Kuier

MARY SE KRUISPAD

Die lewe is vol keuses en elke keuse kom met gevolge. Dus moet jy alles eers goed deurdink voor jy besluite neem.

- Deur Meacian Fransman

“Kom nou Mary, wat staan en staar jy so into the abyss?”Mary word dadelik teruggeruk na realiteit deur die woorde van haar vriendin en die geluid van die trein. Die trein kom tot stilstand en wanneer die deure oopmaak, druk sy en Lucrecia haastig deur die mengelmoes van reuke tussen spray en sweet. Hulle vind ’n sitplek en Mary klou haar handsak styf teen haar lyf.

“Is jy bang?”vra Lucrecia ewe gedweë. “So bietjie,”antwoord Mary half fluisteren­d.

“Toema’man, dit gaan gou. Nog voor jy weet wat besig is om te gebeur, is dit verby.”Lucrecia se woorde verdof in Mary se ore soos haar gedagtes terug dwaal na die vorige dag.

Sy het opgestaan die oggend met ’n swaar naar gevoel. Ná sy haar ouma se welbekende plaasontby­t geruik het, moes sy vinnig hol vir die badkamer. Dit was egter nie die eerste keer wat dit gebeur het nie; die vorige dag het die reuk van haar eie parfuum haar naar gemaak. Plus, die afgelope tyd voel sy gedurig lighoofdig, moerig en moeg. Toe die naarheid egter nie weggaan nie en die gedagte by haar opkom dat dit dalk iets groter kan beteken, het sy dadelik haar beste maat, Lucrecia, gebel om te vra sy moet oorkom omdat sy dringend met haar wil praat.

“Djinne Mary, moet net nie vir my sê jy is swanger nie. Jou ouma gaan jou vrekmaak!”was Lucrecia se eerste reaksie.

Hoewel Mary nie veel gedagte gegee het aan Lucrecia se reaksie nie, het sy geweet daar lê tog ’n bietjie waarheid in haar stelling. Want kyk, ná haar pa net eendag gaan“seep koop het”toe sy vier jaar oud was, het haar ma besluit sy wil nie ’n kind alleen grootmaak nie. Dis dié dat sy toe besluit het om vir Mary met net een stel klere en ’n dummie op haar ma se stoep te gaan neersit, waarna sy self die hasepad gekies het. Haar ouma het haar toe sonder skroom ingevat en haar grootgemaa­k.

Reeds daaroor weet sy op sewentienj­arige ouderdom die verwagting­e wat haar ouma vir haar het, is baie groot. Haar ouma sê gereeld vir haar:“Ek wil sien hoe jy hoogtes bereik my kind, tot dan sal ek nie my oë toemaak en die ewige lewe ingaan nie”. Plus, sy is tans in graad 11 en al is tienerswan­gerskap die inding in die gemeenskap, wil sy nie eers dink aan die vernederin­g om met ’n pensie rond te moet pronk nie.

Lucrecia is toe die een wat met die gedagte opgekom het.

“Wat van … ons gaan‘sort’dit uit?”het Lucrecia gevra.

“Hoe bedoel jy nou?”het Mary verbaas gevra, al het sy sommer dadelik geweet waarna Lucrecia verwys.“Ag kom nou! Moenie vir jou staan en dof hou nie. My chom, jy gaan jou lewe wegsmyt as jy anders besluit.”

Lucrecia se stelling was sonder genade en Mary kon nie anders as om op die vloer in ’n bondeltjie te gaan sit en te begin huil nie. Sewentien en in graad 11; reg genoeg dit is blykbaar nie deesdae meer so ’n groot ding as tieners swanger raak nie, maar dit is glad nie wat sy wou hê nie.

Haar drome was om vir ’n veearts te gaan leer. Sy wou die wêreld verken en daarna eers trou en kinders kry. Sy moes eers hoogtes bereik.

Maar ná ’n middag alleen by Jason se huis, lyk dit nou of haar drome aan skerwe lê. Net nadat sy vir Lucrecia gebel het oor te kom, het sy hom gekontak om die nuus oor te dra. Dié het haar so sleg gesê dat al die water in die wêreld haar nie sal kan afwas nie. Net om seker te maak dat sy verstaan wat hy van die hele situasie dink, het hy haar boonop ’n boodskap ook gestuur om te sê dat dit nie sy kind is nie en sy hom totaal en al moet uitlos.

“Ek … kan … nie swanger … wees … nie …,”het Mary gesnik. Lucrecia het langs haar vriendin op die vloer gaan sit en haar arms om haar gevou.“Nou ja. Like I said, kom ons gaan‘sort’dit uit,”het Lucrecia weer voorgestel terwyl sy Mary se hare vryf.“Is jy mal? Hoe? Waar? Wanneer?”het Mary gevra terwyl sy haar trane afvee.

“Man, sê vir jou ouma jy gaan by my kom slaap. Dan gaan doen ons dit môre. Ek sal Google vir ’n plek naby ons.”

Dit was gister. Nou is hulle op ’n trein op pad om dit“uit te gaan sort”.

“Mary, is jy orraait?”vra Lucrecia met bekommerni­s in haar stem.

“Ja, ek dink maar net so ’n bietjie”sê Mary terwyl sy hard sug. Die trein se ritmiese beweging op die spoor laat ’n kalmerende gevoel oor haar spoel.“Aan?”

“Ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie Lucrecia,”sê Mary heel huiwerig. Dié keer is dit Lucrecia wat sug. “Ek weet jy is dalk bietjie uitgefreak, maar wat anders gaan jy doen?”

“Ek weet nie, maar ek weet dit wat ek nou van plan is om te doen, is nie al opsie nie.”

“Reg genoeg. Al wat oorbly is óf jy hou die kind óf jy gee die kind weg. Die vraag is, wat kies jy?”Lucrecia kyk vir Mary stip in die oë en sien hoe haar vriendin se oë dadelik vol trane skiet. Die keuses wat tog so eenvoudig klink, is glad nie so eenvoudig nie. Hoe kan sy vir nege maande ’n fisiese band met die kind bou en dit sommer net so vir ander gee om groot te maak?

Maar hoe kan sy vir nege maande die kind dra en dan met soveel onsekerhei­d in die wêreld bring? Mary maak haar oë toe soos sy teruglê met haar kop teen die venster. Sy probeer terugdink aan die laaste keer toe haar lewe nog sonder komplikasi­es was. Toe sy nog onskuldig was.

Dalk is die“kenners”tog maar reg. Sy was soekend na iets. Seker ’n tipe liefde wat sy net nie gevoel het nie. Dalk is dit“Daddy issues”wat veroorsaak dat tienermeis­ies in die groef verval. Daddy het gaan seep koop en vir Mammie was sy nie goed genoeg nie. Jason moes haar dors na liefde les. Maar hy kon nie. Vir hom was sy net ’n easy target. Dalk is die“kenners”tog reg.

Die trein kom tot stilstand en Mary word weer geruk uit haar deurmekaar gedagtes. Soos die deure besig is om oop te gaan, weet Mary die volgende paar treë gaan die res van haar lewe bepaal. As sy bly sit, kies sy ’n band van lewe. Maar as sy opstaan, kies sy iets anders. Maar wat noem mens die iets anders? Is dit dood?

“Gaan jy kom?”vra Lucrecia, terwyl die deure oopgaan . . .

“Jitte my chom! Nou skiet jy darem vinnig uit!”spot Lucrecia vier maande later toe Mary op haar stoep in die voordeur staan.

“Man Lucrecia, dit is wat gebeur as jy swanger is,”sê Mary heel vererglik. Haar ouma was bitter ontsteld toe Mary die nuus vir haar breek en wou vir ’n week lank niks met haar praat nie. Jason ignoreer haar ook steeds soos ’n stopstraat, maar daarmee het sy nou al tot ’n mate vrede mee gemaak.

“Ag kom nou man! Lyk my die hormone laat jou ook nie meer toe om ’n joke te vat nie,”sê Lucrecia, terwyl sy op die trap voor die stoep gaan sit. Mary gaan maak haarself gemaklik langs Lucrecia en begin vryf oor haar maag.

“Ek het besluit om die baba te laat aanneem,”sê Mary, terwyl sy af grond toe kyk.

“For real?”vra Lucrecia geskok.“Ek het gedog daardie opsie is ’n groot‘no-no’.”

“Dit was. Maar lewe is kosbaar. Ek wou dit nie van my kind ontneem nie. Besides, as ek eerlik met myself moet wees, ek kan nie op die stadium alles vir my kind bied wat hy of sy verdien nie. Ek wil hê my kind moet ’n huis met ’n liefdevoll­e ma én pa ervaar.

“Soms is die regte besluit die moeilikste as jy by ’n kruispad staan. En soms . . . soms beteken liefde om te laat gaan.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa