Kuier

KANKER-KIND:

Kleuter (3) weer vol pret ná donker diagnose

- DEUR Charmoniqu­e Meyer

Op die oog af lyk sy soos enige besige kleuter. Sy neem selfies met haar ma se selfoon en glimlag dat jy net tandjies sien. Maar Angie-Lee Bailey (3) van Kylemore buite Stellenbos­ch het al ’n paar diep dinge deurgemaak wat sommige grootmense nog nie eens beleef het nie.

Angie-Lee is op die tweejarige ouderdom met fase 4 (wanneer die kanker reeds versprei het) -nierkanker gediagnose­er en teen die tyd dat dokters die diagnose gemaak het, was haar linkernier só erg aangetas dat hulle dit moes verwyder.

Voor dit het haar ouers, Juanita en Isaac (albei 44), nie gedink daar is enigiets ernstigs fout met haar nie. Juanita vertel sy was eendag besig in die kombuis, toe haar dogtertjie haar om die been kom omhels en sê:“Mammie, Angie-Lee siek”.

“Angie-Lee het begin kla van maagpyn en ek het haar kliniek toe geneem waar die suster vir haar antibiotik­a voorgeskry­f het. Maar dit het nie veel gehelp nie en hulle kon ook nie vasstel wat fout was nie en ek het toe besluit om haar dokter toe te neem,”vertel Juanita.

Die dokter kon ook nie vasstel wat die probleem is nie, maar Angie-Lee het agterna normaal voorgekom en hulle het aangegaan met hul daaglikse take.

“Een aand toe ek haar bad, het sy weer oor haar maag gekla en toe ek daaraan voel, was haar magie so hard.”

KANKER-DIAGNOSE

Die bekommerde Juanita het ook haar man aan Angie-Lee se magie laat voel en hulle het haar weer kliniek toe geneem. Daar het sy ’n verwysings­brief gekry om haar dogter na die Stellenbos­ch-hospitaal te neem. Hier het hulle gehoop om klarigheid te kry oor wat met Angie-Lee fout is, maar is toe eerder na Tygerbergh­ospitaal in Kaapstad verwys waar X-strale, ’n sonar en toetse gedoen is.

Sy is met kanker gediagnose­er en dit was reeds in ’n gevorderde stadium.

“My lewe is omgekeer. Ek het gevoel soos iemand wat in ’n dwaal was. Dit was so moeilik. Ek het soos normaalweg my kind gebad en aangetrek, maar ek was heeltemal in ’n ander wêreld. Hoewel ek fisiek saam met my kind in die hospitaal was, was my gedagtes nooit daar nie. Die weke in die hospitaal het soos maande gevoel.”

Die dokter het aan Juanita verduideli­k wat om te verwag, maar die realiteit het eers tot haar deurgedrin­g die dag toe AngieLee in ’n saal met ander kankerpasi­ënte geplaas is.

“Daar het ek besef my kind het kanker en dít (soos die ander kinders) is hoe sy gaan

lyk.”Die oggend dat sy van Angie-Lee se hare wat uitgeval het op die kussing ontdek, was die laaste bevestigin­g dat haar dogter se toestand ’n werklikhei­d is. AngieLee moes ook gaan vir haar eerste operasie sodat die dokters haar een nier kon verwyder. Juanita het toe gehoor die kanker was al 50 cm in die nier versprei. “Ek het gewonder hoe gaan my kind met een nier klaarkom en watter lewe sy gaan hê. Die dokters het gesê ons moet ons op die ergste voorberei en bid dat die kanker nie na haar longe versprei nie.” Die gewag was vir haar baie moeilik. “Ek was baie bekommerd, want niemand sê niks, waar sy is en hoe die operasie afgeloop het nie. My man het hospitaal toe gekom en die suster het ons na haar geneem. Hy het sy hande in die wasbak gaan was, maar het net daar teruggedra­ai en uitgestap. Ek het bly wonder wat deur sy kop gegaan het toe hy haar daar sien lê – vol pypies en masjiene.‘Hoe kom jy dan net hospitaal toe om jou hande te was?’, het ek hom later gevra. Dit is toe dat ek my man vir die eerste keer sien huil en ek het agterna eers verstaan dat dit moeilik vir hom was om haar só te sien.” Ná die operasie moes Angie-Lee haar eerste chemoterap­ie-behandelin­g kry. Juanita sê daar was ook ’n tyd toe haar man die chemo wou stop omdat dit hul dogter so siek gemaak het, maar die dokters het hom aange- moedig om aan te gaan. Die dokters was agterna self mismoedig omdat hulle nie die resultate kon kry wat hulle wou hê nie, want alles wat hulle op daardie oomblik gedoen het, het nie gewerk nie, vertel Juanita.

EMOSIONELE IMPAK

As ma het sy haarself baie verwyt vir wat met haar dogter gebeur het. Sy onthou toe Angie-Lee ses maande oud was, het sy opgelet haar maag is bietjie hard en haar doek was menigmaal vir lang periodes droog. Iets was net nie reg met haar baba nie, maar sy wou nie spoke opjaag nie.

“Ek het myself baie verwyt omdat ek nie daardie tyd al iets gedoen het nie. As ek daardie tyd al my instink gevolg het, was die ding nie nou so groot en verspreid nie. Ek het baie skuldig gevoel en myself blameer vir my kind se lyding. Ek het partykeer net daar gesit en gedink, as ek haar net kan help om die pyn te verlig . . . Maar ek moes toekyk hoe sy ly,”sê Juanita, terwyl sy haar trane afvee.

“Dit was die moeilikste tyd in ons lewe en ek het op ’n stadium gesê die Here moet haar maar kom haal, want om haar so te sien suffer was nie lekker nie. Die 28 weke van chemo was sy baie siek. Ek wou agterna nie besoekers hê nie, want AngieLee kon nie verstaan hoekom gaan almal huis toe en ek en sy moet daar agterbly nie. Baie mense het gesê sy is sterk, maar ek het altyd gedink hulle weet nie waarvan hulle praat nie.

“Hier het ek besef dié is ’n stryd wat ek nie sonder God kan stry nie. Ek het baie geworstel met die saak en die aanvaardin­g dat my kind so ly. Ek het God verwyt omdat Hy nie wou help nie, totdat my man vir my gesê het ek moet begin bid.”

Familie van die Baileys het hulle baie bygestaan, sê Juanita. Baie gebede het vir hulle uitgegaan en Angie-Lee se toestand het die familie bymekaar gebring en ’n stewige band gevorm.

“Ná die operasie het die kanker met 25 cm afgekom. Die dokters het ons aangemoedi­g om moed te hou. Nog chemo was gedoen om te verhoed dat dit nie verder na ander dele versprei nie en dit het nie. Ek het hier gesien hoe lief dokters vir kinders word.” En uiteindeli­k was daar goeie nuus. “In Augustus 2016 het Angie-Lee die laaste chemo ontvang. Toetse is gedoen en die dokters het vir my gesê Angie-lee is heeltemal verlos en kankervry. Ek kan nie verduideli­k hoe gelukkig ek was nie. Die susters en dokters . . . almal was saam met ons bly oor die nuus,”vertel sy.

Juanita sê selfs die dokters is verras dat Angie-Lee nou in remissie is, want hulle was bang die kanker versprei na ander dele van die liggaam soos die longe.

Maar Angie-Lee se stryd is nog lank nie verby nie.“Die chemo het haar hart baie swak gemaak. Sy is tans op medikasie om haar hart te laat funksionee­r en sy is partykeer baie slaperig en moeg as gevolg van haar hart,”sê Juanita en voeg by kanker is ’n monster wat sy nie eens vir haar vyand sal toewens nie.

“Ons probeer haar handjies skoon hou en keer dat sy nie met dit in haar mond speel nie. As daar ’n puisie of iets is, kyk ek onmiddelli­k daarna. Ek moet sê ons is nou oorversigt­ig wanneer dit by Angie-Lee se gesondheid kom.”

Juanita sê Angie-Lee speel en hardloop nou rond vir die eerste keer in ’n lang tyd asof niks fout met haar is of was nie. Haar hare het ook terug gegroei.

“Ek hoop regtig sy sal alles doen wat ander kinders met twee niere doen,”sê Juanita hoopvol.“Ek lag baie keer oor die goed wat sy kwytraak. Baie keer kyk ek haar so aan, dan vra sy,‘hoekom kyk jy my’, dan wonder ek maar net is dit regtig dié kind wat so gely het. Ek sou dit nooit sonder die Here gemaak het nie.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO en LINKS: Juanita en Isaac Bailey is verlig dat hul dogter, Angie-Lee, se nierkanker in remissie is. BO: AngieLee in die hospitaal vir behandelin­g.
HOOFFOTO en LINKS: Juanita en Isaac Bailey is verlig dat hul dogter, Angie-Lee, se nierkanker in remissie is. BO: AngieLee in die hospitaal vir behandelin­g.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa