Kuier

Wet sê hulle móét sorg dat kinders skool bywoon

Volgens wet word ouers lankal verplig om hul kinders op die skoolbanke te hou. Nou gaan dít egter in een gemeenskap streng toegepas word en dis die ouers wat hulle min daaraan steur, wat gaan boet.

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

’nStreng polisie-teenwoordi­gheid, gordyne wat toegetrek is en verlate speelterre­ine waar kinders voorheen gespeel het, is alles tekens van die aanhoudend­e toename in misdaad wat besig is om gemeenskap­pe tot op hul knieë te bring.

Jongmense word al hoe meer by misdaad en bende-aktiwiteit­e ingesleep, maar talle meen dit is omdat ouers nie hul ouerlike pligte nakom nie. Kinders wat in die skool moet wees, dwaal doelloos rond en raak betrokke by al die verkeerde dinge.

Die geluid van vuurwapens wat losbrand en die kontraster­ende stilte in die verlate strate is iets waaraan mense van woonbuurte in die Wes-Kaap soos Avian Park in Worcester, Paarl-Oos en Manenberg en Hanover Park op die Kaapse Vlakte al vir jare gewoond is, maar iewers sal dit móét stop, meen bekommerde inwoners. En dit begin by die ouers. Dis juis daarom dat die Suid-Afrikaanse Skolewet no. 84 van 1996 voortaan heelwat strenger toegepas gaan word in plekke soos die Paarl.

Kinders wat gedurende skooltyd op straat is, was nog altyd ’n groot probleem, maar weens die toename in geweld en kinders wat daarby betrokke raak, gaan daar nou strenger opgetree word teen ouers wat weet dat hul kinders nie in die skool is nie. Daar sal ook regstappe geneem word teen ouers wat weet hulle kinders is by misdaad betrokke, maar wat nie die polisie daaroor inlig nie.

Nathan Johnson, staatsaank­laer van die Paarl-landdrosho­f, sê hierdie is beslis nie ’n nuwe wet nie en bestaan al vir ’n geruime tyd, maar word nie altyd streng geïmplemen­teer nie. Hy sê ’n gebrek aan menslike hulpbronne, polisievoe­rtuie en hofrolle wat te vol is, is van die redes hoekom hierdie wet oor die jare nie altyd streng toegepas kon word nie.

wet streng toegepas

Volgens Nathan het die toenemende voorvalle van kinders wat met gesteelde goed en dwelms gevang word of by bendebedry­wighede betrokke is, ’n groot rol gespeel in die besluit om die wet strenger in hul streek toe te pas.

“Daar is te veel kinders wat die skool verlaat en dan deur die polisie gevang word terwyl hulle met onwettige dinge besig is. Dit is onaanvaarb­aar en ons wil ’n sterk boodskap uitstuur dat dit nie toegelaat gaan word nie,”sê hy.

Ouers sal nou twee keer moet dink voordat hulle hulself blind hou vir hul kinders se skelmstrek­e.

’n Ma wat ’n baie moeilike besluit moes neem, is Anthea Davids (48) van Worcester, in die Boland.

Sy het haar 17-jarige seun aan die polisie oorgegee nadat sy uitgevind het dat hy by ’n bendeskiet­ery betrokke was. Anthea meen talle ouers is bewus van hul kinders se dade, maar beskerm steeds die kinders of maak of hulle nie van hulle kinders se dade weet nie. Maar dit was iets wat Anthea glad nie bereid was om te doen nie.

Haar seun, Marco, was nie altyd by misdaad en bende betrokke nie. As kind was hy skaam en teruggetro­kke. Hy het nooit probleme gegee nie en was baie betrokke by die kerk se jeug. Toe hy op hoërskool kom, het dinge stadig begin verander. Hy het met ’n groep vriende begin uithang wat bekend was as kwaaddoene­rs in die gemeenskap. Sy het hom gewaarsku om weg te bly van hulle af.

Haar man, Rodney (52), het hom ook gewaarsku. Dit het gelyk asof hy na hulle luister, maar toe begin hy laat saans in die huis kom en meer aggressief raak. Toe hy

16 word, het dit al hoe moeiliker geraak om hom te hanteer, vertel sy ouers.

“Ons kan vir hom sê hy moet in die huis bly, maar ons is nie altyd by die huis nie en as ons weer sien, loop hy iewers rond. Hy luister ook nie en hy sal met ons stry wanneer ons met hom praat. Mense het ’n paar maande gelede vir ons begin vertel oor dinge waarby hy betrokke is en as ouer wil jy dit nie glo nie. Dit is mos nie hoe ons hom grootgemaa­k het nie,”sê Anthea.

“Sy onderwyser­s het begin kla dat hy probleme in die klas gee en meer aggressief is. Hulle het ook gekla dat hy swak doen en dat hy nie meer kan konsentree­r nie. Toe stories van ’n skietvoorv­al die rondte begin doen, het ek vir hom daaroor uitgevra. Hy het dit erken. Ek is later die week polisie toe.” Sy het geen ander keuse gesien nie. As ouer en inwoner voel sy dit is haar plig om haar familie en die gemeenskap te beskerm.“Ons gemeenskap is eintlik maar klein en almal weet wie die kwaaddoene­rs in die gemeenskap is. Ek woon al jare hier en ek was ook al deel van meer as een gesprek oor kinders wat by misdaad betrokke is en hul ouers wat niks daaraan wil doen nie,”sê sy.

ouer se plig

Hoewel dit haar hart gebreek het om haar kind oor te gee, het Anthea gevoel sy moet dit doen.“Ek wou nie een van daardie ouers wees nie en het geweet dit sou die beste ding vir my kind wees as ek hom oorgee. Ek het my kinders van kleintyd af gewaarsku om nie by bendes of misdaad betrokke te raak nie.”

Volgens Anthea is dit tyd vir ouers om teen hul kinders op te staan en hulle te help om reg te kom. As die kinders nie wil luister nie, moet hulle maar voel, meen sy. Sy sê baie veroordeel haar, maar net so baie bedank haar vir haar eerlikheid.

As ma, sê sy, sal jy altyd jou kinders wil beskerm en veilig hou, maar wanneer jou kind veroorsaak dat ander nie meer veilig voel nie, mag jy dit nie toelaat nie. Wanneer praat nie meer goed genoeg is nie, voeg sy by, sal jy jou kind dalk kan red wanneer hulle sien en voel dat hul dade wel gevolge dra.

Volgens haar sou sy nie met haar gewete kon saamleef as nóg iemand weens haar seun se dade moes seerkry nie.

Kapt. Diana Linee, ’n woordvoerd­er van die polisie meen hulle doen hul bes om skuldiges te vang, al kry hulle nie altyd samewerkin­g van die gemeenskap nie.

“Dit is nie altyd maklik om jong misdadiger­s vas te vat nie en baie keer kry ons nie die skuldiges nie. Baie van die moeilikhei­d vind tydens skoolure plaas wanneer daar nie toesig oor hulle is nie en dan lei dit tot geweld wanneer mense weer by die huis is,” verduideli­k sy.

Linee sê die polisie doen goeie werk, maar dit is nie altyd maklik om mense te vang of om genoeg bewyse te kry sodat mense vervolg kan word nie. Dit is hoekom hulle nou meer ernstig teen ouers gaan begin optree.

ernstige oortreding

Volgens Linee is dit die ouer se plig om seker te maak hul kinders is in die skool. As hulle weet hul kinders is nie in die skool nie, moet hulle ’n plan maak om hulle vas te vat, veral as hulle daarvan bewus is dat hul kinders teen die wet optree.

“Hierdie is van toepassing op kinders wat nog op skool is, maar ook vir enige kind onder die ouderdom van 21 jaar. As ’n ouer weet hulle kind is betrokke by misdaad, maar niks sê nie, kan hulle self in hegtenis geneem word. Indien enige goed by hulle huis gevind word of enige inligting aandui dat hulle wel geweet het, gaan hulle aangekla word,”waarsku sy.

“Dit is baie moeilik om dit te bewys, maar dit is hoekom ons die gemeenskap se hulp nodig het. Almal weet wat in hul eie straat aangaan en ons wil mense vra om saam met die polisie te werk. Dit tel ook vir persone wat ’n leerder tydens skoolure by hul smokkelhui­s of onwettige speletjies-arkades toelaat. Hulle sal ook aangekla word.”

Zelda Titus (43), ’n inwoner van Paarl en self ’n ma, verwelkom hierdie besluit en sê sy is moeg van ouers wat hul kinders beskerm.“Ons almal weet wie skuldig is en wie by bendes betrokke is. Dit is gewoonlik daardie ouers wat altyd iets te sê het of ’n opinie het, maar wil niks weet van hul eie kinders wat misdadiger­s is nie. Dit moet stop,” sê sy.

“Ons kan nie altyd ons kinders dophou nie, maar dit is hoekom dit belangrik is dat ons as gemeenskap saamstaan. Ons moet vir mekaar kan sê wanneer ons kinders verkeerd doen en saam vir hulle prys wanneer hulle goeie dinge doen. Dit is hoe ons veilig gaan bly en ons kinders gaan red.”

Die polisie ontvang daagliks talle oproepe oor kinders wat tydens skoolure buite rondloop, maar dit is onmoontlik om almal terug skool toe te vat.

Linee glo wel dat hulle hierdie keer meer suksesvol gaan wees met die toepassing van hierdie wet omdat hulle nou die ondersteun­ing van die howe het.

Hulle speurders werk baie hard en doen goeie werk, maar meer ondersteun­ing van ouers is belangrik.

“Wanneer ons ’n ouerhuis gaan besoek, vind ons dikwels gesteelde items wat in die huis weggesteek word.

“Ouers sal ook hul kinders se stories glo en soms selfs saamspeel. Dit maak ons werk baie moeilik en dit is hoekom hierdie besluit om ernstig teen ouers op te tree, vir ons baie gaan help,”sê sy.

“Ouers van die jong misdadiger­s gaan nou ook aangekla word en indien hulle skuldig bevind word, kan hulle ’n boete ontvang of tronkstraf opgelê word.

“Hierdie wet is nasionaal van toepassing, maar hoe ernstig dit gevolg word, hang af van streek tot streek. Ons sal ons beste doen om seker te maak dat die gemeenskap vir almal ’n veilige plek is, maar ouers sal ook hulle deel moet doen.”

Almal weet wat in hul eie straat aangaan en ons wil mense vra om saam met die polisie te werk.

Lees meer oor hierdie wet op www.gov.za/ Act84of199­6

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa