Kuier

‘dis mÝ jaar!’

Ouderdom kan soos ’n berg voor jou lê, maar op 60 het Vinette nou besluit sy doen dinge vir haarself. DEUR ERNUSTA MARALACK

-

Die idee aan oud word is vir baie vroue ’n vreesaanja­ende gedagte omdat jy nie weet hóé jy gaan oud word nie. Maar as daar een ding is wat Vinette Ebrahim in haar ses dekades op aarde geleer het, is dat ouer word onafwendba­ar is, maar om elke dag voluit te lewe, is ’n keuse.

Lewe sonder enige regrets of om te dink aan al die“what if’s”wat in elk geval agter jou lê, sê dié 7de Laan- aktrise, wat in Februarie haar 60ste verjaardag gevier het. Dis moeilik om te glo hierdie sterk, selfversek­erde en mooi vrou is werklik al 60. Sy het dan nie eens plooie in haar gesig nie en haar tattoos lyk nog nie of hulle ’n facelift moet kry nie! En haar grys hare is ’n blink grys wat sy met trots af-show.

“Toemaar,”sê Vinette opgewek en met daardie aansteekli­ke laggie van haar,“my verstand sê nog vir my,‘jy’s weer 18’, maar my liggaam sê vir my ek moet stadig nou.”

Kuier stap al ’n lang pad met Vinette en in die verlede het sy al erken sy is bang vir oud word omdat sy al gesien wat ouderdom met mense na aan haar kan maak. Maar hierdie keer is daar iets anders aan haar – ’n kalmte en gelatenhei­d dat wat moet gebeur, sal gebeur. En met haar wat ouer word, besef sy hoe belangrik dit is om werklik elke dag te lewe asof dit jou laaste is, want so cliché soos wat dit klink, ís die tyd kort en het ons nie so baie daarvan soos wat ons dikwels dink nie.

Dis hoekom Vinette besluit het om hierdie jaar vir haarself te vat en dat sy meer goed vir haarself gaan doen. Sy gaan byvoorbeel­d hierdie jaar nie aan enige feeste

deelneem nie; sy gaan meer oorsee reis en meer tyd saam met haar vriendinne, familie en ander geliefdes deurbring. Sy gaan onbeskaamd selfsugtig wees en meer van alles begin doen wat háár gelukkig maak.

Dis háár beurt

Sy het haar 60ste lewensjaar reeds afgeskop met die besluit om nie werk op feesproduk­sies te doen nie. Met haar verjaardag in Februarie het sy tyd afgeknyp vir ’n vakansie in Kalkbaai in die Kaap saam met familie wat uit Londen kom kuier het en haar dogters en hul gesinne, wat in die Kaap woon. In Augustus gaan sy Griekeland toe en in Desember pak sy weer ’n reis na Londen aan. “Hierdie jaar vat ek vir my en gaan goed vir myself doen en dit het alles te doen met ek wat 60 is. Ek het besluit Kaapstad is my gunsteling-stad, plus ek het Airbnb (opsie waar mense eienaars se huise kan bespreek terwyl hulle dalk elders is) ontdek.

“Vir my verjaardag het my neef uit Londen, wat ek nog nooit voorheen gesien het nie en via Facebook die afgelope drie jaar beter leer ken het, kom kuier.

“My broer, Vincent, en sy gesin, ook uit Londen, was daar en my dogters en kleinkinde­rs het ek sommer laat Über Kalkbaai toe. Ons het só lekker gekuier!”Dis juis uit hierdie kuier waar daarop die Griekeland­trippie ook besluit was.

Maar sy erken ouderdom bly steeds“’n scary ding, maar ek vat dit een dag op ’n slag”.

Vinette lag weer wanneer sy sê sy moet nou begin dink aan aftree en afskaal. Sy raak egter ernstig wanneer sy byvoeg juis dít maak haar ’n bietjie bang omdat sy aan die finansiële en ander implikasie­s dink, en wonder wat met haar gaan gebeur wanneer sy nie meer kan werk of baie vir haarself kan doen nie.

“Ek was vir lank ’n vryskut en het in die hier en nou geleef. Niemand het vir my gesê ek gaan oud word en dan ’n retirement fund en mediese fonds benodig nie. Ek het dit nou, maar het nie altyd goed verdien nie. My môre is onbekend en ek sal eendag waarskynli­k my huis moet verkoop om te oorleef, maar vir nou vat ek dit elke dag op ’n slag,”sê Vinette kalm.

Ja, sy het kwelpunte waaroor sy wonder, maar weier dat dit haar lewensvreu­gde steel, sê Vinette. Daardie mooi glimlag wat haar oë op skrefies laat trek volg dié wyse woorde.

“Ek gaan nie in ’n hoekie sit en my kwel oor sulke goed nie. Wie weet, dalk ontmoet ek my knight in shining armor in Griekeland en hy’t ’n kasteel!”

Dis hierdie uitkyk op die lewe wat Vinette altyd laat vorentoe kyk en haar nie laat tob oor goed wat dalk kón gewees het nie. Haar lewe, wat soos ons almal s’n ook maar sy uitdagings het, vat sy soos dit is.

“Ek dink nie daar is iets in my lewe wat ek anders sou wou doen as ek kon teruggaan nie. Jou lewe is bepaald. Ek wil vreugde hê; ek wil nie nou sit en terugdink aan,‘as ek dit of dat só gedoen het’nie. Regrets is ’n vermorsing van tyd. Ek het soveel pelle weens hartaanval­le en kanker verloor, daarom besef ek die lewe is kort. Ek wil net my lewe elke dag lewe. Ek wil net my lewe, vriende en familie méér liefhê.”

BOODSKAP aan ander

Vinette dink te veel vroue val in die slaggat dat hulle die heeltyd in diens van ander moet wees en in die proses hulself langs die pad verloor. Vroue is altyd iemand se ma; iemand se vrou; iemand se werknemer; daardie vriendin by wie almal kom afpak; iemand wat probleme moet uitsorteer dat sy vergeet om vir haarself om te gee soos wat sy vir almal anders omgee.

En wanneer Vinette praat, kan ons nie anders as om te luister nie.

Vinette sê sy het vir lank gevoel die druk om iemand se rolmodel te wees, is te groot, daarom het sy weggeskram daarvan. Sy het egter soos wat sy ouer geword het, besef sy het ’n ma vir baie mense se kinders geword omdat sy belangstel in jongmense se toekoms. En ons weet ook die ma’s luister na haar. Dis hoekom sy vir vroue wyse raad wil gee wat sy oor die jare geleer het.

“Dis maklik vir my om hierdie goed te sê, want ek is vir so lank al onafhankli­k. Maar ek wil tog vir vroue sê jy kán onafhankli­k wees en iets vir jouself doen al het jy ’n man en kinders. Om iets vir jouself te doen, beteken nie jy moet alleen wees nie. Begin net om vir jouself te lewe. Ons as vroue leef so in diens van ander dat ons vergeet wie ons is,” sê sy.

En dan gee Vinette daardie soet glimlag wanneer sy sê behalwe die oorsese reise wat reeds beplan is, is sy besig om te beplan aan haar“grootste lekkerte”– ’n sjampanje-ontbyt met haar hegte vriendinne.

’n Mens kan soms so verstrenge­l raak in die banaliteit van daaglikse roetine dat vroue soms vergeet hoe belangrik dit is om weer te connect met die mooi, sterk vroue in hul lewe. Dis hoekom Vinette hierdie ontbyt gaan doen – om weer te connect.

“Ek het ’n goeie vriendin, Sandra Odendaal van Amanzimtot­i, wat een keer elke drie maande afvlieg Johannesbu­rg toe om te kom kuier. Sy is ’n pel duisend. En dan is daar die ander girls ook met wie ek lanklaas gekuier het. Hierdie is die mense wat daar is vir my wanneer die paw-paw die fan strike en met sulke vriendinne doen jy moeite,”sluit Vinette af.

 ??  ?? HOOFFOTO: Vinette Ebrahim (60) skram nie weg van haar jare nie, sy deel eerder haar lewensless­e met ander.
HOOFFOTO: Vinette Ebrahim (60) skram nie weg van haar jare nie, sy deel eerder haar lewensless­e met ander.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa