Kuier

DEUR SIEKTE EN gesondheid

Op hul troudag het hulle voor God beloof om mekaar deur dik en dun lief te hê. Maar toe tref die noodlot hulle met ’n situasie wat hul liefde vir mekaar tot die uiterste toets.

- Deur Petro Gordon

Die vroegoggen­d-stilte is waarvan Hester die meeste hou. Dis wanneer sy haar afsonder en stiltetyd hou. Dis ook byna die enigste tyd wanneer sy haar gedagtes kan neerpen, nadat sy tyd in God se teenwoordi­gheid deurgebrin­g het en haar man, Andy, en dogter, Anke, nog slaap. Andersins is dit maar ’n dol dag, soos elke liewe dag wat die liewe Vader vir hulle gee. Daar is altyd iets om te doen en byna nie tyd vir agteroor sit en asemskep nie. Sy is tog te dankbaar vir die nuwe proponent by die kerk. ’n Jong vrouepredi­kant met ’n passie vir vroueharte en die skryfkuns wat dan die twee sommerso bymekaarbr­ing. Behalwe vir huisbesoek en om die tienergroe­pe te lei, het sy ook ’n skryfgroep met gewillige vroue begin. Dis sy wat vir hulle geleer het dat skryfkuns ’n

uitlaatkle­p kan wees. En soms kan dit selfs genesend ook wees. Mens kan ampertjies sê dis ’n reinigings­proses. Altans, só voel sy wat Hester is.

Toe sy dus van die skryfgroep­ie hoor tydens die afkondigin­g in die erediens so ’n maand gelede, het sy besluit sy wil deel wees daarvan. Sy kan nie glo sy kon in die afgelope maand oor soveel dinge wat al so lankal pla, maar ook oor die mooi van die verlede, skryf nie.

Die jong pastoor Adreana het eers oor dankbaarhe­id gesels. Om in alles dankbaar te wees, soos die Bybel beveel. Hulle moes terugdink en ’n brief aan iemand skryf teenoor wie hulle dankbaar is. Sy kan nie die trane keer wat onwillekeu­rig oor haar wange rol as sy weer die joernaalin­skrywing lees nie.

Dankie Mamma, dat jy maar altyd daar was. Jy met jou onvoorwaar­delike liefde vir jou kinders. Ons was nie engeltjies nie, maar jy het ons almal eweveel liefgehad. Ná Pappa jou gelos het, het jy vir my en my vyf boeties gesorg. Jy het soggens douvoordag opgestaan om kos voor te berei, sodat ons nie honger moes ly nie. Saans het jy moeg uit die werk gekom, maar nie te moeg om te vra hoe ons dag was nie. Ek kan nie een dag onthou dat jy ooit gekla het nie. Nie een enkele dag nie. Daar was moeilike tye, maar God was getrou, want daar was nie een aand wat ons honger gaan slaap het nie.

Dankie Mamma. Dankie dat jy my geleer het wat ware liefde is.

Hester maak haar oë vir ’n wyle toe. Toe sy begin ouer word, moes sy vir haar en haar boeties kosmaak. Somtyds was dit ’n pot mieliemeel­pap vir aandete, maar niemand het ooit gekla nie. Haar ma was ’n verpleegst­er en het destyds nie juis baie verdien nie, maar haar geldjies het ten minste van die een salaris tot die volgende gehou. En toe, in die jaar toe sy standerd sewe toe moes gaan, het haar ma skielik siek geword. Sy onthou daai tyd asof dit gister was. Die aande en nagte toe sy self niks kon slaap nie, want haar ma het gekreun van die pyn. Die dokters kon tot en met haar dood nie uitvind wat sy makeer het nie. Of dalk wou hulle nie vir die kinders sê nie.

Dit was moeilik, maar sy het so baie van haar ma geleer. Daar was maar altyd ’n glimlag, selfs toe die pyn op die ergste was. Mense het kom inloer en dalk nie geweet wat om te sê nie, maar net gevra,“En hoe gaan dit vandag?”. Haar ma het moedig elke keer geantwoord:“Dit gaan goed, ek lewe. God se genade is groot oor my”.

Het haar ma se siekte vir haar wat Hester is voorberei vir wat eendag op haar sou wag? Sy weet nie. Dit was moeilik, maar sy het deur die jare geleer aanvaardin­g is nie maklik nie, maar tog moontlik.

Sy glimlag terwyl sy na Andy kyk. Sy’t nooit gedink sy sal eendag iemand só liefhê soos vir hom nie.

Vanoggend se joernaalin­skrywing is ’n liefdesbri­ef aan hom. Sy lag byna hardop toe hy skielik ’n harde snorkgelui­d maak. Hy het altyd gestry as sy sê dat hy weer ekstra hard gesnork het. Sy en Anke het hom dus eenmaal sommer met die selfoon opgeneem en dit toe agterna vir hom gespeel. Hulle het lank daarna tog te lekker daaroor gelag.

Tot almal se vermaak het Anke dit weer gespeel toe Hospice se tuisversor­ger, wat twee dae per week na Andy omsien, haar besoek gedoen het. Dan het hulle elke keer weer gelag asof hulle dit vir die eerste keer hoor.

Dankie vir U genade, liewe Heer, sê sy saggies. Hy haal asem. Hy kan ten minste sy oë oopmaak. Sy glimlag en wonder of hy onthou dat dit vandag hul tiende huwelikshe­rdenking is.

Vanoggend se inskrywing was juis oor daai pragtige dag, tien jaar gelede. Dit was ’n sonskyndag, op die agt-en-twintigste Oktober daardie jaar, onthou sy.

“Deur armoede of rykdom, siekte en gesondheid, totdat die dood ons skei. . .”, het hulle daai dag trou aan mekaar beloof.

“Wat skryf jy vanoggend?”Sy’t nie eens besef hy het intussen wakker geword nie. Sy glimlag. Ná meer as tien jaar dat sy hom ken, is sy nogsteeds gaande oor sy stem. Hy sou maklik ’n radioperso­onlikheid kon gewees het, het sy altyd vir hom gesê. Soos gewoonlik het hy maar net beskeie geglimlag. “Ek skryf ’n liefdesver­haal,”antwoord sy.“Óns liefdesver­haal.”

Sy sien die traan wat uit die hoek van sy oog loop. Sy sit haar joernaal terug in die laai en draai dan na hom toe.

“Ek bly lief vir jou,”sê sy toe sy afbuk en vir hom ’n drukkie gee en hom op die mond soen.“Moenie nou vir my ook kom staan en tranerig maak nie, man. Jy weet mos ek is van trane aanmekaar gesit.”

Sy gaan kombuis toe en maak die melk in die mikrogolfo­ond warm en gooi dit dan oor sy pap. Dan kom sit sy op die stoel by die koppenent van hul dubbelbed. Sy sit eers die bakkie pap op die bedkassie neer, terwyl sy die kussing regskuif. Sy weet nou al. As sy hom net ’n klein bietjie vorentoe laat beweeg en bietjie meer regop lig, is dit makliker om hom te voer.

“Dankie, Bokka,”begin hy praat net voordat sy die eerste lepel pap in sy mond steek.“En happy anniversar­y.”En dan glimlag hy.“Hmmmmm. Jy’t gedink ek het vergeet né?”Hester glimlag net. Sy sal nie vir hom kan jok nie. Hy ken haar te goed.

“Maak gou die laai hier by die bedkassie oop?”vra hy en lag alte lekker toe hy haar vraende gesig sien. Sy maak vinnig die laai oop en herken dadelik haar dogter se handskrif: Dankie vir alles wat jy vir my beteken. Ek is lief vir jou. Van jou man, Andy, staan in verskillen­de kleure in die kaartjie geskryf, met ’n groot rooi hart in die middel geteken.

Dit was aanvanklik nie maklik om te aanvaar dat sy die Saterdagog­gend met hom getrou het, en die Sondag was hy in ’n ongeluk wat hom as ’n kwadruplee­g gelaat het nie. Sy onthou dan die joernaalin­skrywing oor hoe sy gevoel het: Dit het gevoel of my lewe in duie stort, want ek het nog niks van my huwelik gehad nie. Ek was byna vier weke swanger met Anke toe ons getrou het. Ek het vir weke nie geeët nie, kon nie slaap nie en wou nie tussen mense wees nie. Ek weet nie waar ek al die trane gekry het nie, want ek het dag en nag omgehuil. Ek voel somtyds dat die lewe nie meer sin maak nie. Ek wil soms net opgee, aanstap en nie weer omkyk nie. Maar deur alles glo en vertrou ons nog altyd vir ’n wonderwerk. Ons bly steeds vol verwagting, want daar gaan baie gebede vir ons uit . . .

“Dankie, my skat. Dit beteken baie,”sê sy saggies en soen hom weer.

Daai dag, tien jaar gelede het sy beloof om hom lief te hê, deur armoede of rykdom, siekte of gesondheid. . . en dit is presies wat sy beplan om te doen. Om haar belofte gestand te doen.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa