Kuier

Kortverhaa­l

Baie mense treur lewenslank oor die dood van ’n eggenoot. En hoewel jy voortleef ter wille van die kinders, is dit moeilik om nie te hunker na die verlede nie.

- Deur DELANIE FLANEGAN

Stadig en met veel gesukkel volg Karlien die paadjie af na die strand. Haar bene pyn en haar longe brand teen die tyd dat haar voete die sand vind. Sy soek ’n rots om op te sit en trek versigtig haar tekkies uit. Haar voete is nog mooi vir haar al is haar vingers besig om krom te trek van die rumatiek. Die sand voel heerlik onder haar tone en sy knyp dit sommer so tussen hulle vas. Die lug is sout teen haar lippe en sy maak haar oë toe terwyl sy haar kop lig, die wind klam teen haar wange. Agter haar hoor sy die kinders giggel en gefluister, “kyk vir Oumie”. Twaalf lange jare laas was sy hier; hier op haar en Bertus se gunsteling-plek en nou uiteindeli­k kan sy weer loop waar hulle altyd geloop het. “Kan ons help, Oumie? Ek sal Oumie se arm mooi vashou.”Klein Bertie sit sy hand onder haar arm. “Ag nee wat jong, Oumie kan self loop, ek is darem nie so oud nie.”Karlien vryf saggies oor sy kop en begin dan aanstap deur die

los sand. Nader aan die water is die sand klam en fermer, en nou stap sy regtig meer gemaklik. ’n Brander se wit kielie liggies teen haar bene terwyl die wind met sy vingers oor haar gesig speel. Die water is lekker koel.

“Oumie, ons gaan so ’n bietjie teen die duine hardloop. Sal jy oukei wees hierso?” vra Bertie.

Wanneer het dinge verander dat dit nou die kinders is wat na haar wil omsien? “Dis reg so, ek stap maar hier by die water. Moet net nie te ver weggaan nie hoor,” maan sy met ’n glimlag.

Sy stap ’n bietjie dieper die water binne; dis hemels om weer die water te kan voel. Die moegheid van die jare val van haar af. Die elke dag se kook, skottelgoe­d was en stryk, raak verlore in die wind se waai en die styf en stramheid van haar lyf word weggewas soos die water teen haar liggaam spoel. Twaalf jaar sonder haar Bertus is ’n ewigheid wat sy nooit gedink het sy sal sonder hom moes of kan loop nie. En tog, hier is sy nou, hier op haar en Bertus se strand terwyl die kinders agter haar teen die duine baljaar. Ai, hy het nooit eens die kans gehad om sy kleinkinde­rs te sien nie en dit was iets waarna hy so uitgesien het.

“Onse Petrus gaan sommer vir ons mooi bulletjies maak, nè Mamma,”het hy altyd geterg en dan so onderdeur sy bril vir Petrus en Minette geloer.

Minette, wat soos ’n dogter vir haar is en wat nou saam met Petrus in die motor sit en wag.“Ai Ma, ek wil so graag saamstap maar tussen Petrus en die dokter …”het sy gemaak vies vir haar man gefrons. Maar Karlien weet Minette is heimlik bly dat haar man haar so bystaan deur hierdie moeilike swangerska­p. Met die eerste twee was Petrus baie doenig op die plaas en was dit net hulle twee vroue wat moes sorg dat als aan die kook bly.

“Oumie, Oumie, kyk vir my!”Santie se klokhelder stemmetjie roep Karlien terug na die hede en sy lig haar hand om vir die tweeling te waai. Bertus sou soveel plesier uit hierdie twee woelwaters gekry het, dink sy en waai weer ’n keer wanneer Bertie ook roep dat Oumie moet kyk.

“Ma, dis tyd dat jy die verlede los en dis al hoekom ek jou weer soontoe vat,”het Petrus gesê toe haar hart te veel begin roep het. Petrus wou nooit hiernatoe kom nie en hy dink nog altyd dat dit ’n verkeerde ding is om hier te wees.

“Los die verlede in die verlede,”is sy spreekwoor­d waarmee hy leef, sy lewensuitk­yk is om vorentoe te kyk.

Petrus het haar strand toe gebring om totsiens te sê, om daardie deel van haar lewe soos ’n boek toe te maak wat klaar gelees is sodat sy ’n nuwe boek kan begin.

Die ding is dat sy nie regtig die boek wil toemaak nie; daar was nog so baie wat sy self daarin wou skryf. Dit was toe nie beskore dat sy en Bertus hul goue jare saam stap nie, dit is maar soos die spreekwoor­d lui:“Die mens wik maar God beskik.”

Sy gaan sit op ’n groot rots en trek die seelug diep in haar longe.“Ek mis jou my man, so verskrikli­k meer en meer!”

Nee wat, sy is mos nie ’n morbiede mens nie. Sy het nog so baie in haar lewe, Petrus en sy Minette is goed vir haar en dan is daar die tweeling en nou die nuwe kleinding wat eersdaags sy verskyning gaan maak. Ja, die lewe is tog nog soet.

“Ma!”Sy kyk op in die rigting van die parkeerple­k. Petrus wink vir haar en dan draai hy om die kinders te roep.

“Ag Pa, nog so bietjie ’seblief,”kla klein Bertie. Nes sy is hy nie nou al lus om huis toe te gaan nie.

“Mamma is moeg,”verduideli­k Petrus en draai dan weer in haar rigting.

Karlien lig haar hand in haar seun se rigting. Vir oulaas kyk sy uit oor die water, die water wat Bertus daardie dag kom haal het en nooit teruggebri­ng het nie. Hulle het hier kom stap om planne vir hul aftrede te maak. Hier naby die strand wou hulle hul aftreehuis­ie bou. Bertus was gesond en sterk en wou net gou swem voor hulle die eiendomsag­ent moes ontmoet. Maar die gety was sterk en sy wat Karlien is, was nog nooit ’n wafferse swemmer nie . . .

Die moegheid is terug as sy deur die los sand parkeerter­rein toe terugstap. Die kinders hardloop soos bokkies teen die sand voor haar uit en sy wens sy kon ook nog só die krag in haar lyf voel. Die pyn brand weer skerp in haar longe en sy gaan staan om asem te skep. Die pyn word skerper . . .

“Ma, wat’s verkeerd?”Petrus se stem klink so ver.

Haar oog vang ’n beweging daar waar die branders breek. ’n Man, jonk en sterk wat met lang treë nader stap.

Is dit sy wat daar op die warm sand lê? Nee, dit kan nie sy wees nie, want haar kaalvoete hardloop nou so vlugtig oor die sand.

Die jong man maak sy arm vir haar oop, vang haar en swaai haar deur die lug. Haar lyf is jonk en soepel as sy haar arms om sy nek gooi.“Bertus!”

Sy hand vou om haar vingers en met ’n lag van vreugde gooi sy die laaste van haar lewensmoeg­heid af. Hand-aan-hand dans hulle oor die sand, nes dit behoort te wees. Karlien en Bertus saam.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa