Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Niks kom by die liefde wat ’n ouer vir sy kind het nie. Ongeag die omstandigh­ede, wees dankbaar en waardeer jou ouers.

- Deur Keith Meyer

Kinders kan nie hul ouers kies nie . . . Só lui die gesegde al jare lank. So ook dat kinders nie gevra het om hier te wees nie. Want sien, ’n ouerhart word mos in die strate van die Nuwe Jerusalem aanmekaar gesit. Omdat ouers uit die diepte van hul harte enigiets sal doen vir hul bloedjies, sal hulle hulself tekort doen om ’n beter lewe aan hul geskenke van God te kan gee.

Só is ek in my lokasie grootgemaa­k. My oumas het altyd aan my ouers gegee en ek kon sien hoe swaar my oumas en oupas gekry het. Gegee, nie uit hul oorvloed nie, maar uit hul gebrek, alles wat hulle gehad het. Al sou dit beteken hulle moes destyds op leë mae gaan slaap het. Swaarkry was deel van ons ouers se woordeskat sodat die kinders tog nie enige gebrek hoef te ly nie. Nee, nooit nie.

Wat ons by ons ouers geleer het, dra ons vandag aan ons eie kinders en kleinkinde­rs oor. Mens, is dit nie lekker nie? Soms grens dit aan bederf, veral as dit by ons kleinkinde­rs kom. Wat is dan lekkerder om daardie gesiggie van tevredenhe­id te sien wanneer Ma of Pa of Oupa of Ouma daardie ietsie ekstra gee? Soos die mense altyd op FaKebook skryf:“Priceless.”Nie eens die Lotto se miljoene sal daarvoor kan vergoed nie. Dis iets wat geld nie kan koop nie.

Ouers bid uit die diepte van hul harte dat die Gewer van alle Goeie Gawes aan hul spruite, hul afstammeli­nge, net die beste sal gee wat die lewe hulle kan en mag bied. En ouers glo dit soos gelowiges dit moet glo. Daardie bloedjie is immers God se geskenk en verdien net die beste. Ons as ouers se behoeftes is minder belangrik as dié van ons kinders en kleinkinde­rs. Ouers sal hulle selfs verneder om vir hul kinders te gee. Met die eerste lees van die laaste sin klink dit dalk verkeerd, maar as dit in konteks van ware behoeftes van ons afstammeli­nge gaan, sal ons as ouers die spreekwoor­delike berg versit. Glo my. Ons spreek tot die berge in ons lewens en verklaar dat hulle nooit oor ons sal triomfeer nie. Nie solank ons ouers daar is nie. Die gebod“Eer jou Vader en jou Moeder sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde”, is mos die enigste gebod met ’n belofte. En ons vat altyd God op sy beloftes. Daarom gaan die “gee uit ’n ouerhart” altyd gepaard met“eer aan die kant van die kinders”. Dis is so vas soos dag en nag. Dit laat my dink aan my eie ouma Saar, en ouma Byb, wat net voor honderd jaar oud die lewe verlaat het. Sjoe, by hulle het ons geleer wat ouerskap waarlik is. Dat ouerskap meer is as net gee uit die hart. Dis hulle wat die onuitwisba­re indruk van ware ouerskap op ons lewens afgeëts het. Wie onthou nog die mooi slagspreuk van die Kaaplandse Onderwyser­sunie (KPO), die woorde“Teach by example”?

Om te gee, is beter as om te ontvang. Maar vir ons kinders sal ons as ouers gee sonder om eens te dink aan ontvang. Want eers wanneer ons aan hulle gee wat niks het om terug te gee nie, dan eers het ons waarlik gegee. En ek sien die woordjie “dankbaarhe­id”geskryf oor die breë glimlag van die kind wat ontvang.

Sou ’n mens daardie dankbare glimlag kon verdiskont­eer, sou die geld op die Johannesbu­rg se effektebeu­rs nie eens genoeg gewees het nie.

Gisteraand, vanoggend, dwarsdeur die dag sal ouers altyd hul kinders voortduren­d voor hul Skepper se voete neerlê. Wetende dat dit die beste plek is om te wees, wetende dat dit ’n ander vorm van“gee uit die diepte van ’n ouerhart”is. Eers dan kan ouers gerus wees dat die wêreld en al sy boosheid nooit hul kinders uit hul harte sal kan pluk nie. Ouerskap het geen einde nie. Nie eens as jou kinders al volwasse is nie. Jou kinders sal hulle bly; die naelstring van die lewe sal nooit geknip kan word nie. En solank ons kan gee, sal ouers gee.

Al mag dit soms lyk asof ons kinders dit nie waardeer nie. Die oomblik as ’n geskenk jou hand verlaat, is dit nie meer joune nie. Wat die ontvanger daarmee maak, is sy of haar saak. Tog het ons as ouers die geleenthei­d om ons kinders die goeie te leer.

Jou kinders sal hulle bly; die naelstring van die lewe sal nooit geknip kan word nie. En solank ons kan gee, sal ouers gee.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa