Senatla, die Spoedvraat
As seuntjie in ’n klein dorpie het dié Blitzbok groot talent openbaar. Maar dis slegs deur harde werk dat hy vandag die vrugte pluk. DEUR ERNUSTA MARALACK
die Springbokke mag dalk nou nie die beste tyd beleef nie, maar as daar tans een rugbyspeler is wat die hele Suid-Afrika in vervoering het sodra hy die bal in sy hande het, is dit die sewesspeler en Blitzbok Seabelo Senatla.
Die 24-jarige Seabelo het onlangs by die Stormers aangesluit en trek dalk eersdaags ook ’n vyftienman-Springboktrui oor sy kop nadat hy by die Springbok-oefengroep ingesluit is. Hy is nog nie eens regtig in sy middel-twintigs nie, maar geniet groot sukses en het al ophou tel hoeveel drieë hy in sy sewesrugbyloopbaan gedruk het.
“Ek dink 190 drieë,”sê Seabelo ongeëerg asof dit nie regtig iets is om oor huis toe te skryf nie. Hy is uit met een drie, want volgens sy statistieke op die HSBC World Rugby Sevens se webtuiste, het Seabelo tot dusver 189 drieë agter sy naam. Sy uitmuntende vertoning in sewesrugby het ook glad nie ongesiens verbygegaan nie en hy is in November verlede jaar deur die World Rugby-liggaam as die World Rugby Sevens Player of the Year aangewys.
So vir ons is dit beslis iets om oor huis toe te skryf, want hierdie Blitzbok van Welkom in die Vrystaat inspireer jongmense omdat hy sy Godgegewe talent in ’n suksesvolle loopbaan omskep het. Hy het nie net aanvaar dat hy ongelooflike spoed het nie; hy was vasbeslote om iets met daardie spoed te maak, selfs al was dit in ’n sport waarmee hy nie grootgeword het nie en eers later in sy lewe mee kennis gemaak het.
hy veRDIEN DIE LOF
Seabelo laat ook ons as ’n rugbymalnasie met ander oë na sewesrugby kyk. Dis nie net Springbok- oftewel vyftienman-rugbyspelers wat al die lof verdien nie, maar ook die Blitzbokke. Hulle swaai die SuidAfrikaanse vlag hoog en is tans bo-aan wêreldrugby se sewesrugby-ranglys. Dié span wen net waar hulle gaan en behalwe vir die sewestoernooikroon wat Engeland (wat tweede op die ranglys lê) in Desember laasjaar voor hul neuse weggeraap het, wen hulle nog die heeltyd.
“Vyftienmanrugby is die tradisionele en vlagskip-rugby in Suid-Afrika, maar sewesrugby groei vinnig en mense begin dit meer en meer te ondersteun. Mense sal byvoorbeeld die All Blacks ondersteun, maar dan ondersteun hulle die Blitzbokke in die sewes. Ons probeer ons nasie trots maak en wil glo ons is nou (in die nasie se oë) daarbo saam met die Bokke, veral noudat hulle nie so goed doen nie.”
Hy gaan dankbaar voort:“Julle ( Kuier) is trots om met ons geassosieer te word en dit is baie humbling.”
JAAG sy DROME NA
Seabelo het sy merk as ’n Blitzbok gemaak en diep in Suid-Afrikaners se harte gekruip, maar is nou reg en opgewonde oor sy volgende uitdagings: Om homself as waardige draer van die nommer 11 Stormers- én Springboktrui te bewys.
Seabelo het sy lewe lank sy drome nagejaag en niks minder as die beste van homself verwag nie; dis hoekom dit nie vir hom genoeg is om net in die Bokgroep ingesluit te word nie. Hy wil ’n legende word.
Oor die Stormers is hy meer opgewonde as senuweeagtig om vir dié Kaapse Superrugbyspan te speel, vertel hy. Die skuif van ’n sewesspan na ’n vyftientalspan toe intimideer hom ook nie, want voor hy ’n Blitzbok was, het hy vyftienmanrugby gespeel.
“Dis ’n nuwe uitdaging vir my en ek is super-opgewonde omdat ek daarvan hou om myself te druk om so na as moontlik aan perfek te wees. Om in ’n Springboktrui te wees, was nog altyd ’n droom vir my. Ek was al voorheen in die Bokgroep, maar dit was nie genoeg nie omdat ek nie gespeel het nie. Hierdie keer wil ek spéél in daardie nommer 11-trui omdat ek ’n legende soos Bryan Habana wil wees en ek wil hê mense moet eendag van my praat as‘een van die bestes’,”sê Seabelo passievol en vasbeslote. Daar is geen teken van arrogansie in sy stem nie; net ’n doelgerigtheid omdat hy weet waar sy fokus nou moet lê.
Sokker sy eerste liefde
Seabelo reis dalk nou die wêreld vol, maar hy is van ’n klein dorpie en dis hier waar hy sy spoed gebruik het om uit te blink in atletiek en in die strate saam met sy vriende sokker, krieket en rugby te speel. Kleintyd was dit sokker (meer as rugby) wat sy hart gesteel het en hy noem sokker vandag nog “my eerste liefde”.
Seabelo is een van drie kinders (hy het ’n ouer suster, 31, en jonger broer, 21) en beskryf sy tyd in Welkom as spesiaal. Hy sê sy ouers, pa Bery William en ma Patricia Dituo Senatla, was liefdevol, beskermend en het toegesien dat hul kinders het wat hulle benodig en nie noodwendig wat hulle wou hê nie.
Hy lag lekker wanneer hy vertel hoe baie hy atletiek in gr. 1 geniet het.“Dalk omdat ek altyd eerste gekom het? Maar wanneer iemand my die dag gewen het, het ek gehuil. Wanneer ek klaar gehuil het, het ek vir my pa gesê ek wil gaan oefen. Maar my dae van huil is gelukkig lankal iets van die verlede!”
Seabelo onthou watter groot aanhanger hy van die Amerikaanse vroue-atleet Marion Jones was en hoe hy haar probeer namaak het. En toe die Jamaikaanse spoedvraat Usain Bolt die atletiekrekords laat spat, het dié Welkomse seun begin droom van Olimpiese Spele toe gaan.
Maar namate hy ouer geword het, was dit sokker wat sy hart gesteel het. Hy en sy vriende het elke dag sokker in die straat gespeel, wat hulle die FNB-stadion genoem het. Rugby het eers by hom begin vastrap-
plek kry met sy hoërskoolloopbaan by die Harmony Sports Academy.
“By die academy eet, slaap en droom jy rugby. Die omgewing daar laat jou toe om net op rugby te fokus en ek het provinsiale spanne gehaal. Dit was deur die Academy wat ek van sewesrugby geleer het en Cecil Afrika en Branco du Preez (albei Blitzbokke) was ook by dié Academy. Ek het sewes geniet omdat ek lief is vir rugby.”
Sewesrugby was egter daardie tyd nie so groot soos wat dit nou is nie en Seabelo vertel hy het in sy hoërskooljare nog net een seweswedstryd gespeel, maar hy wou soos Cecil en Branco wees.
“Omdat hulle ook by die Academy was, het ek besef dit (’n sewesloopbaan) is haalbaar en dat dit tot my voordeel was om by die Academy te wees.”
Seabelo het in 2012 ’n beurs gekry om by die Sentraal Universiteit van Tegnologie (CUT) in Bloemfontein te gaan studeer en het daar weer vyftienmanrugby gespeel en homself bewys. En toe kry hy ’n oproep in Oktober 2012 wat sy lewe vir altyd verander het. Die persoon aan die anderkant van die lyn was die voormalige Blitzbok-afrigter Paul Treu, wat Seabelo genooi het om vir ’n week saam met die nasionale sewesspan te oefen.“Ek het dit as ’n groot geleentheid gesien en die daaropvolgende week bel Paul my om te sê hy wil my kontrakteer. Dit het soos ’n droom gevoel! Maar ek was nie ’n spesialis-sewesspeler nie en het baie hard gewerk om op die vlak te kom waar ek vandag is.”In Januarie 2013 het hy sy eerste wedstryd gespeel en nie weer teruggekyk nie. Maar hy gaan nie al die krediet vir sy sukses vat nie, sê Seabelo.“Ek plaas alles voor God. Hy het alles moontlik gemaak deur Sy genade.”
Senatla erken hy is baie kompeterend, maar is in kompetisie net met homself omdat hy glo in die belangrikheid van groot droom en om hard te werk om dit te bewaarheid. Dít, glo hy, is die enigste manier hoe jy jouself gaan aanhou verbeter en dis ook wat hy wil hê jongmense met natuurlike talent moet besef, maak nie saak van waar jy is nie.
Talent alleen gaan jou nêrens bring nie. Dis wat jy daarmee maak wat die verskil is tussen sukses en stagnering.