Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Misdaad, dwelms en verkragtin­g is oral om ons, maar ouers moet bid en saamstaan om hul kinders te red.

- Deur Yvonne Beryl Jantjies

Waar gaan alles eindig? Dwelms, geweld, verkragtin­g, roof en moord is aan die orde van die dag. Ons begin soos kluisenaar­s lewe, want almal is te bang om dit buite te waag. Ongelukkig kan ons nie vir altyd binnenshui­s bly nie, ons daaglikse roetine moet voortgaan. Jong kinders beland in die web van gewetenlos­e dwelmbase. Gangsters voer ’n skrikbewin­d in woonbuurte. Onskuldige mense word wreed afgemaai. Ons pragtige wêreld daar buite is stukkend.

Ouers word blameer vir hul kinders se dwase optrede, maar die skuldiges is altyd onskuldig. Jong seuns is voos gerook aan tik of ander dwelmverwa­nte middels, terwyl jong meisies as seksslawe gebruik word. Iewers is daar ’n moederhart wat ween oor haar seun of dogter. Sy’s moedeloos en raadop. Al wat só ma kan doen, is om biddend te bly. Die kind wat sy met soveel liefde en teerheid versorg het, is die een wat nou haar hart stukkend trap.

Wat het geword van waardes, selfrespek en respek vir ander se besittings en lewens? Ek wil nie graag terugverwy­s na die ou dae nie, maar ek kan nie anders nie. Daar was toe al bendes en misdadiger­s, dwelms en drank, maar ek kan met eerlikheid sê daardie bendes het respek vir grootmense gehad. Kan ons dieselfde sê van ons nuwe generasie jongmense?

Net die anderdag word ’n ouma wreed doodgeskie­t. Die skieters het haar kleinkind gesoek, kon hom toe nie kry nie en die ouma moes met haar lewe daarvoor boet. Wanneer ’n moeder praat oor haar kind wat vasgevang is in dwelms, sê sy dit asof daar iets in haar hart is wat seerkry. Sy het haar lewe daaraan toegewy om net die beste vir haar kind te gee, gedink dit sou vergoed vir die feit dat sy hom of haar alleen grootgemaa­k het. Maar sy het nie rekening gehou met die wêreld nie. Só gesels ’n vriendin een aand haar hart uit. Sy’s stukkend binne, niemand weet van die stille trane wat snags oor haar wange rol nie. Haar jongste was soms só getik dat hy nie kon eet nie. Nie eens die feit dat sy hom gaan inboek het by ’n rehab, kon hom help nie. Hy’s een aand reg voor hul tuinhekkie vermoor. Nooit het sy gedink sy gaan hom so vroeg aan die dood afstaan nie. Dit het tyd geword vir handevat en saamstaan teen geweld, misdaad en dwelms. Maar die vraag is: Waar begin ons? Die antwoord is: By onsself. Bid sonder ophou. Bid vir ons land en sy mense; bid veral vir ons jongmense. Laat ons ook nie ophou bid vir ons vyande nie. Ons moet nooit ophou om sonder God deur die lewe te loop nie. ’n Teksvers uit Jesaja 46:3 beeld die woorde so mooi uit: “Ek het voor julle geboorte vir julle gesorg en julle kleintyd vasgehou; ek sal julle God wees deur julle hele lewe . . .”

Net verlede week beland ek in ’n target taxi. Die taxi word op ’n sekere plek gestop; die jong outjies spring in die taxi en beroof die mense van hul besittings, wat vir ’n appel en ’n ei verkoop word om drugs in die hande te kry. Waarom gaan soek die jongmense nie werk nie?

Vir ons as ouers lui die boodskap:“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs die wat daaraan bou. Vaders, moeders, pas jul kinders op, weet wie hul vriende is, bewaar en beskerm hulle, want hulle is kosbaar in die oë van die Here.”Hoe kan ’n ma haar dogtertjie alleen saans na ’n huiswinkel toe stuur? Hoe kan ’n ma haar kinders in die huis toesluit en by vriende gaan kuier? Hoe kry ’n vader dit oor sy hart om sy pragtige dogtertjie te verkrag? Al dié dinge vind daagliks plaas in ons gemeenskap­pe.

Here, ek bid vir ’n geloofsdag. Ek bid dat ouers moet vasstaan soos ’n boom – onbeweegli­k, onwrikbaar, sterk en standvasti­g – dat ons elke kind, jonk en oud, by U voete moet plaas. Efesiërs 5:15 sê vir die jongmense wat in die web van dwelms vasgevang is; vir die verkragter­s; die moordenaar­s:“Wees baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos ’n dwaas lewe nie, leef wys . . .”

Laat ons handevat en nader aan mekaar leef. Elkeen van ons kan in hierdie wêreld ’n verskil maak.

Só gesels ’n vriendin een aand haar hart uit. Sy’s stukkend binne, niemand weet van die stille trane wat snags oor haar wange rol nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa