Kuier

beter sonder BENE

-

wat die mees tragiese dag in haar lewe was, het vir ’n ma van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte uitgedraai as die grootste seëning. Sy was in ’n motorongel­uk, het by die dood omgedraai en haar bene verloor, maar sy glo dit was die beste ding wat met haar kon gebeur het. Voor die motorongel­uk sewe jaar gelede, was Tanya Steenkamp (32) se lewe deurmekaar. Toe sy 16 was, het sy swanger geword en moes kort daarna die skool verlaat. Hierna kon Tanya nooit weer haar voete vind nie; sy het nog twee keer swanger geword en kon nooit ’n vaste werk hou nie. Vir verskeie redes, wat mense nie altyd sal verstaan nie, beskou sy die dag van die ongeluk as ’n seëning. Ja, sy het haar bene verloor, maar sy glo haar lewe kon erger uitgedraai het as sy aangehou het op die deurmekaar pad waarop sy was. Want dit was juis die verlies aan dié ledemate wat vir ons ons onafhankli­kheid gee, wat Tanya tot nuwe insigte gebring het. Dinge het egter nie oornag verander nie. Sy het ’n lang herstelpad voor haar gehad, maar nóg ’n skok het eers voorgelê. Etlike maande ná die ongeluk het sy nie geweet sy is weer swanger nie en het eers uitgevind toe sy kraampyne kry. Dít het haar lewe weer omvergegoo­i. Sy het reeds gesukkel om ma te wees vir haar drie seuns, Deolano (15), Deolan (12) en Ezra (8), en nou was daar nóg ’n kind. Tanya het die moeilikste besluit van haar lewe geneem – om haar vierde kind, Emmanuel (nou 7), te laat aanneem.

Tanya is gedwing om vir die eerste keer in jare stil te word. Maar dit is juis wanneer dinge op die donkerste lyk, dat die lig deurbreek, het Tanya uitgevind . . .

groot uitdagings

Om jou kind se ouervergad­ering in hul klas op die tweede verdieping van hul skool by te woon of om langs die sportveld uit volle bors te skree om jou kind aan te moedig tydens ’n wedstryd, is goed wat ’n mens doen sonder om twee keer te dink.

Selfs eenvoudige take soos hierdie vereis nou voorafbepl­anning en selfs dít is geen waarborg dat Tanya by al haar kinders se groot oomblikke sal kan wees nie.

Waar sy in ’n mooi blou top, met haar funky rooi hare en groot glimlag vir ons groet in die sitkamer van haar tannie Stella Classen (46) se huis in Ceres in die WesKaap, sou jy nooit sê sulke groot uitdagings is deel van Tanya se lewe nie.

Jy sou ook nooit kon dink dat sy by die dood omgedraai het, amper haar kind moes laat aanneem het of elke dag vir die afgelope drie jaar met pyn in haar bene lewe nie.

Tanya beweeg gemaklik in die vertrek rond in haar swart rolstoel asof sy van geboorte af niks anders ken nie. Sy skuif reg in haar stoel en maak haarself gemaklik voordat ons begin gesels.

Op haar linkerarm is ’n letsel wat vanaf haar skouer tot by haar elmboog strek. Dís waar haar arm op ses verskillen­de plekke tydens die ongeluk gebreek is.

Haar swart broek is net lank genoeg om haar bene toe te maak, met die letsels aan beide bene wat uitsteek, waar haar bene by die knieë afgesit is. Die linkerstom­pie is effens geswel en Tanya vat elke nou en dan daaraan, terwyl sy verduideli­k dat sy elke dag pyn ervaar.

Tanya wag nog vir ’n datum vir ’n operasie om haar linkerbeen nog hoër af te sit om die pyn die verlig. Dit is aanvanklik nie reg gedoen nie en daarom ervaar sy al vir jare elke dag intense pyn in dié been. Soms voel dit asof iets besig is om haar been te vergruis, maar dit hou Tanya nie terug nie.

Baie mense sou dalk gesukkel het om vrede te maak met die feit dat hulle een dag wakker geword het sonder hul bene en dan normaal moes probeer aangaan met hul lewe.

Maar hierdie ma is stralend en haar oë oortuig jou wanneer sy sê sy het vrede gemaak met haar lot en wat daardie dag in 2010 gebeur het.

DAG VAN ONGELUK

Tanya, wat voor haar ongeluk by die Jumbo Wholesaler­s in Epping Industrial in Kaapstad gewerk het, was een Vrydag besig om haar transaksie­s vir die dag op te tel toe daar R150 short was in haar till. Dit het haar baie gepla dat die geld te min is omdat sy die volgende Maandag permanent aangestel sou word en die vermiste geld kon haar kanse belemmer.

Sy is daardie aand met ’n swaar hart huis toe en het haar ma vertel van haar probleem. Haar ma het vir haar gesê sy moet daaroor bid en dit is presies wat sy gedoen het. Die volgende oggend het Tanya besef wat sy verkeerd gedoen het en kon nie wag om by die werk te kom nie. Sy wou die fout so gou as moontlik regstel.

Sy het gewoonlik saam met ’n vriendin die trein gevat om by die werk uit te kom, maar daardie oggend het hulle ’n lift gekry.

“Die meisie wat saam met my gewerk het, het gesê daar is te min treine oor ’n naweek en dat dit makliker sou wees as ons ’n lift met iemand vat. Sy kon vir ons ’n lift reël vir wanneer ons naweke moet gaan werk. Daardie oggend was die eerste keer dat ek ja gesê het en gebruik gemaak het van die lift,” vertel sy.

Tanya was enkele minute van haar werkplek af en die bakkie waarin

sy was, moes nog net by die verkeersli­g indraai, toe ’n ander bakkie glo oor ’n rooi lig jaag en in hulle vasry. Sy is uit die bakkie geslinger en kan niks verder onthou nie. Sy weet slegs wat ander vir haar vertel het.

Paramedici het op die toneel gesukkel om haar hart weer aan die klop te kry. Haar regterbeen is in die ongeluk vergruis en dokters het dit dadelik afgesit.

Tanya se linkerbeen was nog daar, maar die dokters het nie veel hoop vir die been gehad nie en het besluit om dit eerder in ’n later stadium af te sit wanneer sy sterker is. Daarna was sy vir amper twee weke in ’n koma.

Sy voel sy het“gesterf”op die ongeluksto­neel en het ’n ontmoeting met die Here gehad terwyl sy bewusteloo­s en in ’n koma was. Baie glo haar nie, maar dis oukei. Net sy het nodig om dit te glo, sê Tanya.

“Ek is nie seker of dit vir ’n paar minute was nie en of dit oor die volle tydperk was wat ek in ’n koma was nie. Al wat ek weet, is dat dit baie lank gevoel het. Ek dink ek was in die hemel, want die gras was groener as wat ek nog ooit vantevore gesien het en die rivier was van kristal gemaak. Dit was so mooi en ek het daar langs ’n man met ’n helder lig rondom hom gestap.

“Ek kon nie sy gesig sien nie, maar ek glo dit was die Here. Hy het aan my verduideli­k ek was in ’n ongeluk en dat een van my bene reeds verwyder is. Hy het ook gesê ek sal vir ’n baie lang tyd nie kan loop nie,”herleef Tanya haar droom.

Die Here het glo ook vir haar gesê sy aanbid Hom weekliks in die kerk, maar sy het nie ’n verhouding met Hom nie.

“Ek het hierdie boodskap verstaan. Hy het belowe as ek die besluit neem om nader aan Hom te lewe, Hy my sou gesond maak.“Ek wou daar wees vir my kinders en het onmiddelli­k vrede gemaak met alles wat besig was om te gebeur,”sê Tanya met ’n ernstige uitdrukkin­g op haar gesig, terwyl sy telkens by die groot sitkamerve­nster uitkyk.

Sy het nog altyd ’n sterk verhouding gehad met haar pa, Jacob, en toe haar pa ’n week ná haar ongeluk by die huis aankom van die skip waarop hy gewerk het, was hy te bang om haar in die koma te sien, vertel Tanya. Maar toe hy haar uiteindeli­k besoek en sy die bekende reuk van haar pa se Brut-naskeermid­del ruik, het dit haar laat wakker skrik.

Toe Tanya haar oë oopmaak, was almal verlig om te sien sy is orraait, maar verbaas dat sy reeds geweet het haar regterbeen is afgesit. Sy het aan hulle verduideli­k wat gebeur het en het gesê sy vergewe almal betrokke en het vrede gemaak met haar situasie.

Dokters het verwag dat Tanya minstens 18 maande in die hospitaal sou moes bly vir rehabilita­sie en om te herstel, maar sy het almal verbaas toe sy ná ses maande sterk genoeg was om huis toe te gaan.

“Die dokters kon dit nie glo nie, maar ek

het geweet dit was die Here se werk. Ek was bly om huis toe te gaan om met my kinders te wees, maar het ook skuldig gevoel omdat ek afhanklik was van my ouers en ek was nie seker hoe ek vir my kinders sal kan sorg nie,”sê sy.

“Dit was baie moeilik vir my ouers om te aanvaar, maar hulle is my helde. My pa is terug na die skip toe en my ma het haar werk opgegee om my voltyds te versorg.”

NÓG ’N SKOK kom

Net toe hulle besig was om hul voete te vind en gewoond te raak aan hul nuwe roetine, word Tanya twee maande nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, weer hospitaal toe gejaag met krampe soortgelyk aan dié van kraampyne.

’n Swangerska­p was die laaste ding op haar gedagtes. Sy het gereken indien dit die geval was, sou dokters dit opgetel het in die ses maande wat sy in die hospitaal was ná haar ongeluk. Maar toe sy by die hospitaal aankom, het dokters bevestig sy ís wel swanger en reeds in kraam!

“Die baba was reeds ten volle ontwikkel. Ek was geskok en kon nie verstaan hoe niemand dit agtergekom het nie. Ek moes met die ongeluk reeds swanger gewees het, maar ek het nie geweet nie. Ek het ook geen simptome van swangerska­p getoon nie. Ek is onmiddelli­k by die hospitaal opgeneem vir kraam, maar het geen ander opsie gesien as om die kind te laat aanneem nie. Dit was reeds traumaties vir my ouers om my ongeluk te aanvaar en ek het geweet ek sal dit nie kan bekostig om vir ’n vierde kind te sorg nie. Ek kon nie meer werk nie en kon nie van my ouers verwag om na nóg ’n kind te kyk nie,”sê Tanya hartseer. Sy probeer dapper haar emosies beheer wanneer sy hieroor praat, maar kyk telkens af en wanneer sy wel opkyk, staar sy in die niet.

Sy het vir die personeel by die hospitaal gesê sy wil nie die kind sien nie en dat sy die kind gaan laat aanneem. Sy was ook bang om natuurlik geboorte te skenk en het vir die dokters gevra of sy met ’n keisersnee geboorte kan gee.

Sy het net een been gehad en die been wat sy nog gehad het, was dood. Iemand moes dit optel wanneer hulle haar rondgeskui­f het en sy kon nie dink hoe sy so ’n baba sou kon uitdruk nie.

Die dokter het egter gesê ’n keiser- snee sou gevaarlike­r wees omdat sy nie beweeglik was nie. Sy het toe gebid en ingestem om natuurlik geboorte te skenk.

Sy het vir die personeel in die kraamsaal verduideli­k hoe om haar been vas te hou sodat dit nie pyn nie en toe het sy begin druk. Haar oë het die horlosie gevang en sy het emosioneel begin raak toe sy besef dis haar pa se verjaardag.

Selfs nou, sewe jaar later, raak sy stil en emosioneel wanneer sy hieroor praat.

“Ek het net twee keer gedruk en toe is hy (baba) uit. Hulle het hom weggeneem na die babakamer toe terwyl ek in die kraamsaal gelê en wag het. Baie dokters het in die kamer kom kyk na die vrou sonder ’n been en met die ander been wat niks beteken nie, wat so pas geboorte geskenk het.

“Dit het my aandag vir ’n paar minute afgelei, maar toe ek in die saal met die ander mammas kom en ek die enigste een sonder ’n kind is, het dit my hard getref.

“Ek het aanhoudend gehuil. Almal het gedink dat ek ’n miskraam gehad het. Hulle het my jammer gekry. Ek moes aan almal verduideli­k dat dit nie is wat gebeur het nie.”

’n Berader het haar kom sien en toe sy sien hoe emosioneel Tanya is, het sy haar die opsie gegee om die aanneming te heroorweeg. Die berader het gesê sy moet met haar opvolgbeso­ek vir haar been die volgende week besluit of sy die kind wil hou of laat aanneem omdat sy so emosioneel oor alles was.

’n WONDER & GENADE

Tanya beskryf dit as ’n wonderwerk en genade dat sy hierdie tweede kans gegun is. Haar tannie Stella in Ceres het gehoor van Tanya se vierde kind se geboorte. Sy het Tanya gebel en aangebied om Emmanuel (nou 7) groot te maak totdat Tanya self vir hom kon sorg.“Sy wou hom in die familie hou en het gesê hulle sal ’n plan maak om vir hom te sorg. Ek was so dankbaar en sal nooit genoeg dankie kan sê nie,”voeg sy aangedaan by.

Emmanuel is vandag gesond en gelukkig. Hy terg sy ma en hardloop saam met die ander kinders in die huis, terwyl sy ma die onderhoud doen. Hulle het ’n hegte band al woon hy nie permanent by Tanya in Mitchells Plain nie.

Al kry sy nog baie hulp van haar ouers af, kan Tanya die meeste dinge self doen. Sy kan nou weer na haarself en haar kinders kyk. Sy en haar drie ander seuns woon steeds by haar ouers in Mitchells Plain, maar Tanya beweeg tussen haar ouerhuis en Ceres waar Emmanuel by haar tannie Stella bly.

“Emmanuel is baie gelukkig en wil net hê almal moet Ceres toe trek. Hy wil nie stad toe trek nie, al mis hy sy broers. Die ander kinders is baie gelukkig in hul skool en ek gaan hulle vir eers daar hou.

“Ek het ’n events company wat ek hierdie week registreer. Daar is ’n groot mark in Ceres hiervoor en ek sien uit na die uitdaging, maar my kinders sal nog vir ’n rukkie in twee verskillen­de huise woon. Ons is almal gelukkig en lief vir mekaar en dit is wat belangrik is,”sê Tanya.

NIE MEER GEBROKE

Tanya is op so ’n goeie plek in haar lewe, want sy het ’n nuwe tipe vrede gevind.

Sommige dae is moeiliker as ander en soms wanneer sy alleen is, veral wanneer sy wens sy meer dinge met haar kinders kan doen, raak sy hartseer en dink sy oor hoe die lewe sou wees as sy wel haar bene gehad het. Maar gelukkig is daardie dae min en maak sy die meeste van elke dag.

“Die Here het vir my belowe Hy sal my herstel. Sommige mense dink dit beteken ek sal weer kan loop, maar ek dink die Here het bedoel Hy sal my van binne weer herstel. Voor die ongeluk was ek ’n gebroke mens en het nie besef hoe goed die lewe kan wees nie.

“Vandag is ek gelukkiger as ooit tevore. Ek dink ek is die sexyste persoon in ’n rolstoel en my glimlag is groter as sommige mense wat wel bene het,”sê sy vol lewenslus.

“’n Mens bid altyd laat die Here se wil geskied, maar ek weet nie of almal dit kan aanvaar wanneer so iets die Here se wil is nie. Ja, my lewe kon baie makliker gewees het as ek nog my bene gehad het, maar met die besluite wat ek geneem het, kon dit selfs nog moeiliker gewees het. Ek sou dalk steeds ’n gebroke persoon gewees het.”

 ??  ?? LINKS: Tanya glo die ongeluk het van haar ’n beter mens gemaak. REGS: Tanya met drie van haar seuns, Deolano (15), Deolan (12) en Ezra (8).
LINKS: Tanya glo die ongeluk het van haar ’n beter mens gemaak. REGS: Tanya met drie van haar seuns, Deolano (15), Deolan (12) en Ezra (8).
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa