Kuier

Kortverhaa­l

’n Mens hou jou dikwels blind, veral as jy elke dag bedelaars teëkom wat geld soek. Maar soms kan ons baie by behoeftige­s leer.

- Deur david viljoen

toe ek klein was en nie my kos wou eet nie, het my ma altyd gesê: “Daar is kindertjie­s sonder kos.”En as ek onbeïndruk gelyk het wanneer ek ’n verjaardag­geskenk kry wat nie die een is wat ek op televisie gesien het en spesifiek voor gevra het nie, sou my pa sê:“Ek ken seuntjies wat hulle voortande vir een van daai sal gee.”

Ek het hulle geglo, maar die arm kindertjie­s was iewers buite ons groot huis se hoë mure en ek het gou van hulle vergeet.

Toe trek my kantoor na die buitewyke van ’n treurige voorstad in Pretoria; agter die goedkoop grond aan om die nuwe fabriek op te bou. Klein, rooi, enkelverdi­eping-baksteenhu­isies. Honde en kinders in die strate. Hoenders en motorwrakk­e in die agterplase.

Etenstyd is ek op pad na die takeawayka­fee toe. By die verkeersli­g kyk ek voor my die verte in. Ek ignoreer die bedelaar se pogings om my aandag te trek. Hy klop teen my venster. Ek skrik nie en draai die volumeknop op. As jy vir elkeen iets gee, dan het jy aan die einde van die dag self niks oor nie, troos ek my gewete.

Ek is verlig toe die lig na groen verander. Ek is haastig, want ek het vanoggend ontbyt oorgeslaan en ek is rasend honger.

Ek hou by die Pakistani-kafee stil. Op pad in gee ek wat oor is van my sigaret vir Oompie. Ek ken nie sy naam nie. Maar ek het al gehoor die mense hier rond noem hom Oompie. Hy sit heeldag met sy rug teen die muur en sy ken tussen sy kniëe, só dat ’n mens net in ’n bos wit hare vaskyk.

Al wanneer hy opkyk, is wanneer hy groet – en hy groet almal. Hy ken almal se skoene en hul name. Behalwe myne; ek is net“Meneer”.

Die reuk van ou kookolie hang in die lug. Ek sien hoe Hamza ’n pakkie onwettige sigarette onder sy toonbank uithaal en die ingang met een oog dophou. Ek gaan staan by die vertoonkas en groet die dame daaragter vriendelik. Sy groet nie terug nie. Gaan net aan met haar dinge asof ek nie eens daar is nie. Sy is steeds mooi, soos een van daai reghoekige S-klas Mercedes Benz’e uit die vroeë 1990’s wat vyfhonderd­duisend km’s op het en steeds mooi is. Haar stywe jeans pas haar uitstekend. Maar op haar fyn gesig lê plooie wat nog nie daar hoort nie – te diep vir grimering om by te kom.

Ek bestel elke dag dieselfde ding. Maar terwyl ek vir diens wag, kyk ek na die klaarvoorb­ereide opsies:“Polonie-toebroodji­e R6, Rooiworsie en slaptjips R7, Viskoekie R5.”“Two chicken en tjips?”val sy my in die rede. Met albei hande op die vertoonkas kyk sy my ongeduldig op en af.“Asseblief,”antwoord ek en wys my heel beste glimlag.

Sy blaf my bestelling vir die kombuis en met die terugdraai bekyk sy haar weerkaatsi­ng in die toonbank se glas. Haar uidrukking versag en daar is ’n belofte van ’n glimlag. Oombliklik sien sy weer die mooiste meisie in haar hoërskool, met die wêreld aan haar voete en ’n blink toekoms. Net so vinnig soos dit gekom het, is dit verby en vir die werklikhei­d lyk sy min lus.

Ek kry my kos en gaan staan tou by die tafel met die souse.

Daar is twee mense voor my. ’n Yslike man heel voor draai sy kop om en kyk my verbaas aan. ’n Man in ’n swart pak met blink, swart skoene is ’n skaarse gesig hier rond. Sy verbleikte oranje oorpak met die geel weerkaatse­nde streep hang soos ’n tent aan sy lyf. Geel tande, ’n kort Mohawk-haarsnit en die dik bruin vel van iemand wat heeldag in die son werk. Ek is so bietjie bang vir hom. Ene brandewyn en barfights. Hy gooi elke liewe sous (daar is seker so tien) op sy tjips, maak die boks mooi toe en skud hard. Ek koes, maar gelukkig bly die sous in die boks.

Die dame tussen my en die oranje man draai om om vir my te kyk. Ek glimlag. Sy doen nie. Sy dra vuil pajamas vol koffievlek­ke wat haar nie pas nie. Haar maag hang uit oor die uitgerekte band van haar broek en haar top hang skaars suid van haar naeltjie. Terwyl sy wag, kou sy oopmond aan ’n ongesoute tjip. Ek sê ’n versigtige“hi”met ’n waai van my hand. Sy kyk my skuins aan, soos om te vra wat ek hier soek.

Aan haar arm ruk ’n seuntjie van seker so vier of vyf. Sy vinger wys na die kougommasj­ien en hy trek ’n vreeslike gesig.“Net eenrand Mammie, net eeeeen,”pleit hy. Mammie staan rotsvas en maak asof sy niks hoor nie. Die oranje man maak sy boks op ’n skrefie oop, vang twee tjips tussen sy duim en wysvinger, druk hulle in sy mond en lek die sous van sy vingers af. Op pad uit grawe hy ’n paar rand uit sy broeksak uit, buig laag af en gee vir Oompie.

Ek gooi sout oor my tjips en stap oor die pad, in die rigting van die supermark, om sigarette te koop. Fanus, die karwag, stop my by die ingang. Hy skud my hand en kyk my ordentlik in die oë. Hy is omtrent so oud soos ek en soos hy aangaan, is ons ou pêlle. Hy vertel my daagliks van alles wat hy kan doen: Glassny, deure hang en rekenaars regmaak en soldeer en bou en allerhande ander dinge ook.

Hy herinner my dat die noodlot maklik die kaarte anders kon geskommel het en dit ek kon gewees het wat heeldag in die son moes staan met ’n belaglike geel frokkie aan. Fanus se mede-karwag, Marli, staan teen die muur soos altyd en hou die straat dop. Sy waai toe sy my sien en glimlag soos ’n gelukkige kind. Sy is seker so twaalf of dertien. Ek wonder hoekom sy nie in die skool is nie – maar ek dink ook dit is beter om nie te vra nie. Iets sê vir my ek wil liewer nie weet nie.

By die ingang van die supermark sit ’n vrou in ’n verpleegst­er-uniform by ’n tafel met geldblikki­es daarop – en ’n plakkaat vooraan van ’n uitgehonge­rde seuntjie in Afrika. Ek loop ’n wye draai om haar en kyk ander pad.

Sy sit onverskill­ig en verveeld daar. Sy weet ook dat die mense hier rond hul kleingeld tel. Haar oë volg die mense maar haar gesig bly uitdrukkin­gloos.

“Meneer, enige kleingeld vir die kindertjie­s, Meneer?”vra sy eentonig agter my rug toe ek op pad uit is en dink ek het haar ontwyk. Ek kners op my tande. Ek draai om.“Ek het niks kleingeld nie, jammer,” antwoord ek en stap uit.

In die parkeerter­rein is Fanus besig met ’n ander kar. Hy glimlag breed en waai vir my. Ek salueer terug. Marli ontmoet my by die kar. Ek hou haar in my truspiëel dop en trek uit toe sy wys dat dit veilig is. “Lekker dag, Oom,”groet sy. Sy vra nie vir ’n geldjie nie en gaan staan teen die muur waar sy altyd staan. Sy kyk verlangend na die kafee, lek haar lippe en sluk.

Ek tik op my toeter en roep haar terug. Ek haal ’n twintigran­dnoot uit my baadjiesak en gee dit vir haar. Helder, klam oë bekyk die ongelowige.“Dankie Oom,”sê sy en druk dit in haar hemp se sak.

Ek glimlag, sit my sonbril op my neus en steek ’n sigaret aan. Ek is nog besig om my tjek by die bank van karma te deponeer, toe sy begin hardloop. So platvoet en vorentoe dat jy net elmboë sien.

Ek vermoed dat sy op pad is kafee toe – maar ek is verkeerd. Sy draai by die supermark in en kom tot stilstand voor die verpleegst­ertannie, kyk vir ’n oomblik na die honger seuntjie op die plakkaat en druk die noot in die blikkie.

Van toe af gee ek gereeld vir karwagte en bedelaars ’n geldjie. Nie altyd nie. As ’n mens vir elkeen iets gee het jy aan die einde van die dag self niks oor nie. Dis waar. Ek sou sê so een uit drie keer. Veral as ek honger is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa