Kuier

Kortverhaa­l

Dis nie maklik om almal om jou tevrede te stel nie. Soms moet jy aan jouself dink en jou eie kop volg, want dan sal die vrugte wat jy pluk, selfs soeter proe.

- Deur PJ Moses

Sy kyk verby haar weerkaatsi­ng in die kombuisven­ster. Haar hande is in die wasbak vol warm water en skuim van die opwasmidde­l waar sy besig is om die skottelgoe­d te was.

Haar oë val op die toneel wat hom buite op die agterste stoep afspeel, waar haar ma en twee sussies om die tafeltjie sit wat haar oupa destyds met sy eie hande gemaak het.

Oupa het altyd gesê as ’n mens nie geld het nie, moet jy jou verbeeldin­g gebruik om iets te bou wat die struggle van lewe vir jou beter kan maak. Sy mis oupa Abie baie. Hy was altyd daar om ’n arm oor haar skouer te sit en te sê dat sy haar drome moet volg, anders gaan die drome wegvlieg sonder haar.

“Poppie, waar draai jy so lank? Ons moet decide watter rok jy gaan aantrek vir die kompetisie!”

Haar ma se stem bring haar terug na die hede. “Ek kom Ma, ek is amper klaar opgewas.” “Nee Poppie, wat is jy so gevrek? Dis hoekom Neil jou nog nie gevra het om met hom te trou nie!”

Die drietjies daar buite kraai soos hulle lekker sit en lag. Haar suster Gail is lankal lus om ’n troue te reël en sy druk arme Neil altyd vas daaroor wanneer hy vir Poppie kom kuier.

As hulle maar net geweet het Neil het haar al twee keer gevra om te trou en dat dit Poppie was wat elke keer gesê het sy is nog nie reg om te trou nie.

Haar skouers sak soos sy sug. Sy hou nie daarvan om hom so aan ’n lyntjie te hou nie, maar trou is nie wat sy in haar onmiddelli­ke toekoms sien nie. Nee wat, dit is definitief nie nou in haar planne nie. Neil is ’n goeie man en hy sal goed vir haar sorg, dis waar ja, maar sy soek meer uit die lewe uit as net ’n goeie man, ’n huis en ’n klomp kinders.

Sy was maar altyd ’n dromer. Haar oupa se“droom-pikkewyntj­ie”. Hy het haar die naam Pikkewyntj­ie gegee, want toe sy ’n baba was en begin loop het, het dit vir hom soos een van daai pikkewyne op die TV gelyk. Hy was ook al een wat haar só genoem het.

Sy mis hom baie, nou meer as ooit tevore. Hy sou haar kon help om die regte keuses te maak vir die toekoms wat sy wil hê.

Sy sug nog ’n keer terwyl sy haar hande afdroog en gereed maak om by haar ma en susters aan te sluit.

“Laat ek maar gaan hoor wat hul planne is,”sê sy saggies vir haarself terwyl sy haar hande deur haar hare trek sodat dit plat kan lê. Dan stap sy stadig deur die oop agterdeur en sluit haarself by die kring van die spotters aan.

Nie ’n wonder Ma-hulle lag so lekker hier agter nie, die Four Cousins is minder as die helfte, dink sy by haarself.

Sy glimlag met haar ma terwyl sy so loer na die bottel wat so onder die belt lê. Hulle hou van so ’n wyntjie op ’n Saterdagaa­nd met jazz-musiek wat saggies vanuit die huis hulle ore streel. Oupa Abie het ook altyd van sy jazz gehou.

“Mens moet die kreatiwite­it petrol gee my kind, jy moet mos darem soos ’n prinses lyk by die kompetisie of hoe?”

Poppie sug en gaan sit langs Gail om

oupa Abie se tafel.

“Ek wil nie ’n beauty queen wees nie, Ma. Kan ek nie maar onttrek nie?”

“Ai, daar gaan ons alweer! Sien jy Gail, ek het jou gesê sy is te goed om in onse voetspore te follow.”

“Bronny hou jou mond, jy bly bad luck! Ek het nie gesê ek is te goed nie, ek stel net nie belang daarin om die factory se beauty queen te wees nie! Kan ’n mens dan nie ander drome het nie?”

“Ander drome? Soos wat nogal? Wil jy president wees?”

Haar susters skaterlag en skud hul lywe van lekkerkry.

Maar Ma kyk haar diep in die oë.“Ek wil net nie hê jou drome moet die grond onder jou voete uitvat nie, my kind. Dit is ’n baie harde val.”

“As ’n mens wil vlieg, moet jy bereid wees om die tak te los Ma,”antwoord sy.

“Hoor jy, Bronny? Onse Poppie is nou ’n blêddie voël!”sak Gail af.

“Julle twee kan maar nou ophou om jul suster so te tease,”tree Ma in en daar sak ’n stilte oor die vier vroue ná Ma se woorde.

Poppie kyk in die donker hoekies van die agterplaas in. Sy probeer hard om die brandende gevoel van trane in haar oë terug te druk van waar dit vandaan kom.

“Wat is dit, Poppie? Wat pla? Is dit Neil? Het julle problems?”

“Neil het seker nou uiteindeli­k dik geraak van wag vir Prinses Poppie en vir hom ’n ander bruid gaan soek!” “Bronny asseblief!”tree Ma weer in. “Ek sê maar net Ma, die man kan mos nie vir ewig agter haar aanloop nie! Reg Gail?”

“Ek sê mos lankal sy speel met Neil se feelings en hy gaan later groener weivelde soek!”

“Gail en Bronny! Ek sê mos genoeg is genoeg. Poppie, wat gaan aan kind? Praat tog nou.”

Poppie sluk aan die knop in haar keel en sit weer haar een hand deur haar hare terwyl sy diep inasem.

“Daar is niks fout met my en Neil se verhouding nie, Ma. Hy weet goed waar hy staan en as dit hom nie pas nie, kan hy maar die pad vat.”

Sy lig haar hand vinnig op om al drie te keer net voor hulle hul monde kan oopmaak.

“Ek stel nie belang om ’n beauty queen te wees nie en ek stel ook nie belang om langer by die factory te werk nie. Ek het Vrydag my bedankings­brief ingehandig en met Mandy in Mannekrag gepraat en gevra of ek onmiddelli­k kan klaarmaak. Sy het gesê dit is fine as dit is wat ek wil hê.”

Haar Ma en susters staar haar met groot oë en oop monde aan. ’n Mens kan sien hulle wil bars met woorde, maar Poppie se hand is weer in die lug om te wys sy is nog ver van klaar af.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie en ek het lank daaroor gedink en my daarop voorberei,”gaan Poppie voort. Haar Ma kan nie meer wag nie. “Maar waar gaan jy nou werk kry, my kind? Die management was besig om jou vir ’n supervisor job te groom en nou gooi jy dit dan alles weg. Jou pa gaan nie happy wees nie.”

“Ma, my toekoms is nie in die clothing factory of industry nie. Ek moes die besluit vir myself maak anders sou ek nooit happy gewees het nie. Ek beplan dit al die afgelope ses maande en dis hoekom ek so baie overtime gewerk het. Ek wou geld bymekaar maak sodat ek kon aanbeweeg om te doen wat ek eintlik wil.” Bronny laat nie langer op haar wag nie. “En wat wil jy nou eintlik doen? Casual by Pep of miskien by Elite?!”

“Nee Bronny, dit is nie wat ek wil doen nie. Ek het myself ingeskryf vir ’n baristakur­sus en dit begin Maandag.”

Gail rol haar oë. Bronny gooi haar hande in die lug en Ma lyk of sy kan huil.

“Is jy mal Poppie? Wat is die barista-ding nou? Wie sê jy gaan werk kry as jy klaar is?”

“Dit is iemand wat koffie maak op ’n Espresso-masjien, soos cappuccino en caffè latte. Ek het ook al klaar navraag gedoen oor ’n werk en sodra ek die sertifikaa­t het, kan ek begin werk by ’n gastehuis in Camps Bay.” “KOFFIE?!” Gail spring op en kyk van haar ma na haar suster en weer na haar ma.“Die kind is mal, Ma! Sy los ’n goeie werk om ’n snaakse kursus te gaan doen en koffie te maak vir mense – dit is mos nou skoon malligheid! As ek jou nie geken het as my sussie nie, dan het ek gesê jy moet seker op drugs wees.” “Wat gaan jou pa sê?”vra haar ma. “Hy weet klaar Ma. Ek het laasweek al vir Daddy gesê. Hy aanvaar my besluit en wou hê ek moet vir Ma self sê. Ek soek nie Ma se blessing nie, al wat ek vra is dat Ma my besluit respekteer en probeer verstaan dat ek dit nie doen om ’n rebel te wees nie, maar om my eie pad te vind.”

Sy staan op en stap oor na haar ma toe, buk af en gee haar ’n stywe drukkie. “Ek is lief vir Mammie.” Sy draai om en kyk haar susters in die oë voor sy stadig agterdeur toe stap. Sy het haar saak gestel en sy is klaar gepraat. “Poppie!” Haar ma se stem breek deur die skielike stilte wat oor die agterplaas geval het. Poppie stop in haar spore en wag doodstil.

“Ek mag nie verstaan wat jou plan is nie en ek mag ook nie daarmee saamstem nie, maar ek is lief vir jou my kind, en ek sal jou altyd ondersteun met wat jou gelukkig maak. Solank jy seker is en weet dit gaan nie maklik wees nie.”

Poppie sit haar hand teen die raam van die agterdeur en kyk vir haar ma so oor haar skouer.“Ek is seker Ma en ek weet daar lê ’n onbekende en dalk harde pad vir my voor, maar ek voel dit is die regte pad vir my.”

“Dan is ons met jou; jy sal dan maar liewer ons koffie queen wees!”

Die glimlag op haar ma se lippe laat ’n warmte in haar binneste opstyg wat weer haar oë nat wil maak, maar dié keer laat sy die traan toe om oor haar wang te rol. “Dankie Ma, ek sal julle nie teleurstel nie.” Sy stap die huis binne met ’n nuwe gevoel van hoop en die glimlag kan sy nie van haar gesig afkry nie, nie dat sy ooit wil probeer nie.

Vanaand gaan sy lekker slaap en droom van koffiebone wat koppies koffie laat dans onder prentjies van hartjies en blomme wat gemaak is met gestoomde melk. Poppie die barista. Sy hou van hoe die woorde op haar tong speel en dit laat haar nog breër glimlag. Die toekoms lyk nou so helder soos die mooiste somersdag.

Oupa Abie glimlag nou net so breed in die hemel waar hy tafels en bankies vir die engele bou. Daarvan is sy baie seker.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa