom in die klas dink ek baie aan haar. Ek mis haar. Ons het mekaar elke dag drukkies gegee.”

Oor wat sy as ’n laaste boodskap vir Shamonique wou sê as sy kon, sê Jenna: “Ek wil vir haar sê sy was goed vir my.”

Chris het ná Shamonique se dood by die onderwysde­partement vir sielkundig­e hulp gereël en ook vir ’n diens by die skool. Hy het ook die skool se deure vir die media geopen waar die familie hulle te woord kon staan.

Chris vertel hoe dit hom geruk het toe hy hoor Shamonique se lyk is gekry by die huis – die plek waar sy die veiligste moes wees.

“Ek en my adjunk het na haar ouers gegaan toe ons die nuus kry. Maar wat sê jy vir ’n ouer wanneer hy sy kind só verloor? Maar dis in tye soos hierdie wanneer ’n mens die waarde van ’n gemeenskap besef en ons sien ook in sulke moeilike tye dat mense, soos die Paarl Pals, nog omgee. Mense oor die kleurgrens het hul hande uitgereik,”voeg Chris by.

Paarl Pals se Adalene Visser en Edwina du Toit het donasies vir blomme gekry en ’n bus geborg wat die skoolkinde­rs na Shamonique se begrafnis geneem het. Dié groep het ook vir tee ná die begrafnis gesorg, sê Allison dankbaar.

As ’n laaste boodskap sê Chris, wil hy hê mense moet weet daar is goeie dinge in Groenheuwe­l ook. Die skool het nou hul fokus op kinderveil­igheid ná Shamonique se dood verskerp.

Hoe moeilik dit ookal is, moet Groenheuwe­l probeer aangaan met hul lewe ná Shamonique se dood.

Maar een ding is seker, almal wat gelukkig genoeg was om deur Shamonique se glimlag aangeraak te word, sal hierdie herinnerin­g vir altyd koester.

Hulle wens net haar einde was nie só nie en ook nie nou al nie . . .

 ??  ?? LINKS: Die bungalow waarin Shamonique met haar ouers en broer en suster gewoon het is op die erf van ’n familielid. Haar liggaam is in die huis gevind.
LINKS: Die bungalow waarin Shamonique met haar ouers en broer en suster gewoon het is op die erf van ’n familielid. Haar liggaam is in die huis gevind.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Shamonique Claasen (10) se plek in die klaskamer is leeg nadat sy in Februarie vanjaar wreed vermoor is. Die vermisting onder haar klasmaats is groot en hulle sit steeds blomme op haar bank neer. BO: Shamonique se pa se swaer Vernon Lewies,...
HOOFFOTO: Shamonique Claasen (10) se plek in die klaskamer is leeg nadat sy in Februarie vanjaar wreed vermoor is. Die vermisting onder haar klasmaats is groot en hulle sit steeds blomme op haar bank neer. BO: Shamonique se pa se swaer Vernon Lewies,...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa