Kuier

JOU KIND: Raad vir ouers om hul kinders deur veranderin­gs te help

Ons móét almal deur hierdie tyd van groot emosionele en fisieke veranderin­g gaan, maar ouers kan hul kind se verwarring help opklaar.

- DEUR ELMARINE ANTHONY

Die een oomblik speel jou dogter nog pop en jou seun se nerwe is af van die rugby, maar die volgende sit hulle net dikbek agter toe kamerdeure. Jou seun spandeer meer tyd in die badkamer en jou dogter kyk al hoe meer na bra’s.

En waag jy dit om te vra wat aangaan, kry jy ’n panga-kyk wat jou laat wonder waarheen daardie glimlaggen­de kleuter verdwyn het.

Ouers weet puberteit kan ’n baie stresvolle en verwarrend­e tyd in ’n kind se lewe wees. Jy het ook mos lank gelede hierdeur gegaan, maar nou moet jy weet hoe om jou kind deur hierdie tyd te help.

Puberteit word gekenmerk deur verskeie liggaamlik­e en emosionele veranderin­gs. Vir meisies is die eerste teken gewoonlik die ontwikkeli­ng van borste rondom die ouderdom van 11. Dan begin hare op die vagina en onder die arms groei, aknee begin ontwikkel en sy begin menstrueer. Vir seuns is die eerste tekens vergrote testikels en penis gevolg deur skaamhare. Hul stemme word dieper, spiere groei en dan ontwikkel hulle ook aknee en gesighare. ’n gROOT SKOK Liney Williams* (49) van Brackenfel­l in die Kaap, is die ma van twee volwasse seuns en sy onthou nog die dag goed toe sy haar oudste seun (toe 11), in die badkamer vang masturbeer het.“Hy het badkamer toe gegaan en baie lank gemaak. Ek het gaan kyk wat hy doen en toe kry ek die grootste skok van my lewe. Hy het groot geskrik en gesê hy het niks gedoen nie, maar ek het hom dan gesien.”

Sy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie en het daardie aand vir haar man vertel

wat gebeur het.“Ek was bekommerd dat hy ander gedagtes sou kry en dit by die skool sou doen. Sy pa het met hom gepraat. Dit is moeilik om die enigste vrou in die huis te wees, so ek het laat sy pa dit hanteer.”

Liney was ook nie seker wat om te doen toe sy uitvind haar jongste seun (toe 14), het ’n wet dream gehad nie. Haar kinders het altyd hul eie beddens opgemaak, maar daardie oggend het haar jongste seun versuim om dit te doen.

“Toe ek sy bed opmaak, het ek die snaaksighe­id opgemerk. My seun is baie stil en saggeaard, so ek het gewonder: Hoe kan ek nou dié onderwerp aanpak?”

Sy het haar seun gevra wat gebeur het. “Mammie, ek het ’n wet dream gehad,”het hy gesê. Toe sy egter vir hom vra om dit meer te verduideli­k, het hy gesê hy wil nie daaroor praat nie.“Ek het dit daar gelos en sy pa het dit verder hanteer,”sê Liney.

Hy het ook belangstel­ling in meisies begin toon, vertel sy. Hy was nie meer skaam vir meisies nie en hulle het hom altyd na hul huise oorgenooi. Drie jaar nadat sy hom oor sy wet dream gevra het, het hy ’n meisie huis toe gebring. Hy het ook altyd ’n groep meisies ná skool huis toe gebring om hul skoolproje­kte of huiswerk te doen.

“Ek het dinge gehoor wat my ongemaklik gemaak het, soos dat hulle agter geslote deure was,”sê Liney.

houding speel ’n rol

Volgens dr. Elmien Lesch, ’n sielkundig­e aan die Universite­it van Stellenbos­ch (US), is dit wat die kind agterkom oor hul ouers se houding oor maturbasie of puberteit, baie belangrik.“Hoe gemaklik is ouers met hierdie onderwerp, want dit is iets wat kinders kan agterkom. Sommige ouers praat indirek oor seksorgane of hulle is geneig om grappender­wys daarna te verwys. Ander ouers gee die boodskap dat dit privaat, gevaarlik of lelik is en só begin die assosiasie by ’n kind oor wat met hulle gebeur.”

Volgens Lesch is dit belangrik vir ouers om ’n deursigtig­e gesprek met hul kind te hê. Ouers moenie bekommerd wees dat hulle nie al die antwoorde het nie, maar die belangriks­te is om ’n gesprek te hê op ’n manier wat vir hul kinders gemaklik sal wees.“Baie ouers sê hulle praat openlik met hul kinders, maar as ons (navorsers) met die kinders praat, sê hulle dis ’n geprekery en hulle moet net luister na wat hul ouers sê.”

Sommige kinders ontwikkel gouer as ander. Jou seun se maatjies is dalk langer as hy of jou dogter se borste kleiner as dié van haar vriende of klasmaats. Kinders vergelyk dikwels hul liggame met ander s’n en dit kan hulle selfbewus maak en hul selfbeeld knak. Lesch sê dit is belangrik dat ouers by hul kinders hoor hoe hulle oor hul liggame voel.“Ouers moet uitvind hoe hul kinders sin maak van hul selfbeeld en hoe hulle dit hanteer. Kruip hulle weg vir hul maats? Spot hulle met hulself? Ignoreer hulle dit? Ouers het ’n tweeledige werk hier om uit te reik na hul kinders en te hoor hoe die dinge vir hulle is.”

Sy voeg by ouers hoef nie noodwendig al die oplossings te hê nie, maar hulle moet bewus wees van dit waardeur hul kinders gaan. En kinders wat deur puberteit gaan, wil gewoonlik nie met hul ouers daaroor praat nie. Lesch sê ouers moet in hierdie gevalle kinders ’n bietjie tyd gee.

“Ouers ken hul kinders. Jy kan vir jou kind sê om ’n bietjie daaroor te dink en met jou te praat wanneer hulle gereed is.”

Moenie die gesprek heeltemal afstel nie. Gee eerder jou kinders ’n keuse oor wanneer hulle op ’n beter plek is om daaroor te praat.

meisies & menstruasi­e

Janet Lackey* (43) van Athlone buite Kaapstad het drie dogters. Haar oudste dogter wat nou 26 is, het reeds op die ouderdom van 9 by die skool geleer dat“iets met haar liggaam gaan gebeur”.

Volgens Janet het die drama begin toe haar dogter 13 was en vir die eerste keer menstrueer het.“Haar gedrag het begin verander. Voorheen het sy nie omgegee oor haar voorkoms of duur klere nie. Nadat sy begin menstrueer het, het sy egter haar klere begin stryk en wou duur klere hê,” vertel Janet. Haar houding het ook meer ernstig geword en sy het nie meer so baie grappe gemaak nie.

Toe Janet se jongste dogter, wat nou 16 is, begin menstrueer op die ouderdom van 12, het sy net bloot vir haar ma ’n sanitêre doekie gevra en nie nog ’n groot ding daarvan gemaak nie omdat haar ouer susters haar reeds alles geleer het.

Volgens die webtuiste womensinte­r- national.com wys die meeste kinders simptome van angs en buierighei­d tydens puberteit. Die veranderin­gs is gewoonlik erger vir meisies, veral wanneer hulle begin menstrueer en die stres wat hulle voel, verhoog is deur hormonale veranderin­gs.

Lesch raai meisies aan om hul ontwikkeli­ng en die effek van hormone dop te hou. “Maak dit ’n klein wetenskaps­projek waar meisies neerskryf hoe menstruasi­e hulle laat voel, wat met hul liggame gebeur en dan deur die hele siklus te gaan en oor maande dop te hou. Ek is verbaas hoeveel volwasse vroue nie weet hoe hul eie menstruele siklus werk nie en hoe menstruasi­e hul gemoed affekteer. Dié kennis help hulle om te verstaan dat daar ook ’n biochemies­e komponent in die liggaam is en sal hulle help om dit te bestuur.”

VROEË PUBERTEIT

Voortydige puberteit gebeur voor die ouderdom van sewe of agt in meisies en nege jaar oud in seuns. Ouers kan dalk bekommerd wees dat hul kinders nog te jonk is om te verstaan wat puberteit is.

Hoe jonger die kind, hoe meer het hulle nodig om sin te maak van wat met hulle gebeur, verduideli­k Lesch.“As dit op ’n jong ouderdom soos sewe of agt gebeur, het ouers egter meer ruimte om vir die kind te help verstaan en hoe om dit te bestuur. Op dié ouderdom is hulle nie so ingestel op wat die portuurgro­ep daaroor dink of sê nie. As ouers ’n meisie het wat jonk al borste ontwikkel of selfs menstrueer, is hul werk om feitelike inligting te gee, maar ook om die kind te help om dit te bestuur.”

Oor tieners wat bewus word van die teenoorges­telde geslag, sê Lesch dis belangrik dat ouers dink oor hoe hulle voel oor seksualite­it en die boodskap wat hulle aan hul kinders wil oordra. Dis ook belangrik om te besef dat seks ’n plesierkom­ponent het.

“Jou kind het seksualite­itsvaardig­hede nodig, nie net vaardighed­e om hul seksuele gesondheid effektief te bestuur nie. Kinders is aangewese op ander materiaal. Baie seuns sê vir ons in ons navorsing hulle kyk pornografi­e om uit te vind hoe om met iemand anders seks te hê,”sê Lesch.

Ouers moet dus in staat wees om daaroor te praat en om dit te aanvaar, of dit nou vir jou ongemaklik maak of nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa