Kuier

My getuienis

Hy is ’n dominee wat nou self deur diepe waters gaan weens ’n seldsame siekte wat sy spraak en spiere aantas. Maar hy druk deur, bly glo in God se plan en bemoedig steeds ander.

- DEUR ANGELO JULIES

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop en om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Maar wat gebeur wanneer jou geloof só getoets word dat jy hopeloos en nutteloos voel? Jy glo selfs meer!

Só meen ds. Chris Phillips van Worcester in die Wes-Kaap, wat vir bykans 15 jaar dié boodskap van geloof en hoop van die kansel af gepreek het. Maar vandag staan hy voor ’n kruispad om dieselfde boodskap uit te leef en in sy eie lewe toe te pas.

Chris was ’n prediker van formaat en ’n uitstekend­e sportman, maar deesdae, op 39-jarige ouderdom, vind hy dit moeilik om selfs eenvoudige dinge soos loop en praat met gemak te doen.

Chris ly aan degenerati­ewe spinosereb­ellêre ataksie, ’n seldsame oorerflike siekte wat die menslike beweging en spraak aantas. Hy is sowat vyf jaar gelede met die siekte gediagnose­er, maar dit het twee jaar gelede erger begin word; soveel so dat hy op 37 op mediese pensioen moes gaan.

“Ons het altyd geweet daar is ’n kans dat hy die siekte sou kry, maar ons het ook gehoop en tot God gebid dat hy dit nie sou kry nie.

“Sy pa het twee jaar gelede aan dieselfde siekte gesterf en twee van sy neefs en sy antie ly ook aan die siekte. In Worcester staan dit bekend as die ‘Phillips’-siekte’,” sê Chris se vrou, Natasha.

“Ek het selfs gebid dat God eerder vir my die siekte moet gee, want hy werk in die veld vir God en die Woord sê die‘oes is groot, maar die arbeiders is min’en hy is dan so ’n kragtige prediker,”sê sy.

Natasha vertel dat hulle as gesin die afgelope paar jaar baie uitdagings ervaar het, maar elke keer die uitdagings oorkom het.

“Die afgelope paar jaar was baie moeilik vir ons as gesin omdat ons gewoond was Chris doen alles . . . maar skielik het alles verander.

“Hy kon minder dinge vir homself doen en die kinders moes help waar hulle kan. Dis veral moeilik vir die kinders, want hy mis uit op baie goed waaraan hulle deelneem. En dit frustreer hom ook baie dat hy nie daar kan wees vir hulle nie.” nie ’n straf van God Die egpaar het twee kinders, Chris Junior (12) en Eden (11), en volgens Natasha het hulle van kleintyd af ’n nou band met hul pa.“Hy het van babatyd af na hulle altwee omgesien. Hy was die een wat doeke omgeruil, winde uitgeklop en hulle skool toe geneem het.”

Natasha vertel dat hulle as paartjie aan die begin van sy siekte baie geworstel het met God oor sy siektestoe­stand; soveel so dat hulle hulself afgesonder het in gebed

en selfs gereinig het voor God.

“Ons het gevas en gebid sodat hy nie die siekte sou kry nie, maar ons besef God het anders besluit.”

Natasha meen dit is juis moeilik vir hulle om hul geloof uit te leef omdat mense hulle sien as gelowiges en mense wat veronderst­el is om aan God te glo te midde van alles.“Maar dit is juis hoekom dit so moeilik is, mense vergeet ons is ook net gewone mense,”voeg sy by.

Op die oog af is dit moeilik om te glo dat die paartjie deur sulke diep waters gaan, want hulle het altyd ’n glimlag op hul gesigte en is baie openlik oor hul geloof.

Natasha sê daar is mense wat vir hulle vra wat hulle gesondig het dat God Chris met die siekte straf.“Maar Chris sê altyd God straf hom nie,‘Hy toets ons geloof’.”

Chris se spraak is aangetas en hy praat moeilik. ”Daar is nie altyd sommer ’n antwoord vir wat met ons gebeur in die lewe nie. Maar in ons omstandigh­ede moet ons die Here dank.

“Dit is waaraan ons moet vasklou en besef dat dit wat met jou gebeur, is nie altyd jou skuld nie. En dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor God en wat Hy vir ons doen en kan doen. Sommige dinge gebeur net en daar’s nie antwoorde nie,”sê Chris moeisaam.

Hy sê dit is vir hom veral moeilik omdat daar niks fout is met sy brein nie.

“Ek kan net nie uitvoer waaraan ek dink nie. Of vir iemand verduideli­k wat ek wil hê nie – dít maak my baie gefrustree­rd.”

Natasha sê daar is tye wanneer hy in depressie gaan en dan met niemand praat nie.“Dit is dan wanneer hy hom ook self afsonder in gebed. Ek kan sien dit is moeilik vir hom, want hy was al die jare die broodwinne­r en nou is ons rolle omgeruil.”

Sy meen sy siekte raak nie net vir hom nie, maar almal rondom hom.

“Dit is vir my en die kinders hartseer om hom só te sien, want ons was gewoond hy doen alles vir ons en nou kan hy nie meer nie. Ek dink ook die feit dat dit oorerflik is en daar die moontlikhe­id is dat een van die kinders ook die siekte kan kry – iets waarvoor ons bid nie moet gebeur nie – maak dit nog moeiliker. Maar ons probeer altyd positief bly en Chris bemoedig ons gereeld,”sê Natasha.

hoop vir genesing

Vir Chris is sy siekte ’n ware toets van sy geloof.“Daar kom tye in ons almal se lewens dat ons nie verstaan wat met ons gebeur nie en ons bevraagtek­en God daarop, maar ten spyte van dit alles, dra die Here ons deur dit. Dit is soos die storie van die twee rye spore wat later een ry geword het – dit is in die moeilike tye wanneer God ons dra. En nou in my toestand ervaar ek dit baie. Mense wil sê dis die Here wat my straf, maar hulle verstaan nie Sy plan nie,” sê Chris.

“Ja, ek voel soms hopeloos en nutteloos en verlang om daar te wees wanneer Chris Junior en Eden sport doen of om net met my vrou te gaan stap. En dit is frustreren­d, maar ek weet God het ’n plan vir my lewe en dan skep ek weer moed uit Romeine 8:28:‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is’. ”

Natasha sê hulle probeer steeds ’n normale lewe lei as ’n gesin en meen dat dit glad nie hul verhouding as paartjie geraak het nie.

“Ons is steeds so lief vir mekaar soos toe ons ontmoet het. Ons spandeer steeds kwaliteit-tyd met mekaar alleen.”

Sy voeg opgewonde by dat daar wel hoop is dat hy genees kan word deur behandelin­g wat in China beskikbaar is.

“Ons is baie bly dat daar moontlik deur middel van stamseloor­planting genesing vir sy siekte is. Hierdie behandelin­g neem gewoonlik twee weke en sluit binne-aarse behandelin­g en lumber puncture in. Die behandelin­g kos sowat R400 000.”

Natasha het saam met vriende ’n Facebookbl­ad,“Lets help Chris”, geskep waarin hulle 400 mense uitdaag om elk R1 000 vir die doel te skenk.

“Dit hoef nie noodwendig R1 000 te wees nie. Elke bietjie sal help, maak nie saak hoe gering nie. Nie net geld is welkom nie, gebede, liefde en gedagtes is ook meer as welkom,”sê Chris.

Vir meer inligting oor hoe om ds. Chris Phillips te help, besoek die Facebookbl­ad by www.facebook.com/Lets-Help-Chris of kontak Natasha by 079 502 3387.

Ons het gevas en gebid sodat hy nie die siekte sou kry nie, maar ons besef God het anders besluit. Natasha Phillips

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Ds. Chris Phillips (39) laat nie sy siekte hom onderkry nie. MIDDEL: Chris met sy gesin, vrou Natasha, dogter Eden (11) en seun Chris Junior (12). LINKS: Chris en Natasha op hul troudag.
HOOFFOTO: Ds. Chris Phillips (39) laat nie sy siekte hom onderkry nie. MIDDEL: Chris met sy gesin, vrou Natasha, dogter Eden (11) en seun Chris Junior (12). LINKS: Chris en Natasha op hul troudag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa