Kuier

GOEIE GENE: Een familie spog met nege oor negentig!

Dis vandag ’n seëning om ’n hoë ouderdom te bereik soos dié familie van Elim kan getuig!

- DEUR tarren-lee habelgaarn

Om oud te word, is nie vir almal beskore nie, maar een platteland­se familie spog met dekades van goeie gene. Hulle is geseënd om hoë ouderdomme te bereik en vandag is agt familieled­e bo die ouderdom van 90 en nog so hups soos dekades gelede.

Hulle mag dalk oud wees, maar die meeste van hierdie niggies en neefs sal jy nie plat in die bed kry nie. Hulle gaan nog gereeld kerk toe, geniet dit om met familie oor en weer te kuier, kook en sal selfs help om die skottelgoe­d af te droog. En hulle wortels lê diep. Op 19 April 1880 op ’n plaas buite Elim, ’n Morawiese sendingsta­sie in die WesKaap, tree Frans Engel en Adriana Taillard in die huwelik. Frans was ’n arbeider en het op die plaas gewerk. Sy vrou was ’n huisvrou, maar het ook gehelp om hul familiepla­as te onderhou. Uit hul huwelik is 12 kinders gebore. Daar was sewe seuns en vyf dogters en daardie kinders het 56 kinders uit die derde generasie in die lewe gebring. Uit die derde generasie alleen het 15 van die kinders die ouderdom van 90 gehaal en vandag geniet agt van daardie niggies en neefs nog goeie jare. Daar is ook ’n paar van die jonger niggies en neefs wat baie naby aan nege dekades is. Die oudste niggie is Paulina“antie Paulie”Theunissen (96) van Kuilsrivie­r, Josias Engel (95) woon op Elim, Mathilda Weber (94) in Bellville, Adriana Fortuin (94) op Caledon, Adriana Weber (92) in Kensington, Johannes Engel (92) op Elim, Marie Hendricks (91) op Elim en John van der Heyden (90) in Glenhaven.

baie dinge verander

Kuier het by die oudste van die derde generasie, antie Paulie, waar sy nou by haar dogter in Kuilsrivie­r woon, gaan inloer en haar op die agterstoep agteroor op haar stoel in die son gevind waar sy glo baie tyd spandeer. In haar goue trui en bypassende romp met lang swart-en-silwer hare wat vasgepen is, het sy stadig van buite af ingestap en in die sitkamer by ons aangesluit.

Antie Paulie het onmiddelli­k my jeans vol gate raakgesien en was glad nie in haar

skik daarmee nie.“In die ou dae was dit glad nie toelaatbaa­r nie,”laat sy dadelik hoor.“As ek met só ’n broek by die huis aangekom het, sou my ma my onmiddelli­k gestuur het om die naald te gaan kry sodat sy die broek kan regmaak. Ons het almal geweet hoe om naaldwerk te doen, dit was vir jou by die huis geleer en nie by die skool nie,”vertel sy met ’n glimlag.“Maar lyk my dit is nie so met vandag se kinders nie.”

Dit is maar net een van die dinge wat antie Paulie sê oor die jare verander het sedert sy in die vroeë 1900’s op Spanjaards­kloof, die familiepla­as naby Elim, grootgewor­d het.

Dit was ’n baie makliker lewe, maar met uitdagende omstandigh­ede. Daar was nie baie werkgeleen­thede nie en dit het maar swaar gegaan om te sorg dat daar genoeg kos op die tafel was om almal te voed.

“My ouers het in sjielings en ore verdien en het nie baie vir hul werk gekry nie. Daar was nie regtig geleenthed­e vir verder leer nie en ons ouers moes maar tevrede wees met wat hulle kon kry. Die meeste van ons was ook maar huiswerker­s en het vir jare huise in die dorp skoongemaa­k,”vertel sy.

“Ek het ook vir jare huise skoongemaa­k en dit was harde werk, maar dit is met daardie geld wat ons vandag vir ons kinders geleerdhei­d kon gee.”

Elke nou en dan moet dié ma van vyf kinders, ouma van nege kleinkinde­rs, oumagrootj­ie van 15 agterklein­kinders en vier agter-agterklein­kinders eers dink oor gebeure uit haar kinderdae en kyk soms op na haar jonger niggie en kinders om haar met ’n antwoord te help. Daar is sommige dinge wat sy nie meer kan onthou nie en ander wat haar kinders nooit van geweet het nie. Een ding wat antie Paulie wel goed kan onthou, is dat die meeste van die niggies en neefs reeds op die ouderdom van 15 begin werk het nadat hulle die skool verlaat het. “Daai tyd was daar nie ’n sekere graad wat jy moes behaal het nie. Jy het skool gegaan totdat jy nie meer lus was nie en dan moes jy gaan werk het. Jou pa het ná jou betaling gewag vir die geld.” Niggie Adriana Weber (92) stem saam met haar oudste niggie en onthou dat sy ook voor die ouderdom van 17 die skool verlaat het en onmiddelli­k moes gaan werk. “Jou ouers het nie regtig met jou baklei toe jy die skool wou verlaat het nie, maar jy kon nooit daaraan dink om by die huis te gaan sit nie. Jy moes gaan werk om geld te verdien vir die huis. Die oudste kinders in die huis moes maar altyd werk om by te dra,” sê sy. “Ek dink almal was bly om die skool te verlaat en het sommer kort daarna getrou. Mense het in die ou dae op die ouderdom van 18 al getrou,”voeg sy by. Volgens antie Paulie was hul ouma en oupa en hul ouers baie streng, maar hulle het hulle goeie waardes geleer en dit het bygedra tot die feit dat hulle almal so goed oud word.

die lewe was makliker

Hoewel respek vir jou familie, goeie maniere en ’n makliker leefstyl sonder die stres van sosiale media, selfone en ander tegnologie gehelp het om tot 90 jaar oud te kom, is dit slegs genade van die Here wat jou tot hierdie mylpaal bring, meen anties Paulie en Adriana, wat albei ’n sterk band met die Here het.

En die hoë ouderdom is ’n seëning waarvoor hulle dankbaar is.“Dit is hoe die Here dit wou hê. Ek kan nie sê hoekom ons familie so oud word nie, maar net Hy weet wanneer jou dag gaan wees. Elke dag wat ons kry, is net genade.”

En as jy gehoop het daar is die een of ander wonderkuur of geheim wat jou ook so oud kan laat word, sal antie Paulie jou nie kan help nie.“Ek het nie ’n geheim nie, maar ek weet dat min drank en gebed jou ver sal bring,” sê sy.

Sy dink ook nie jy hoef baie te rus wanneer jy oud is nie en sê jy is slegs so oud soos wat jy voel. Hierdie op-en-wakker oumagrootj­ie stap nog soms kerk toe en werk graag in die tuin. Haar bene pyn nog nie en sy glo sy het nog ’n paar jare in haar.

Antie Adriana se oë is swak, maar sê sy voel nog goed. Die meeste van die ander niggies en neefs is ook gesond, maar die ouderdom pla hulle soms en die brille en pille is maar deel van die ouderdom, vertel hulle. Die familie sien mekaar nie meer so baie nie omdat almal wyd versprei is en daar nou te veel van hulle is om te onthou, maar wanneer hulle saam is, gesels hulle graag oor die ou dae. Hulle het ’n paar jaar gelede ’n reünie op Spanjaards­kloof gehou met meer as 400 familieled­e wat tot by die sewende geslag gestrek het. Hulle het vanuit Kaapstad, Mamre, Robertson, Bredasdorp, Caledon, Strand, Worcester, Genadendal, Botrivier, Elim en so ver as Berlyn in Duitsland gekom.

“Die dorp (Elim) het verander, maar lyk steeds dieselfde; die vrugtebome en wit huisies met grasdakke. Toe ons almal voor die Morawiese kerk met die grasdak staan, was dit lekker om almal te sien, maar daar is nou te veel mense om te onthou, ons ouer mense noem almal maar net‘my kind’.”

Antie Paulie sê daar is baie niggies en neefs wat na aan die ouderdom van 90 is en sy glo daar gaan nog baie wees as dit die Here se wil is.

Haar pa, Andries Engel (Frans se seun), het ook tot die ouderdom van 95 geleef en as hý op die ouderdom van 90 met een van die stooimeisi­es van sy eerste troue kon trou, is enigiets op enige ouderdom moontlik, meen sy.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Antie Paulina Theunissen (96, regs) is die oudste van die derde generasie van die Engelfamil­ie se 56 niggies en neefs en langs haar sit antie Martina Engel (71), die jongste. BO: Hul voorouers, Frans Engel en Adriana Taillard.
HOOFFOTO: Antie Paulina Theunissen (96, regs) is die oudste van die derde generasie van die Engelfamil­ie se 56 niggies en neefs en langs haar sit antie Martina Engel (71), die jongste. BO: Hul voorouers, Frans Engel en Adriana Taillard.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa