Kuier

Herken tekens van kinder-depressie

Dis vandag ’n algemene verskynsel dat kinders ook depressief raak. Maar hoe herken jy as ouer die gevaarteke­ns?

- DEUR elmarine anthony

’nMens verwag nie van kinders om met diep, donker gedagtes te sit nie. Jou kinderjare is mos veronderst­el om kommervry te wees.

Maar deesdae is dit meer algemeen vir kinders om depressief te word en dit kom ook meer algemeen voor as wat ’n mens sou dink. Daar is vandag baie meer stressors wat depressie kan veroorsaak, wat dikwels vererger word deur sosiale media. Dit is belangrik om die tekens te ken en ingelig te bly.

Linda Williams* van Goodwood in die noordelike voorstede van Kaapstad, se 14-jarige dogter, Miché*, het sonder haar wete probeer selfmoord pleeg. Linda sê sy was te besig om die gevaarteke­ns in Miché te sien en het nooit gehoor van kinders wat aan depressie ly nie.

Hoërskool het nie op ’n goeie noot vir Miché begin nie. Sy het probleme met haar vriende gehad en ’n voorval waartydens ’n onderwyser haar nie wou toelaat om toilet toe te gaan nie. Sy het toe in die klas haar broek nat gepee. Sy het later gedragsver­anderinge getoon, probleme met vriende en memory lapses (kon sekere dinge nie onthou nie) gehad. Haar skoolwerk het verswak en sy het ook minder geëet.

Haar ouer broer wat 18 is, het opgemerk iets is nie lekker met Miché nie. Hy het een aand om die tafel aan hul ma gesê om haar dokter toe te neem.“Hy het gesê‘miskien het sy ADHD. Daar is iets fout met haar,’”sê Linda. Ná die Desember-vakansie verlede jaar het sy ’n briefie aan haar pa geskryf:“Ek voel nie lekker nie, maak ’n afspraak by die dokter. Ek is hartseer. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wil nie so voel nie.”

skokdiagno­se

Volgens Linda was dít die eerste keer dat sy gesê het sy is hartseer. ’n Algemene praktisyn het bevestig dat sy aan depressie ly. Sowat ’n week later het Miché ’n psigiater gesien wat aanbeveel het dat sy

in ’n inrigting opgeneem word – iets wat Linda nie wou doen nie.“Ek het dan nou die dag uitgevind sy is depressief. Ek het gedink dis ’n mal idee.”

Dis ook by die psigiater wat Linda uitgevind het haar dogter het oor die Desemberva­kansie probeer selfmoord pleeg. Sy het pille gedrink, maar nie genoeg nie.“Ek was in skok. Wat sê jy as iemand uit die bloute vir jou sê jou kind het probeer selfmoord pleeg?”Die psigiater het ook gesê haar kind sny haarself en dat sy ADHD en probleme met woede het. Linda het begin skuldig voel.“Sy het ons hulp gevra, maar ons het dit as niks afgemaak. Ek het gedink sy het stres,”vertel Linda hartseer.

Miché is op medikasie gesit, maar dit het ’n tydjie geneem vir die medikasie om te werk.“Sy wou nie skool toe gaan nie. Ek was bang om haar alleen by die huis te los. Ek was bang sy maak haarself seer.”Met Miché se derde besoek aan die psigiater, is daar weer aanbeveel dat sy opgeneem word. Sy is hierna vir drie weke opgeneem.

Miché is nou orraait, volgens Linda, en het vir net meer as ’n week by die huis herstel nadat sy opgeneem is. Linda is aanbeveel om haar weg te hou van sosiale media en sy het ook opgelees en video’s gekyk oor kinders wat depressie het.

Kommunikas­ie tussen ma en dogter het verbeter. Linda gesels gereeld met haar en gee haar drukkies. Miché is nou ook meer bereid om te sê hoe sy voel. Linda is ook nie meer bang om haar alleen by die huis te los nie.“Ek het haar weer begin vertrou en haar ’n bietjie meer vryheid gegee.”

Dr. Helen Clarke, hoof van die departemen­t van kinder- en adolessent-psigiatrie van Chris Hani Baragwanat­h Akademiese Hospitaal in Soweto, sê sommige kinders is meer vatbaar vir depressie as ander. Dit kan geneties oorgedra word, soos in ’n familie met ’n geskiedeni­s van depressie, bipolêre gemoedsteu­ring asook selfmoord.

Depressie is ook meer algemeen in die konteks van familie-stressors soos huishoudel­ike konflik, dwelm- en alkoholmis­bruik, kindermish­andeling, lae sosio-ekonomiese status en skoolprobl­eme soos swak akademiese funksioner­ing, afknouery en trauma soos byvoorbeel­d ’n kaping.“Ons kinders word dikwels op ’n daaglikse basis aan baie kumulatiew­e stressors blootgeste­l en ons dink dikwels dat hulle te jonk is om daardeur geraak te word,”verduideli­k Clarke. Dit is baie algemeen in kinders om aan meer as een toestand op ’n slag te ly, byvoorbeel­d depressie en ADHD of depressie en angs. Wanneer dit gebeur, het die kind simptome van beide versteurin­gs en albei vereis kliniese aandag.

“In ons baie besige en gespanne lewens sukkel baie ouers om geld te verdien om in hul kinders se basiese behoeftes te voorsien. Om die familie aan die gang te hou, saam met ander stressors, beteken hulle is nie in staat om na hul kinders se behoeftes aan kwaliteitt­yd – soos om te praat, gehoor te word en hul gevoelens om verstaan te word – om te sien nie. Baie keer mis ouers depressie in hul kinders omdat hulle nie weet hoe hul kinders voel nie.”

gedagtes wat dwaal

Kinders is baie bekend met die konsep van die dood, sê Clarke. Hulle word vanaf ’n jong ouderdom daaraan blootgeste­l. Hulle sien dooie liggame by begrafniss­e en ervaar die dood van familieled­e.

“Dood word ook beskou as die uiterste ontsnappin­g in tye van droefheid. Kinders dink dit sal beter wees om dood te wees of dat dit beter sal wees sodat hulle minder van ’n las vir hul ouers sal wees, sou hulle doodgaan.”Dít is gewoonlik ’n aanduiding van die erns van die depressie. Dié gedagtes vorder selde na werklike gedagtes van selfmoord, maar dit is altyd belangrik om te vra, meen Clarke. Kinders sê dikwels nie vir hul ouers van die gedagtes nie omdat hulle skuldig voel hieroor en dit is slegs in sielkundig­es se onderhoude met die kinders (en sonder die ouers) wanneer hulle direk hieroor gevra word, dat hulle sal praat. Dit is dikwels ’n groot verligting vir die kind om daaroor te praat.

Kyk vir tekens

Depressiew­e kinders kan hartseer, onrustig en geïrriteer­d wees. Laasgenoem­de mag daartoe lei dat die kind met gedragspro­bleme gediagnose­er word, terwyl die eintlike depressie nie gediagnose­er word nie. Hier is die tekens van depressie: •

Kind is dalk hartseer, geïrriteer­d, huil baie of gooi temper tantrums; • Stadig, teruggetro­kke of geïsoleerd; • Onrustig, soek moeilikhei­d, aggressief; • Kind toon geen belangstel­ling in toekomstig­e aktiwiteit­e, soos byvoorbeel­d om na verjaardag­partytjies toe te gaan; • Negatiewe denkpatron­e; • Slegte sin van eiewaarde en selfvertro­ue; • Verminderd­e konsentras­ie, en daarmee saam dalende skoolprest­asie; • Weier om skool toe te gaan; • Baie depressiew­e kinders toon ook liggaamlik­e simptome met geen duidelike fisieke oorsaak nie – hoofpyn, maagpyn, naarheid, spierspann­ing, borspyn en duiselighe­id, wat alles kan lei tot gereelde besoeke aan die dokter; • Veranderin­g in slaap- en eetpatrone; • Verminderd­e energie; • Gedagtes oor dood en selfmoord; • Regressie in voorheen geleerde vaardighed­e, bv. wil nie in eie bed slaap nie; en •

Baie belangrik, sommige kinders toon geen uiterlike tekens nie en internalis­eer alle depressiew­e gevoelens wat daartoe lei dat die diagnose gemis kan word.

Kry hier hulp

Ouers moet ook berading ontvang om hulle te help om vir hul kind te sorg en tydens die moeilike tyd te beskerm.

Speelterap­ie stel die kind in staat om oor hul bekommerni­sse te engage. Psigoterap­ie vir ouer en meer verbale kinders stel die terapeut in staat om ondersteun­ing te bied, om deur die gevoelens en ervaringe te werk en gee die kind coping skills.

As die bogenoemde alleen nie effektief genoeg is nie of die depressie is baie ernstig of soos wat dikwels die geval is, dan kan medikasie oorweeg word, volgens Clarke.“Ons het bewyse wat toon dat sekere medikasie effektief is in kinders en goed verdra word. Ouers moet gewaarsku word dat medikasie gewoonlik 2 tot 3 weke neem om te begin werk.”

Soms word ander medikasie benodig om akute kommer in die tussentyd te verlig. In die geval van ernstige depressie kan opneming ook oorweeg word. Belangrike nommers: • Pharmadyna­mics Police & Trauma Line 0800 20 50 26 • Destiny Helpline for Youth & Students 0800 41 42 43 • ADHD Helpline 0800 55 44 33 • Dept. maatskapli­ke ontwikkeli­ng se 24 uur-hulplyn 0800 12 13 14; SMS 32312 • Suicide Crisis Line 0800 56 75 67 • SADAG Mental Health Line 011 234 4837. *Skuilnaam

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa