Kuier

ALLES UIT LIEFDE

Soms verhard jy as iemand jou hart gebreek het, maar wat as die verlede weer aan jou deur kom klop? Deur Candice Bezuidenho­ut

-

Mandy skrik haar oor ’n mik toe haar selfoon kort na 08:00 skielik hard lui, waar dit op die kassie langs haar bed lê. Sy kreun saggies, steek haar hand uit en voel-voel na die skrillende irritasie.

Haar hele lyf word yskoud toe sy na die skermpie kyk en sy is dadelik wawyd wakker: Shaun.

Dis asof haar brein nie werklik registreer wat sy op die skerm voor haar sien nie. Shaun Harker, die man wat haar liefde onder sy voete vertrap en haar toe soos ’n gebruikte lap eenkant toe gesmyt het om met sy twee kinders se ma te gaan trou.

Waarom sou hý haar bel? Sy het hom twee jaar gelede al uit haar hart en lewe verban. Die laaste keer toe sy met hom gepraat het, was ’n maand voor sy troue toe hy vir die soveelste keer om verskoning kom vra het.

Sy het daardie dag die deur in sy gesig toegeklap en nooit weer van hom gehoor nie – tot nou. “Hallo,”antwoord sy hees. “Mandy! Dankie Vader tog! Jy móét my help. Asseblief, help my tog net! Ek is so jammer, maar ek weet nie vir wie anders om te vra nie. Ek – ”

“Hokaai, wag nou, wag nou,”sê Mandy kalm. Shaun is uitasem, hy skree in haar oor en is heeltemal oorstuur. Wat sou hom só ontstel het?

“Shaun, bedaar. Haal diep asem en sê my wat is fout.”

“Mandy, ek vermoed daar het iets verskrikli­ks gebeur by my huis! Kyle het my nou gebel en gesê hy kry nie sy ma wakker nie en Kayla huil histeries in die agtergrond. Ek is in die Kaap vir ’n werksverga­dering en weet nie wat om te doen nie!

“My kinders is bang en alleen en ek weet nie wie anders om te vra nie. Sal jy asseblief tog gaan kyk wat daar aangaan? Ek raak van my kop af hier!”

Mandy is vir ’n oomblik sprakeloos. Die eerste ding wat deur haar kop gaan is: Waarom sy? Shaun se ouers is in Johannesbu­rg, dít weet sy. Hy het hier in Port Elizabeth kom werk en sy vrou hier ontmoet, so waar is haar ouers dan? Wat van hul vriende?

“Mandy, asseblief! Ek weet ek is nie jou gunsteling-persoon op die oomblik nie, maar ek is desperaat. My kinders …”

Mandy se hart vermurwe. Sy het nog altyd ’n sagte plekkie vir die 7-jarige Kyle en 2-jarige Kayla gehad. Sy was immers bereid om hul stiefma te word. Dit was vir haar bitter moeilik om vrede te maak daarmee dat sy nie meer deel van hul lewens gaan wees nie.

Nou is nie die tyd om wrokke te koester nie, dink Mandy en spring op. Daardie twee kinders is natuurlik vreesbevan­ge en wat Lee-Ann ook al aangevang het, sy wat Mandy is, is nie gevoelloos nie.

“Dis oukei, Shaun, ek sal gaan kyk. Ek laat weet jou wat aangaan,”sê sy en druk sommer die foon dood.

Nadat sy haar gesig afgespoel het, ry sy soos ’n besetene tot by Shaun se huis. Sy hamer aan die voordeur en roep na Kyle, maar daar is geen antwoord nie.

Mandy beweeg na die agterkant van die huis waar sy weet die hoofslaapk­amer se venster is en slaak ’n sug van verligting toe sy sien die gordyne is oop.

Vir die tweede keer daardie oggend raak sy yskoud en rilling op rilling gly teen haar ruggraat af.

Die gesig wat sy voor haar sien, is skokkend. Lee-Ann lê op haar rug skuins oor die bed. Haar een arm is oor haar gesig gegooi en die ander een hang slap teen die kant van die bed af.

Kyle kniel op die bed langs sy ma en hou haar hand vas terwyl hy kort-kort aan haar skud. Tussen die leë pillehouer­tjies wat oor die vloer versprei is, sit en huil Kayla hartverske­urend.

Sy klop hard teen die venster en Kyle kyk stadig op.

Sy glimlag vir hom.“Kyle, my skat, maak oop die voordeur vir my, toe? Ek weet jy is bang, maar alles gaan oukei wees, maak net die deur vir my oop.”

Gelukkig gehoorsaam hy dadelik en Mandy is binne sekondes in die slaapkamer. Sy hou vir Kyle styf teen haar vas en sê hy moet vir sy ma ’n glas water gaan haal net sodat sy hom uit die kamer kan kry.

Sy tel die huilende Kayla op en sus haar saggies. “Sjuut, dis oukei liefie. Ek is hier, sjuut.”

Die kind bedaar uiteindeli­k en vou haar arms krampagtig om Mandy se nek. Toe eers skraap sy die moed bymekaar om na die stil figuur op die bed te gaan kyk. Sy lig Lee-Ann se arm van haar gesig af, maar dis stokstyf en die verskrikli­ke wete dat Lee-Ann reeds weg is, sypel deur haar soos ’n stroom modderwate­r.

Sy knyp haar oë styf toe, draai om en gaan soek vir Kyle in die kombuis.“Kom liefie, ons gaan gou ry,”sê sy en vat sy hand.

Sy maak die kinders op die agtersitpl­ek van haar motor vas en staan buite terwyl sy die ambulans bel. Ná die nooddienst­e ongeveer tien minute later hul opwagting maak en sy met hulle gepraat het, vat sy die kinders tot by haar huis. Albei raak van uitputting amper onmiddelli­k aan die slaap op haar bed.

Sy het die buurvrou gevra om te sluit en ’n ogie oor die huis te hou wanneer die nooddienst­e vertrek. Sy wou nie die kinders nog deur verdere trauma sit nie.

Mandy kyk na haar selfoon en sien Shaun het haar intussen vier keer gebel. Sy was só in skok, sy het nooit eens haar foon hoor lui nie. Sy bel hom en dra die tyding oor met ’n swaar gemoed en stem wat bewe.

“Ek is so jammer, Shaun. Ek weet hoe lief jy vir haar was.”

Tot haar verbasing is Shaun redelik kalm en wil hy net weet of sy kinders oukei is.

“Hulle is nou ja. Hulle was vroeër verskrikli­k getraumati­seerd, maar slaap nou albei. Ek sal na hulle omsien, daaroor hoef jy jou nie te bekommer nie.”

“Baie, baie dankie, Mandy. Dit wat jy vandag vir ek en my kinders gedoen het… ek sal dit nooit vergeet nie.”

“Dis nie nodig om dankie te sê nie, Shaun. Ek was nog altyd lief vir die kinders, jy weet dit. Ek sal enigiets vir hulle doen.”

Sy lui af nadat Shaun gesê het hy was gelukkig genoeg om vandag nog ’n vlug terug Port Elizabeth toe te kry en die kinders vanaand by haar sal optel.

Mandy sug en gaan klim in ’n warm bad. Die oggend se gebeure speel soos ’n fliek voor haar oë verby. Wat sou Lee-Ann tot sulke uiterstes gedryf het om haar eie lewe te neem en dit terwyl haar kinders by haar in die huis was?

Haar gedagtes dwaal weer na die gesprek wat sy flussies met Shaun gehad het. Sy het vir hom gesê sy sal enigiets doen vir sy kinders en sy het dit bedoel, maar wat haar nou met ’n skok tref, is die wete dat sy enigiets vir hóm ook sal doen. Sy is wraggies nog lief vir hom! Die wete maak haar skielik so moeg dat sy tussen die kinders gaan inkruip en in ’n salige slaap wegsink . . .

Tien maande later is Mandy op ’n wintersmid­dag besig om vir haar koffie te maak toe daar ’n klop aan die deur opklink. Sy roer vinnig twee lepels suiker by en loop met die koppie in haar hand om die deur te gaan oopmaak.

Haar mond is onmiddelli­k droog toe sy Shaun op haar drumpel sien staan. Sy het hom nog nie weer gesien sedert hy die kinders die dag van Lee-Ann se dood by haar kom haal het nie.

Daardie aand het hy haar styf vasgehou en oor en oor bedank vir wat sy gedoen het.

“Mandy, ek is lief vir jou. Ek was nog altyd en ek is so jammer oor al die pyn waardeur ek jou gesit het,”val hy met die deur in die huis.

Mandy kyk sprakeloos na hom en vreugde maak haar bene vir ’n oomblik lam.

“Ek weet ek kom skielik op jou af, maar ek kon dit nie vroeër vir jou sê nie. Lee-Ann was pas dood en dit sou onvanpas wees, maar ’n jaar is al amper verby . . .

“Mandy, die enigste rede hoekom ek met haar getrou het, is omdat sy gedreig het om haarself en die kinders iets aan te doen as ek haar nie bo jou kies nie. Sy het aan depressie gely. Ek het dit gedoen vir my kinders en ek hoop jy sal my kan vergewe. Ek is só jammer vir alles.”

Dit voel asof sy pas die grootste geskenk ontvang het en ’n breë glimlag sprei oor Mandy se gesig.

Sy hou hom vas en fluister:“Om jou kinders eerste te stel, maak nie van jou ’n slegte mens nie, net ’n baie goeie pa; een vir wie ek verskrikli­k lief is. En dit sal nooit verander nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa