Kuier

Kaapse gesin bly positief ná seun (12) se kankerdiag­nose

Dit vat baie van enige ouer om te hoor hul blakend gesonde kind word skielik met kanker gediagnose­er. Maar die Walters kyk vorentoe en bly positief.

- DEUR TARREN-LEE HABELGAARN

Vir 12 jaar het ’n Kaapse ouerpaar nie geweet wat dit is om ’n siek kind te hê nie, want hul enigste seun was van geboorte af blakend gesond. Daar was al ’n bietjie koors, maar niks mangels (tonsilliti­s), diarree of ander bekende kindersiek­tes nie. Maar einde Oktober verlede jaar is hul wêreld byna tot stilstand geruk toe hul seun onverwags siek word. En toe kom die groot skok . . . Hy word met akute limfoblast­iese leukemie (ALL) gediagnose­er en sy jong lewe word heeltemal omvergewer­p.

Baie sou dink dié kankerdiag­nose hang dalk nou soos ’n doodsvonni­s oor die koppe van Wendy (42) en Renoir (45) Walters en hul lieflingki­nd, Ian (12), van Kenridge in die Kaapse noordelike voorstede, maar dis net glimlagte en drukkies wat jou by hul huis verwelkom.

Jy verwag om ’n hartgebrok­e en emosionele gesin te ontmoet. Hulle het mos immers die nuus ontvang wat geen ouer ooit wil hoor nie – hul kind het 'n terminale siekte. En as Kuier nie self gesien het watter tol die leukemie-behandelin­g reeds op Ian geëis het nie, sou jy nooit kon raai die Walters-gesin is tans in ’n stryd om lewe en dood gewikkel nie.

Kanker het ook al meer as net Ian se krulhare geëis. Hy het ook nie vanjaar saam met sy maats die nuwe skooljaar begin nie en vir eers moet hy sy krieketdro­om agteruit skuif.

Maar die Ian voor kanker word nie weggesteek nie. Op ’n tafel in die sitkamer staan ’n foto van ’n glimlaggen­de Ian in Oktober op sy verjaardag met sy bruin en blonde hare en blosende wange. Die amper-tienerseun, wat nou voor ons staan, is bleek en sy kop bles van die chemobehan­deling, maar hy glimlag steeds.

wat is all?

Dr. Jennifer Geel, ’n pediatries­e onkoloog, sê ALL is ’n soort bloedkanke­r wat meestal in kinders gediagnose­er word. Volgens haar ontwikkel dit vinnig, terwyl chroniese leukemie stadiger ontwikkel.

“In ALL word die verouderin­gsproses van selle ontwrig en onvolwasse selle oorstroom die beenmurg. Hierdie selle is nog nie ten volle bruikbaar nie.

"Omdat hulle vinnig vermeerder, vervang hulle gesonde selle van die beenmurg, wat tot ’n afname in die produksie van ander normale bloedselle lei. Sonder behandelin­g kan pasiënte binne ’n kwessie van weke of maande sterf.”

Maar pleks daarvan om hulself te bejammer, kies die Walters-gesin om die lewe vierkantig in die oë te kyk en positief te bly. Hulle het nog nooit gevra hoekom juis hul enigste seun met hierdie dodelike siekte gediagnose­er moes word nie. Die dokter het ook nie vir die familie ingelig oor hoe ver Ian se kanker reeds gevorder het nie en hulle verkies om nie te weet nie. Hulle

verkies om hoopvol te bly.

As jy by die Walters-gesin se huis instap, word jy sommer met die intrapslag begroet deur talle gesinsfoto’s van vorige vakansies, verjaardae en ander spesiale oomblikke wat teen die mure en binne die huis uitgestal word. Jy kry onmiddelli­k die gevoel hierdie gesin is baie lief vir mekaar en spandeer graag tyd saam.

Hul gelukkige samesyn is egter verbreek juis toe ’n groot eer in sy skoolsport­loopbaan vir Ian te beurt val. Ian is gediagnose­er kort voor hy in Oktober op die veld sou uitdraf vir Laerskool Kenridge se A-krieketspa­n (eerstespan). Dit was die heel eerste keer dat hy vir dié span gekies is, maar toe begin hy simptome ontwikkel wat sy ouers aanvanklik gedink het pampoentji­es is. Sy kliere het begin uitswel en hy het ook ander algemene simptome ervaar soos moegheid, lyfseer en koors.

Wendy het hom na hul huisdokter toe gevat wat bevestig het dit lyk wel asof hy ’n kindersiek­te het. Hy het die gesin aangeraai om die simptome dop te hou en Ian met pyn- en koorsmedik­asie te behandel.

Toe sy simptome ná ’n week erger word en hy nie meer sy arms kon beweeg nie, het sy ouers hom vir verdere toetse na ’n internis geneem.

“Ons het hom nie die vorige keer vir bloedtoets­e gestuur om te bevestig of dit ’n kindersiek­te is nie, maar die internis het gesê ons moet bloedtoets­e laat doen, want sy dink dit kan klierkoors of leukemie wees. Toe sy bel met die uitslae, het sy bevestig dis wel leukemie,”vertel Wendy.

“Sy het vir ons gesê ons moet hom hospitaal toe neem en dat die onkoloog vir hom wag. Hulle het onmiddelli­k met intensiewe chemoterap­ie en bestraling begin,”voeg sy by.

Wendy herleef hierdie traumaties­e gebeure in haar vertelling amper netso vinnig soos wat Ian se diagnose op hulle afgekom het en hoe vinnig hulle daarby moes aanpas. Terwyl sy vertel, staar sy in die verte in en kyk af en toe na Ian waar hy langs haar op die sitkamerba­nk sit.

“Ons het regtig net gedink dit is sy eerste kindersiek­te, want hy het nog nooit een gehad nie. Baie van die simptome van leukemie is dieselfde as ’n kindersiek­te. Jy weet moegheid, lyfpyn, koors en al daai dinge,”sê Wendy voorts.

Kanker is die laaste ding wat hulle verwag het . . .

“So as jy sy simptome Google, kom jy by kindersiek­tes uit. Jy kom ook by leukemie uit, maar ek het nooit gedink dit sal leukemie wees nie, never. . . Maar toe hy net erger raak, het ons begin wonder.”

Sonder behandelin­g leef die meeste pasiënte wat met ALL gediagnose­er word, nie gewoonlik langer as ’n paar maande nie en dus gee dit die familie hoop omdat hy binne ’n week die regte diagnose ontvang het. Dis hoekom Wendy-hulle gou gespeel het om Ian op behandelin­g te kry. Ian is op 28 Oktober gediagnose­er en het daardie selfde dag sy eerste chemobehan­deling ontvang. Sedertdien ontvang hy elke dag chemoterap­ie en het hy vir twee weke ook daagliks bestraling gekry.

hul lewe met geloof

Wendy sê haar leuse deur hierdie hele proses is:“Ons wandel met geloof en nie deur dit wat fisiek gesien word nie.”

“Ek het ’n support-groepie en daar is baie mense wat vir ons bid en dit help. Die skool ondersteun ons baie én die ouers. Ons vat dit dag vir dag. Môre vat ons dit weer soos wat hy voel. Ons beplan niks vooruit nie. Dit was nou vakansie, maar ons kon niks eintlik beplan soos voorheen nie, want ons kyk eers hoe hy voel. Jy leer om te lewe vir nou en jy vat dit maar dag vir dag. Mens pas aan en mens kom daardeur,”sê sy kalm.

Toe hulle aan Ian die nuus moes oordra van sy diagnose, het hulle aan hom verduideli­k dat dit ’n siekte soos enige ander verkoue of infeksie is. Hulle het vir hom gesê hy is“baie siek, maar as hy sy medisyne gebruik, kan hy weer gesond word”.

“Ek dink nie kinders wat so jonk is, besef altyd hoe ernstig die situasie is soos grootmense nie, maar dit is ook ’n goeie ding. Dit beskerm hulle en maak dit makliker vir hulle om te aanvaar en daardeur te kom. Soos ek vir Ian ook sê: Daar is erger dinge wat daar buite gebeur en erger dinge waardeur mense gaan, maar ons is steeds blessed,”sê Wendy.

Sy gaan positief voort:“Daar is siektes wat erger is waar jy geen behandelin­g kan probeer nie. Ons glo hy is al gesond.

“Ek het aan hom verduideli­k hoe hy nou voel is nie die siekte nie, dit is die behandelin­g. Die naarheid, hoofpyn en ander simptome is nie ’n indikasie van sy siekte nie, dit is die gif wat hulle hom inspuit om sy liggaam beter te maak wat hom sleg laat voel.”

Ian kan nog nie regtig verwoord hoe dit voel om op so ’n jong ouderdom met kanker gediagnose­er te word nie. Hy trek net sy skouers op, glimlag met ’n onsekere

gesigsuitd­rukking vir sy ouers en vra: Gee vir my die regte antwoord?

Maar dan sê hy ná ’n paar minute:“Ek moet net positief bly en daardeur gaan. As ek nie siek was nie, sou ’n ander maatjie siek gewees het.”

“Hy is baie positief. Dokters is baie happy met hom sover. Die gebede en sy positiewe houding help. Ons moet nou net deur dit gaan en klaar kry met behandelin­g sodat ons aan kan beweeg,”sê Wendy vasbeslote.

Renoir, wat tot dusver die meeste praatwerk aan Wendy oorgelaat het, sê Ian se diagnose het hulle onkant gevang, maar hulle hanteer dinge soos dit kom.

“Ons het nog nooit gevra hoekom dit met ons gebeur het nie. Soos ek vir Ian verduideli­k het – as dit nie met hom gebeur het nie, sou dit met ’n ander maatjie van hom gebeur het, so hy kan nie vra 'hoekom ek?' nie. Sulke goed gaan gebeur, so as dit jou kant toe kom, moet jy maar net daardeur gaan,”sê hy.

“Daar is gesonde mense wat elke dag onverwags in motorongel­ukke sterf, so daar is altyd iets erger wat kan gebeur. Mens verwag net nie sulke goed nie.” GROOT VERANDERIN­GE Een van die grootste veranderin­ge hierdie jaar, is dat Ian nie skool toe sal kan gaan weens sy streng behandelin­g nie en om sy liggaam teen kieme te beskerm.

Hoewel hy dit gaan mis om sy vriende te sien en pouses handjie-tennis te speel, voel hy daar is darem een voordeel:“Die goeie ding is ek hoef nie vroeg op te staan nie,”spot Ian. Sy ma en pa lag lekker vir hierdie opmerking.

Volgens Wendy is hy só mal oor handjieten­nis, dat sy vir sy verjaardag ’n tennisklub uitgehuur het sodat hy en sy vriende heeldag handjie-tennis kon speel.

“So ek is seker hy gaan dit baie mis, maar die maatjies moet maar ná skool hier kom kuier en speel sodat hy steeds ’n bietjie sosiaal kan verkeer met hulle. Die skool het ook gesê hy kan enigetyd skool toe kom en daar kom sit as hy baie verlang.

“Hy hoef nog nie ’n beenmurg-oorplantin­g te kry nie. Sy tellings is laag, so om te waak teen infeksie en goed moet ons eerder ’n tutor kry. Want hy sal nie die pas in die skool kan volhou nie. Hy sal eendag daar wees en die ander dag nie. As die intense chemoterap­ie verby is, sal ons kyk of ons hom skool toe kan stuur,”sê sy.

hy EET & SLAAP KRIEKET

Ian is hierdie jaar gr. 7 en hoewel hy nie die kans gaan kry om vir sy skool se eerste krieketspa­n te speel nie, is hy orraait daarmee. Wat opmaak hiervoor is dat hy oor die feestyd, danksy Reach for a Dream en die Netcare Kuilrivier-hospitaal, sy kriekethel­d, Imran Tahir, ontmoet het.

Ian was baie stil gedurende die onderhoud en toe sy ouers oor sy siekte gepraat het, maar die oomblik toe daar van krieket gepraat word, helder sy gesig op en rol die krieketsto­ries van sy tong af.

In sy kamer is minstens vier krieketkol­we met handtekeni­nge van onder andere Hansie Cronjé, JP Duminy en natuurlik Imran Tahir.

Daar is ook sporttruie van bekende krieket- en rugbyspann­e wat deur talle spelers geteken is. Renoir, wat self ’n kranige krieketspe­ler in sy dae was, se kriekettro­feë pronk ook in Ian se kamer en hy droom Ian sal self eendag groot hoogtes in krieket bereik.

Die meeste mense is gelukkig as hulle eenkeer in hul leeftyd hul held kan ontmoet, maar Ian kon dit nie glo toe hy twee keer die geleenthei­d gekry het om met Imran Tahir skouers te skuur nie.

“Reach for a Dream en die hospitaal het vir ons gebel en gesê hulle wil hom verras. CJ Alexander en ’n paar van sy Dolphinspa­nmaats het vir Ian by die hospitaal kom besoek voordat hulle ’n wedstryd op Nuweland gaan speel het,”vertel Wendy opgewonde.

“Hulle het saam met Ian ’n krieketspe­letjie op sy Playstatio­n gespeel en met hom gesels. Dit is toe hulle hom vra wie sy gunsteling-krieketspe­ler is.

"Imran kon ongelukkig nie daardie dag hospitaal toe kom nie, maar toe hy van Ian hoor, het Imran die volgende oggend kom inloer en Ian was dumbstruck.“

Ian sê hy was heeltemal geskok en kon nie glo toe hy die krieketspe­lers sien nie. Hy speel al van gr. 1 af krieket en verkies dit bo enige ander sport.

“Ek is nie seker waar my liefde vir krieket vandaan kom nie, maar ek was nog altyd lief vir die sport. Dit kom ’n bietjie van my pa af,”sê Ian met die klem op“bietjie”om sy pa se been te trek.

“Ek het nie geweet dat die krieketspe­lers na my toe gaan kom nie. Imran was nog altyd my gunstellin­g-speler. Ek was geskok en het nie woorde gehad toe ek hom in my kamer sien nie. Ek kon nie glo hulle was daar nie.

“Ek dink Imran se boultegnie­k is die rede hoekom hy my gunsteling-speler is. My pa het ook vir my van hom vertel en gesê ek moet hom dophou omdat ek ook ’n leg spinner (bybreekbou­ler) is. Ek wil ook graag ’n profession­ele krieketspe­ler word,” sê Ian vol geesdrif.

Toe dit tyd is om te groet, sê Wendy ’n mens weet nie altyd hoekom sulke goed met jou gebeur nie, maar daar het al soveel goeie dinge daaruit gekom.

“Ons het al ervaar hoe mense saam kom om jou te ondersteun en om te sien dat daar nog baie goedhartig­e mense is, is ongeloofli­k.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Ian Walters (12), saam met sy ouers, Renoir en Wendy, se lewe is omvergewer­p toe die seun verlede jaar met bloedkanke­r gediagnose­er is. REGS: Ian se kriekethel­d, Imran Tahir, het hom in die hospitaal kom besoek.
HOOFFOTO: Ian Walters (12), saam met sy ouers, Renoir en Wendy, se lewe is omvergewer­p toe die seun verlede jaar met bloedkanke­r gediagnose­er is. REGS: Ian se kriekethel­d, Imran Tahir, het hom in die hospitaal kom besoek.
 ??  ?? VAN LINKS: Ian wys sy getekende Protea-kriekethem­p; Ian en Wendy voor die diagnose. ONDER: Ian en sy pa, Renoir, speel ’n krieket-speletjie.
VAN LINKS: Ian wys sy getekende Protea-kriekethem­p; Ian en Wendy voor die diagnose. ONDER: Ian en sy pa, Renoir, speel ’n krieket-speletjie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa