voel jy sosiaal uitgesluit?
Soms kan jy uit voel tussen mense oor jou selfbeeld, as jy skaam is of wanneer jou vriende jou uitsluit. Jy hoef nie altyd die odd one out te wees nie. DEUR elmarine anthony
Nie almal is gemaak om in die limelight te wees nie. Dalk hou jou persoonlikheid jou terug, voel jy minderwaardig of miskien is jy ’n bietjie vaal teenoor jou vriende en word jy nie raakgesien nie. Hoe jy egter daarmee deal, kan jou pad vorentoe bepaal.
Jy sit soms tussen ’n groep mense wat jy ken, maar voel steeds alleen. Miskien word jy bloot geïgnoreer of voel jy dat jy vir een of ander rede nie by jou vriendekring inpas nie. Soms laat jou eie vriende vir jou voel asof jy nie met hulle behoort nie.
Janine Moses* (26) van Oos-Londen, was altyd die odd one out in haar vriendekring. Op laer- en hoërskool het haar vriende haar altyd geditch as hulle saam op uitstappies soos atletiekbyeenkomste gegaan het.“As ons daar kom, dan verdwyn hulle en eindig ek op met mense wat ek glad nie eens ken nie.” Toe sy met die mense praat wat sy nie geken het nie, het hulle ook gedink sy’s vreemd. Selfs toe sy met haar vriende was, was sy altyd die een wat agterna kom. Sy het altyd agter hulle en nooit met hulle geloop nie.“Hulle het nie geworry of ek by was nie.”
In haar matriekjaar, toe sy hoofdogter geword het, het dit haar baie gehelp omdat sy te besig was om oor vriende te worry. Met haar eerste jaar op universiteit was dinge egter soos voorheen – sy was die oortollige een van haar nuwe vriendekring. Sy het nooit met hulle hieroor gepraat nie.“As jy jonk is, wil jy nie hê mense moet weet jy is die odd one out nie,”vertel
sy. Haar vriende het haar altyd afgeskeep en wou nooit na haar luister nie. Wanneer hulle almal ’n vry-periode gehad het, het almal saam uitgehang. Haar vriende wou egter nooit gesit het waar sy wou sit of saam met haar na plekke gestap het nie. Janine het selfs hulle klasse bygewoon toe sy ’n vry-periode en hulle klas gehad het.
Dinge het egter verander toe sy haar kursus in haar tweede jaar verander en daarom nuwe vriende gemaak het.
“Ons het oral saamgegaan, jy kon voel jy het vriende.”
Imelda Titus (52) van Atlantis buite Kaapstad sê sy voel nooit soos die odd one out nie, maar in sommige situasies voel dit wel of sy uitgesluit word. By haar werk in ’n fabriek sit almal gedurende middagete in hul afsonderlike kringe en volgens haar sien haar vroulike kollegas op haar neer omdat sy enkellopend is.“Hulle laat jou voel asof daar iets fout is met jou, asof jy nie ’n man kan kry nie.”Sy voel veral só tydens sosiale werksfunksies wanneer almal hul mans of boyfriends saambring. “Hulle laat jou sosiaal onbekwaam voel. Hoewel ek al baie keer gesê het ek is gelukkig om enkellopend te wees.”
In haar vriendekring is sy baie gelukkig omdat haar vriende altyd ’n poging aanwend om haar by alles in te sluit. Wanneer hulle byvoorbeeld saam na ’n dans gaan, vra haar vriendinne se mans byvoorbeeld altyd of sy ook wil dans.“Hulle dink nie vir hulself‘sy gaan ons mans steel nie.’”
verskille pla ander
Terwyl Imelda nie omgee om soms die odd one out te wees nie, pla dit ander en kan dit vir jare aanhou. Soos Sandra Coetzee* (25) van Somerset- Wes, wat vir ’n heeltemal ander rede uit gevoel het. Sy was in ’n skool met sterk Christelike waardes en al haar vriende was Christen, terwyl sy ’n nie-gelowige is. Sy het gevoel sy kon nie haarself wees nie en dat sy ’n outsider was.“Ek het deur skool gemaak of ek Christen was, al het ek van 14 af geweet ek voel nie regtig dieselfde oor geloof as my vriende nie. Die hele ding het my nogal anxiety gegee toe ek jonger was,”vertel sy. Dinge het verander toe sy like-minded mense op universiteit ontmoet het en toe ophou maak het asof sy ook gelowig is.
Volgens Kerstin Waddell, ’n life coach in die Bo-Kaap, moet mense wat hulself in dié of soortgelyke situasies bevind, hulself die volgende vrae vra: Wie se waardes volg jy? Wie trek voordeel uit jou wat in die skaduwee lewe? Wat is die potensiële voordeel vir jou om in die skaduwee te bly? Byvoorbeeld, wat stel dit jou in staat om te doen, wees en voel, waarvan sluit dit jou uit en wat stel dit jou in staat om aanhou te doen?
Volgens Kerstin kan mense sulke situasies hanteer deur met hul eie waardes te connect en hul eie krag te vier. Dan kan jy bepaal met wie jy jou tyd wil deur- bring. Mense moet leer om sterk grense op te stel en hoe om jou afstand te hou, byvoorbeeld, hoe om nie goedkeuring te wil hê van diegene wat jou altyd kritiseer of“minder”laat voel nie.
Om van ander mense afhanklik te wees vir sosialisering, is nie ’n goeie idee nie, behalwe as jy ’n kind is, sê Kerstin.
Om ’n grootmens te wees beteken om verantwoordelikheid vir jou eie behoeftes te aanvaar, insluitend sosialisering. Dit beteken jy moet onthou hoekom jy in die eerste plek wil uitgaan en of dit steeds belangrik genoeg is vir jou, al gaan jou vriende nie saam nie. Vra jouself:“Wat is die ergste wat kan gebeur? ”Tweedens moet jy met jou vriende praat as jy geditch word en hulle aanspreeklik hou.
“Jy gee jou mag weg. Hoe kan jy dit terugeis? Vra jouself of jy needy is. Jy is 100% verantwoordelik vir jou eie geluk. Niemand anders kan jou gelukkig maak nie.”
selfaanvaarding
Ons kan nie ander mense verander nie, ons kan net onsself verander, meen Kerstin. “As jy jaloers is op jou vriende, neem kennis oor dit waaroor jy jaloers is en gebruik dit as ’n teken van wat jy vir jouself wil hê. Maar kyk dieper, as jou vriende al die aandag kry, dink aan hoe jy sou voel as jy die middelpunt van al die aandag was.
“Begin altyd met radikale selfaanvaarding, byvoorbeeld:‘Ek kry nie soveel aandag soos my vriende nie. Dit is moeilik vir my en dit is oukei. Dit is hoe dinge tans is’.”
Selfaanvaarding is baie belangrik – of dit nou uiterlik of innerlik is. Mense moet dan ’n vorm van aksie byvoeg deur te besef dat jy ook verdien om liefde te ontvang en te gee soos enigiemand anders, so dan moet jy besluit om sekere stappe te volg.
“Alles moet uit ’n plek van selfdeernis kom – om nie jouself sonder genade te beoordeel nie.”
Vra jouself of jy needy is. Jy is 100% verantwoordelik vir jou eie geluk. Niemand anders kan jou gelukkig maak nie. Kerstin Waddell