Kuier

rou saam as kind sterf

Om jou kind te begrawe, sal enige ouer se hart en siel breek. Maar hoe bly jy staande vir jou gesin, veral die sibbe wat sy agterlaat? Deur Elmarine Anthony

-

Om ’n kind aan die dood af te staan, is enige ouer se grootste vrees. Baie glo ’n ouer moenie ’n kind begrawe nie, maar dat jou kind jou moet begrawe. Boonop maak die omstandigh­ede waaronder sommige ouers hul kinders verloor, dit vir hulle selfs moeiliker om aan te beweeg. Fratsongel­ukke gebeur egter gereeld en los nie net ouers in rou nie, maar met hope vrae en verwyte.

Dít is presies waardeur die Appels-gesin van Maraiskamp in George gaan ná die skielike dood van die 12-jarige Rajan Appels sowat ’n maand gelede. Rajan het nog op die middag van 8 April sy pa gehelp om groente in hul tuin te plant, maar net ’n paar uur later was hy dood.

Johanna Appels, Rajan se ma, vertel hy het vroeër die dag soos gewoonlik op sy fiets gery.“Toe ek hom in die pad op sy fiets sien ry, het ek gesê:‘Jy bly met dié fiets. Kom huis toe.’”Rajan het gesê hy ry net rond en dat hy binnekort sal huis toe kom. Toe hy terugkeer huis toe, het hy gesê hy het in ’n stukkende stormwater­pyp geval en dat hy sy kop gekap het.”

Rajan het oukei gelyk en as sy fiets nie in stukke was nie, sou sy ma nooit eens geweet het hy het geval nie. ’n Uur later het hy slaperig geword en begin opgooi. Hulle het hom na George-hospitaal geneem waar dokters besef het hy het bloeding op sy brein. Hy is dieselfde nag per ambulans na die Rooi Kruis-kinderhosp­itaal in Kaapstad vervoer. Johanna was saam met hom in die ambulans.

“Ek was in en uit die slaap uit en het heeltyd gevoel of sy hart nog klop. Toe ons die oggend by die hospitaal se deur aankom, het ek geen hardklop meer gevoel nie. Die mediese personeel het vir my gesê om uit te klim, waarna hulle vir Rajan by die hospitaal ingeneem het. Die dokter het my toe eenkant geneem en my die nuus gegee (dat Rajan gesterf het).”

Johanna sukkel om te verduideli­k wat in daardie oomblik deur haar kop gegaan het.“Ek kan dit nie beskryf nie. Ek wil dit nooit weer beleef nie.”

Rajan was lief daarvoor om in die straat te speel en dís waar hy in die stormwater­pyp geval het. Dis die straat waar Johanna grootgewor­d het en waar haar kleinkind ook nou woon. Sy is egter nog nie weer daarnatoe sedert die voorval gebeur het nie. Die pyp, wat vier strate weg van hul huis is, is sedertdien reggemaak. Johanna wil nie eens daaroor dink nie.

“Almal is nou behep met die stormwater­pyp. My man het selfs ’n foto daarvan geneem, maar ek worry nie daaroor nie. Ek het ’n kind verloor. Ek wil net oor die seer kom. My kind is dood. Ek vat dit dag vir dag. Ek is terug George toe met dieselfde ambulans waarin my kind gesterf het. Dit was nie lekker nie.”

Johanna is net meer as twee weke ná haar seun se dood terug werk toe. Sy het egter bewerig en tranerig geword, waarna haar baas haar huis toe gestuur en haar aangeraai het om siekteverl­of te neem. Sy het gaan werk omdat sy tussen mense wou wees, vertel sy. ’n Dag vroeër het sy van vooraf hartseer geword toe sy alleen met haar gedagtes was.

“Toe die kinders van die skool af kom, het ek só hartseer geword, want hy sou ook van die skool af kom. Hy sou volgende jaar hoërskool toe gaan. Hy was pragtig, grapperig en ’n plesier om in die huis te hê. Hy was ’n goeie kind.”

swaar proses

Die Appels-gesin het nog nie saam oor die dood van hul seun en broer gepraat nie. Volgens Johanna is dit vir haar man, Frederick, die swaarste omdat Rajan sy oogappel was. Haar 21-jarige dogter, Michaela Potts, is ook gesê om huis toe te gaan nadat sy ook ’n kort rukkie ná haar broer se dood terug werk toe gekeer het.

Raffael Potts, Rajan se 27-jarige broer, het gesê hy is oukei.“Elkeen gaan maar op sy eie aan. Ons het nog nie saam gesit en praat nie. Mens wil nie nou nie. Dit is nog baie seer. Daar is egter niks wat ons kan doen nie. Ons vat dit soos dit kom . . . ”

In gevalle waar ’n kind onverwags sterf, sukkel ouers om die verlies te verwerk omdat hulle nie ’n kans gehad het om afskeid te neem nie.

Volgens Erika Munnik, ’n kliniese sielkundig­e en dosent by die Universite­it van Wes-Kaapland, gaan die onverwagse dood van ’n kind ook baie keer gepaard met skok, ontkenning, verwyt, skuldgevoe­lens, hartseer en woede vir jouself, jou gade en ander wat direk of indirek betrokke is.

Die meeste ouers is geneig om met skuldgevoe­lens te sukkel, wat gepaardgaa­n met hul onvermoë om die uitkoms van gebeure te verander. Ouers sukkel ook met die groot leemte wat die kind se afwesighei­d in hulle en hul gesin se lewens laat.

“Dit is belangrik dat ouers besef dat al die bogenoemde reaksies normaal is en deel van die rouproses is. Die rouproses is ’n herdefinië­ring van die lewe en ’n toekoms vir jou en jou gesin sonder jou kind. Dit is ook belangrik vir ouers om te besef dat hulle wél uiting mag gee aan hulle emosies. Dit is oukei om hartseer of kwaad te wees. Baie maal is daar ’n warboel van emosies ,” verduideli­k Erika.

En dis nie net die ouers wat ly nie. Die afsterwe van ’n kind raak ook hul broers en susters. Volgens Erika maak kinders van verskillen­de ouderdomme verskillen­d sin van wat die dood beteken en hulle hanteer dit op verskillen­de maniere. Die manier waarop ouers die kind se dood hanteer, dui baie maal daarop hoe die oorblywend­e kinders dit ook gaan hanteer. Dus is dit belangrik vir ouers om bewus te wees van die impak wat hul reaksie op hul kinders het.“Indien ’n ma haar byvoorbeel­d totaal isoleer, kan dit vir die jonger kind wat nog lewe, gepaardgaa­n met ’n dubbele verlies.

Ouers moet dus verantwoor­delikheid vir hulle eie reaksies aanvaar, hulp en ondersteun­ing soek en na hulself ook omsien, want dit skep die geleenthei­d vir die kinders om ook die normale rouproses te betree.“Dit is normaal vir mense om aan die begin nie oor die verlies te praat nie. Die eerste fase van rou is ontkenning en aan die begin kan mense sukkel om die verlies te aanvaar. Dit mag ook wees dat hulle voel hulle wil ander gesinslede die hartseer spaar, omdat dit juis so moeilik is om daaroor te praat,”meen Erika.“Sommige mense se persoonlik­hede is ook rou van so ’n aard dat hulle eerder wegskram van emosies en eerder‘doen’.”

Die dood van ’n kind is een van die moeilikste dinge vir ’n ouer om deur te maak, maak nie saak wat die oorsaak was nie. Wanneer die dood onverwags is, soos met ’n fratsongel­uk, sukkel ouers om aan te pas omdat daar geen waarskuwin­gstekens was wat ouers of sibbe kon voorberei nie, sê Erika.“Die waaroms en wat/hoevrae is moeilike vrae wat nie altyd beantwoord kan word nie.”

Wanneer ’n kind aan ’n terminale siekte sterf, het die ouers meer tyd om afskeid te neem. Hulle het egter ook ander uitdagings wat hulle moet deurmaak, insluitend om die kind te versorg, die kind te sien ly, finansiële uitgawes en dies meer.“Daar is dus geen‘ maklike’ rouproses nie .”

Riglyne vir rou

Erika gee die volgende raad aan ouers: •

Rou is ’n normale proses – dit is belangrik om te erken dat die persoon nie meer daar is nie en dat dit ’n leemte laat in jou lewe. Gee jouself tyd om deur die rouproses te werk. •

Gee jouself toestemmin­g om emosies te voel, skryf dit neer of praat daaroor met iemand wat jy vertrou. •

Waak daarteen om jouself te isoleer. Begin weer met ’n stokperdji­e of bv. ’n tuin. •

Kyk mooi na jouself – is dit nie wat die persoon wat gesterf het sou wou hê nie? •

Indien alles te veel raak, sê dit aan iemand. As jy nie sê nie, gaan ander nie weet nie en dan kan hulle nie probeer help nie. •

Probeer wegbly van negatiewe hantering s meganismes soos alkohol. •

Jy is dit aan jouself en jou gesin verskuldig om te lewe – een dag op ’n slag. •

Indien dit nie geleidelik beter gaan nie, klop aan vir hulp. Vir gratis berading, persoonlik of oor die telefoon, bel: Lifeline Wes-Kaap: 021 461 1113; Lifeline Johannesbu­rg: 011 728 1331; FAMSA Wes-Kaap: 021 447 0170.

Die rouproses is ’n herdefinië­ring van die lewe en ’n toekoms vir jou en jou gesin sonder jou kind.

 ??  ??
 ??  ?? REGS: Rajan Appels (12) het gesterf nadat hy met sy fiets in ’n stormwater­pyp geval en bloeding op die brein opgedoen het.
REGS: Rajan Appels (12) het gesterf nadat hy met sy fiets in ’n stormwater­pyp geval en bloeding op die brein opgedoen het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa