Kuier

INSPIRASIE: Nuwe hoofstuk vir meisie wat al jare teen kanker veg

Vir agt jaar veg sy al teen kanker, maar sy het nie gaan lê nie. Sy het nou matriek behaal, ’n toekenning gekry én die universite­it wink. DEUR ELMARINE ANTHONY

-

Met haar helder gesig, mooi glimlag en hope grappe, sou jy nooit dink dat sy al eindelose terugslae in haar 18 jaar moes oorleef het nie. En al kon sy nie soos enige ander tiener sorgeloos wees nie, het Miché Gertse ’n ysterwil om haar lewe op koers te kry – maak nie saak wat oor haar pad kom nie.

Kuier het in September 2014 berig oor Miché, oftewel die“Iron Lady”, wat in daardie stadium reeds 19 operasies ondergaan het. Sy is in 2009 op die ouderdom van 10 met beenkanker gediagnose­er. In 2011 het die kanker na haar regterlong, een van haar ribbe en regter-voorarm versprei. Sy was al voorheen in remissie tot die kanker wéér toegeslaan het.

Die kanker is nou weer in remissie vir langer as twee jaar en dit was ’n groot sug van verligting toe Miché se mees onlangse toetse negatief was vir kanker. Sy moet elke ses maande ’n volle ondersoek ondergaan en het dié goeie nuus ’n week voor haar 18de verjaardag op 1 Februarie gekry.

OORKOM UITDAGINGS

’n Foto van ’n glimlaggen­de Miché by haar matriekafs­keid vang onmiddelli­k jou oog wanneer jy by die voorkamer van hul huis in Kraaifonte­in buite Kaapstad instap. Miché was onseker of sy dit ooit na haar afskeid sou maak, maar het haar eie verwagting­e oortref.

Sy het in November verlede jaar ’n longinfeks­ie opgedoen en moes vir een van haar vraestelle in haar hospitaalb­ed leer.

“My matriekjaa­r was woes! Dit was moeilik om die werk in te haal en al my take in te handig, maar ek het dit reggekry,” sê Miché met ’n glimlag.

Al is sy die geleenthei­d gegun om eerder die aanvullend­e eksamens sowel as om in ’n afsonderli­ke eksamenlok­aal te skryf, wou sy niks hiervan hoor nie.

“Ek het gedog dit sou ’n mors van tyd wees. Ek wou nie agter raak weens my omstandigh­ede nie. Ek wou saam met die ander leerders skryf, want ek het geweet ek kan dit doen.”

En sy is beloon vir haar toegewydhe­id, want verlede maand is sy deur die WesKaapse regering met die ministerië­le toekenning vir uitnemendh­eid vereer omdat sy ondanks al haar uitdagings, matriek met

twee onderskeid­ings geslaag het. Dié toekenning was baie oorweldige­nd vir haar.

“Twee jaar gelede het ek nooit gedink ek sou daar staan en die toekenning ontvang nie. Ek voel asof my harde werk vrugte afgewerp het.”

Ondanks dié prestasie, het Miché se jaar op ’n hartseer noot begin toe een van haar vriendinne, Chasity James (16), wat ook beenkanker gehad het, op 6 Januarie gesterf het. Die twee het mekaar in 2014 in die hospitaal ontmoet toe hulle ’n kamer gedeel het. Miché het ’n operasie ondergaan om die been in haar voorarm met titaan te vervang. Chasity se siekte was soos ’n spieëlbeel­d van Miché s’n, omdat sy ook vir twee jaar in remissie was voordat die kanker na haar longe versprei het.“Sy was ’n inspirasie vir my. Sy het my altyd boodskappe gestuur en advies gevra omdat ek al die operasies voor haar gehad het. Dit was baie hartverske­urend toe ek uitvind sy is oorlede. As ek met haar gepraat het, het sy altyd gesê‘nee ek is fine’. Ek het gedog sy doen goed, maar in die tussentyd was sy besig om te ly,”vertel Miché, terwyl sy haar kop hartseer skud.

Maar dis terugslae soos dié wat Miché dankbaar laat voel en aanspoor om haar lewe voluit te leef. Haar gesig helder weer op toe sy oor haar toekomspla­nne praat. Sy gaan maatskapli­ke werk aan die Universite­it van Wes-Kaapland studeer; ’n beroep wat baie na aan haar hart is. Toe sy in die hospitaal was, was daar altyd ’n maatskapli­ke werker wat by haar ingeloer het. In gr. 11 moes hulle job-shadowing doen en Miché het gekies om dit by ’n hospitaal met ’n maatskapli­ke werker te doen.

“Ek het dit geniet omdat jy vir mense omgee. Dit is lekker om in ’n omgewing met kinders te wees omdat hul ouers nie altyd met hulle kan wees nie.”

Mense wat sy nie ken nie sowel as die jonger kinders by haar voormalige skool keer haar altyd voor.“Hulle sê altyd ek is ’n groot inspirasie en dat ek sterk is.”Miché is vreeslik dankbaar vir die gemeenskap vir hul boodskappe en ondersteun­ing.

“Wanneer iemand vir my ’n boodskap stuur, sê ek altyd vir hulle ‘dankie, julle het my dag gemaak’.”

Vir haar is dit aangenaam wanneer mense sien waardeur sy gaan en steeds opkyk na haar. Dít is iets wat haar motiveer.

Miché deel dikwels haar ervaringe op sosiale media.“My ervaringe kan iemand anders help en hulle motiveer. Sommige mense is baie stil, maar as hulle ander mense se stories sien, dan weet hulle hulle is nie alleen nie.”

Sy sien uit na wat sy verwys as die volgende hoofstuk in haar lewe, maar is ook baie angstig weens haar gesondheid. Miché is verlede jaar met ’n bloedklont in haar regterbeen gediagnose­er.“Dit is baie pynlik en ek kan nie die dinge doen wat al my vriende of mense van my ouderdom doen nie. Ek moet baie versigtig wees.”

Sy kan nie vir lang tydperke staan nie. Selfs inkopies doen, een van tieners se gunsteling-aktiwiteit­e, is baie moeilik vir haar omdat sy gou moeg word.

“Ek het vrese dat mense my gaan oordeel of anders na my gaan kyk. Ek is bang dat klas eendag te veel vir my gaan word en ek gaan dit nie meer kan hanteer nie.”

Hoewel sy meestal positief is oor haar omstandigh­ede, het sy ook haar slegte dae nes enigiemand anders.

“Sommige dae voel ek net uitgeput en wil niks doen nie, nie eens eet nie. Ek voel net om te lê en nie op te staan nie. Ander dae voel ek ook net lui,”skerts sy.

’N NORMALE LEWE

Al is sy siek, beteken dit nie sy hoef nie werk rondom die huis te doen nie. Sy moet steeds haar kamer skoonmaak en haar hond voer.“Ek kom egter baie daarmee weg om nie skottelgoe­d te was nie.”

Miché was nog altyd baie selfbewus oor haar voorkoms omdat haar hare weens chemo-behandelin­g uitgeval het en haar vel soms bleek was. Noudat haar hare weer gegroei het, voel sy meer soos haarself, haar“mooi self”, sê sy.

Sy is egter nie skaam om haar letsels te wys nie. Sy trek haar top se regtermou af om ’n groot letsel op haar arm te wys.

“Ek joke soms en sê vir mense ek is gesteek as hulle vra oor die letsel op my bors. As hulle vra wat met my arm gebeur het, sê ek‘die lewe het met my arm gebeur’ voordat ek hulle die waarheid vertel.”

Miché sê daar is drie dinge wat haar staande hou: God, haar familie en haar toekoms.“God gee my die krag om elke dag te lewe. Hy ken my toekoms en weet wat gaan gebeur. Hy is die een wat my lewe gegee het en wat my aan die lewe hou.”

Sy sê haar familie motiveer haar en bly altyd aan haar kant, maak nie saak wat nie. Haar ma, Mathilda (51), het haar werk gelos om voltyds na Miché te kyk.

“Ek is baie bly oor alles wat sy bereik het. Sy maak my só gelukkig en ek is bly dat God haar hierdeur gedra het. Ek bid dag en nag vir God om haar in remissie te hou sodat sy eendag haar doelwitte kan bereik,”sê Mathilda.

 ??  ?? HOOFFOTO: Miché Gertse (18) is steeds die dapper Iron Lady wat uitstyg ten spyte van haar siekte. BO: Kuier het in September 2014 oor Miché berig wat op die ouderdom van 10 met beenkanker gediagnose­er is.
HOOFFOTO: Miché Gertse (18) is steeds die dapper Iron Lady wat uitstyg ten spyte van haar siekte. BO: Kuier het in September 2014 oor Miché berig wat op die ouderdom van 10 met beenkanker gediagnose­er is.
 ??  ?? REGS: (bo) Miché by haar matriekafs­keid; (onder) Trotse ma, Mathilda, spog met Miché se matriekuit­slae.
REGS: (bo) Miché by haar matriekafs­keid; (onder) Trotse ma, Mathilda, spog met Miché se matriekuit­slae.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa