Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Maak nie saak wat oor jou pad kom nie, hou jou kop omhoog en waardeer die klein dinge wat belangrik is in die lewe.

- Deur Aubrey Small

Jare gelede het ek op skool ’n onderwyser gehad; van die ouer garde wat dateer uit ’n tyd toe stoele nog sonder skroewe gemaak is en die dag se melk vroegmôre by die hek afgelewer was. Hy het die vermoë gehad om ’n geskiedeni­sles soos ’n rolprent in jou verbeeldin­g te laat afspeel. Die klas was stil wanneer meneer besig was met sy les, want jy raak in vervoering met sy vertelling van die gebeure.

Saam met mense wat toe lank reeds nie meer op hierdie aarde leef nie, trap jy deur die modder en klei van die oorlogspaa­ie. In die strate van Parys ruik jy die bloed wat vloei vanaf die guillotine in die malle nadraai van die Franse Revolusie. In die oorlogsget­eisterde stede van die Tweede Wêreldoorl­og, kyk jy moedeloos toe wanneer bomme huise en lewens vernietig. Ons sit nog so in vervoering en luister na hom, dan skuif hy sy bril reg op sy neus, loer dan bo-oor die raam met sy gesig steeds afwaarts gewend en beveel dan hardop, ”SKRYF!”.

In hierdie tyd het ons ’n boek behandel oor ’n man wat op ’n dag loop en wonder het oor die skoonheid van die natuur. Hy het die soet reuk van katjiepier­ingboom verwelkom, terwyl die koel lentewind liggies by hom verbyspeel. Die getjirp van die voëls in die bome het die seisoen wat ná die lang winter uiteindeli­k aangebreek het, aangekondi­g. Sy lewe was sorgeloos en hy was tevrede. Terwyl hy nog so loop en bepeins, merk hy ’n muntstuk lê op die grond. Hy stop, buk en tel die muntstuk op. Dit was van onskatbare waarde en veran- der sy lewe merkwaardi­g. Skielik het hy die vermoë om sy lewenstand­aard, asook dié van sy gesin, te verbeter. Dinge verander só vinnig, hy besef nie eens dat hy mettertyd die gawe verloor het om die mooi van die natuur te waardeer nie. Wanneer hy loop, is sy kop gereeld afwaarts gerig, want hy is bang dat hy dalk die kans sal verbeur om weer ’n muntstuk op te tel. Só het die seisoene in jare verander en die man het steeds geloop met sy gesig na die grond. Sy rug was krom getrek van die jare se loop en grond toe kyk. Eendag het hy moeg geword, op ’n bankie gaan sit en besef dat hy nou ’n ou man is wat in sy soeke na nóg ’n muntstuk, die mooi van die lewe gemis het. In daardie stadium van my lewe was ek vasbeslote om nie op te eindig soos daardie man nie. Tog besef ek vandag dat ’n mens nie die alleenskry­wer van jou verhaal is nie. Die lewe het ’n manier om gedeeltes van jou lewe te redigeer en aan te pas. Ek kyk op en besef dat meer jare al deur die sterk stroom van tyd meegesleur is; en daarmee saam het dierbare familie, vriende en geliefdes die tydige met die ewige verwissel. Die lewe gaan nogmaals aan; die seun het ’n jongman geword; die jongman ’n ouer en die verantwoor­delikhede is nou meer. Werk in hierdie eeu het ’n totaal ander betekenis gekry. Met tegnologie so deel van ons lewens, is werk nie meer net kantoorure nie. ’n Mens se werksdag bly aangaan, want die selfoon biep-biep boodskappe uit soos die tjirp van die voëls wat nou reeds lank stil is. Die lewe het nie meer perke nie. Die strewe na sukses het ontaard in ’n wilde jaagtog, waar tyd die bepalende faktor van alles geword het. Stresverwa­nte siektes is aan die orde van die dag, maar die werk gaan nogmaals aan. Groter winste en beter markaandee­l het nou die welstand van die mens getroef.

Gedurende die feesseisoe­n laasjaar werk ek vir ’n paar aande laat. Toe ek een aand so kort ná 02:00 die deur oopsluit, vind ek my seuns steeds besig om TV-speletjies te speel. Ek sit so ’n tydjie en hou hulle dop, gesels bietjie en nie lank daarna nie, gaan slaap hulle. Terwyl ek wag dat die slaap my ook oorval, besef ek dat hulle eintlik wakker gebly het om te sien dat ek veilig tuis gekom het.

Ek besef dat ek nou die man geword het wat na die grond staar en soek na die muntstuk. Soos ek my kop neerlê op die kussing, dank ek die Vader vir nog ’n dag wat verby is onder Sy genade. Ek beloof om môre weer op te kyk, die lewe te waardeer en oor te begin. Nog een dag Heer, bid ek, nog een dag.

Tog besef ek vandag dat ’n mens nie die alleenskry­wer van jou verhaal is nie. Die lewe het ’n manier om gedeeltes van jou lewe te redigeer en aan te pas.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa