sibbe se seëning
Sy is op sewe met leukemie gediagnoseer en toe haar boetie hoor hy kan haar help gesond maak, het hy nie twee keer gedink nie.
Wanneer iemand met kanker gediagnoseer word, hoor jy ’n doodsvonnis. En ’n ma van Port Elizabeth kon nie glo toe dié lot verlede jaar haar dogter, Tashnay Memphies (7), tref nie. Tashnay is met ’n aggressiewe vorm van leukemie gediagnoseer en sedertdien was hulle gewikkel in ’n wedloop teen tyd om haar lewe te probeer red.
Natasha Memphies (35) van Schauderville in Port Elizabeth, het hard gebid vir ’n wonderwerk vir haar dogter, maar sy het ook geweet dit is nie vir baie kankerlyers beskore nie.
’n Stamseloorplanting (ook bekend as ’n beenmurgoorplanting) was Tashnay se enigste kans op oorlewing omdat sy ’n hoërisiko-geval was.
En die kanse om ’n skenker te kry wat 100% match, is een uit 100 000 volgens die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR). Daar was dus ’n uiters skraal kans dat Tashnay ’n skenker sou kry en sodoende die geleentheid gegun sou word om haar jong lewe voort te sit.
Maar toe kry Natasha die grootste verrassing en wonderwerk van haar lewe toe haar seun en Tashnay se broer, Jermaine (10), ’n 100% match is vir Tashnay!
Dit is besonders, want selfs al is mense familie, is hulle nie noodwendig die gepaste skenker vir hul siek familielid nie.
Op hul webtuiste www.sabmr.co.za sê die SABMR in slegs 30% van gevalle kan ’n skenker in die pasiënt se eie familie gevind word en meestal is dit ’n broer of suster.
Jermaine en sy sussie het ’n hegte band en dit was vir hom erg om haar nie by die huis te hê of haar te kon besoek in die hospitaal verlede jaar nie.
So, toe hy die kans kry om vir Tashnay te help deur eers te toets of hy ’n stamselmatch is en toe sy stamselle kon skenk sodat dit tydens ’n stamseloorplanting in haar oorgeplant kon word, was Jermaine meer opgewonde as bang.
En toe gebeur die ander wonderwerk vir Natasha toe die stamseloorplanting onder leiding van dr. Johani Vermeulen, hoof van Port Elizabeth Provinsiale-hospitaal se pediatriese onkologie-eenheid, ’n sukses is en Tashnay se kanker in remissie gaan.
Volgens dr. Vermeulen was dit die eerste stamseloorplanting op ’n kind wat by ’n Oos-Kaapse hospitaal gedoen is.
“Die sukses van Tashnay se operasie bied kinderkankerpasiënte in die Oos-Kaap die geleentheid om by die huis behandel te word. Voorheen moes hulle Kaapstad of Pretoria toe gaan,”sê dr. Vermeulen.
Natasha kon einde Oktober met ’n dankbare hart, ’n opgewonde Jermaine en met Tashnay aan haar sy uit die hospitaal stap. Haar kind het nog ’n kans op oorlewing gekry en hulle het boonop die hospitaal heelwat vroeër as die verwagte drie maande verlaat.
Tashnay vorder goed en gaan elke week in hospitaal toe vir check-ups om te kyk hoe sy vorder ná die oorplanting. Maar die beste nuus van alles is dat sy op 21 Februarie gr. 1 kon begin – iets waarna sy én Jermaine albei baie na uitgesien het!
KANKER TREF SKIELIK
Tashnay se leukemie het in April verlede jaar só vinnig op Natasha afgekom dat sy nie eens tyd gehad het om dit te prosesseer nie, want sy moes vinnig tot aksie oorgaan sodat haar kind so gou moontlik behandeling kon kry.
Natasha vertel Tashnay het vanaf 1 April 2016 skielik koorsig geraak, baie min begin eet en het mondsproei (thrush) gehad. Sy het ook ’n merk op haar lyf gehad, wat later pers geraak het en bloed begin opgooi.
“Teen die tyd (6 April 2016) wat ons haar gerush het na Livingstone-hospitaal toe, het bloed in haar mond gestol. En toe ons op 7 April 2016 by Port Elizabeth Provinsiale-hospitaal kom, is Tashnay getoets en gediagnoseer met leukemie. Ek het nie kans gehad om alles te process nie, want sy moes dadelik met chemo begin,”vertel Natasha.
Nóg ’n terugslag het Natasha die week in Mei 2016 getref toe dr. Vermeulen haar meedeel dat die eerste fase chemoterapie nie Tashnay se leukemie in remissie geplaas het nie en hulle met ’n tweede fase moet begin. Dr. Vermeulen het ook ’n stamseloorplanting voorgestel om Tashnay se lewe te probeer red – en Natasha het hierdie reddingsboei gevat wat na haar kant toe gegooi was.
En toe sy met Jermaine praat om te hoor of hy kans sien om homself te laat toets om te kyk of hy ’n stamselskenker vir sy suster te wees, het hy nie eens twee keer daaroor gedink nie.
Dis duidelik Tashnay en Jermaine het ’n spesiale band, want hulle lag en gesels baie met mekaar. Hulle is ook liefdevolle kinders wat met drukkies groet en baie gou in ’n mens se hart inkruip.
Jermaine gesels soos ’n grootman wanneer hy oor die stamseloorplanting praat: “Ek was nie bang nie, maar ek was tog net ’n bietjie bang. Hulle (hospitaalpersoneel) het medisyne gegee en toe slaap ek. Ek het nie eens pyn gevoel nie.”
Oor Tashnay se siekte sê hy:“Ek was hartseer en het gehuil toe my suster in die hospitaal was. Ek het met haar oor die foon gepraat, maar ek wou nie sonder my suster skool toe gaan nie.”
Tashnay sê sy was baie bly dat Jermaine haar gehelp het en sien uit om weer saam met hom skool toe te gaan en te speel.
Natasha glimlag trots en vryf liefdevol oor Tashnay – wie se hare weer begin teruggroei het – en Jermaine se koppe. Tashnay het permanent ’n glimlag op haar gesig en dis sy wat haar ma deur die moeilike tye gedra het, al was sý die siek een, vertel Natasha.
“Tashnay was altyd cheerful te midde van haar siekte. Ek het een keer gehuil en vir haar gesê sy moet belowe sy gaan nie opgee nie. Toe sê sy ek‘moenie worry nie, Jesus kyk na my en jy gaan my nie verloor nie’.”
die OORPLANTING
Dit is dieselfde lewenslus en geloof in Jesus van Tashnay wat dr. Vermeulen se hart aangegryp het.
“Tashnay het so ’n lig wat in haar skyn oor haar liefde vir Jesus. Dit was ’n baie emosionele ding met haar. En Jermaine was so opgewonde om die skenking te doen – hy is ’n weird kind,”voeg sy by.
Sy verduidelik voorts ’n stamsel is die primitiefste sel in die beenmurg waar alle tipe selle vervaardig word en sê kinders het gewoonlik baie stamselle. Sy sê hoewel nie alle leukemie-pasiënte ’n stamseloorplanting nodig het nie, was dit nodig in Tashnay se geval.
Dr. Vermeulen verduidelik behalwe dat hulle gekyk het of Jermaine se stamselle ’n match is vir Tashnay, het hulle ook seker gemaak sy algehele gesondheid is goed en dat sy niere ook in ’n goeie toestand s.
Tydens die oorplantingsprosedure het sy en die mediese span wat haar bygestaan het, Jermaine se beenmurg direk uit sy heup getap – 5 ml beenmurg op ’n slag.
Die hele prosedure het een en ’n half uur geduur waarna Jermaine se beenmurg deur ’n filter gegaan het en in Tashnay oorgeplant is.
“Die oorplanting self kan lang- en korttermyngevolge hê (vir die ontvanger), maar Tashnay was nooit siek nie. Sy is fine vir nou en kom eenkeer per week in hospitaal toe sodat ons kan kyk of haar tellings reg is.
“Ons explore elke moontlikheid om haar gesond te hou,”sê dr. Vermeulen. Tashnay kom kort daarna in haar kantoor en die dokter gee haar ’n soen op die voorkop en ’n stywe druk. Dis duidelik Tashnay deel met haar ook ’n spesiale band.
Toe ons uiteindelik vir Natasha, Tashnay en Jermaine afsien, het die kinders ons weer met stywe drukkies gegroet.
Jermaine kon nie wag om in te gaan huis toe sodat hy en Tashnay kon gaan speel en dat die dag moet omgaan omdat sy die volgende dag weer saam met hom hand aan hand kon skool toe stap.