Kuier

’N PA SE HARTSEER

Sy sepiekarak­ter waardeer nie sy kinders nie, maar hy het sy eie seun verloor en weet hoe seer dit maak.

- DEUR ERNUSTA MARALACK

Om liefde te vind, was twee jaar gelede die laaste ding op die akteur Abduraghma­an Adams (47) se gedagtes en hy het nie eens gespeel met die idee van pa-word nie. ’n Groot verantwoor­delikheid waarvoor hy vir eers sy loopbaan op ys gesit het, het toe op sy skouers gerus . . . Abduraghma­an moes sy sterwende oudste suster, Fatiema, op haar laaste dae versorg.

Die liefde het egter ’n manier om jou ’n uitklophou te gee wanneer jy dit die minste verwag of ophou daarna soek, het Abduraghma­an, Suidooster se slinkse Ian October, uitgevind. So, toe die liefde aan sy deur kom klop en hy vir Saliegah (41) ontmoet in ’n tyd toe hy ’n skouer nodig gehad het om op te huil, het hy nie dat die omstandigh­ede rondom hul ontmoeting hom keer om sy hart te volg nie. (Sy het gehelp om na Fatiema om te sien.)

En in elk geval, sê Abduraghma­an met ’n sagte glimlag, Fatiema het tot in sy hart gesien. Hy was binne drie dae smoorverli­ef en het nie gras onder sy voete laat groei nie. Hy het vir Saliegah gesê hoe hy oor haar voel en sowat vyf maande later was hulle getroud.

’n Warrelwind-romanse sal sommige dalk sê, maar vir Abduraghma­an het Allah sy gebede verhoor“en dit was nie asof ons 18 of 24 was nie”. Hy het vir ’n sielsgenoo­t gevra en dit was Saliegah. Maar toe Saliegah swanger word en Abduraghma­an op sý ouderdom vir die eerste keer iemand se biologiese pa sou word (hy’t baie susterskin­ders wat soos sy eie kinders is), was die gevoel van geluk en

vervulling onbeskryfl­ik.

Maar netso onbeskryfl­ik is die pyn en verlies wat hy ervaar het toe hul seun, Abdu Shakur, ná ’n moeilike swangerska­p in Augustus verlede jaar op sewe maande stilgebore (stillborn) word.

Saliegah het aan ’n toestand genaamd plasenta previa gely, wat onder meer veroorsaak dat die plasenta verkeerd lê. Haar plasenta het by die serviks gelê, wat veroorsaak het dat Abdu Shakur nie die nodige suurstof en voedingsto­wwe gekry het nie. Saliegah het ’n week voordat dokters Abdu Shakur sou uithaal, komplikasi­es ondervind en hul seun is stilgebore.

’n iNTENSE TYD

Dit was ’n intense tyd vir Abduraghma­an en Saliegah, want die dokters wou hê Saliegah moes op ses maande hul kind aborteer. Dokters het gesê hulle altwee sou nie die geboorte oorleef nie, maar Saliegah, reeds ’n ma van drie kinders uit ’n vorige huwelik, het geweier.

Abduraghma­an, wat ook ’n vroedvrou (midwife) is, was die heeltyd bewus van alles wat verkeerd kon gaan en was baie nervous, maar het steeds probeer om in die euforiese oomblikke van ’n verwagtend­e pa te lewe.

Maar toe sterf Abdu Shakur en saam met hom Abduraghma­an se kans om vir die eerste keer in sy lewe biologies pa te word. Om iemand in hierdie wêreld in te bring en hom te sien grootword; om te sien hoe sy persoonlik­heid en karakter gevorm word – dít alles was eensklaps weg. Daardie oombliklik­e band wat tussen ouers en kinders gesmee word, was nie vir hom beskore en sal dalk nooit wees nie.

Maar hoewel Abduraghma­an hartseer en stukkend is oor sy seun,“wat perfek was by geboorte”, glimlag hy soos net ’n pa kan wanneer hy sê:“Abdu Shakur het ons guardian angel geword”.

SUKKEL OM TE ROU

Abduraghma­an gesels openhartig in ’n eksklusiew­e onderhoud met Kuier oor hierdie moeilike tyd in sy lewe. Sy hartseer sit nie noodwendig in sy woorde of sy mond wat maklik lag en glimlag en grappies maak nie.

Dit sit in sy oë wanneer hy onwillekeu­rig daardie dag in die hospitaal onthou toe sy vrou geboorte skenk, maar aan ’n lewelose liggaampie. Lank en perfek gevorm, maar steeds leweloos. Geen eerste asemteug wat gevat word nie en geen eerste groot huil nie. Net hy en Saliegah se harte wat dawerend en hoopvol klop vir ’n wonderwerk, maar wat geantwoord word met ’n doodse stilte.

“Hy (Abdu Shakur) was volledig gevorm – hy het sulke lang bene, tien vingers en tien tone gehad. Ek het hom gesien toe hy uitpop. Dit was erg,”sê Abduraghma­an, wat as TV-pa Ian October, nie sy kinders of vrou waardeer nie. Die man wat met ons gesels, is in karakter en persoonlik­heid ver verwyderd van sy koue Suidooster

karakter. Abduraghma­an is sag, liefdevol en compassion­ate en dit maak dit nóg meer hartseer om te hoor waardeur hy is.

Wat die oomblik met Abdu Shakur se geboorte selfs moeiliker gemaak het as wat dit reeds was, was toe aanhangers in die hospitaal saam met hom ’n foto wou neem terwyl Saliegah in kraam was. Hy hou nie van die celeb-kultuur nie, maar sal nie vir iemand nee sê as hulle vir ’n foto vra nie. Maar op daardie rou oomblik het hy gewens hy was nie bekend nie sodat hy met sy emosies kon probeer deal sonder ekstra pare oë op hom.

Dit was juis wat so moeilik was – die rouproses. As iemand wat in die verpleegku­nde gewerk het, baie familieled­e verloor het en sy eie suster op haar sterfbed versorg het, was Abduraghma­an gewoond aan die dood. Hierdie keer was die wond egter soveel dieper.

“Ek het nie geweet hoe om te rou tot ’n paar maande gelede toe ek ’n toneel in

geskiet het en besef het ek gaan nie my seun sien grootword nie. Ek deal anders met die dood omdat ek al so baie mense daaraan afgestaan het. Maar die verpleegku­nde het my geleer om present en in the moment te wees. Daarom was ek meer van ’n expectant-pa en het myself verwyder as Saliegah en die dokter besig was,”maak Abduraghma­an oop.

‘GOD SE BESTUUR’

Saliegah se laatlam en Abduraghma­an se eerste kind is nie meer hier nie, maar as ’n paartjie fokus hulle op die positiewe en dra hulle mekaar nou. Hulle berus hulself ook by God se wil, sê Abduraghma­an.

“Dit was God se bestuur dat my seun elders heen moes gaan. In Islam (die Moslem-geloof) glo ons jou kind wag vir jou by die deure van die hemel. Daarom kan ons nie te lank mourn nie. My vrou is ook só sterk en positief,”sê Abduraghma­an oor wat hom deurdra.

Hy het hom berus by sy seun se dood, maar erken dit vang hom wanneer hy iemand sien wat saam met hulle swanger was en nou hul baba vashou.“Dis nie lekker nie,”kry Abduraghma­an sag uit.

Dan is die terggees terug wanneer hy sê Abdu Shakur is in dieselfde gat as sy oorlede ma en suster begrawe en dat hy seker is hulle hou nou ’n tea party!

Abduraghma­an, wat ook vir ’n SuidAfrika­anse Film- en Televisie-toekenning (Safta) benoem is in die kategorie beste ondersteun­ende akteur vir sy rol in Noem

My Skollie, sê Abdu Shakur het ook geaffektee­r hoe hy sy rol as die gewetenlos­e Ian October aanpak.

“Ek probeer ’n sagter kant van Ian October uitbeeld. Met die hele Nicci-ding (sy TV-dogter se eetsteurni­s-storielyn) het ek dinge anders benader.”

Ja, hy weet sy kanse om ’n biologiese pa te word is dalk verby, maar hy is en was ’n vaderfiguu­r vir familiekin­ders en is nou ’n mentor vir Saliegah se drie kinders, Abubakr (22), Asheeqah (18) en Sadia (16), wat hom met ope arms aanvaar het. En hy is geseënd om ná al die seer steeds sy sielsgenoo­t, Saliegah, aan sy sy te hê.

“Ek dink nie enige man moet gejudge word oor sy manlikheid op die basis of hy ’n pa is of nie. Jy verstaan nie altyd goed wat met jou gebeur nie, maar soms moet jy aanvaar; soms moet jy net in God vertrou,”sluit Abduraghma­an af voordat hy gereed maak om weer in sy rol as Ian October te klim.

 ??  ?? HOOFFOTO: Daar skuil veel meer agter Abduraghma­an Adams as wat jy sou dink. REGS: Abduragmaa­n speel Ian October in Suidooster. ’n Toneel uit die sepie saam met Danny Ross wat Jerome, Ian se seun, speel.
HOOFFOTO: Daar skuil veel meer agter Abduraghma­an Adams as wat jy sou dink. REGS: Abduragmaa­n speel Ian October in Suidooster. ’n Toneel uit die sepie saam met Danny Ross wat Jerome, Ian se seun, speel.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa