Kuier

• Vra Dr. Genine

Soek jy raad oor ’n mediese probleem?

-

Gordelroos is pynlik Vraag OORSAAKVAN SHINGLES?

Wat is shingles, oftewel gordelroos? Wat kan ek gebruik daarvoor? BEKOMMERD

Antwoord BESTE LESER

Shingles, of beter bekend in Afrikaans as gordelroos, word veroorsaak deur dieselfde virus wat waterpokki­es (chickenpox) veroorsaak. Die virus se naam is Varicella

Zoster en is deel van ’n groep virusse wat as herpes-virusse bekendstaa­n. Let wel dat die virus wat herpes in die geslagsdel­e (privaatdel­e) en koorsblare veroorsaak, nie dieselfde virus is wat shingles en waterpokki­es veroorsaak nie.

Wanneer iemand waterpokki­es as kind gehad het, bly die virus permanent in jou liggaam, in ’n spesifieke senuweewor­tel. Die virus is“aan die slaap”en as ’n persoon se immuniteit of gestel af is, word die virus weer“wakker”of geaktiveer. ’n Mens se weerstand gaan gewoonlik af wanneer jy ouer raak of ander siektes het wat jou immuniteit verlaag, soos diabetes (suikersiek­te), MIV/vigs en sekere tipes kanker. Dit kan ook gebeur wanneer jy nie gebalansee­rde voeding het nie of baie stres ondervind. As die virus “wakker word”of geaktiveer word, beweeg dit na die senupunte en dit veroorsaak dat die vel wat met die spesifieke senuwee verbind word, begin jeuk, brand of pyn. Dit kan vir ’n paar dae of selfs ’n week lank duur en dis nie altyd maklik om die regte

diagnose te maak voor die veluitslag sigbaar is nie. Daarna slaan daar blasies uit in die area wat met die spesifieke senuwee verbind word. Dit is hoekom dit net aan die eenkant van die liggaam voorkom en dit ’n“gordel” genoem word, want die blasies volg die patroon van ’n gordel (belt) maar net aan die een kant van die liggaam.

Die posisie van die uitslag kan letterlik enige plek op die liggaam voorkom, van kop tot toon: Van die kopvel of in die gesig (selfs in die oor of langs en in ’n oog); in die nek-area, bo-arm of borskas; die middel van die lyf (buikgedeel­te); lae rug; bo-been of lae been; of selfs die enkel en voet.

Ná so vier of vyf dae gaan die blasies oop en veroorsaak vogtigheid of nattigheid in die area. Daarna vorm dit ’n kors en begin dit genees. Dis belangrik om reeds vroeg jou dokter of verpleegku­ndige te raadpleeg (wanneer die vel begin jeuk, brand, pyn of sodra blasies uitkom) sodat anti-virale medikasie voorgeskry­f kan word. Wanneer jy die anti-virale medikasie vroeg begin neem, verminder dit die duur en erns van die uitslag. Die pyn wat met gordelroos gepaardgaa­n, kan baie erg wees en pynmedikas­ie van verskillen­de sterktes kan gebruik word.

Behalwe vir die anti-virale en pynmedikas­ie, gebuik baie mense die volgende tuisversor­gingsadvie­s om die pyn te verlig:

1. Die vel moet skoon gehou word deur koel water en seep. Jy kan ook ’n stort neem of selfs bad. 2. Moet nie die vel vryf of krap nie, want dit kan velinfeksi­e veroorsaak. 3. Koue kompresse op die geaffektee­rde vel-area kan ook gebruik word om die pyn te verlig. 4. Om die blasies droog te hou, stel die vel bloot aan lug, vermy dat klere daaraan raak en gebruik maziena, koeksoda of babapoeier. 5. Calamine-smeermidde­l kan ook aangewend word om jeukery te help verminder. Baie mense wat gordelroos ontwikkel, is heel verbaas daaroor. As dit gepaardgaa­n met ’n bestaande toestand of siekte, is dit makliker om dit te aanvaar en te verduideli­k. Dit kan egter ook baie angs veroorsaak, want die gordelroos-diagnose is in sekere gevalle net die eerste stap: Die oorsaak van die swak immuniteit moet dan nog vasgestel word en dit is nie altyd“goeie”nuus nie. Gordelroos is net aansteekli­k vir iemand wat nog nooit waterpokki­es of gordelroos gehad het nie of wat hulle nie daarteen laat inent het nie. Sulke mense (gewoonlik kinders) wat in kontak kom met iemand met gordelroos, sal waterpokki­es ontwikkel; nie gordelroos nie. Chroniese pyn is die algemeenst­e nagevolg, want dit is ’n pyn wat deur die spesifieke senuwee veroorsaak word.

Dit kan egter ook baie angs veroorsaak, want die gordelroos­diagnose is in sekere gevalle net die eerste stap.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa