Kuier

Boelies op jou skerm

Tegnologie het cyberbully­ing vererger en kan lewensgeva­arlik wees. Leer jou kind om waaksaam te wees vir mense wat hulle op sosiale media teiken. DEUR tarren-lee habelgaarn

-

Elke sosiale netwerk of nuwe app wat mense ontwikkel het ten doel om jou lewe makliker te maak, maar dit het ook die potensiaal om jou lewe in ’n nagmerrie te laat ontaard.

Almal spandeer deesdae al hoe meer tyd op sosiale media, maar daar word nie altyd gedink oor hoe die wyse waarop hulle tegnologie benut, hul verhouding­s met ander kan opbou of beskadig nie.

Tegnologie maak dit ook makliker vir kinders om geboelie te word omdat daar ’n groot gehoor is, jy anoniem kan bly en die boodskap onmiddelli­k gedeel word.

Cyberbully­ing is ’n vorm van afknouery wat met behulp van tegnologie plaasvind. Voorbeelde van cyberbully­ing sluit in afbrekende SMS-boodskappe, gerugte wat per e-pos gestuur word of op sosiale media gedeel word. Dit kan ook foto’s, video’s, webwerwe of vals profiele insluit wat mense in die verleenthe­id kan bring.

Enige elektronie­se tegnologie insluitend selfone, rekenaars en tablette sowel as kommunikas­ie-instrument­e soos sosiale media-webwerwe en mobile chat sites, kan vir cyberbully­ing gebruik word.

Elke nou en dan hoor ’n mens van sulke voorvalle in die media, soos in Oktober verlede jaar toe die internet gegons het oor ’n video wat op Facebook gedeel is. In hierdie video het ’n 16-jarige meisie van Kaapstad en haar vriendin ’n ander leerder beledig en gedreig.

“Let the police escort you home, because if they don’t I’m going to escort you to your grave,”is onder meer in die video gesê. Hulle het nie hul gesigte weggesteek nie en die media het wyd daaroor

berig. Die Wes-Kaapse onderwysde­partement het kort ná die voorval in ’n verklaring bevestig dat die meisies geskors is, hangende dissiplinê­re aksie en berading. Die meisie het ook later op Facebook om verskoning gevra. slagoffer op skool Dis as gevolg van sulke voorvalle dat die angsbevang­e Aaron Kennedy (17) van Athlone op die Kaapse Vlakte bly was toe die mobile chat site Mxit aankondig dat hulle dié sosiale app gaan toemaak.

Chatrooms soos Mxit is iets waarby talle mense wat mekaar ken of nie ken nie, kan aansluit en gesels. Daar is geen privaathei­d nie en almal kan sien wat mense vir mekaar sê. Dit word dikwels onder jongmense gebruik om nuwe mense te ontmoet. Dit is ook een van die grootste platforms waar cyberbully­ing plaasvind omdat mense nie nodig het om hul eie name te gebruik nie.

Aaron moes op die harde manier leer hoe om dit te hanteer en ’n dik vel te hê. Hy was altyd ’n gelukkige kind met ’n sterk persoonlik­heid wat spansport gespeel en vinnig vriende gemaak het. Hy het nooit toegelaat dat dinge soos groepsdruk of skinder hom onderkry nie. Hy het geweet dit gebeur met baie kinders, maar toe dit met hom begin gebeur, het dit sy hele persoonlik­heid verander.

Die afknouery het in gr. 9 begin en vir ’n jaar aangehou en hoewel hy nie meer ’n slagoffer is nie, kan hy nie wag om skool klaar te maak nie. Die geboelie het begin met ’n foto van die lang, dun voormalige hokkiespel­er wat rondgestuu­r is op verskeie chat-groepe, waarin mense grappies oor hom gemaak en hom soms lelike name genoem het.

Sy lengte het hom nooit vantevore gepla nie, maar toe mense by die skool hom gedurende klastye ook begin boelie en vir hom lag, het dit hom baie seergemaak. Dit het erger geword toe kinders buite die skool ook vir hom by plekke soos sy kerk se jeug-byeenkomst­e begin boelie het oor foto’s wat ook na hulle toe gestuur is.

Dit het sy vertroue en selfbeeld begin afbreek en hy het teruggetro­kke geraak. Vir ’n oomblik is daar stilte en dan vertel hy in ’n huiwerige stem hoe depressief hy geraak het.

“Ek wou net alleen wees. Ek het myself geïsoleer en wou nie my foon gebruik nie. Ek was skaam en wou nie rondom mense wees nie, want ek het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie.

“Kinders kan baie onbeskof wees en weet nie altyd hoe seer hul woorde maak nie. Hulle dink dit is ’n grap, maar vir my was dit nie,”sê hy.

“Ek het ophou spansport speel. Ek het gewens ek was korter en meer begin eet om nie so dun te wees nie, maar my lengte laat dit lyk asof ek dunner is as wat ek regtig is. Toe my ouers sien dat ek nie uitgaan of sport doen nie, het hulle met my gepraat. Dit het my beter laat voel om oor my gevoelens te praat. Ek het ook met my jeugleier gaan praat en besef daar is niks verkeerd met my nie. Ek voel deesdae beter oor my selfbeeld, maar kan nie wag om die skool te verlaat nie.” ander ook geteiken Mense word soms ook op Facebook, WhatsApp en Twitter geteiken, maar ’n ander groot platform vir cyberbully­ing is die webtuiste OuToilet waar mense onder ’n skuilnaam vals en onbeskofte goed oor ander sê.

Alisha Owen (15) van Lansdowne in die suidelike voorstede van Kaapstad, was al ’n slagoffer van leuens op OuToilet. Kinders het gerugte versprei dat sy seksuele gunste vir seuns op die skool doen en selfs vir onderwyser­s. Enigiemand, insluitend haar ouers, kon die boodskappe sien en sy het nie geweet wat om te doen nie. Sy het angstig begin voel en dat mense haar snaaks aankyk.

“Dit het my gepla wat mense van my dink omdat alles onwaar was. Ek was bekommerd dat dit mense en veral my ouers en familie se persepsie van my sou verander. Ek het ook nie geweet hoe om die seuns en my onderwyser­s in die oë te kyk nie. Ek het ’n berader gaan sien en sy het my gehelp.

“My ouers was ook kwaad toe hulle uitvind en ons het by die skool daaroor gaan kla, maar hulle kon niks doen nie omdat ons nie die kinders se regte name gehad het nie en ons nie geweet het wie die goed sê nie.”

Hoewel dit nie meer gebeur nie, was dit baie traumaties. Alisha raak elke nou en dan steeds op haar senuwees wanneer haar foon lui of as ’n boodskap deurkom. dis lewensgeva­arlik Volgens opvoedkund­ige sielkundig­e Liane Lurie, word kinders wat die slagoffer van cyberbully­ing is, ook meestal persoonlik geboelie. Die grootste verskil tussen cyberbully­ing en gewone boelie is dat cyberbully­ing 24 uur per dag kan plaasvind. Dus kan kinders nooit regtig daarvan wegkom nie en dit is hoekom dit so gevaarlik is, veral wanneer ’n kind alleen is.

Liane verduideli­k verder dat boodskappe en beelde anoniem geplaas kan word deur cyberbully­ing en vinnig na ’n baie wye gehoor versprei word. Dit kan ook moeilik en soms onmoontlik wees om die bron op te spoor.

“Dit is hierdie dinge wat cyberbully­ing so gevaarlik maak en sommige kinders selfs tot selfmoord kan dryf. Om intimidere­nde of onvanpaste boodskappe en foto’s te verwyder, kan baie moeilik wees. Sodra dit op die internet is, dan is dit daar, al verwyder jy dit van jou foon af,”sê sy.

“Sosiale media kan gebruik word vir positiewe aktiwiteit­e, maar hierdie instrument­e kan ook gebruik word om ander mense seer te maak. Of dit nou persoonlik of deur middel van tegnologie gedoen word, die uitwerking van afknouery is soortgelyk in albei gevalle.”

Sy waarsku kinders wat die slagoffers van cyberbully­ing is, is meer geneig om swak te doen op skool; hulle wil dalk uit die skool bly; hulle het ’n swakker selfbeeld en sal soms gesondheid­sprobleme ontwikkel.

Liane raai ouers aan om gereeld met hul kinders te praat om uit te vind hoe dit met hulle gaan. Ouers moet ook bewus wees van veranderin­ge in hul kinders se persoonlik­hede en gedrag asook gereeld kyk wat op hul selfone aangaan. Dit is ook belangrik dat ouers aandring om deel van hul kinders se followers of vriende te wees op sosiale media, sodat hulle kan sien wat hul kinders deel.

“Dit kan moeilik wees om jou hoërskoolk­inders se foon in die hande te kry, maar dit is belangrik om te weet waaroor jou kind praat en waarna hulle kyk. Jou kind moet steeds voel dat jy hul privaathei­d respekteer, maar om dit elke nou en dan te doen, sal hulle meer versigtig maak.

“Praat ook met jou kinders oor sosiale media en hoe die verkeerde aksies ander kan seermaak.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa